Wys tans plasings met die etiket Openbaring. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Openbaring. Wys alle plasings

2022/05/25

Kom, Here Jesus!

Lees: Openb. 22:1-6; 12-21

Gedagte vir kinders: Wanneer die Here Jesus weer kom, sal alle hartseer vir altyd weg wees. 

Oorsig: Johannes is aan die einde van Openbaring besig om die nuwe Jerusalem te beskrywe. Hier meld hy, soos Esegiël (Es. 47:7,12), die suiwer, helder rivier van die water van die lewe wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam (v.1). Tussen die straat en die rivier was die boom van die lewe aan weerskante van die rivier sigbaar wat elke maand vrugte gee. Die blare daarvan is tot genesing van die nasies (v.2). Die toestand hier is vry van die vloek van die sondeval en die rede is dat die troon van God en die Lam daarin is en dat sy diensknegte Hom sal dien (v.3). Die wonderlike vooruitsig is dat hulle sy aangesig sal sien (vgl. Mt.5:8) en dat God se Naam soos destyds op die hoëpriester, nou op die voorhoofde van al sy kinders sal wees (v. 4; vgl. Ex.39:30). Daar is nie nag nie en hulle benodig geen lamp of sonlig nie, omdat die Here God hulle verlig. En God se kinders regeer as konings tot in alle ewigheid (v.5). Dit word dan bevestig dat die woorde waaragtig en betroubaar is en dat die Here, die God van die Heilige profete, sy engel gestuur het om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur.

2022/05/19

Ingetrek in die Allerheiligste

Lees: Openb. 21:9-14,21-27

Gedagte vir kinders: Dit is wonderlik om in die Here se lig te lewe.

Oorsig: In Openb. 21 is Johannes besig om ’n glorieryke beeld van die Nuwe Jerusalem te beskrywe. Ons hoor in v. 9 dat een van die sewe engele met die sewe skale en sewe plae na Johannes gekom het, soos voorheen (vgl. Op. 17:1), en hom weer geroep het om om iets aan hom te toon. Die vorige keer was dit die oordeel van die ou Jerusalem wat uitgebeeld word as die groot prostituut. Hier is dit nou sodat Johannes die bruid, die vrou van die Lam kon sien. Johannes is toe in die gees weggevoer na ’n groot en hoë berg en vandaar het hy die bruid en daarom die Kerk, as nuwe Jerusalem gesien wat uit die hemel neerdaal (v.10).

Hierdie stad het die heerlikheid van God (shekina-glorie), gehad en sy lig was soos ’n kristalhelder jaspissteen. Dit het ’n groot en hoë muur gehad met 12 poorte (vgl. Es. 48:31-34) en 12 engele en die name van die 12 stamme van Israel was daarop geskrywe. Die 12 poorte was gelykop verdeel na al die windrigtings, dus 3 poorte in elke rigting (v. 11-13; vgl. Luk. 13:29). Die muur van die stad het ook twaalf fondamente gehad en daarop was die 12 name van die apostels van die Lam (v.14; vgl. Mt. 16:18; Ef. 2:20). Ons hervat by vers 21, maar dit is tog belangrik om ook te verneem van die edelgesteentes (v.19-20) en dat Jerusalem in v. 15-16  beskryf word as ’n kubus, soos wat die allerheiligste deel van die tempel ’n kubus in die Ou Testament was (vgl. 1 Kon. 6:20). Die Kerk is dus nou deel van die Allerheiligste.

2022/05/11

Die nuwe Jerusalem in vandag en môre

Lees: Openb. 21:1-7

Gedagte vir kinders: Die beste lê nog voor vir hulle wat aan Jesus Christus behoort.

Oorsig: In hoofstuk 20 het Johannes die wederkoms van Jesus Christus beskryf. Hier begin hy die nuwe Jerusalem beskryf. Johannes beskryf dit op so ’n manier dat ons moet besef dat Johannes aansluit by beskrywings van die ou verbond in Israel en van Jesaja wat Israel en Jerusalem se vernuwing reeds beskrywe het in terme van die huwelik. Dit het in vervulling begin gaan met die koms van die Messias (vgl. Jes. 62-63; 65:17). Die ou Jerusalem en die tempel en die offers se bedoeling is daarom reeds vervul in Christus. In Hom en in sy liggaam, die Kerk, is die nuwe Jerusalem reeds besig om te kom. Eendag sal die daar ’n nuwe hemel en nuwe aarde wees waarin die nuwe Jerusalem finaal ’n werklikheid vol van glorie sal wees, soos ’n bruid wat vir haar bruidegom versier is (v.1-2). Maar intussen moet ons onthou dat die nuwe Jerusalem nou reeds ’n werklikheid is wat eendag in volle glorie waar sal wees op die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Nadat Johannes die gesig gesien het van die nuwe hemel, nuwe aarde en die nuwe Jerusalem, het hy ’n groot stem uit die hemel gehoor. Die stem het deur middel van bekende beelde uit die Ou Testament gepraat en gesê dat die tabernakel, die woonplek van God, nou by die mense is en dat Hy by hulle sal woon (vgl. Op. 21:22). Hy het ook die bekende taal oor die verbond van die Ou Testament gebruik en gesê dat die mense sy volk sal wees en dat God self by hulle sal wees as hulle God (v.3; die 83-vertaling vertaal dit insiggewend genoeg in die meervoud as "volke".). Hy het verder gesê dat God al die trane van gelowiges se oë sal afvee en dat daar geen dood, droefheid, geween of moeite sal wees nie. Die rede is dat die eerste dinge verby gegaan het (v.4). Ons hoor dan verder dat Hy wat op die troon sit, gesê het: “Kyk Ek maak alles nuut.” Hy het ook aan Johannes beveel om dit op te skryf, omdat hierdie woorde waaragtig en betroubaar is (v.5).     

Toe het Hy vir Johannes gesê: Dit is verby! Hy het ook bevestig dat Hy die Alfa en die Omega is, die begin en die einde en dat Hy aan die een wat dors het, uit die fontein van die water van die lewe verniet sal gee (v.6. Vgl. Jes. 55:1). Hy het verder ook bevestig, soos aan die begin van die boek Openbaring, dat elkeen wat oorwin, alles sal beërwe. En toe het Hy weer die verbondstaal van die Ou Testament gebruik: “Ek sal vir hom ’n God wees en hy sal vir my ’n seun wees.” (vgl. Lev. 26:12; Jer. 24:7; 31:33).

Sewevoudige lof

Lees: Openb. 7:9-17

Gedagte vir kinders: Die Here sal eendag alle trane van sy kinders afdroog.

Oorsig: Ons verneem in hoofstuk 5 dat alleen die Lam die Verbondsboek van God en die seëls kon oopmaak. In Hoofstuk 6 verneem ons dan wat alles gebeur wanneer ses van die seëls oopgemaak word. En dan vertel Johannes in hoofstuk 7, voordat die sewende seël oopgemaak word, eers twee keer wat “ná hierdie dinge” van die ses seëls gebeur het (v.1,9). Johannes beskryf eers die uitverkore verlostes op aarde in Israel voordat die ou verbond tot ’n einde gekom het in 70n.C. met die val van Jerusalem en die tempel (die volheidsgetal van 144 000 wat neerkom op 12x10x10x10 vermenigvuldig met 12x10x10x10 - v.1-8). En daarna sien hy ’n groot menigte verlostes in die hemel wat niemand kon tel nie uit al die nasies, stamme, volke en tale en wat verwys na al die verlostes oor die wêreld wat saam met Israel reeds deel is van die verlostes.

Hierdie verlostes het gestaan voor die troon en voor die Lam (vgl. Op. 5:6) en hulle was bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande (v.9). Die menigte verlostes het met ’n groot stem geroep dat die verlossing (heil) aan hulle (“onse”) God behoort en aan die Lam (v.10). Hierop het al die engele wat rondom die troon en die ouderlinge (wat al die gelowiges verteenwoordig) en die vier lewende wesens (gerubs) gestaan het, voor die troon op hulle aangesig neergeval en God aanbid. Hulle het gesê: Amen! En toe het hulle die sewevoudige lof aan God gebring: Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte tot in alle ewigheid. Hulle het dit toe weer met Amen bevestig (v.11-12).

Een van die ouderlinge het toe vir Johannes gevra wie diegene met die wit klere is en waarvandaan hulle kom. Johannes het vol respek geantwoord dat die ouderling dit weet en toe het die ouderling geantwoord dat dit hulle is wat uit die groot verdrukking kom en wat hulle klere wit gemaak het in die bloed van die Lam (v.14). Daarom kan hulle nou voor die troon van God wees en Hom dag en nag in sy tempel dien. Daar word ook die belofte bygevoeg dat Hy wat op die troon sit, sy tent oor hulle sal oopspan (v.15). Die belofte word ook verder uitgebrei dat hulle nie meer honger en nie meer dors sal hê nie en dat die son of enige hitte nooit op hulle sal val nie (v.16). Die rede is dat die Lam wat in die middel van die troon is, hulle sal laat wei en na lewende waterfonteine sal lei. En God sal alle trane wat daar ook oor die verlede mag wees, van hulle oë afvee (v.17; vgl. Jes. 25:8).     

2022/04/28

'n Lam asof Hy geslag is

Lees: Openb. 5:1-14  

Gedagte vir kinders: Alle eer aan Jesus Christus, die Lam, wat ook die Leeu is.

Oorsig: Openbaring 5 brei uit op die gesig wat Johannes in Openbaring 4 sien. Dit gaan oor ’n gesig van die hemelse tempel en wat daar gebeur. In Openbaring 5 verneem ons van ’n boek(rol) in die regterhand van Hom wat op die troon sit. Dit was aan die binnekant en buitekant beskrywe en met sewe seëls verseël (v.1). ’n Sterk engel het toe met ’n groot stem geroep en gevra wie waardig is om die boek se seëls te breek die die boek oop te maak, maar daar was niemand in die hemel of op die aarde nie. Johannes het toe baie gehuil omdat niemand waardig was om die boek oop te maak of daarin te kyk nie (v.2-4).

Een van die 24 ouderlinge (verteenwoordigers van alle gelowiges – van die 12 stamme in die OT en die 12 apostels in die NT. Vgl. Op. 4:4-6) het toe vir hom gesê om nie te huil nie. Hy moes eerder kyk na (1) die Leeu, (2) Een uit die stam van Juda, Hy wat (3) die wortel van Dawid is. Hý het oorwin om die boek oop te maak en die seëls te breek (v.5). Johannes sien toe in die middel van die troon en die vier lewende wesens (gérubs, vgl. Ex. 25:18, Es. 1:5 e.v.) en die ouderlinge, ’n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë. Dit dui op die kragtige werking van die Heilige Gees oor die hele aarde. Die Lam het toe gekom en die boek geneem uit die regterhand van God. (v.6-7). Toe Hy dit neem, val die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge voor die Lam neer met siters en goue skale vol reukwerk, wat dui op die liedere en gebede van die heiliges (gelowiges). Hulle sing toe ’n nuwe lied en sê dat die Lam waardig is om die boek te neem en die seëls oop te maak. Die rede is dat Hy geslag is en die gelowiges (“ons”) vir God met sy bloed gekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie en hulle (ons) konings en priesters vir onse God gemaak wat as konings op die aarde sal heers (v.8-10).

2022/04/22

Openbaring op Sondag

Lees: Openb. 1:4-18              

Gedagte vir kinders: Jesus Christus het die sleutels van die dood in sy hande   

Oorsig: Die boek Openbaring gaan oor dit wat Jesus Christus aan Johannes bekend gemaak het om aan die Kerk van Christus deur te gee. (vgl. Mat. 24). Dit word spesifiek gerig aan sewe gemeentes in Asië (vandag Turkye), verteenwoordigers van die Kerk van Christus van alle tye. Johannes begin met ’n toesegging van genade en vrede. Dit kom vanaf Hom wat is en wat was en wat kom en van die sewe Geeste wat voor sy troon is - die volmaakte teenwoordigheid van die Heilige Gees (v.4). Dit kom ook vanaf Jesus Christus van wie drie dinge genoem word. Hy is (1) die getroue getuie (maturia), (2) die Eersgeborene uit die dode, en (3) die Owerste oor die konings van die aarde (v.5). Aan Hom word dan hulde gebring en daar word drie dinge genoem wat Hy gedoen het. Hy het (1) gelowiges (“ons”) liefgehad, (2) van hulle sonde gewas in sy bloed, en (3) gemaak tot konings en priesters vir sy God en Vader. En dan word heerlikheid en krag tot in alle ewigheid aan Hom toegebring (v.5-6). 

Hierna word Dn. 7:13-14 en Sag. 12:10 op Christus van toepassing gemaak. Hy wat kom met die wolke gaan oor Hom wat met sy Hemelvaart by die Vader gekom het en nou word Hy verkondig sodat elke oog Hom kan sien en berou kry oor hulle sonde. So sal dit gebeur totdat elke oog Hom finaal sal sien kom (v.7). Hierna bevestig die Here dat Hy die begin (Alfa) en die einde (Omega) is en wat is, was en wat kom, die Almagtige (v.8). Johannes vertel dan dat hy - Christenbroeder en deelgenoot - na die eiland Patmos verban was oor die getuienis van Jesus Christus. Op die Dag van die Here, die Sondag, was hy in die Gees en het ’n groot stem gehoor wat Homself weer Alfa en Omega noem en beveel om aan die sewe gemeentes in Asië te skryf (v.9-11).