2017/01/07

Baie meer as nuwe keuses

In Hand. 5:31 kry ons een van daardie verse wat te min aangehaal word. Oor die Logos van die heelal, Jesus Christus wat mens geword het, word die volgende gesê: "Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk."

In die eerste plek is dit gepas om iets oor die vertaling te sê. Hoewel nie volmaak nie, is ek van kop tot tone ’n ondersteuner van die 53-vertaling. Dit het te make met grootword, met melodieuse taal, met Langenhoven en met die beeld van hoë definisie televisie. Ander dag dalk meer daaroor. Vir nou is dit genoeg om net kennis te neem dat daar redes is waarom jou ondersteuningsvlakke maar hoog kan wees vir hierdie topverkoper. In tye van hooggety wonder ek selfs of die vervlakking in ons land nie deels te make het met lae definisie Bybelvertaling wat die ontginning van Bybelskatte kortwiek nie. Maar nou-ja, kom ons fokus dan nou op die hoë definisie wat ons hier vind.


Die verhoogde Heiland skenk bekering en vergifnis van sondes aan Israel, en per implikasie ook aan ons. Wat ’n bemoediging! Enigeen wat al erns gemaak het met bekering weet dat dit ’n weerbarstige saak is. Daar is die kwessie van motiewe wat maar moeilik is om te peil; daar is die halfhartigheid, en dan is daar natuurlik ook die onvermoë. Enigeen wat die populêre keuse-retoriek volg en maak asof dit bloot oor keuses gaan, het duidelik nog nie die rol van omgewing en kondisionering en swakheid van wilskrag verreken nie. Laat ons dit daarom maar weer weergalm: Augustinus het in die kerkgeskiedenis nie om dowe neute swaarde met Pelagius gekruis nie. Ons het baie  meer as nuwe keuses nodig. 

Ons teks sê dat ons Jesus Christus nodig het, selfs vir ons bekering. Vir die van ons wat suspisie het oor ons eie vermoë tot bekering is dit goeie nuus.