Wys tans plasings met die etiket Psalms. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Psalms. Wys alle plasings

2025/08/23

Maak my lewend

Lees: Psalm 119:153-160

Gedagte vir kinders: Roep die Here aan as dit swaar gaan en jy Hom nogtans dien.

Oorsig: Ps. 119 gaan oor iemand wat liries is oor God se wet en daaroor in gesprek is met die Gewer daarvan. Dit is gerangskik aan die hand van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet en elke letter van die alfabet het dan agt verse wat met daardie letter in die Hebreeus begin om te praat-  met God oor sy wet. Dit gaan dus in ons taal oor die A tot Z van God se wet, in gebed. God se wet gaan hier oor God se omvattende onderrigting aan Israel. Daar is in werklikheid  agt verskillende woorde wat God se wet telkens beskryf en in vyf groeperings van Ps. 119 word al agt beskrywings gebruik, maar elke afdeling onder elke Hebreeuse alfabet-letter gebruik ten minste ses van hierdie woorde.   

Ons lees in vers 153 onder die Hebreeuse letter, Resj, dat die Psalmis hier vra dat die HERE tog sy ellende sal raaksien en hom sal red, omdat hy die HERE se wet (thora -onderrigting/instruksie) nie vergeet nie (v.153). Hy gaan verder en vra dan spesifiek dat die HERE hom lewend sal maak volgens sy belofte (imra - vgl. v.154). Hy bely dan dat die heil (verlossing) ver van die goddelose is omdat hulle nie die HERE se insettinge (choqim - dekrete) soek nie (v.155). Hierna is die Psalmis verder in gebed. Hy erken dat die barmhartighede van die HERE menigvuldig is en vra dan weer dat hy lewend gemaak sal word. Hierdie keer vra hy dat dit sal gebeur deur die HERE se verordeninge (regverdige bepalinge/oordele - mishpatim).

Die Psalmis wys dan daarop dat hy vervolgers en teenstanders het en dat hulle baie (talryk) is. Tog se hy in sy gebed dat hy nie van die Here se getuienisse (statute - edot) afgewyk het nie. Hy gaan verder in sy gebed en wys daarop dat hy die mense gesien het wat troueloos handel. Hy maak dan in sy gebed ’n sterk stelling en sê dat dit hom gewalg het dat die trouelose mense nie die HERE se woord (dabar) onderhou nie (v.158). Hy vra dan dat die Here sal aanskou dat hy sy bevele (mitsvot) liefhet en dan vra hy weereens om lewend gemaak te word, hierdie keer volgens die HERE se goedertierenheid (chesed – troue verbondsliefde v.159). Hy sluit hierdie gedeelte af en bely voor die HERE dat die hele inhoud van sy woord (dabar) waarheid is en dat al sy regverdige verordeninge (ordinansies/oordele - mishpatim) tot in ewigheid is (v.160).            ERE sy regsaak sal verdedifg en voeg dan b       

Besprekingsvraag: Wat is die verskil in kenmerke hier tussen die getroues en die ontroues?

Insig: Hoe nader ons aan die einde van hierdie gelade Psalm beweeg, hoe intenser en dringender word die woorde. Ons begryp dit, want ons beleef ook sekere node op sekere tye intenser in ons lewe. Saam met die Psalmis beleef ons die behoefte, op ons hart gedruk deur die Heilige Gees, aan uitredding deur niemand anders as God self nie. Die Psalmis praat van sy ellende. Dit kan wees as gevolg van omstandighede of eie sonde (vgl. Ex. 3:7-8; Klg. 1:9). Hier is wel duidelik sprake van daadwerklike vyande (v.157).

2025/08/04

In die skuilplek van die Allerhoogste

Lees: Psalm 91:1-16

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om by Hom te kom skuil teen enigiets.

Oorsig: Psalm 91 word dikwels gebruik in tye van gevaar en krisis en groot uitdagings waar die dood so duidelik dreig. Dit bevat grootse woorde oor die vertroue in God wat ons asems wegslaan. Die satan het dan ook ’n besondere poging aangewend om hierdie Psalm se bedoeling skeef te trek in sy versoeking van die Here Jesus op aarde. Dit behoort ons aandagtig te laat luister na wat hierdie Psalm dan nou eintlik leer en wat die Here hier aan ons openbaar. Die Psalm begin met uitsprake oor wat met hulle gebeur wat skuiling vind by die Allerhoogste (v.1-2). Hulle sal in vernag in die skaduwee (beskerming) van die Almagtige (v.1). Dan maak die Psalmis dit persoonlik van toepassing in die eerste persoon op wat elke gelowige as “ek” vir die HERE, die Verbondsgod,  persoonlik mag sê: “My begvesting en my God op wie ek vertrou” (v.2).

Dan word beloftes gegee oor waaruit Hy gelowiges alles red (v.3-13) – soos uit die net van die voëlvanger en redding van pes.  Hy doen dit deur sy vlerke wat dek. Hierin is sy getrouheid soos ’n skild en pantser (v.3-4). Daarna word die gelowige wat dit beleef toegespreek in die tweede persoon. Jy hoef nie te vrees vir skrik in die nag of pyle wat in die dag rondvlieg nie (v.5). Dit gaan oor pes in die donker of siekte wat op die middag verwoes en wat baie bekend was in die versengende hitte in die woestyngebiede (v.6). Daar word selfs die belofte gemaak dat al val duisende langs jou, dit nie na jou sal aankom nie (v.7). Jy sal dit net met jou oë aanskou en die vergelding van die goddelose sien (v.8). Vers 9 begin en verwoord ’n persoonlike woord teenoor die Here: “”want U is my toevlug” en dan word die gelowige weer in die tweede persoon aangespreek: Jy het die Allerhoogste jou beskutting gemaak (v.9).       

Die beloftes gaan dan voort dat geen onheil of plaag jou sal tref nie. Die rede is die HERE sy engele bevel sal gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie (v.11-12; vgl. Luk. 4:9-12). Jy sal op die leeu en die adder trap en  hulle vertrap (v.13).  En dan word daar in die slot (v.14-16) oorgegaan na wat God oor die gelowige sê: Omdat hy (1.1) my liefhet en (1.2) my Naam ken, sal Hy hom (2.1) red en (2.2) beskerm (v.14). Die gelowige sal (1.3) Hom aanroep en God sal (2.3) verhoor en (2.4) in die nood sal Hy (“Ek”) by die gelowige wees en (2.5) uitred en (2.6) eer aan hom gee (v.15). Hy (“Ek”) sal hom (2.7) met lengte van dae versadig en (2.8) hom die HERE se heil laat sien (v.16).       

Besprekingsvraag: Hoe maak ons sin van Psalm 91 se beloftes as gelowiges ly en sterf?  

Insig: Hierdie wonderlike Psalm met sy grootse uitsprake kan net op een manier sy volle waarde vir ons hê: wanneer ons verstaan dat in die eerste plek gemaak word aan die een van wie hierdie Psalm in sy volheid waar is: die Messias, Jesus Christus. 

2025/05/12

Die Heer sal opstaan tot die stryd

 Lees: Psalm 68

Gedagte vir kinders: Niemand kan standhou wanneer die Here vir sy kinders optree nie.

Oorsig: Psalm 68 gaan oor die oorwinning van die Here in hierdie wêreld en beskryf met poëtiese taal die gang van God se volk in die woestyn met die ark, vanaf Sinai tot dit uiteindelik onder Dawid in Jerusalem geplaas is. Dit is ook profeties van wat later in Christus sou gebeur. Die gedeelte begin met ’n inleiding wat God se dade opsom. In vers 1-7 hoor ons eers ’n stelling/gebed/roep (vgl. KJV) teen God se vyande (v.2-3) en vir die regverdiges (v.4). Wanneer God toetree tot die stryd is die vyande soos rook en soos was voor God se aangesig. Hieroor is die regverdiges bly en juig en is vrolik. Hulle word dan opgeroep om tot eer van God te sing wat soos ’n Koning deur die woestynvlaktes/op die wolke ry (vgl. KJV; NAV en 2020-vertaling) en dat Hy die swakkes versorg – die Vader van wese en die Regter van weduwees. Hy laat eensames woon in ’n huisgesin en lei gevangenes na voorspoed, maar rebelle woon in ’n dor land (v.5-7).  

Dan volg ’n poëtiese belydenis teenoor die Here van die reis van die ark vanaf Sinai tot Sion (v.7-19). Daar word met God gepraat oor hoe hy uitgetrek het voor sy volk in die duisternis en hoe die aarde gebewe het en die hemele reën gedrup het, soos by die verskyning by Sinai. Hy het hulle deur die wildernis gelei (v.8-9) en hulle gevestig het in Kanaän (v.10-11). Hy het hulle oorwinning gegee oor die vyande (v.12-13). En hulle uit die hand van konings en onderdrukkers bevry (v.14-15). Hy woon op ’n besondere wyse onder sy volk wat iets is waaroor aansienlikes soos die aansienlike berg Basan, jaloers kan raak op Sion (v. 16-18). Sy opgang na Sion word beskryf as dat Hy opgeklim het na die hoogte en gevangenes weggevoer het en geskenke onder die mense geneem om daar tuiste te vind. Paulus leer ons dat dit ’n tipe is wat heenwys na Christus en die hemelse Sion, en pas dit toe op die Hemelvaart van Christus (Ef. 4:7-16). Sy Naam word dan weer uitgeroep: O HERE, God!   

Dan verneem ons van die reaksie op en prosessie van die oorwinning (v.20-27). Die Here word geloof vir sy verlossing wat hulle dra/oorlaai met guns (vgl. KJV) en uitkoms teen die dood gee (v.20-21). Die volstrekte oorwinning tot die uiterste en die guns vir God se volk en die optog van al die verteenwoordigers word dan beskrywe. (v.22-28). En dan verneem ons van die verdere roepe tot God om sy krag te openbaar en ’n oproep op die koninkryke van die aarde om te antwoord (v.28-35). Die heidene bring erkenning (v.29-32). Die Psalmis sluit dan af met ’n oproep aan die koninkryke van die aarde om lof te bring aan God en om sy heerlikheid en glorie te erken wat deur Israel gekom het (v.33-35). Dit is ’n wonderlike oorwinningslied waarin daar reeds in die Ou Testament gejuig word en daar ook vooruitgekyk word na die oorwinning wat Jesus Christus sou bring.   

Besprekingsvraag: Waarna wys die oorwinning en die gang van die ark as tipe heen?

Insig: Psalm 68 getuig en juig oor die wonderbare en omvattende oorwinning van God. Dit het heel gepas ook ʼn strydlied geword van die Skotse Covenanters en Franse Hugenote. Ons begryp dit beter wanneer ons raaksien hoe Psalm 68 terugkyk op en vorentoe kyk na die groot dade van God. 

2025/04/12

In die land van die lewendes

Lees: Psalm 116

Gedagte vir kinders: Geniet jou lewe voor die aangesig van God en dank Hom vir Jesus Christus.

Oorsig: Ps. 116 vorm deel van die Hallel-Psalms (Lofpsalms: Ps. 113-118) wat gebruik was en steeds gebruik word by die viering van die jaarlikse Paasfees van Israel. Dit was deel van die laaste lofsange wat die Here Jesus saam met sy dissipels gesing het by die maaltyd waar Hy die Nagmaal ingestel het, net voor hulle na die tuin Getsemane gegaan het (vgl. Mt. 26:30). Die Here Jesus het hierdie lied oor verlossing van die dood dus reeds gesing terwyl Hy geweet het wat op Hom wag. Die Psalm bestaan uit twee basiese dele: vers 1-9 en vers 10-19. In die Spetuaginta (Griekse vertaling: LXX) en Vulgaat (Latynse vertaling) is dit twee afsonderlike Psalms, maar daar is geen rede om dit nie saam met die Hebreeuse Teks as een Psalm te waardeer nie.

In vers 1 stel die Psalmis dat hy liefhet, omdat die HERE sy smekinge gehoor het (vgl. Ps. 18:1). Die HERE het sy oor geneig en daarom sal hy Hom aanroep (v.1-2). Sy krisis was die dood en bande en angste van die doderyk het hom getref (vgl. Ps. 107:3,14). Maar Hy het toe die Naam van die HERE aangeroep: Ag, HERE, red my siel (v.3-4). Dan getuig Hy dat die Here genadig, regverdig en ’n ontfermer is (vgl. Ex 34:6). Ook dat hy die eenvoudiges bewaar. Hy het swak geword, maar die HERE het hom gehelp (v.5-6). Hy praat hierna met homself en gesê dat hy maar kan terugkeer tot rus om dat die HERE goed aan hom gedoen het. Hy praat daarna met die HERE (U) en loof Hom dat Hy sy siel gered het van die dood, sy oog van trane en sy voet van struikeling. Hy doen dan ’n belydenis dat hy sal wandel voor die aangesig van die HERE in die lande van die lewendes  (v.7-9).    

Die Psalmis stel dan dat hy geglo het, ten spyte daarvan dat hy gesê het dat hy diep neergebuig is oor sy omstandighede. Hy het in sy angs gesê dat alle mense leuenaars is (v.10-11). Maar dan gaan hy weer in lof oor en vra wat hy die HERE kan vergeld vir al sy weldade aan hom. Hy antwoord hierop en stel dat hy die beker van verlossing sal opneem en die Naam van die HERE sal aanroep. Hy gaan ook verder en stel dat die geloftes wat Hy aan die HERE gedoen sal betaal in die teenwoordige van sy totale volk (vgl. Num. 30:1-2; Deut. 23:21; 1 Sam. 1:11 ). Hierna stel hy dat die dood van sy gunsgenote kosbaar/duur is in die oë van die HERE. Die bedoeling is dat die HERE juis daarom nie sy kinders daarin oorgee nie (v.12-15). En dan doen hy weer ’n belydenis teenoor sy God: Ag HERE, sekerlik, ek is u kneg, die seun van u dienmeisie. Die rede wat hy gee is omdat die HERE sy bande wat hom aan die dood gebind het, losgemaak het. Hy volg dit dan daarmee op soos in vers 14 dat Hy sy geloftes aan die HERE sal betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk (v.16-18). Hy brei hierop uit en stel dat dit gebeur by die tempel – in die voorhowe van die huis van die HERE, ja binne in Jerusalem wat hy persoonlik aanspreek. En dan kom die groot woord van die Hallel-Psalms weer na vore: Halleluja! Dit beteken “Loof die HERE!” (v.19; vgl. Openb. 19:1,3,4,6).

Besprekingsvraag: Wat is die gepaste reaksie op God se genade?

Insig: Die lewe is ’n gawe van God. Soms is dit ’n naby-dood ervaring wat ons die lewe op ’n nuwe wyse laat smaak en proe en geniet – om weer ekstaties daaroor te mag wees om te lewe en dit nogal voor die aangesig van God. Maar die Psalm gaan nie net gaan oor ’n tydelike pouse in die teenstand teen die meedoënloos-naderende mag van die dood nie. Die Psalm spreek oor lewe op so ’n wyse dat dit net voluit waardeer kan word wanneer lewe altyd groter is as die dood. 

2024/11/16

Wysheid wat uitstyg

Lees: Ps. 119:97-104

Gedagte vir kinders: Die HERE se beloftes soeter as heuning vir elkeen wat dit glo.

Oorsig: Ps. 119 gaan oor iemand wat liries is oor God se wet (torah – omvattende onderrigting) en daaroor in gesprek is met die Gewer daarvan. Dit is gerangskik aan die hand van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet en elke letter van die alfabet het dan agt verse wat met daardie spesifieke letter in die Hebreeus begin om te praat met God oor sy wet. Dit gaan dus in ons taal oor die A tot Z van God se wet, in gebed. Daar is altesaam agt verskillende woorde wat die onderrigting beskryf en in vyf groeperings van Ps. 119 word al agt soorte beskrywings gebruik, maar elke afdeling onder elke Hebreeuse alfabet-letter gebruik ten minste ses van woorde.   

Ons lees in vers 97 onder die Hebreeuse letter, Mem, dat die Psalmis hier ’n belydenis doen, sonder enige klag of versoek. Hy het die HERE se wet (onderrigting/instruksie) lief. Daarom bedink hy dit die hele dag (v.97). Daar is ’n besondere gevolg hiervan wat hy in die volgende verse noem waar hy stel dat dit hom laat uitstyg bo verkillende groepe mense. Dit maak hom (1) wyser as sy vyande. Vyande gaan hier oor hulle wat in opstand teen God is en hom vervolg en planne maak in stryd met God se wil. Die Psalmis begrond sy wyser wees in die feit dat God se gebooie syne is (toegeëien) vir ewig (v.98). Die HERE se getuienisse laat hom verder ook (2) uitstyg bo al sy leermeesters. Die rede is dat die HERE se getuienisse sy bepeinsing (meditering/deurdenking) is (v.98). Die Here se bevele gee hom selfs meer verstand as die ou mense. Die rede is omdat hy die bevele ook doen (bewaar; v. 100).     

Hierna gaan die Psalmis voort om te getuig dat hy in sy praktiese lewe sy voete teruggehou het van elke verkeerde pad, sodat hy wel die HERE se woord kan bewaar (v.101). Hy verduidelik verder dat hy van die Here se verordening nie afgewyk het nie, aangesien die HERE self (Ú) hom geleer het (v.102). God self is dus teenwoordig in sy verordeninge. Van hier af gaan die Psalmis voort om sy genieting van God se woord en sy beloftes te beskryf. Hy roep uit dat die HERE se beloftes soet is vir sy verhemelte, meer as heuning vir sy mond (v.103). Hy sluit dan hierdie gedeelte af deur te verklaar dat hy verstand kry uit God se bevele. Daarom haat hy elke leuenpad (v.104). Die haat gaan is dus nie uit vanaf ’n seergemaakte eie-ek nie, maar eerder dat hy verstand gekry het uit God se bevele oor die ware en goeie pad en daarom die afskuwelike alternatiewe wat uitloop op ondergang, verafsku.

Besprekingsvraag: Wat is die geheim van ’n lewe wat in wysheid uitstyg?

Insig: Postmoderne mense verbeel hulle maklik dat hulle nou totaal bevry anderkant ’n vorige era getree het en daarmee ook van sekere strukture en strakke redenasies bevry is. Daar is egter een ding waarmee die mens van vandag net so vasgevang is en selfs meer as vorige geslagte: Die nietige najaag van jou outonomie (eie wetlikheid) wat eenvoudig sal eindig waar Adam en Eva, Babel en elke eie poging van “I did it my way” al lankal beland het. Die Woord wys hier op die lewegewende alternatief wat tot wysheid lei wat jou bo jou tydgenote kan laat uitstyg. Wanneer ons dit verneem kan ons nie anders as om na te dink oor die lewe van  Dawid as jong vlugteling teen die bestaande orde van die ongehoorsame Saul nie. En natuurlik is daar ook sy groot Afstammeling, die Here Jesus op aarde, wat dit meer as enigeen vergestalt het om van kleins af wyser as die leraars en die ou mense te wees en sy vyande te troef (vgl. Luk 2:46-47; Mat. 15:1-20; 22:46). Dit is opvallend dat hierdie afdeling met liefde begin (v.97) en met haat eindig (v.104). Dit beteken dat ons eers deur ware liefde moet werk om die regte soort haat te kan vertoon wat nie in ons eie-ek gestel is nie. Die Kerkvader, Augustinus, het ook daarop gewys dat hierdie liefde vir God se onderrigting verstaan moet word vanuit die vorige vers 96 wat ontdek het dat God se gebod baie wyd is en daarom soveel ruimte bied om waarlik te leef. Hier is werklik sprake van die groot en liefdevolle alternatief op mense se eiewilligheid.

2024/06/06

De profundis: Uit die dieptes

Lees: Psalm 130

Gedagte vir kinders: Roep die HERE aan in die donkerste dieptes en wag op sy antwoorde.

Oorsig: Psalm 130 is deel van die bedevaartsliedere. Dit is moontlik gesing wanneer die Israeliete opgetrek het vir hulle jaarlikse feeste in Jerusalem. Ons sing dit steeds op pad na die nuwe Jerusalem. Hierdie Psalm is deel van die sewe Boetepsalms (Ps. 6, 32,38, 51, 102, 130, 143) en is al baie gebruik om sondaars, privaat en gesamentlik, te help met woorde as hulle nederig tot God nader met hulle sonde (vgl. 1 Kon. 8:3-40). Ons hoor hier van aanroeping (v.1-2), skuldbelydenis en toevlug, (v.3-4), stille vertroue (v.5-6), en gesamentlike vetroue en lof (v.7-8).

Hierdie Psalmis is in die dieptes van chaos en dit voel of hy verdrink (vgl. Ps. 69:2,14; Jes. 51:10; Es. 27:34). Hy is in die dieptes, maar laat ons hoor wat hy haar doen waar dit voel of alles vergaan: Hy roep die HERE persoonlik aan (v.1; drievoudig tot by v.3).

Die Psalmis neem sy gebed verder en pleit dat die Here sy stem sal hoor en dat sy ore sal luister na sy smekinge (v.2). Hy is in sy lewenskrisis ook bewus van sy sonde wat in die pad staan dat die Here hom sal hoor. Dit kon dalk selfs die vernaamste oorsaak van sy krisis gewees het. Hy erken sy sonde en pleit biddend (As U, HERE ... ) dat niemand sal bestaan as die HERE werklik die sonde (ongeregtighede) in gedagtenis hou nie (v.3).  En daarom wys Hy ook op dit wat hom hoop gee. Hy stel dit eerstens teenoor die Here self dat daar by Hom vergewing is sodat Hy gevrees (aanbid) sal word (v.4). Let op: God word nie gevrees (vereer) en daarom vergewe Hy nie, maar Hy vergewe en daarom word Hy gevrees (vereer). Dit beteken dat mens in heilige eerbied en verwondering met Hom lewe wat geduldig met ons is en ons vergewe.           

Hierdie Psalmis wat die HERE drie maal persoonlik aangeroep het en dit telkens uitgebrei het, sê  nou ook drie maal dat Hy op die Here wag. Ook hier sê hy dit met sinne wat telkens uitbrei. Eers sê hy net dat hy op die Here wag. Dan brei hy daarop uit dat hy met sy diepste wese, sy siel, op die Here wag en op sy beloftes (woord) hoop (v.5). En hy brei dan verder hierop uit en stel dat sy siel op die Here wag meer as wat die wagters wat op die mure van Jerusalem wag gehou het in die nag, op die nuwe môre wag. Hy herhaal die woorde wagters op die môre om die beeld en verwagting te laat insink (v. 6). En dan roep die Psalmis die hele Israel op om saam met hom te wag op die HERE. Hy dink nie nou nie meer net aan sy eie situasie nie, maar aan alle gelowiges wat in die verbond met God lewe. Die rede waarom daar gewag kan word is om om daar by die HERE die goedertierenheid (let op die bepaalde lidwoord; chesed; verbondstrou) is, sowel as veel (menigvuldige/volkome) verlossing (v. 7; let op die rykdom hiervan. Vgl. Ef. 1:7, 2:4,7; Kol. 1:13,14). En dan voeg die Psalmis nog iets by. Die HERE self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede (v.8). Dit is treffend dat hulle nie verlos word van ’n situasie of van vyande nie, maar van hul sonde. Dit het gebeur toe die Here self sy Seun vir ons gegee het om ons te verlos van ons sonde (vgl. Mat. 1:21).              

Besprekingsvraag: Gee voorbeelde van dieptes waarin kinders van die Here kan beland.

Insig: Daar is verskillende maniere waarop ’n mens in ’n lewenskrisis of beproewing kan beland. Dit is goed dat ons nie presies weet wat dit hier was nie, sodat ons elke belewenis van chaosmagte, hier genoem die dieptes, daar waar dit voel of jy verdrink, hierop kan betrek. 

2023/07/25

Die geheim van standvastigheid en sekuriteit

Lees: Ps. 125

Gedagte vir kinders: Ons kan net standvastig wees wanneer ons op die Here vertrou.

Oorsig: Psalm 125 is deel van die bedevaartsliedere. Dit is moontlik gesing wanneer die Israeliete opgetrek het vir hulle jaarlikse feeste in Jerusalem. Ons sing dit steeds op pad na die nuwe Jerusalem. Hierdie Psalm begin met twee vergelykings tussen mense wat op die HERE vertrou en Jerusalem (v.1-2). Daarna hoor ons van die die gevolge hiervan vir die goddelose (v.3). Die Psalm vervolg dan met ’n gebed wat ingemeng is met ’n vermaning/belydenis (v.4-5). Die Psalm eindig met ’n seën soos sommige ander Psalms (vgl. Ps. 122:8; 128:6) en ook Paulus en die priesterlike seën (vgl. Num. 6:26; Gal. 6:16).

Die Psalm begin (v. 1) met ’n eerste vergelyking tussen die wat op die HERE vertrou en die berg Sion. Sion was die berg waarop die tempel gebou is. Hierdie berg waarop die tempel van die lewende God gestaan het, was die simbool van vastigheid en ware aanbidding wat in die HERE self gevestig was. Die Psalmis stel dan dat mense wat op die HERE vertrou hiermee vergelyk kan word. In die tweede vers gebruik hy ’n ander beeld van Jerusalem en berge. Hy wys daarop dat daar rondom Jerusalem berge was. Dit was in die vroeë tyd baie belangrik vir beskerming en het beteken dat die vyand jou nie sommer maklik kan inneem nie. Hier vergelyk die Psalmis die berge met God wat rondom sy volk is vir altyd. Watter gevolg het hierdie twee beloftes oor standvastigheid en veiligheid? Dit beteken dat die heerskappy (septer) van goddeloosheid nie rusplek sal vind op die erfdeel van God se kinders (die regverdiges) nie. Die rede waarom dit nie sal gebeur nie, is hier sodat God se kinders nie hulle hande sal uitsteek na onreg nie. Met ander woorde dat hulle in die versoeking sal kom om onreg te doen omdat dit lyk of die goddelose vir altyd suksesvol is.     

Die Psalmis gaan dan oor tot ’n gebede waarin Hy die HERE vra om goed te doen aan die goeies, bedoelende hulle wie se harte deur God verander is. Hy beskryf sulke mense ook as die wat opreg is hulle harte. Hy vra dus dat die Here nie sal toelaat dat die goeie ontbreek by hulle wat Hom volg nie (vgl. Ps. 84:12). Hierdie gebedsversoek word opgevolg deur ’n erkenning en vermaning. Hulle uit die volk van God wat langs krom paaie wegdraai sal die HERE laat vergaan saam met die werkers van ongeregtigheid. En dan sluit die Psalmis dit af met ’n seënbede: Vrede oor Israel. Dit is ’n wens dat wanneer Israel in hierdie geloof leef en op die HERE vertrou, hulle sy seën (shalom: omvattende welstand) sal beleef.

Besprekingsvraag: Hoe verkaar ons dit wanneer die bose skynbaar die oorhand het? 

Insig: In ’n wêreld waarin soveel dinge verander en vloeiend is, soek ons na bakens van standvastigheid. Kyk maar net na kinders wat die sekerheid van die ouerhuis weer opsoek. In Bybeltye was ’n ommuurde stad, ’n plek van veiligheid en stabiliteit, veral as dit op die berge en tussen berge was. Dit was by uitstek waar van die berg Sion met die tempel daarop binne die stad Jerusalem met berge rondom. Hierdie Godstad is beskou as sterk genoeg om militêre mag en selfs kosmiese magte te weerstaan (vgl. Ps. 46, 48). Waarom? Omdat die lewende God sy Naam daar gevestig het en in hul midde was. Nou gebruik die Psalmis juis beelde van hierdie stad met sy berge om te spreek van standvastigheid, geborgenheid, en beskerming. Diegene wat op die HERE vertrou is soos Sion en Jerusalem self ook nou bakens van standvastigheid en veiligheid. En uitdagende situasies toets ons telkens: Gaan jy nou op die HERE vertrou? Dit gee stabiliteit, maar ook beskerming, want die HERE eer die wat Hom eer.

Genade, Woord, en versoekings

Lees: Ps. 119:57-64

Gedagte vir kinders: Die Here self is ons grootste besitting en erfenis.

Oorsig: Ps. 119 gaan oor iemand wat liries is oor God se wet (torah – omvattende onderrigting) en daaroor in gesprek is met die Gewer daarvan. Dit is gerangskik aan die hand van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet en elke letter van die alfabet het dan agt verse wat met daardie letter in die Hebreeus begin om te praat met God oor sy wet. Dit gaan dus in ons taal oor die A tot Z van God se wet, in gebed. Daar is altesaam agt verskillende woorde wat die Woord beskryf en in vyf groeperings van Ps. 119 word al agt soorte beskrywings gebruik, maar elke groepering onder elke Hebreeuse alfabet-letter gebruik ten minste ses van hierdie beskrywings.   

Ons lees in vers 57 onder die Hebreeuse letter, Get, dat die Psalmis bely dat die HERE self sy deel, met ander woorde sy eintlike erfporsie is. Daarom het hy ook gesê dat hy sy woorde sal bewaar. Wat is dan sy reaksie en gebed tot sy HERE? Hy (1) smeek Hom met (2) sy hele hart om (3) genade in lyn met (4) God se belofte (imra - vgl. v.58). Hy dink daarom ook na oor sy paaie (weë) en laat sy voete teruggaan na God se getuienisse (edot: statute). Hy doen dit met haastigheid en talm nie om God se gebooie (mitsvot: bevele) te onderhou nie (v. 59-60). Die Psalmis vertel dat hy dit wou doen, maar was daar versoekinge (strikke) van die goddelose wat hom omring en verhinder het. Tog het hy God se wet (torah: onderrigting) nie in sulke omstandighede vergeet het nie (v.61).          

Die Psalmis gaan dan voort om te vertel hoe kosbaar die HERE en sy Woord vir hom is. Selfs middernag, die tyd wanneer ons dikwels die meeste weerloos, swak, losbandig of uiters traag is vir enigiets behalwe slaap of sonde, staan hy aktief op om God te loof vir sy regverdige verordeninge (mishpatim: oordele; v.62). Hy wys dan ook vir wie hy ’n spesiale vriend (metgesel) is. Dit is almal wat die HERE vrees, met ander woorde die wat vir Hom ontsag het en Hom eerste stel en wat sy bevele (piqqudim: voorskrifte ) onderhou (v.63). Die Psalmis eindig met ’n lofprysing tot sy HERE, die Verbondsgod van Israel en vandag die Kerk. Hy noem Hom op sy Naam, en bely dat die hele aarde vol is van die HERE se goedertierenheid (hesed: verbondstrou; v.64). Wat gebeur wanneer ’n mens bewus raak van die HERE se goedertierenheid en verbondstrou wat oral is? Hy wil hierdie God intiemer ken deur sy insettinge (choqim: dekrete) te leer.  

2023/04/29

Die Herder en Gasheer

Lees: Psalm 23

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus is ons goeie herder.

Oorsig: Psalm 23 gebruik twee besondere beelde om ons Here en Verlosser te beskryf: Herder en Gasheer. Hierdie Psalm van Dawid spel die konsekwensies daarvan uit. Die Psalm begin reeds verstommend. Die HERE, skepper van hemel en aarde, Verbondsgod van Israel en later die Kerk, is my Herder. Dawid was self ’n herder van skape en later ’n koning-herder van ’n volk (vgl. Es. 34:1-5; 37:24). Dawid het geweet van herderskap en kan daarom die Herder-beeld besonders toepas. Die herder-beeld vir die HERE was ook deurgaans in Israel belangrik (Gen. 48:15; Dt. 2:7; Es. 34:12).

Omdat die HERE my herder is, sal niks in my lewe kortkom (ontbreek) nie (v.1). Gelowiges het wel baie begeertes en nie alle wense is goed of word noodwendig hier vervul nie, maar daar kom niks kort wat ek werklik nodig het nie. (vgl. Fil. 4:6-7). Hierdie Herder laat my verder neerlê in groen weivelde - totaal ontspan in vertroue by Hom en die groen belewenis van sy sorg in weivelde. Hy lei ook na waters van rus wanneer ek opstaan vanuit sy rus (v.2). Hy verkwik/herstel verder my siel - Hy bring lewe terug in my diepste wese wanneer dit uitgeput is. Sy leiding is verder spesifiek in die spore van geregtigheid – dit is die pad van lewe en onsterflikheid (vgl. Spr. 12:28). Hy doen dit alles om sy Naam ontwil (v.3). Dit beteken nie dat Hy dit nie doen vanuit ’n slegte ego nie, maar om sy wonderlike Naam en wese aan ons en die wêreld bekend te maak. Hierdie sorg beteken dat ek geen onheil hoef te vrees nie, selfs nie daar waar die skaduwee van die dood dreig nie, soos daar waar skape in baie gevaarlike plekke verkeer. Waarom nie? Want hierdie Herder is met my. Hy het ’n stok en ’n staf - die stok om te slaan en te beskerm en die staf om te begelei, aan te help en te dissiplineer op die regte pad. Dit gee troos en stel gerus (v.4).  

Die beeld van herder gaan hierna oor na die beeld van die gasheer. Die HERE is self, verstommend genoeg,  ons Gasheer. Hy berei ’n tafel vir my, wat teken is van ’n intieme verhouding en oorvloed. Die verstommende is dat dit gebeur te midde van en teenoor die vyande wat dit moet aanskou. Die hoof word gesalf (vet gemaak) met olie, soos 'n eregas, en die oorvloed is so groot dat die beker oorloop (v.5). En dit bring die Psalmis by sy gevolgtrekking. Wat hom sal volg, soos wat hy die Herder volg, is net God se goedheid en guns (chesed: verbondstrou), al die dae van sy lewe. Meer nog, Hy sal in die huis van die Here bly vir altyd (in lengte van dae – v.6). Dit mag elke gelowige agterna sê.

Besprekingsvraag: Hoe voorkom ons dat ons hierdie Psalm soetsappig lees?

Insig: Ons moet daarteen waak om hierdie Psalm bloot sentimenteel te lees.

2023/02/20

Om te lag vir sameswerings

Lees: Psalm. 2

Gedagte vir kinders: Die Here lag en spot met mense wat teen Jesus Christus planne maak.

Oorsig: Psalm 2 vorm saam met Psalm 1 ’n inleiding/toegang tot die Psalms. Psalm 1 begin met die woord “welgeluksalig” en Psalm 2 eindig met die dieselfde woord. Psalm 1 praat oor een mens, maar Psalms 2 brei dit uit en praat met al die nasies. Psalm 1 praat oor die mens wat God se woord “oordink”, en Psalm 2 gebruik dieselfde woord vir mense wat teen God saam planne “bedink”. Ons kan Psalm 2 basies in vier dele van drie verse elk verdeel. Die eerste deel (v.1-3) beskrywe die opstand van die nasies en hulle konings en regters. Die vraag word gevra waarom die volke en nasies so woel en nietige dinge bedink. Dit word dan verder beskrywe as dat hulle konings en vorste saam planne maak teen die Here en sy gesalfde Koning. In Israel het die gesalfde (Messias) gedui op die koning uit die nageslag van Dawid, maar het ook heengewys na die groot Koning wat uiteindelik uit Dawid se nageslag gebore sou word. Die nasies wou die HERE en sy gesalfde se bande en toue stukkend ruk en afgooi.

2023/02/17

Opregtes wat wandel in Woord-dinamika

Lees: Ps. 119:1-8

Gedagte vir kinders: Dit is wonderlik om deur God se Woord gevoed en gelei te word

Oorsig: Ps. 119 gaan oor iemand wat liries is oor God se wet (torah - onderrigting) en daaroor in gesprek is met die Gewer daarvan. Dit is gerangskik aan die hand van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet en elke letter van die alfabet het dan agt verse wat met daardie letter in die Hebreeus begin om te praat met God oor sy wet. Dit gaan dus in ons taal oor die A tot Z van God se wet, in gebed. Deur die eeue het mense dikwels gemaak asof God se wet net veroordelend is en dat daar min vreugde te vind is in die God van die Ou Testament en in sy wet. Soos die boek Hooglied, maak ook Psalm 119 dit duidelik dat dit ’n totaal verkeerde siening is. Hier is belydenis, maar ook verlustiging in die oortreffende trap oor God se wet. Want torah gaan eintlik oor God se omvattende onderrigting aan Israel.

2022/06/03

Bronne oor die Psalms

Hier is ’n paar intree-werke oor die Psalms wat lyk of hulle plofkrag het. Dit behoort tot  gereformeerde katolieke van baie stofasies te spreek. My bietjie ondervinding is dat hierdie werke uit verskillende tradisies help om verskillende dimensies te waardeer. Is ook wel sover verras deur die ooreenstemmende Christologiese aksente. Laat weet gerus van ander verdienstelike publikasies. En die doel is natuurlik eenvoudig: Om so begelei te word in beter aanbidding, doksologie en allerhande ander dimensies van gebede en geestelike liedere:  

O. Palmer Robertson (Presbiteriaan). The Flow of the Psalms: Discovering their Structure and Theology.

David Guzik (Grootdoper en Chilias. In ’n sin ’n uitbreiding van Spurgeon. Gratis beskikbaar op Internet.). Psalms. Verse by Verse Commentary.

Michael Barber (Rooms Katoliek). Singing in the Reign: The Psalms and the Liturgy of God’s Kingdom.

Dietrich Bonhoeffer (Lutheraan). Psalms: The Prayer Book of the Bible.

Jason Bayassee. Praise Seeking Understanding: Reading the Psalms with Augustine.

Patrick Henry Reardon (Oorsters Ortodoks). Christ in the Psalms

2022/05/25

'n Preek vir Hemelvaartdag

Hierdie boodskap is op Hemelvaartdag 2021 op Pretoria FM in die aand uitgesaai. 

Lees: Hd. 2:33-36; Ps. 110; Psalm 2:7-12, Dn. 7:13-14

Inleiding

Hemelvaart is tradisioneel een van die vyf groot bakens op die kalenders van Christene: Kersfees, Goeie Vrydag, Paassondag, Hemelvaart en Pinkster. En nou weet ons, in Suid-Afrika is die viering van Hemelvaart reeds vir ’n geruime tyd geskrap van ons amptelike vakansiedae, en ons behoort dringender as voorheen te vra: Waarom, en wat is die gevolge en implikasies hiervan? Die feit is dat ook die verwaarlosing van die betekenis van die Hemelvaart daartoe lei dat ons nie meer leef uit die volheid van die evangelie nie. Ons vergeet byvoorbeeld te maklik dat daar slegs een rede is waarom al die dinge wat Christus vir ons in die verlede tyd gedoen het, nou, in die hede, ’n werklikheid mag wees – die Hemelvaart van Jesus Christus.   

Broeder en suster, die viering van, en leef uit die betekenis van Hemelvaart is baie belangrik. Dit is selfs in die geseënde tradisie van die Kerk beskou as die hoogtepunt van die verlossing wat Christus gebring het. Daarsonder kan ons nie werklik begryp en waardeer waarom die heilswerk van Christus in die verlede ook in ons dag waar e het in de hede en kan oopblom ook in ons tyd nie. En tog, in Suid-Afrika is dit die Christelike vakansiedag wat weggeval het, terwyl baie Europese lande nog hierdie dag herdenk, al is dit dikwels net in naam. Nou is dit wel so dat Christene se eintlike feesdag elke Sondag op die eerste dag van die week is, maar daar is ook iets soos die kerstening van ’n kultuur. Enige kultuur het die manier om sy kerstening, al dan nie, te reflekteer op die openbare kalender. Dit gee ’n goeie idee van wie die eintlike God of gode van die samelewing is. Ons sou selfs sover kon gaan as om daarop te wys dat die ware god van ’n samelewing aan die lig kom as jy let op dit wat in die openbaar as polities korrek beskou word. Ons sou hierby kon voeg dat jy ook moet let op die publieke vakansiedae (“holy days” wat "holidays" geword het) wat gevier word. Dit verbaas daarom glad nie om te sien dat Hemelvaart van die rol geskrap is nie, want sien, Hemelvaart getuig op ’n baie besondere wyse van wie die eintlike Koning op die troon is.

Ja, Hemelvaart gaan oor die grootste troonsbestyging ooit. Niks kan daarmee vergelyk word nie. Elke aanspraak op ’n nuwe orde met die bedoeling van ’n nuwe troon moet beoordeel word in die lig van die nuwe orde in Christus wat deur sy Hemelvaart ingelei is. In die viering van die Hemelvaart getuig ons wie eintlik op die troon sit – ’n waarheid wat drie jaar oue verbondskinders meer korrek bely as sekere openbare leiers in ons land. En daarom kan ons dit gerus maar weer by die herdenking van Hemelvaart prontuit bely en mekaar daaraan herinner: Die belydenis dat Jesus die Here is, is die grootste politieke uitspraak van alle tye. Hemelvaart getuig kragtig hiervan. En daarom kan die openbare en politieke ontkenning van die Hemelvaart van Christus in ’n samelewing nie sonder konsekwensies bly nie. Ons gaan aan die hand van die Woord na hierdie konsekwensie kyk onder die volgende punte:

  1. ·       Hemelvaart en die staat
  2. ·       Hemelvaart en die Kerk
  3. ·       Hemelvaart en die appél op ons

2022/04/07

Oorwinning deur die kruis

Lees: Ps. 118:16-29

Gedagte vir kinders: Laat ons die HERE loof vir sy wonderlike verlossing deur Jesus Christus

Oorsig: Ps. 118 vorm deel van die Hallel-Psalms (Loofpsalms: Ps. 113-118) wat gebruik was en steeds gebruik word by die viering van die jaarlikse Paasfees van Israel. Dit was deel van die laaste lofsang wat die Here Jesus saam met sy dissipels gesing het, net voordat hulle weggegaan het van die maaltyd waar Hy die Nagmaal ingestel het (vgl. Mt. 26:30). Die Here Jesus het die oorwinningslied dus reeds gesing terwyl Hy geweet het wat op Hom wag. Ps. 118 het drie basiese dele. Daar is (1) die oproep tot die gemeente vir danksegging (v.1-4). Dan word vertel (2) van Goddelike redding (v.5-18). En dan word geëindig (3) met die viering van die redding (v.19-29). Ons hanteer hierdie gedeelte vanaf die einde van die tweede deel en begin by vers 16.

2022/03/29

Ware gesag en valse gemaksone

Lees: Luk. 20:9-20

Gedagte vir kinders: Elkeen wat Jesus verwerp, sal verlore gaan.          

Oorsig: Die Here Jesus het deur sy intog op ’n esel in Jerusalem reeds verklaar dat Hy wel die Messias is. Hierna was daar ’n duidelike spanning tussen Hom en die godsdienstige leiers van Jerusalem. Hulle het hom dan ook reguit gevra deur watter gesag Hy optree. Hy het hulle indirek geantwoord deur hulle eers te vra vanwaar Johannes die Doper se gesag was. Dit het hulle in ’n moeilike posisie teenoor die skare geplaas en daarom wou hulle nie antwoord nie. Daarom wou die Here Jesus hulle ook nie antwoord nie, maar sy antwoord het duidelik gemaak dat dit dieselfde gesag was waarvan Johannes die Doper gepraat het (Luk. 20:1-8).

Hierna het Hy sy antwoord oor gesag voortgesit deur ’n gelykenis. Dit het gegaan oor ’n man wat ’n wingerd geplant het en dit toe aan landbouers verhuur het toe hy vir ’n lang tyd op reis gegaan het (v.9). Toe die tyd reg was om sy deel van die wingerd te kry, het hy ’n dienskneg gestuur, maar hulle het hom geslaan en met niks weggestuur (v.10). Hulle het die volgende dienskneg ook geslaan en ook skandelik behandel. Die derde een het hulle gewond en uitgedryf (v.11-12). Uiteindelik het die eienaar besluit om sy geliefde seun te stuur met die gedagte dat hulle miskien vir hom ontsag sal hê (v.13). Maar die landbouers het presies anders geredeneer. Om ’n vreemde manier het hulle gedink dat as hulle die enigste seun doodmaak, hulle die grond sal erf. Hulle het die seun toe buitekant die wingerd gegooi en hom daar doodgemaak. Die Here Jesus vra toe wat die eienaar sal doen. Sy antwoord was dat die eienaar sal kom en die landbouers ombring en die wingerd aan ander gee. Toe die mense dit hoor het hulle uitgeroep dat so iets nooit mag gebeur soos wat die landbouers gedoen het en toe hulle regverdige oordeel ontvang het nie (v.14-16).

Die Here Jesus het hulle toe aangekyk en aangehaal uit Ps. 118:22. Dit gaan oor ’n steen wat die bouers verwerp het omdat hulle gedink het dit slegte materiaal is, maar wat uiteindelik tog baie eg was en die hoeksteen geword het. 

2021/11/09

Opstanding, lewe, en versadiging van vreugde

Lees: Psalm 16   

Gedagte vir kinders: God se kinders kan bly wees, want Jesus Christus het die dood oorwin.

Oorsig: Hierdie Psalm, tesame met Ps. 56-60, word spesifiek ’n gedig genoem. Sommige Skrifverklaarders reken dit bedoel iets soos ’n spesiale inskrywing of geheimenis. Wanneer ons in gedagte hou dat hierdie Psalm deur beide Petrus en Paulus gebruik word om te wys op die opstanding van Jesus Christus uit die dode (vgl. Hd. 2:25-32; Hd. 13:35-39), maak iets soos geheimenis of spesiale inskrywing vir ons sin. Hierdie Psalm spreek van Dawid, maar heenwysend ook na die groter Seun van Dawid. Dit spreek ook van gelowiges wat deel het aan Christus, maar sekere verse soos vers 8-11 kan net van die Messias eerste waar wees. Deur Jesus Christus kan dit nou ook waar wees en word van elke gelowige wat deel het aan Hom. Sy opstanding uit die dode word uiteindelik die heerlike werklikheid van elke gelowige.

Ons kan die Psalm breedweg in twee dele verdeel. In die eerste deel (v.1-7) hoor ons die woorde van alle gelowiges wat saam met Dawid deel het aan Jesus Christus. Ons hoor van gebed tot God om bewaring in omstandighede waarin die dood dreig. (v.1) en die belydenis dat die HERE die hoogste goed is (v.2). Hierin skaar die Psalmis hom by diegene wat ook soos hy glo en die Here wil dien. Dit is die mense met ware heerlikheid van wie hy baie hou (v.3). Hy stel dit bewustelik op teenoor diegene wat ’n ander god vereer of ook vereer. Sulke mense sal ellende beleef en hy wil geen deel aan hulle aanbidding hê nie. Hy sal nie eers sulke mense se name op sy lippe neem nie (v.4). Dan keer hy terug na wat vir hom vol waarde is.

2021/11/05

Halleluja wat jou oopmaak

Lees: Psalm 146            

Gedagte vir kinders: Loof die Here uit die dieptes van jou hart, ook as jy nie reg voel nie.

Oorsig: Psalm 146 begin en eindig met die woord “Halleluja”. Om die waarheid te sê, vanaf Psalm 146 tot en met die einde van Psalm 150, begin en eindig elkeen van die laaste vyf Psalms met die woord “Halleluja”. Dit beteken letterlik: “Loof die HERE!” Dit gaan daaroor dat die Here met heilige jubeling besing word vanuit die diepste van jou wese.

In die Psalms het ons met mense te make wat eerlik is oor hul emosies. Ons hoor dikwels van teëspoed, worstelinge, aanvegtinge, sondebesef, hartseer, terneergedruktheid, en klaagliedere. Maar feitlik altyd werk die Psalms deur na hoop en lofprysing aan die einde. En waar dit nie so eindig nie (byvoorbeeld Ps. 88), bevat net die volgende Psalm die wonderlikste elemente van hoop en lof. Gelowiges is dus nie gevrywaar van beproewinge nie, maar daar word altyd deurgewerk na die punt van geloof, hoop en danksegging. Die Psalms as geheel eindig in die groter prentjie ook so met die laaste vyf Psalms wat reën met Hallelujas. Dit bied ook 'n prentjie op die einde van elke gelowige. Dit wys ons ook hoe gebede eindig wanneer gebed lank genoeg aanhou.

2021/10/29

Wanneer die aarde waggel

Lees: Psalm 46   

Gedagte vir kinders: Geen skrik op aarde kan Christene skei van God se beskerming nie.  

Oorsig: Hierdie Psalm beskryf die vaste sekerheid wat gelowiges selfs in die grootste benoudhede mag hê wat oor die aarde kom. Die Psalm vertoon drie dele wanneer ons let op die drie selas (vgl. v.4,8,12). Die woord sela gaan oor ’n ruspose vir diep nadenke, sodat dit in jou hart kan insak voordat daar verder beweeg word.    

In die eerste gedeelte (v.1-4) word gefokus op God as toevlug en sterkte. Ons lees eerste van musiekaanduidings. Daar is sprake van ’n musiekleier, die kinders van Korag (vgl. 1 Kron. 9:2,19), sopraanstemme en ’n lied (v.1). Hierdie lied moet dus georganiseer word om reg daaraan te laat geskied. Dit begin met die belydenis oor God as (1) toevlug en (2) sterkte. Hierin is Hy al baie op die proef gestel en nog altyd was die uitslag dieselfde (v.2). Daarom sal gelowiges nie vrees nie, selfs wanneer die skepping self dreig om uit mekaar te val (v.3). Die Psalmis nooi selfs uit dat dit moet gebeur en dan vind ons die eerste sela (v.4)

In die twee gedeelte (v.8-11) word uitgebrei op die effekte van God se teenwoordigheid. Daar is stroompies van ’n rivier wat Jerusalem as stad van God bly maak. Dit verwys na die rustige en lewegewende water, te midde van die onstuimigheid, wat gevind word in die Godstad, met ander woorde daar waar God woon, en wat blydskap bring (v.5). Omdat God daar is, sal dit nie wankel nie en sal sy hulp daar wees as die dag breek (v.6). Die Psalmis wys dan daarop dat nasies al gebruis het en koninkryke gewankel en die aarde gebewe het as God sy stem verhef het. (v.7). Hy bevestig dan dat die Here van die leërskare, ook genoem die God van Jakob, met die gelowiges is, ’n rotsvesting is, en dan volg die tweede sela.

Die derde gedeelte (v.9-12) begin met ’n uitnodiging. Kom aanskou die skrikwekkende dade van die Here (v.9). Hy laat oorloë ophou oor die hele aarde en Hy doen dit deur die oorlogwerktuie tot niet te maak. Hierdie grootse dade lei dan tot ’n oproep om te “laat staan”, dit wil sê op te hou, met sekere gedrag. Hierdie gedrag kan opstand teen God wees, of angstigheid of murmurering. Die Here bevestig hierna dat Hy hoog sal wees onder die nasies  (of heidene) en hoog op die aarde (v.11). Die Psalmis sluit dan af met dieselfde belydenis van vers 8:

2021/10/22

Vreugde deur herinnering, gebed, en belofte

Lees: Psalm 126            

Gedagte vir kinders: Saai, al is dit met trane, want deur Jesus Christus sal jy oes met vreugde.

Oorsig: Psalm 126 is deel van die bedevaartsliedere. Dit is moontlik gesing wanneer die Israeliete opgetrek het vir hulle jaarlikse feeste in Jerusalem. Ons sing dit steeds op pad na die nuwe Jerusalem. Die Psalm het duidelik twee dele. Ons hoor eers van ’n wonderbaarlike bevryding toe die Here die lot van Sion verander het (v.1-3) en dan van ’n nuwe gebed en profesie (v.4-6). Sion was die berg waarop die tempel gebou is en staan hier vir die kinders van God wie se versoening met Hom op sy  geopenbaarde weg van versoening gebou is. Die lot van Sion gaan dus oor die omstandighede van sulke mense wat wonderlik verander het.

Die spesifieke omstandighede hier verwys waarskynlik na die terugkeer uit die ballingskap. Die volk se ontrou aan die Here het veroorsaak dat die tien stamme van Israel deur Assirië (721 v.C.) weggevoer is, en Juda en Benjamin later deur Babilonië (598-587 v.C.). Uiteindelik, na 70 jaar (vgl. Jer. 25:11; 29:10; Dan. 9:2; 2 Kr. 36:22; Esra 1:2) in Babel en omstreke,  het koning Kores, wonder bo wonder, ’n bevel uitgevaardig en die volk kon terugkeer na hulle eie land en hulle kon God weer in vryheid aanbid.

Die volk het beleef dat die Here hulle lot verander het en dit was asof hulle droom (v.1) Wat ‘n vreugde het hulle nie hieroor beleef nie! Lag en jubel was in hulle mond en op hulle tong. (v.2). Selfs die heidene het daaroor gepraat. Dit was so groot dat die heidene nie anders kon as om raak te sien dat God groot dinge aan sy volk gedoen het nie (v. 2). Die Psalmis bevestig dan dat die Here wel groot dinge aan hulle gedoen het en dat hulle bly was (v.3).

Net hierna verander die herinnering aan die verlede na ’n gebed in die hede. Daar is nuwe uitdagings.  Indien dit die volk was wat teruggekeer het, was daar soveel nuwe hindernisse in die land wat hulle weer moes opbou. Die Psalmis vra dat iets sal gebeur soos die waterstrome in rivierbeddings wat in die droë Suidland skielik kon opdaag vanuit die hoërliggende gebiede en lewe gebring het in die woestyngebied (v.4). Ná die gebed word daar ook ’n profesie uitgespreek. Die wat bly saai, al is dit met trane, sal tog later jubel wanneer daar geoes word. (v.5).  Die Psalmis brei dan verder hierop uit in beskrywende taal. Die saaier mag selfs heeltyd loop en huil as hy die saadkoring dra wat hy uitsaai. Tog sal hy sekerlik, en die woord sekerlik word beklemtoon, met gejubel later kom en die gerwe van sy oes dra (v.6).         

Besprekingsvraag:  Pas die faktore wat die saaier kan verhinder om te saai, op ons toe. 

Insig: Wanneer die Here ons lot werklik verander, gebeur dit bokant die verwagting. Dit is part en deel van die evangelie en beeld presies uit wat evangelie beteken.

2021/10/05

Oor verbondseën, welgeluksalig en shalom

Lees: Ps. 128     

Gedagte vir kinders: Die Here seën elkeen wat Hom vrees en getrou lewe in die kultuuropdrag.

Oorsig: Hierdie Psalm is een van die bedevaartsliedere wat strek vanaf Ps. 120 tot Ps. 134. Die Israeliete het hierdie liedere jaarliks gesing wanneer hulle opgetrek het vir hulle feeste in Jerusalem. Ons sing dit vandag nog op pad na die hemelse Jerusalem. Psalm 128 sluit aan by Psalm 127 en vertel van ware seën. Ons moet hoor dat die hoogste vorm van geluk (“welgeluksalig”) deel is van elkeen wat die Here vrees (aanbid, met heilige ontsag, eerbied en respek voor Hom lewe – v.1)

Sulke mense is nie lui nie, maar werk met hulle hande en die Here seën dit met opbrings wat seker is. Hulle is gelukkig en dit gaan met hulle goed (v.2). Hierdie seën strek ook verder as die individu na die hele gesin. Die vrou van die man word vergelyk met ’n vrugbare wingerdstok binne-in die huis. Die wingerdstok het ondersteuning nodig, maar is vol vrug wanneer dit versorg en gekoester word. Die kinders word weer vergelyk met jong olyfboompies (v.3). Die staan hier onder meer vir kragtige potensiaal vir die toekoms. Die Psalmis bevestig dan dat diegene wat die Here vrees, so geseën sal wees (v.4).

Hierna word die seën verder oor sulke mense uitgeroep en ons hoor van die bron van hierdie seën – uit Sion. Dit is die berg in Jerusalem waarop die tempel gebou is. Die seën kom vanaf die tempel – daar waar die versoening en lewe met God bedien word.