2022/04/07

Oorwinning deur die kruis

Lees: Ps. 118:16-29

Gedagte vir kinders: Laat ons die HERE loof vir sy wonderlike verlossing deur Jesus Christus

Oorsig: Ps. 118 vorm deel van die Hallel-Psalms (Loofpsalms: Ps. 113-118) wat gebruik was en steeds gebruik word by die viering van die jaarlikse Paasfees van Israel. Dit was deel van die laaste lofsang wat die Here Jesus saam met sy dissipels gesing het, net voordat hulle weggegaan het van die maaltyd waar Hy die Nagmaal ingestel het (vgl. Mt. 26:30). Die Here Jesus het die oorwinningslied dus reeds gesing terwyl Hy geweet het wat op Hom wag. Ps. 118 het drie basiese dele. Daar is (1) die oproep tot die gemeente vir danksegging (v.1-4). Dan word vertel (2) van Goddelike redding (v.5-18). En dan word geëindig (3) met die viering van die redding (v.19-29). Ons hanteer hierdie gedeelte vanaf die einde van die tweede deel en begin by vers 16.

Die Psalmis verwys spesifiek na die regterhand van die Here wat kragtig verlos. Die gevolg is dat hy nie sal sterwe nie, maar sal getuig van God se dade. Deel daarvan: Hy was wel hard gekasty, maar nie aan die dood oorgegee nie (v.16-18). Daarom roep hy dat die poorte van geregtigheid, Jerusalem se poorte, oopgemaak moet word. Hy wil daardeur ingaan en die HERE loof en dan bevestig hy dat dit regverdiges is wat deur die HERE se poort mag ingaan. Daar wil hy die HERE loof omdat hy verhoor is en die HERE se verlossing leer ken het (v.19-21).

Hierna verwys die Psalmis na die steen wat die bouers verwerp het, maar toe ’n hoeksteen geword het. Dit kan wys op die volk Israel wat deur die nasies verwerp is, maar deur die HERE tot hoeksteen gemaak is. Dit kan ook wys op Israel se koning Dawid wat verwerp is en toe tog deur God bevestig is. En natuurlik wys dit op Jesus Christus wat verwerp is en deur God as Here, Messias en  Koning bevestig is. Hierdie verrassende bevestiging het van die Here gekom en is wonderbaar in die vergaderdes se oë (v.22-23). Hierná wys die Psalmis dat die dag van viering deur die Here gemaak is en dat hulle moet juig en bly wees (v.24). Die Psalmis doen hiermee saam ’n gebed vir die hede en die toekoms. Hy vra dat die HERE heil en voorspoed sal gee (v.25).   

Daarna word uitgeroep dat hy wat kom in die Naam van die HERE geseënd is en dat die seën uit die huis van die HERE afkomstig is (v.26). Dit word gevolg met ’n belydenis dat die HERE God is en ’n lig gegee het (vgl. Num. 6:25). Daarom moet die feesoffer met toue gebind word tot by die horings van die altaar waar die dankoffer gebring word (v.27). Dit word weer gevolg met ’n belydenis dat die HERE die Psalmis se God is en dat Hy die HERE wil loof en verhoog. Dit word geëindig soos begin is, met die bekende frase oor God se chesed (troue/lojale liefde) - dat die HERE goed is en dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is (v.28-29).   

Besprekingsvraag: Op watter manier is Jesus Christus die vervulling van Ps. 118?

Insig: Ps. 118 speel ’n belangrike rol in die Nuwe Testament. Ons hoor hoe vers 25-26 toegepas word tydens Christus se intog in Jerusalem (Mt. 21:9; Mk. 11:9-10; Luk. 19:38; Joh. 12:13). Die kinders herhaal dit daarna in die tempelhowe (Mt. 21:15). Die Here Jesus haal daarna uit Ps. 118 aan (v.22-23) in die gelykenis van die huurders van die wingerd (Mt. 21:42; Mk. 12:10-111; Luk. 20:17). Christus verwys ook na v.26 aan die einde van sy wee-uitsprake teenoor die Fariseërs en leraars van die wet (Mt. 23:39). Petrus verwys in Handelinge 4:11 en later 1 Pt. 2:7 na v.22 wanneer hy die Psalm toepas op Christus.  

Aansluitend hierby, moet ons ook raaksien dat Psalm 113-118 ook as deel van die dankpsalms (todah) beskryf word wat God dank vir sy spesifieke verlossingsdade, met besondere verwysing na die bevryding uit Egipte. Vir Christene wat die vervulling hiervan steeds vier in die feit dat Christus, ons Paaslam, vir ons geslag is (1 Kor. 5:7), bly Ps. 118 daarom altyd ’n wonderlike dankpsalm vir God se verlossingsdade in Christus. En die nagmaal wat Goeie Vrydag op besondere wyse herdenk, word dan onder meer ook ’n dankbaarheidsmaaltyd genoem.  Daarin bring ons dank aan God vir die nuwe eksodus, die daad van bevryding wat vir ons bewerk is. Hierdie triomflied wat moontlik gesing is toe Dawid Jerusalem in besit geneem het en deur die poorte gegaan het, se diepste vervulling vind in Christus plaas. Toe Christus in die hemelse Jerusalem aankom met sy eie offer wat gebring is, kon Hy aanspraak maak dat die poorte oopgemaak word (vgl. Ps. 24:7). Hy, die Regverdige het met sy offer daar ingegaan en nou mag soveel ander regverdiges in Hom ook roep dat die deure oopgemaak word. 

Deur sy offer en opstanding is dit bevestig dat Hy ons Hoeksteen geword het. Daarom is die dankoffer wat aan die einde van Psalm 118 gebring word nou ons eie lewens (Rom. 12:2). En ons bring dit in die wete dat Christus reeds aan 'n kruis gebind is en die groot Offer afgehandel het. Die Jode het het die woorde van Ps. 118 ook gesing by die inwyding van die tweede tempel (Esra 3:10-11). Ons mag nou die lied sing by die inwyding van 'n nuwe orde. Christus se liggaam het ons tempel geword wat afgebreek maar ook vir altyd opgebou is.

Ons leer ook hier van oproepe tot Godsvertroue in moeilike tye. Teenoor die vertroue op mense (v.8 - ingesluit erkenning en aanvaarding), en teenoor vertroue op edeles (v.9 - ingesluit die afgod van konneksies, mag en beheer). Ons leer ook van harde kastyding deur God om ons op ’n nuwe wyse by Hom en sy verlossing uit te bring. En ons dink ook aan Christus wat kastyding in ons plek moes dra om die verlossing te bewerkstellig. 

Maar hoe kry hierdie Godsvertroue groter houvas in ons lewe? Deurdat ons sien waarop Christus se Godsvertroue uitgeloop het. Dit het Hom deur die poorte van die hemel laat gaan om vir altyd by sy Vader terug te wees. En Hy tree nou ook daar vir ons in sodat ons in sy triomftog kan volg. Die Here werk ook deur sy Gees om ons dieper in te lei in die betekenis van sy oorwinning. Die begin en die einde van Ps. 118 wys dat dit gebeur deurdat ons ingelei word  in die goedertierenheid van die HERE - sy chesed (troue/lojale liefde). Dit gaan oor God se verbondsgetrouheid – sy oneindige getrouheid aan sy verbondsbeloftes deur die eeue - wat tot vervulling kom in Jesus Christus. Ja, Hy vervul al God se beloftes en word die Hoeksteen, al is Hy ook deur die bouers verwerp (v.22-23). In Hom word God se troue liefde vir sondaarmense duidelik en kan ons die poorte van geregtigheid binnegaan (v19-20) en lewende offers wees. En ons mag ons telkens heroriënteer aan God se troue en meedoënlose liefde. Dit lei ons tot lofprysing en om Ps. 118 weer van voor af te begin sing. Dit lei ons ook om te getuig van God se dade, om God aan te roep in elke nuwe situasie, en om in sy heil en verlossing voort te lewe (v.17,25).

Werke geraadpleeg:

Brueggemann en Bellinger, Psalms, New Cambridge Bible Commentary.

Keller, Tim en Cathy. The Songs of Jesus.

David Guzik, Commentary on Psalms.

Bergsma, The Word of the Lord. Sunday Readings for Year C.

Longman, T. Psalms, Tyndale Old Testament Commentary.

Grogan, G. Psalms. Two Horizons Old Testament Commentary.