Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om by Hom te kom skuil teen
enigiets.
Oorsig: Psalm 91 word dikwels gebruik
in tye van gevaar en krisis en groot uitdagings waar die dood so duidelik
dreig. Dit bevat grootse woorde oor die vertroue in God wat ons asems wegslaan.
Die satan het dan ook ’n besondere poging aangewend om hierdie Psalm se
bedoeling skeef te trek in sy versoeking van die Here Jesus op aarde. Dit
behoort ons aandagtig te laat luister na wat hierdie Psalm dan nou eintlik leer
en wat die Here hier aan ons openbaar. Die Psalm begin met uitsprake oor wat
met hulle gebeur wat skuiling vind by die Allerhoogste (v.1-2). Hulle sal in
vernag in die skaduwee (beskerming) van die Almagtige (v.1). Dan maak die
Psalmis dit persoonlik van toepassing in die eerste persoon op wat elke
gelowige as “ek” vir die HERE, die Verbondsgod, persoonlik mag sê: “My begvesting en my God op
wie ek vertrou” (v.2).
Dan word beloftes gegee oor waaruit Hy gelowiges
alles red (v.3-13) – soos uit die net van die voëlvanger en redding van
pes. Hy doen dit deur sy vlerke wat dek.
Hierin is sy getrouheid soos ’n skild en pantser (v.3-4). Daarna word die
gelowige wat dit beleef toegespreek in die tweede persoon. Jy hoef nie te vrees
vir skrik in die nag of pyle wat in die dag rondvlieg nie (v.5). Dit gaan oor
pes in die donker of siekte wat op die middag verwoes en wat baie bekend was in
die versengende hitte in die woestyngebiede (v.6). Daar word selfs die belofte
gemaak dat al val duisende langs jou, dit nie na jou sal aankom nie (v.7). Jy
sal dit net met jou oë aanskou en die vergelding van die goddelose sien (v.8). Vers
9 begin en verwoord ’n persoonlike woord teenoor die Here: “”want U is my
toevlug” en dan word die gelowige weer in die tweede persoon aangespreek: Jy
het die Allerhoogste jou beskutting gemaak (v.9).
Die beloftes gaan dan voort dat geen onheil of plaag
jou sal tref nie. Die rede is die HERE sy engele bevel sal gee om jou te bewaar
op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra sodat jy jou voet teen geen klip
stamp nie (v.11-12; vgl. Luk. 4:9-12). Jy sal op die leeu en die adder trap en hulle vertrap (v.13). En dan word daar in die slot (v.14-16)
oorgegaan na wat God oor die gelowige sê: Omdat hy (1.1) my liefhet en (1.2) my
Naam ken, sal Hy hom (2.1) red en (2.2) beskerm (v.14). Die gelowige sal (1.3)
Hom aanroep en God sal (2.3) verhoor en (2.4) in die nood sal Hy (“Ek”) by die
gelowige wees en (2.5) uitred en (2.6) eer aan hom gee (v.15). Hy (“Ek”) sal
hom (2.7) met lengte van dae versadig en (2.8) hom die HERE se heil laat sien (v.16).
Besprekingsvraag: Hoe maak ons sin van Psalm 91 se
beloftes as gelowiges ly en sterf?
Insig: Hierdie wonderlike Psalm met sy grootse uitsprake kan net op een manier sy volle waarde vir ons hê: wanneer ons verstaan dat in die eerste plek gemaak word aan die een van wie hierdie Psalm in sy volheid waar is: die Messias, Jesus Christus.
Die
heerlike beloftes is verbondsbeloftes wat aan Israel gemaak is (vgl. Lev.
26:6-8, 11,22; Deut. 28:21) en insonderheid aan die koning wat die draer was
van die belofte van die groot Gesalfde wat sou kom, die Verbondshoof van Israel
(vgl. Ps. 21:1,5,18, 5,8-12, 16). Die duiwel gebruik ook hierdie teks in sy versoeking
van Christus wat daarop dui dat hy Christus uitdaag om te wys Hy is die een wat
hierdie Psalm waar maak. In die proses laat die satan ’n belangrike deel uit
van Ps. 91:11-12. Hierdie belofte is nie net op sekere plekke en tye nie, maar
“op al jou wee”. Dit dui reeds aan dat die satan die teks verwring en boonop
leer die Here daar dat ons altyd moet vra wat daar óók geskrywe staan en dat
ons altyd Skrif met Skrif moet vergelyk. Die feit is dat al hierdie groot beloftes
in die eerste plek op Hom van toepassing is as die ware Israel en Messias wat
Psalm 91 volkome uitgeleef het. Net Hy kon, anders as Israel of ons, God altyd
sy toevlug maak. Maar in Hom leer ons ook nou wat dit ook vir ons beteken en
beleef ons ook hoe hierdie beloftes in vervulling gaan. Eendag sal gelowiges
dit volmaakte toestand kan beaam, maar intussen mag ons nou reeds die
oorwinning van hierdie Palm begin smaak saam met die oorwinningswoorde van Rom.
8:29-32.
Die Psalm is ’n wonderlike antwoord op die
versugtinge van Moses in Psalm 90. Die woestyn en sterftes was daar so tekenend
van God se toorn, en tog, Psalm 91 gee sulke wonderlike vooruitsigte, saam met
Ps. 92, oor wat gelowiges wat by die lewende God skuilplek vind> Ja, hulle mag
dit beleef, selfs in die woestyn. Die beelde van al die uitdagings word baie
konkreet geskets en dui op allerhande gevare en siektes (v.3,6,10) en vyande
(v.3, 5-6) en oorlog (v.7) en wilde diere (v.13) wat op die loer is. Dit gaan
oor elke erge en selfs demoniese uitdaging en beproewing wat tot sorg en angs
en vrees kan lei. Die middelgedeelte (v. 3-13), noem al die groot uitdagings by
die naam, maar let op: telkens word dit wat by die naam genoem word, in verband
met heerlike beloftes gebring. Boonop vind ons die begronding van die beloftes in
die eerste twee verse - in die Naam van
Hom wat sulke beloftes kan maak: Die Allerhoogste, en die Almagtige (v.1), dui
op die Een wat hoer (Allerhoogste) en sterker (Almagtige) is as enigiets wat
ons kan bid of dink. Die HERE (v.2), dui op die wonderbare Verbondsgod wat
Homself in sy genade en uiteindelik in Christus aan ons geopenbaar het. En die
heerlike is dat hierdie God, baie persoonlik “my God” genoem kan word “op wie
ek vertrou.” (v.3). Juis daarom het die beloftes wat daarop volg soveel krag en
moet ons biddend daaroor besin en dit op ons laat inwerk.
Die laaste gedeelte (v.14-16) gee dan ook God se
antwoord op hulle wat Hom hulle toevlug gemaak het. Hy beskrywe hulle van wie
Psalm 91 waar is: dit is (1) die wat God liefhet, wat in die Woord altyd ook in
verband staan met gehoorsaamheid. Hulle word verder beskrywe as (2) die wat sy
Naam ken. Dit beteken hulle weet nie net ken van Hom van hoorsê nie. Diesulkes
word verder beskrywe as (3) die wat sy
Naam aanroep (vgl. Joel 2:32; Hand. 2:21; Rom. 10:13). Hulle ken sy uitredding
en Hy gee eer aan hulle. Hulle sien God se heil, met ander woorde hulle leer
ken Hom en sy verlossing proefondervindelik. En hulle word met lengte van dae
versadig. Laasgenoemde belofte maak ook weer die meeste sin as ons dit vervul
aan die Messias sien wat die dood oorwin het om vir ewig te lewe. Dit kan wel ook
vir sommige in tyd al in vervulling begin gaan met ’n lang lewe as eerste teken
van God se seën. Dit vind egter sy volheid in hulle oor wie die tweede dood
geen mag het nie (Openb. 20:6), omdat hulle in Christus is. En so sal gelowiges
eenmaal met verwondering God se volle heil aanskou.
Werke
geraadpleeg:
Brueggemann, W & Bellinger,
W. Psalms, New Cambridge Bible Commentary.
Grogan, G. Psalms (Two Horozons
Old Testament Commentary – THOTC).
Ash, C. The Psalms: A Christ-Centered
Commentary, Volume 3.
Donner, JH. De Psalmen, Psalm
1-72.
Reardon, PH, Christ in the
Psalms.
Ignatius Study Bible: the Book of
the Psalms.
Simpson, AB. Christ in the
Psalms.