Wys tans plasings met die etiket Herder. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Herder. Wys alle plasings

2023/04/29

Die Herder en Gasheer

Lees: Psalm 23

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus is ons goeie herder.

Oorsig: Psalm 23 gebruik twee besondere beelde om ons Here en Verlosser te beskryf: Herder en Gasheer. Hierdie Psalm van Dawid spel die konsekwensies daarvan uit. Die Psalm begin reeds verstommend. Die HERE, skepper van hemel en aarde, Verbondsgod van Israel en later die Kerk, is my Herder. Dawid was self ’n herder van skape en later ’n koning-herder van ’n volk (vgl. Es. 34:1-5; 37:24). Dawid het geweet van herderskap en kan daarom die Herder-beeld besonders toepas. Die herder-beeld vir die HERE was ook deurgaans in Israel belangrik (Gen. 48:15; Dt. 2:7; Es. 34:12).

Omdat die HERE my herder is, sal niks in my lewe kortkom (ontbreek) nie (v.1). Gelowiges het wel baie begeertes en nie alle wense is goed of word noodwendig hier vervul nie, maar daar kom niks kort wat ek werklik nodig het nie. (vgl. Fil. 4:6-7). Hierdie Herder laat my verder neerlê in groen weivelde - totaal ontspan in vertroue by Hom en die groen belewenis van sy sorg in weivelde. Hy lei ook na waters van rus wanneer ek opstaan vanuit sy rus (v.2). Hy verkwik/herstel verder my siel - Hy bring lewe terug in my diepste wese wanneer dit uitgeput is. Sy leiding is verder spesifiek in die spore van geregtigheid – dit is die pad van lewe en onsterflikheid (vgl. Spr. 12:28). Hy doen dit alles om sy Naam ontwil (v.3). Dit beteken nie dat Hy dit nie doen vanuit ’n slegte ego nie, maar om sy wonderlike Naam en wese aan ons en die wêreld bekend te maak. Hierdie sorg beteken dat ek geen onheil hoef te vrees nie, selfs nie daar waar die skaduwee van die dood dreig nie, soos daar waar skape in baie gevaarlike plekke verkeer. Waarom nie? Want hierdie Herder is met my. Hy het ’n stok en ’n staf - die stok om te slaan en te beskerm en die staf om te begelei, aan te help en te dissiplineer op die regte pad. Dit gee troos en stel gerus (v.4).  

Die beeld van herder gaan hierna oor na die beeld van die gasheer. Die HERE is self, verstommend genoeg,  ons Gasheer. Hy berei ’n tafel vir my, wat teken is van ’n intieme verhouding en oorvloed. Die verstommende is dat dit gebeur te midde van en teenoor die vyande wat dit moet aanskou. Die hoof word gesalf (vet gemaak) met olie, soos 'n eregas, en die oorvloed is so groot dat die beker oorloop (v.5). En dit bring die Psalmis by sy gevolgtrekking. Wat hom sal volg, soos wat hy die Herder volg, is net God se goedheid en guns (chesed: verbondstrou), al die dae van sy lewe. Meer nog, Hy sal in die huis van die Here bly vir altyd (in lengte van dae – v.6). Dit mag elke gelowige agterna sê.

Besprekingsvraag: Hoe voorkom ons dat ons hierdie Psalm soetsappig lees?

Insig: Ons moet daarteen waak om hierdie Psalm bloot sentimenteel te lees.