Ons werk tans aan 'n publikasie, Woord in die Hart, deel 3. In hierdie publikasie wat huisgesinne wil help om rondom die Woord te vergader, word 'n vraag behandel oor Paulus se benaderings tot Joodse gebruike en spesifiek met betrekking tot besnydenis in die geval van Titus en Timótheüs. Hieronder volg die vraag en die antwoord uit 'n deel wat fokus op Handelinge 21:10-34 waar Paulus bereid was om selfs die koste op hom te neem van 'n gelofte wat saam met Joodse Christene gemaak is.
Besprekingsvraag: Vergelyk Handelinge 21:10-34 met Galasiërs 2:3-5 en ook met Handelinge 16:1-3. Was Paulus nie
inkonsekwent in dit wat hy oor die besnydenis vir mense geleer het nie? Wanneer staan
gebruike en gewoontes van mense in die pad van die evangelie en wanneer kan ons
dit toelaat?
Insig: Paulus het
van Tarsus na Antiochíë en vandaar na die res van die destydse bekende
wêreld op sy sendingreise vertrek. Oral het hy die evangelie van Jesus Christus
verkondig en baie mense, Jode sowel as heidene, het tot geloof gekom. In
dieselfde tyd het daar in Jerusalem ook duisende Jode tot geloof gekom wat in
hulle leefstyl baie nou aangesluit het by die gebruike van die Jode waarmee
hulle grootgeword het. Een van die groot uitdagings waarmee Paulus te make
gehad het, was om te verduidelik wat die verskil is tussen die ou verbond, waar
almal soos die Jode moes word om deel van die volk van God te wees, en die nuwe
verbond waar gelowige Jode en heidene nou saam deel van die volk van God
uitmaak (vgl. Efés. 2:11-22; Rom. 9-11). Met Paulus se aankoms in Jerusalem het
hierdie strydvrae opnuut na vore gekom.