Wys tans plasings met die etiket Matthew Henry. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Matthew Henry. Wys alle plasings

2024/01/31

Hoe om dwaasheid te beantwoord

In Spreuke 26:4-5 lees ons die bekende en skynbaar teenstrydige woorde:

“Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie. 

Antwoord ‘n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.” 

’n Algemeen bekende verklaring hiervan is dat omstandighede bepaal watter vers van toepassing is. En dat ons wysheid nodig het, onder leiding van God se Gees, om te bepaal wanneer ons met watter soort optrede teenoor goddelose en moedswillige mense moet optree. Soms moet jy terugpraat en soms nie. Daar is nie net een regte antwoord nie. Daarom, as iemand wysheid nodig het, laat hom dit van God bid, en dit sal aan hom gegee word (Jak. 1:5).

Hierdie antwoord kan ons egter maklik laat voel of ons steeds in die lug hang. En tog dryf hierdie antwoord ons reeds uit tot gebed, wat alreeds ’n goeie ding is. Maar ons kan darem ook meer hieroor sê en ou bekende en betroubare verklaarders soos John Gill en Matthew Henry het darem ook lankal meer hieroor gesê. Byvoorbeeld: As iemand grootpraat en raas en heftig is, moenie ook so optree nie. Moenie ook roem en raas en rumoer nie. As iemand leuens vertel of dreig of swartsmeer, moet ook nie op dieselfde wyse optree nie, want dan word jy net soos die dwaas. Aan die ander kant, as jy reken daar is darem nog hoop vir die domastrantheid, of as jy verdere dwaasheid wil verhoed, of as jy ter wille van ander nie kan stilbly oor die dwaasheid nie, of as die dwaas net wys sal wees sin sy eie oë, antwoord hom dan in so ’n geval na sy sotheid. Soms is dit in meerdere belang dat jy nie mag stilbly nie. Hierdie toepassings help ons om die saak van die twee verse in Spreuke al baie meer konkreet en toepaslik aan te pak.

Daar is ook ander verklaring wat hierby aansluit. Eerstens: Antwoord ’n dwaas nie volgens die sotheid van sy egoïstiese of narsistiese of afgodiese verstaansraamwerk nie, anders word jy self ook so selfie-georiënteerd of behep met jou nietige gode wat af is. Aan die ander kant, antwoord die dwaas na sy sotheid om te wys wat die konsekwensies is van dwase denke.