Wys tans plasings met die etiket Paul Kruger. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Paul Kruger. Wys alle plasings

2024/10/25

Krugerdag 2024: Kan jonger en ouer Afrikaners vandag nog deel van ’n heldevolk wees?

Hierdie boodskap vir Hedeldag is gelewer op 10 Oktober 2024. [1] Dit is ook gepubliseer op die webwerf van die AP Kerk asook later op Maroela Media. 

Lees: Númeri 14:24; Josua 14:5-15; 15:13-14

Sing: Psalm 68:1, 9, 12; Ps. 144:1, 3, 5, 6

Teks: Númeri 14:24; Josua 14:10-12

Kaleb was ’n held omdat daar in hom, so lees ons, ’n ander gees was – ’n ander gees as vrees teenoor intimidasie, as ongeloof teenoor elke nuwe uitdaging. In die lig van die hele Bybel weet ons dat dit die Gees van Christus is wat reeds in Kaleb vaardig was. Kaleb was as 40-jarige verspieder reeds die verteenwoordiger van die stam van Juda, wat die belofte ontvang het dat die Messias uit hulle gebore sou word (Gén. 49:8-12; Núm.13:6). Juda, as draer van die groot belofte, het ook die opdrag ontvang om voor te loop om die beloofde land Kanaän te verower (Rigt. 1:1-2). As Juda dan moes voorloop in die gees en krag van die Messias, besef ons dat ons in Kaleb te make het met ’n man wat voorloop in Juda in die gees van oorwinning en uitredding, teen vrees en vol van geloof (Núm. 13:30).

Ons het steeds sulke helde met ’n ander Gees, die Heilige Gees in hulle, nodig. Ons het hulle ook onder Afrikaners nodig en veral op Heldedag is daar wonderlike toepassings hieroor. In 1994 was daar ongelukkig Afrikaners wat saam met die afskaffing van Heldedag, ook uit die bus van die Afrikaners geklim en eintlik net hul eie privaat suksesse begin najaag het. Die vraag is of dit kenmerkend van ware helde is. Vanaf 1952-1994 was Afrikaners se amptelik erkende Heldedag op 10 Oktober daarop gemik om die beginsels en norme van Afrikaners te herbevestig en vas te lê. Dit was ook in terme van ons gelese gedeelte geskoei op ’n ander gees as meesleuring deur vrees of die meerderheid. Vanuit Josua 14 fokus ons daarom vandag op die vraag: Wat beteken dit in 2024 as jonger en ouer Afrikaners deel van ’n heldevolk wil bly?


2019/09/10

Pinkster en oom Paul

Pinkster is ’n gevaarlike fees wat ons elke jaar vier. Die Bybel leer dat waar die Heilige Gees werksaam is, daar dikwels opskuddings en vervolgings plaasvind. Die Gees van God het nie gekom om ons mak te maak nie, maar vol lewensdurf en planne om gevaarlike wapens in God se koninkryk te wees (vgl. Rom. 6:13). 

God se Gees het gekom om ons van vreesagtigheid vry te maak. Dit bly een van die mees vertroostende, mees uitdagende, mees gebalanseerde uitsprake – om te hoor dat God ons ’n gees van krag, liefde en selfbeheersing gegee het (2 Tim. 1:7). Sommige praat baie van krag, ander van liefde, en ander van selfbeheersing. Om egter hierdie drie eienskappe in harmonie uit te leef, is ’n saak wat net die Gees van God in ons kan bewerk. Die goeie nuus van Pinkster is dat God hierdie bekragtiging reeds in Christus en sy Gees aan ons gegee het. Die vraag is daarom opnuut of ons dit nog in hierdie Gees waag met die Here. 

Dit is ook ’n ontblotende vraag of ons regtig wil hê dat die Heilige Gees kragtig onder ons sal werk. Want sien, waar die Gees werksaam is, gaan ons in die spervuur beland, eerstens by God wat ons nie gaan los soos ons is nie, en tweedens by mense wat hul eie bydraes gaan maak om ons te vorm.