Lees: Númeri 14:24; Josua 14:5-15; 15:13-14
Sing: Psalm 68:1, 9, 12; Ps. 144:1, 3, 5, 6
Teks: Númeri 14:24; Josua 14:10-12
Kaleb was ’n held omdat daar in hom, so lees ons, ’n ander gees was – ’n ander gees as vrees teenoor intimidasie, as ongeloof teenoor elke nuwe uitdaging. In die lig van die hele Bybel weet ons dat dit die Gees van Christus is wat reeds in Kaleb vaardig was. Kaleb was as 40-jarige verspieder reeds die verteenwoordiger van die stam van Juda, wat die belofte ontvang het dat die Messias uit hulle gebore sou word (Gén. 49:8-12; Núm.13:6). Juda, as draer van die groot belofte, het ook die opdrag ontvang om voor te loop om die beloofde land Kanaän te verower (Rigt. 1:1-2). As Juda dan moes voorloop in die gees en krag van die Messias, besef ons dat ons in Kaleb te make het met ’n man wat voorloop in Juda in die gees van oorwinning en uitredding, teen vrees en vol van geloof (Núm. 13:30).
Ons het steeds sulke helde met ’n ander Gees, die Heilige Gees in hulle, nodig. Ons het hulle ook onder Afrikaners nodig en veral op Heldedag is daar wonderlike toepassings hieroor. In 1994 was daar ongelukkig Afrikaners wat saam met die afskaffing van Heldedag, ook uit die bus van die Afrikaners geklim en eintlik net hul eie privaat suksesse begin najaag het. Die vraag is of dit kenmerkend van ware helde is. Vanaf 1952-1994 was Afrikaners se amptelik erkende Heldedag op 10 Oktober daarop gemik om die beginsels en norme van Afrikaners te herbevestig en vas te lê. Dit was ook in terme van ons gelese gedeelte geskoei op ’n ander gees as meesleuring deur vrees of die meerderheid. Vanuit Josua 14 fokus ons daarom vandag op die vraag: Wat beteken dit in 2024 as jonger en ouer Afrikaners deel van ’n heldevolk wil bly?
Neem jou getroue plek in as deel van die verbond tussen die geslagte
Die uitsonderlike van Kaleb is dat hy selfs op 85-jarige ouderdom steeds bou aan sy hede met die oog op die toekoms. God het hom uitsonderlik geseën met oorlewing in die woestyn, maar ook met besondere gesondheid en krag in die ouderdom (v. 10-11). Kom ons dink onsself 'n bietjie in: Hier staan ’n unieke lewende monument van God se genade – ’n man van 85 wat kans sien om reuse fisies aan te durf. Hy is ten minste 20 jaar ouer as die nuwe geslag Israeliete, aangesien net hy en Josua (van die vorige geslag) nie uitgesterf het nie. Maar op 85 is hy so sterk soos toe hy 40 was. Waarom? Omdat hy as ’n minderheid van twee uit twaalf verspieders volgehou het soos een wat die onsienlike sien selfs toe die vergadering in massahisterie hulle wou stenig omdat hulle reuse wou aandurf. Maar God verskyn en oordeel die verspieders en vergadering, en laat Kaleb meer as oorleef in die woestyn waar al sy tydgenote sterf (Núm. 14:10, 24). Die HERE God seën hom met frisse krag tot in die ouderdom. Soos een kommentator dit ongeveer stel: Unieke getrouheid word soms geseën met unieke gawes. Die ander gees in Kaleb lei dus tot lewe in volheid, maar let op wat hy met sy seëninge maak. Hy wil sy stoere krag steeds gebruik om presies dit te doen wat hy 45 jaar vantevore bereid was om te doen. Hy wil presies daardie vesting, Hebron, inneem wat die volk destyds met sy reuse en versterking so geïntimideer het (vgl. Núm. 13:22). Soos die woorde van ons teksgedeelte lui:
Gee my dan nou hierdie bergland waarvan die HERE daardie dag gespreek het; want u self het dié dag gehoor dat dáár Enakiete is en groot versterkte stede; miskien sal die HERE met my wees, sodat ek hulle kan verdrywe, soos die HERE gespreek het. Toe het Josua hom geseën en aan Kaleb, die seun van Jefúnne, Hebron as erfdeel gegee. Daarom het Hebron die erfdeel geword van Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, tot vandag toe, omdat hy volgehou het om die HERE, die God van Israel, te volg (Jos. 14:12).
Kaleb leer ons dat, jonger of ouer, dit steeds moontlik is om heldhaftig te wees met presies dieselfde visie: Om die reuse wat teen God se koninkryk vuisbal, met geloofsmoed aan te durf. En Kaleb bevestig ook wat dit beteken as jy uitsonderlik geseën word. Dit gebeur nie om dit bloot vir onsself te hou nie. Nee, meerdere seën lei tot meerdere diens in sy koninkryk. Die gevolg hiervan is dat ander ook deur ons werksaamhede geseën word. Dit is ’n ander gees as dit wat George Orwell waargeneem het by te veel mense met kortsigtige visie oor hul eie tyd: “Elke generasie verbeel hulself dat hulle meer intelligent is as die een voor hulle en wyser as die een wat ná hulle sal kom.” Maar waar ’n ander gees as hierdie bysiende visie werksaam is, sien ons dat iets ander moontlik is. Dan sien ons in dat ons seën beleef deur hulle wat ons voorgegaan het, maar ook tot seën mag wees vir hulle wat ons opvolg. Die Ierse staatsman in die Britse parlement, Edmund Burke, het hierdie ander gees treffend verwoord: “Elke samelewing is ’n verbond tussen dié wat lewe, dié wat reeds dood is, en dié wat nog gebore moet word.”
Wanneer ons vir ’n oomblik ’n tree teruggee, kan ons hierdie lyn in Kaleb se posisie tussen die geslagte ook raaksien as ons let op die ryke geskiedenis van die stad wat hy inneem: Hebron. Dit was ’n besondere plek vol van simboliese betekenis in God se openbaring, lank reeds voor Kaleb se heldhaftige stryd daarvoor, maar ook daarna. Hebron se naam en die gebeure daar staan daarom vir ware aanbidding, gemeenskap, verbond, vriendskap, koninklike erfenis.
Reeds Abraham woon naby Hebron, wat “vriend” of “gemeenskap” kan beteken. Hy bou daar ’n altaar nadat Lot en sy mense hul paaie van hom skei, maar Abraham is die een wat vriend van God genoem word (Gén. 13:18; Jak. 2:23). Tot vandag toe het dit ook in die Palestyne se Arabiese benaming vir die stad betekenisse in hierdie rigting. Hierdie betekenisse is vandag in Israel so ironies aangesien Hebron steeds ’n belangrike baken in Israel is, maar ook ’n besondere mikrogestalte van die hele Israel-Palestina-konflik. En tog, Abraham, Gods vriend, rig sy altaar aan die lewende God juis daar op wanneer Lot kies vir die skone gebied rondom Sodom en Gomorra. Lot en sy mense sien dat dit naby Sodom en Gomorra baie soos die tuin van die HERE lyk (Gén. 13:10). Maar dit is ’n valse Paradys. Abraham daarenteen, verkies die droër dele waaroor God beloftes gemaak het (Gén. 13:14-18). En tog: Hebron moes sekerlik ook ’n formidabele plek gewees het as reuse besluit het om dit hul basis te maak.
Die aartsvaders bring groot gedeeltes van hul lewens in of naby Hebron deur en die aartsvaders en hul vrouens word ook begrawe by Magpéla, die enigste aanvanklike stukkie besitting van Abraham in Kanaän – getuienis oor wat kom, daar vlak by Hebron (Gén.23:19; 49:29-32). Dit is ’n vraag of die verspieders dalk na die grafte gaan kyk het en toe hulle die reuse daar gesien het. Ook hierdie grafte was reeds simbool van God se beloftes van seën en ’n roeping om ’n seën vir die nasies te wees. Maar dan moet jy die lyne in die geslagte kan trek en kan raaksien dat daar kontinuïteit met jou gelowige voorgeslagte is. Gelowige helde kan dit doen, want hulle eer die verbond en die beloftes van God in Christus en deel daarom die verbond ook met mekaar, ook in die geslagte. Maar hulle wat net in die hier en nou, sonder God se verbond in ’n warrelwindromanse met die tydsgees leef, kan nie die verbindingslyne in die land van hiperindividualisme sien nie. Kaleb in Hebron val dus nie uit die lug nie. Dit lê in lyn met Abraham wat reeds by Hebron ’n altaar gebou het.
En omdat Kaleb sy plek inneem, is daar ook vanuit Hebron verdere seën vir die nageslagte. Dit het later een van die toevlugstede in Israel geword vir mense wat vryspraak benodig wat op geregtigheid gegrond is (vgl. Jos. 20:7). Dit was ook ’n priesterstad vir die Leviete wat geen erfdeel in Israel gehad het nie omdat God self hul erfdeel was (Jos. 21:13). Dit was later ook die stad waar Dawid as koning gebly het vir die eerste sewe en ’n half jaar van sy koningskap en vanwaar hy as koning oor die hele Israel gesalf is (2 Sam. 5:3-5). Dus: stad van toevlug, aanbidding en koninklike erfenis wat getuig van groter dinge wat op pad is.
Daarom moet ons ook raaksien dat die ander gees in Kaleb wat reuse verslaan, in verband staan met Dawid wat Góliat aandurf nadat hy gesalf is en die Gees van die HERE oor hom kom (1 Sam. 16:13; 17). Beide is ook deel van die stam van Juda, daardie stam wat die toon moes aangee en die belofte van die groot Gesalfde, die Christus, dra. Ja, die ander gees in hulle wys heen na die Messias wat sou kom en die Gees nie met mate gehad het nie, maar die draak, Satan, en die dood moes verslaan. Soos niemand anders nie het Hy gelowig enduit volgehou en nie aan sy eie belang gedink nie, maar aan ons. Só kan die ander Gees wat in Kaleb was, wat in Dawid vaardig was ná sy salwing, ook in ons wees deur ons verbondenheid aan die groot Gesalfde. Op jonger en ouer ouderdom vertoon Kaleb hierdie ander gees en kan daarom ’n leier en held wees: Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing ( 2 Tim. 1:7). Ja, Kaleb is selfs strydbereid op 85 en dit is deel van die rede waarom hy die stam van Juda wel kon lei deur voorbeeld (vgl. Rigt. 1:1-15). Wat is die geheim?
Glo die oop geheim van die verbond en volhard daarin saam met ander geslagte
Die geheim van Kaleb se lewe is ’n oop geheim, die geheim van die verbond. Die vraag is daarom eintlik net of ons geslag dit steeds wil hoor en vandag ook weer wil toe-eien. Twee reekse woorde wat hier herhaal word, beklemtoon die oop geheim van die verbond. Telkens hoor ons: (1) “Soos die HERE gespreek het” (v. 6, 10, 12). En telkens hoor ons (2) dat Kaleb volgehou het om die HERE te volg toe die uitdagings kom (v. 8-9, 14).
Dit is belangrik om raak te sien dat die saak dus nie by Kaleb begin nie, maar by God en sy Woord en sy beloftes – “soos die HERE gespreek het”. Reeds op 40 sien en hoor Kaleb in die eerste plek nie die reuse en versterkte stede nie, maar vir God. Hy het eerstehands beleef wat God se beloftes beteken toe hulle as slawe uit Egipte bevry is, deur die Rooisee getrek en die verbond by Sinai gesluit het. Kan ’n mens dan nog daarna jou hand aan die ploeg slaan en begin agtertoe kyk as die reuse opdaag? God het mos reeds opgetree en beloftes gemaak, ook vir ons! Maar dan moet ons die kuur teen vrees, en vaskyk teen uitdagings, proefondervindelik leer ken – dat God en jy altyd ’n meerderheid is en sterker is as reuse in enige formaat, enige gestalte. Wat is daar vandag wat jou op persoonlike vlak, maar ook gelowige Afrikaners saam wil intimideer? Daarom is dit so belangrik om gereeld uit die reinigende en belofteryke Woord voeding te ontvang sodat ons die ander Gees as die tydsgees kan hoor en sterk kan staan en oorwin.
Hiermee saam lees ons ook telkens dat Kaleb “volgehou” het, midde die uitdagings, in die krag van die ander Gees, om die oog op God se beloftes te hou en nie op sy uitdagings nie. Daar is iets in vasbyt en volharding tot ons in sy Naam oorwin waarby ons nie verby kan kom nie. Kaleb het genoeg hindernisse gehad wat sy glo-is-sien-benadering uitgedaag het. Daar was reeds in sy jonger dae die realiteit van reuse en versterkte stede, van ’n minderheidsverslag van 17%, van die volk se massahisterie van ongeloof, van 40 jaar ekstra in die woestyn weens sy volk se ontrouheid, van reuse wat steeds die omgewing rondom Hebron beset wanneer hy al 85 is!
Maar Kaleb hou vol, ook wanneer dit so maklik is om toe te gee aan sien-is-glo-benaderings. Leiers, helde, kinders van die verbond, het nie ’n ander keuse nie en dit vra volharding, ook wanneer dit voel of alles skreeu teen dit wat jy glo. Hou ons nog vol in die stryd, of het ons iewers langs die pad moeg geraak om standvastig en oorwinnend in die werk van die Here te wees? Jy reken dalk dat jou ouderdom jou verlof gee om die stryd nie meer soos voorheen te stry nie. Maak die saak met Hom uit en onthou: Indien jou kragte, anders as Kaleb, gedaan is, kan jy nog altyd gebedskryger wees. Onthou ook: Dit is net die Here se genade dat jy nog hier is en nie soos ander van jou tydgenote al gesterf het nie. Die ander Gees van Kaleb is steeds werksaam in elkeen wat in Christus, ons Middelaar en Held, ingelyf is. En as daar besondere seëninge en gawes in jou lewe is, is daar soveel om vir die koninkryk te doen midde die onweerswolke wat saampak. Jy is gebore vir hierdie tyd om jou merk vir Hom te maak. Onthou: Reuse staan juis vir dit wat vir jou menslik onmoontlik lyk om te oorwin. Dit is steeds moontlik om saam met Abraham en Kaleb en Dawid ’n ander gees te vertoon, en te werk vir ’n beter toekoms wat uitloop op die hemelstad.
Let
ook op die gesindheid van hierdie ander gees waarin ons tot die stryd toetree.
By Kaleb is dit nie een van hoogmoed of arrogansie oor sy voortreflike krag en gesondheid
en verlede nie. Hy beroep hom vir oorwinning op God en sy beloftes. Luister na
sy woorde wat getuig van nederige strydvaardigheid: “Miskien sal die HERE met
my wees sodat ek hulle kan verdrywe soos die HERE gespreek het” (v. 12). Die
noem-dit-en-eis-dit-groepe (“name it and claim it”) sal dalk sy woorde wil
kritiseer en sê dat hy ook maar nog gebreke in sy geloof gehad het. Dit is
egter nie die geval nie. Kaleb bedoel met sy nederige woorde dat God altyd
soewerein is en ons Hom nooit aan ons wille en grille kan bind nie. Maar hy
bedoel daarmee ook dat hy tog moed en goeie grond het, “soos die HERE gespreek
het,” om met verwagting tot die stryd toe te tree in die Naam van God. Sy
woorde spreek daarom eintlik kritiek uit teen beide die voortvarendes en die
twyfelagtiges. Dit roep ons wel toe om vol van geloof waagmoedig tot ons
roeping toe te tree.
Tree toe tot die unieke roeping vandag as deel van die getroue geslagte
Wanneer ons toetree tot ons roeping, is ons by die konkrete werklikheid waarvan goeie verhale uiteindelik vir die nageslagte gemaak kan word. Kaleb tree dan ook konkreet toe tot Hebron en verdryf die reuse, ’n uitdaging wat al sedert sy 40’s met hom is (Jos.15:14). Hoeveel jare moes hy nie besin het oor die uitdaging wat hulle destyds nie wou aanvaar nie. Ons kan ons voorstel dat hy moontlik pro-aktief in die woestynjare die volgende geslag reeds begin strydvaardig maak het oor wat nog moes gebeur. Is dit nie wat steeds in ons skole en spesifiek op Heldedag behoort te gebeur nie?
Ons
lees vroeër in Josua dat Hebron alreeds ingeneem is (Jos. 10:36-37; 11:21). Dit
mag wees dat hierdie deel hier terugskouend vertel word, maar dit klink eerder
of dit weer uit hul hande geval het, soos dit nou maar gaan met sondaars en ’n
gebroke werklikheid. Of dit kan ook wees dat die bergland as sodanig rondom
Hebron nog deur die reuse beset was en nie genoegsaam opgeruim is nie. Die feit
is: Kaleb lei op 85 deur sy voorbeeld en gee homself vír die saak van besetting
en verowering van die, let wel, moeilikste gebied in die Beloofde Land. Dit het
aanvanklik Israel se afvalligheid veroorsaak en dit was steeds ’n kernvesting
is wat beset moes word. Hierdie feite lei ons om ’n paar konkrete toepassings
te maak spesifiek vir Afrikaner-helde wat vandag getrou in God se verbond leef:
1. Elke tydvak het unieke uitdagings en dit is belangrik om raak te sien wat ander geslagte se taak was. Dit help om beter begrip te hê van waarmee hulle moes worstel om ons te bring waar ons is. Dit help ons ook om beter insig te hê in wat ons geslag se taak is. Mnr. Flip Buys wys in ’n publikasie daarop dat die taak van een geslag die Groot Trek was, ’n ander die Anglo-Boereoorlog, ’n ander die modernisering van Afrikaans, ’n ander die Koue Oorlog en Grensoorlog. Ons geslag se taak, reken Buys, is om ’n antwoord te vind op meerderheidsoorheersing deur federale oplossings van onder af.[2] Ja, jy het jou eie uitdagings wat jy ook moet kan verwoord, maar dit is belangrik dat Afrikaners in ons tyd, ook die jongmense, kan verwoord wat hierdie geslag se spesifieke uitdagings is.
2. Dit is ook belangrik, leer ons by Kaleb, om insig te hê in sleutelvestings wat ’n volgende geslag eenvoudig moet inneem ten einde ’n belangrike deurbraak te maak. Ook hier is ’n opmerking van Buys in sy genoemde publikasie baie belangrik. Hy wys daarop dat elke volk ’n bestaansvraagstuk het en wanneer dit nie gesnap word nie, sal sekere dinge nooit werklik verander nie. Dit gaan dus oor ’n sleutelvesting, ’n tipe Hebron, wat ingeneem moet word. Buys kon op grond van bestaansvraagstukke wat hy in verskillende volke bestudeer het, die sterk moontlikheid van die Oekraïense oorlog in sy publikasie in 2019 voorspel reeds lank voordat dit aangebreek het. Daarom kan ons luister as hy daarop wys dat die Afrikaner se groot bestaansvraagstuk die yl verspreiding oor die land heen is. Gekonsentreerde kulturele kantons, ankergebiede en -dorpe is daarom dringend noodsaaklik en gebeur ook reeds om die eie in beskerming te neem. Die implikasies hiervan moet egter nog dieper by ons insink.
3. Ankergebiede en -dorpe kan egter net sin maak as dit gebonde is aan die ware Anker. Daarom is die verbond grondliggend in ankergebiede en -dorpe. Ons het nodig dat die verbond in die sentrum geanker sal wees in ware aanbidding soos by Abraham se altaar. Dit mag weer lei tot uitdrywing van reuse (soos by Kaleb) en heerskappy (soos by Dawid). Hierin is sleutelterreine soos gesin, onderwys, plaaslike regering, ekonomie, media, en kuns en ontspanning baie belangrik sodat ware gemeenskap wat begrond is in Hom, in al sy geledinge kan gedy. Raymond Simmons beskryf dit onlangs as “die realisering van God se koninkryk deur die lokale Christendom”.[3] Maar dan beteken dit dat daar na God se eer op alle terreine gesoek word.
4. Dr. Wikus Buys bring in sy baie onlangse publikasie, Erfstad, ’n definitiewe verdere fokus.[4] Hy doen ’n ernstige pleidooi vir die Afrikaner wat sy eie eerste volledige Afrikaner-stad in Orania moet opbou, indien moontlik tot die soort vlak van Singapoer. Maar die verbondsmatige benadering moet dan konsekwent vanuit die aanbidding, deur die kultuur, na die volle politieke orde toe deurgetrek word. Dit veronderstel ’n gepaardgaande eedswering van openbare ampte asook werksetiek wat dit komplementeer en waarmee Orania reeds lankal uniek besig is. Dit is tyd vir die Vierde Afrikaner, aldus dr. Buys, om vanuit die verbond ’n bewustelike keuse vir ’n konsekwente alternatiewe orde te maak. Dit beteken ’n stad en ’n republiek op ’n berg in die weste van die land wat van daar ’n seën vir die nasies is. Die bedoeling is dat mense, in hierdie opsig, soos die Israeli’s sal maak en al bly hulle ie daar nie, ordentlik sal belê in hierdie baken, al is hulle dan ook soos die Oraniërs dit stel, “uitwoners”.
5. Deur die geloof kan ons diensbaar en vrugbaar wees in God se koninkryk, op jonger en ouer ouderdom. Dit is die werklikheid en taal van die verbond met God. Ja, dit is moontlik om ook deur die Here gebruik te word in die ouderdom. Veral as sekere lewenskragte soos Kaleb s’n nie gekwyn het nie. Dalk is u verstand nog helder om besigheidsplanne te prakseer. Dalk is u tegniese vaardigheid op een of ander gebied nog vlymskerp om nuwe ontwikkelinge tot eer van God te dien en verder te voer. Dalk is u tydlose insigte van waarde omdat u die modedenke kan uitken vir hul swakheid en op ’n beter weg kan wys. Hoe ook al, as u nog gesond is, wat gaan u daarmee maak vir sy koninkryk? Daar kan heerlike gevolge voortspruit uit ouer mense wat hul lewenskragte en beursies op die spel plaas vir die koninkryk om tot eer van God te lewe, en tot seën te wees vir die opkomende geslagte. En ja, onterwing van hulle wat die verbond verlaat het, kan en moet gebeur. Stort dit eerder in fondse wat Kaleb-inisiatiewe wil borg.
6. In die unieke geskiedenis van die Afrikaner kan getroue Afrikaners ook ernstig dog berustend vra of God dalk, net dalk, in sommige gevalle moontlik langer gesondheid en krag aan sommige mag gee om die goeie stryd te stry. Kan ons dalk van God bid dat hy tien jaar langer krag gee aan die getroues as aan die ontroues – om diensbaar te wees en die volgende geslag te inspireer? Om heen te gaan en met Christus te wees is altyd verreweg die beste (Fil. 1:21-24), maar is dit miskien nodiger om langer hier diensbaar te wees om die jonger geslag se ontwil? Ons kan hieroor bid, die Skriftuurlike voorskrifte vir ’n langer lewe navolg (Ps. 103:1-5, Spr. 3; Ef. 6:1-3) en dit dan gelate aan die Here van ons ewige tuiste oorgee.
7. Ons het Afrikaners nodig wat nie net heldedade van die verlede vier nie, maar wat ook nou heldhaftig vír hul tyd is. Daarom moet ons nou ook op nuwe wyses heldhaftigheid en die deugde wat dit begrond, in Christus (1) bestudeer en dan (2) soek na maniere om dit uit te leef. Ons kan ons eie heldeverhale ook herontdek wanneer ons dit nie bloot oorvertel nie, maar dit vergelyk met heldeverhale in die geskiedenis van ander volke en met die helde van die Bybel, soos hier. Die Britse Christen-joernalis, GK Chesterton, vertel dat hy die Boere se stryd teen die Britte in sy geestesoog kon verbind aan die oorwinning van minderhede by Marathon en Thermopylae tydens die Grieks-Persiese oorloë. Dit sou natuurlik ook verbind kon word aan minderheidsvoorbeelde uit die Woord, soos Kaleb en Dawid teen die reuse. Heldedag kan ’n kulminasiepunt van sulke bestudering van sulke verhale word.
8. Die bestudering van helde en hul deugde oor die wêreld heen met verwysing
na ons eie, kan ons verbeelding aangryp – en dit is goed. Maar ons behoort dan ook
met liggaam, siel en gees fiks te wees en gereed vir die stryd. Ons sal daarom ook
betrokke moet raak by fisiese en geestelike dissiplines wat die liggaam, siel
en gees in lyn bring met dít wat van helde gevra word. Dit gebeur nie in ons
slaap nie. Abraham het 318 geoefende manne in sy minderheid-span gehad (Gen.
14:14). Sekere deugde behoort ook geoefen te word as deel van ons godsaligheid
(vgl. 1 Tim. 4:7). Jaarlikse fisiese en geestelike inweeg tydens Heldedag is
van die goeie projekte wat hieroor kan ontstaan.
Al hierdie dinge behoort ons daartoe te dring om ’n groterwordende belangstelling in Heldedag aan te moedig. Ja, ons moet almal ernstig daaraan dink om ons feesviering van die dag te rehabiliteer as ’n jaarlikse verwysingspunt waar ons voorraadopname hou oor ons liggaamlike, geestelike en deugdelike toestand asook ons historiese bewussyn oor die helde van die Bybel, ons eie Afrikaner-helde, en helde in die wêreld waarmee ons identifiseer. Broeder en suster, God se verbond met ons is vol beloftes in Christus. Laat ons daarin leef en in die krag van sy Gees volhou, aanhou, en vasbyt midde ons uitdagings – en die reuse bly aandurf. Laat ons met die ander Gees van Kaleb, die Gees van Christus, tot die stryd toetree. Die pad na grootse deurbrake en inspirerende verhale en geskiedenis loop altyd deur die reuse. Kaleb bevestig aan ons dat dit goed en heerlik is, ook in die ouderdom, om dit in geloof te waag met die lewende God.
Amen.