Wys tans plasings met die etiket Kerk. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kerk. Wys alle plasings

2023/09/06

Die Magna Carta van konfrontasie

Lees: Mt. 18:21-28

Gedagte vir kinders: Ons moet soos die Here Jesus met mense werk wat sonde doen.

Oorsig: Die dissipels het pas vantevore vir die Here Jesus gevra wie die grootste in die koninkryk van die hemele is. Die Here het die geleentheid toe gebruik om met sy dissipels te praat oor hoe belangrik dit is om nederig, kinderlik en eensgesind te wees (vgl. Mt. 18:1-14). Daarna het Hy voortgegaan en hulle geleer wat om te doen as ’n mede-dissipel die eenheid verbreek deur sonde. Dit gaan hier oor enige sonde wat duidelik teen God se Woord is en wat gebeur tussen persone as broeders en susters en as deel van die dieselfde gemeente. Die Here Jesus het hieroor gewys op drie basiese stappe.

’n Mens moet eerstens die persoon gaan vermaan tussen jou en hom alleen, en as die persoon luister is die saak uitgeklaar en die mede-broeder (of suster) teruggewen vir die Here (v.15). As die persoon egter nie luister nie, moet die volgende stap geneem word. Jy moet een of twee met jou saamneem as getuies sodat dit kan gebeur wat in die Bybel staan – dat in die monde van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan (v.16; vgl. Dt. 19:15). As die persoon ook na hulle nie luister nie, word dit aan die hele gemeente gesê en as hy daarna steeds nie luister nie, moet die persoon vir jou wees soos die heiden en die tollenaar (v.17). Dit beteken nie dat alle kontak vir altyd verbreek word nie, maar hulle word nou hanteer as mense wat buite die koninkryk staan en nog tot bekering moet kom.    

Die Here Jesus het toe sy vroeëre woorde aan Petrus (Mt. 16:18-19), nou vir al die dissipels en daarmee vir sy hele Kerk herhaal: Alles wat hulle op die aarde bind (gebind aan hul sonde), sal in die hemel gebonde wees; en alles wat hulle op die aarde ontbind (deur vry te spreek), sal in die hemel ontbonde wees (v.18). Hy het dit toe op ’n ander manier herhaal en ons moet onthou om dit in die eerste plek toe te pas op kerklike tug: As twee dissipels saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, sal hulle verhoor word deur sy Vader wat in die hemele is (v.19). Die Here het toe die rede vir hierdie kragtige belofte gegee: Daar waar twee of drie in sy Naam vergader, daar is Hy self in hulle midde (v.20). Let daarop dat die Here Jesus nie gesê het dat Hy dan in hulle midde sal wees nie, maar dat Hy reeds daar is waar hulle in sy Naam vergader is. So het Hy ook bevestig dat Hy God is. Daarom mag elke klein groepie wat opreg in sy Naam bymekaar is om Hom te erken, reken op die kragtige teenwoordigheid en verhoring van gelowiges se gebede, veral by egte vermaning in die gemeente.      

Besprekingsvraag: Waarom het ons makliker konflik met die mense wat naby aan ons is?

Insig: Ons luister hier na die klassieke teksgedeelte oor kerklike tug, wat ook genoem word die Magna Carta van konfrontasie (Bruner). Alle instellings het dissiplinêre kodes, maar die Kerk van Christus het besondere opdragte en besondere beloftes wat in die hemel hieroor eggo en behoort die toon aan te gee. Ons Here is baie duidelik oor die wyse, die proses en die doel.

2023/01/19

Oor Kerkgang en ewigheid

Soms gaan ’n lig sommer onverwags vir jou aan, dikwels in een of ander stase van ontspanning - as jy in die stort is, of fietsry of sommer net stap. Dit het blykbaar iets te make met 'n mens se breinsinapse wat dan oop is en wat ruimte oopmaak vir kreatiwiteit en skeppende denke. Dit kan ook gebeur in die ruimte van die Kerk se erediens - voor, tydens of na die tyd. Sommige noem hierdie tipe ervarings vandag sommer maklik, waarskynlik te maklik, ’n gesig of visioen. My siening is dat dit wat ons as sterk indrukke of oomblikke van oortuigings of sommer net lig wat opgaan beleef, in sekere kringe te maklik op vereenvoudigende wyse direk aan God en sy Gees toegeskryf en sommer as besondere openbaring in die midde van die toehoorders geplaas word. Die gevaar is dan om jouself hoër en beter voor te doen as wat jy is en moontlik selfs gesigte uit die eie hart verkondig (Jer. 23:16). Maar dit nou daar gelaat. In hierdie geval wil ek bloot vertel van 'n onlangse indruk en insig wat sterk in die Kerk by my opgekom het. En natuurlik moet ons in my kringe ook na die anderkant toe daarteen waak dat ons dit nie gering skat of genoegsaam waardeer wanneer ons Vader deur sy Gees ’n bepaalde insig sterker in ons gemoed kom vestig nie.

Daardie oggend voor Kerk verneem ek van 'n broeder wat deel was van 'n whattsapp-groep waarvan ek ook deel was, maar wat gedurende die vorige nag 'n bloedklont deur die hart gekry het en oorlede is. Die vorige dag was hy dus nog op ons whattsapp groep en die volgende dag in die ewigheid. En die oggend, in die Kerk met die hernude besef dat ons dae ’n paar handbreedtes is (Ps. 39:6) en dat ons elke dag dans op die stoepe van hemel of die hel, kom dit weer by my op: Die erediens is ’n tipe deur wat ons weekliks op ’n besondere manier oor die stoep bring en oor die grense van tyd en ewigheid.

Want wie in die erediens inkom en inklim, weet dat ons daarin heengevoer word na die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God die Regter van almal...en by Jesus die Middelaar van die Nuwe Testament, en die bloed van die besprenkeling (Hebr. 12:22-24). Ja, ons kom weekliks om die verbond te vernuwe met Hom wat lewe en die dood in sy hand hou. Ons word dus weekliks bewus van Hom wat die grens tussen tyd en ewigheid oorspan. En die bedoeling is seer sekerlik dat ons nou reeds inoefen om oor die Jordaan na die beloofde land te vaar.

2022/06/28

Kerkwees en dissipelskap

Lees: Luk. 10:1-20

Gedagte vir kinders: In die Naam van Jesus Christus hoef ons nie te vrees vir die Bose nie.

Oorsig: Die Here Jesus was bewustelik op pad na Jerusalem om gekruisig te word en op te staan uit die dode (Luk. 9:51). Hy het reeds sy 12 apostels voor Hom uitgestuur, maar hier lees ons ook van 70 ander wat Hy twee-twee voor Hom uitgestuur het na elke plek waar Hy sou kom (v.1). Hy het ook vir hulle gesê dat die oes groot en die arbeiders min is en dat hulle die Here van die oes moes bid vir arbeiders (v.2). Die gestuurdes sou dus later nog meer word.

Hulle moes dan gaan soos lammers tussen wolwe, en hulle moes niks ekstra saamneem soos ’n beursie of reissak of skoene nie. Dit was dringend en hulle moes hulself nie eens ophou met allerhande groetery op die pad nie (v.3-4). Hulle moes vrede oor die huis uitspreek waar hulle ingaan en as dit aanvaar is, sou die vrede daarop rus. Andersins sou dit na hulle terugkeer (v.5-6). Hulle moes in daardie stad dan daar bly en vrymoedig eet en drink wat vir hulle gegee word vanweë hulle werk, en nie kieskeurig in huise rondgaan nie. Hulle moes ook nie huiwer om enige kos (moontlik onrein) van sekere stede te eet wat voorgesit word nie (v.8). Hulle moes daar die siekes gesond maak en daarop wys dat dit in verband staan met die koninkryk van God wat naby hulle gekom het. Indien ’n gemeenskap hulle nie wou ontvang nie, moes hulle uitgaan op die strate en sê dat selfs die stof uit die stad afgevee word, maar dat hulle steeds moes weet dat die Koninkryk naby hulle gekom het. Vir die veroordeelde stad Sodom sou dit dan beter wees in die oordeelsdag as vir daardie stad (v.9-12).

Hierna het die Here Jesus dorpe soos Gorasin en Betsaida verwyt dat heidense stede vol boosheid soos Tirus en Sidon hul lankal hartgrondig sou bekeer het as daar in hulle sulke kragtige dade plaasgevind het. Vir sulkes sou dit in die oordeel verdraagliker wees. Veral Kapernaum moes hoor dat dit tot die doderyk (hades) toe neergestoot sou word. Die Here Jesus het hulle toe daarop gewys dat wie luister of verwerp eintlik na Hom luister of Hom verwerp, sowel as die Een wat Hom gestuur het (v.13-16). Ons hoor dan dat die 70 met blydskap teruggekom het en vir die Here vertel het dat selfs die duiwels hulself onderwerp het in sy Naam. Die Here het toe vir hulle verduidelik dat dit is omdat die Satan soos ’n bliksemstraal uit die hemel geval het deur sy bediening. Hy het hulle ook verseker dat Hy hulle mag gee oor die Bose en al die krag van die vyand en dat niks hulle sal skade doen nie. En tog het Hy hulle daarop gewys dat hulle eerder moes bly wees dat hulle name in die hemel opgeskrywe is (v.17-20).                

Besprekingsvraag: Waarom sal dit vir Sodom verdraagliker sal wees in die oordeel?  

Insig: Dit is insiggewend dat hierdie gedeelte vertel word net nadat ware dissipelskap van Christus aan die orde was. Ons kan die 70 ware dissipels hier sien as verteenwoordigers van gesante aan die 70 nasies van Genesis 10. Hulle kan ook verbind word aan die 70 oudstes van Israel op wie die Gees van die Here gekom het. Moses het gewens dat die hele volk soos hulle profete sou wees (Num. 11:16-29). Dit het op Pinksterdag waar geword toe die Gees op alles soorte gelowiges gekom het. Dit is ook insiggewend dat Christus die 70 oproep om te bid vir verdere arbeid. Ons kan hierdie gebeure daarom sien as ’n inleiding tot die werk van die Kerk van Christus en die missie van die Kerk as koninklike en gestuurde gesante van die Here. Ons kan daarom ook afleidings maak oor dissipelskap en kerkwees. Die Kerk as liggaam van Christus kan eenvoudig nie afsydig staan teenoor haar roeping as koninklike gestuurdes in hierdie wêreld nie.

2021/07/07

Kerke en Godverwysing

In een van my studiegidse het ek die volgende raakgeloop:  

"Ons moet nie die fout maak om die Kerk as bykomstig te sien in die lewe van Christene nie. Mense leef óf selfverwysend óf Godverwysend en die Kerk bied aan ons die konkreet-wonderlike wyse waarop ons Godverwysend en meer nog, in gemeenskap met die Drie-enige God mag leef. Hierdie bediening in die Kerk geskied verder langs die weg van ampte waardeur Christus sy gesag en genade aan mense bedien en ons moet dit alles waardeer as gegee om ons te begelei in ons wandel met God en in die deelhê aan die gemeenskap van die Drie-eenheid." 

Waar dit nie gebeur nie en die kerke leeg word, word die tronke vol, het onse voorouers gesegdegewys gesê. Ons kan dit deftig in ander woorde plooi, maar die insig bly relevant. Dit is dat die samelewing sekulariseer, en allerhande geite verwag kan word om na vore te tree waar God en sy gebod vir mense op die agtergrond staan. Dit bly egter simptome van 'n dieper probleem: Die gebrek aan gemeenskap en wandel met God in en deur Christus en sy liggaam.

2013/10/04

Kinders in die kerk

Dr. Willie Marais is bekend vir sy woorde oor kinders in die kerk. Hy het gesê dat 'n kerk sonder kinders hom laat dink aan 'n plaas sonder kalwers. 'n Plaas sonder kalwers behoort heel waarskynlik aan 'n spekulant en nie aan 'n boer nie, het dr. Willie gesê. Hy het dit opgevolg met die uitklopvraag: Wat moet ons dan dink van 'n kerk sonder kinders? Dr. Willie het dit juis van toepassing gemaak op kinderjies wat bulk, en blêr, gedurende die prediking. En tog, jy kry ook baie ernstige gelowige ouers wat meen dat kinders te vinning te vroeg aan onnodige rigiditeit onderwerp word. En dit, so seg die beswaardes, terwyl hulle nog niks van 'n erediens begryp nie. Die kalfies hoef nog nie by die voerbakke te staan nie, sou sekere ouers die bulk-beeld wou amendeer. Hulle hoef mos nog net melk te drink aan die uier. Het Petrus dan nie 'n spesifieke opdrag ontvang oor lammers en weiding wat daarby sou pas nie? As jy nou vinnig wil sien hoe ouers aan beide kante kan heftig raak, gooi net hierdie kwessie in 'n bespreking in.

2013/08/02

Kwaad in die kerk?

Dit is nie net Afrikaners wat aan afstigting ly nie. Die afsplitsing sindroom sit in almal se bloed. Mense verenig dikwels rondom dit wat Girard 'n offerkrisis noem - daar waar die spanning geleidelik oplaai tot by die punt van toornontbranding op, of toornverbanning van, een of ander sondebok. Dit gebeur selfs in kerke en dan skeur ons maklik af of verban iemand in die naam van een of ander sogenaamde beginsel. Hierdie aksie sluit dikwels aan by die bluf-jouself vriendekring wat in die vorige skrywe genoem is. Indien jy die normale struktuur van menige kerkskeuring beter wil begryp, kan Doug Wilson se onlangse besinning 'n ver ent help. En in die lees ontvang 'n mens sommer op die koop toe weer die evangelie in sy onverdunde formaat.

2013/07/21

Hoog in die kerktakke

Ek het dit geweet, maar dit nie besef nie. My vorige possie kan deur 'n sekere mens maklik in 'n sekere rigting verstaan word; 'n rigting wat my eie bedoeling skeeftrek. Steven Wedgeworth van Calvinist International faam gee hier 'n baie belangrike kwalifikasie op die ou ou kerke gedagte. In wese kom dit daarop neer dat jongmense nie so hoog in die takke moet raak dat die lewende stem van die Woord, die Protestantse viva vox engelii, in die skadu's gehou word nie. Ek stem.

2013/07/18

Bring my die ou-ou kerke

Ek het dit geweet. Daar is meer mense wat reken jeugkerke kan uit die mode raak. Wat dan? 'n Dame genaamd Andrea gee hier rekenskap van haar terugtog na outentieke tradisie in die kerk. En sy kan boonop met woorde wiggel. Lees haar laaste paragrawe met jou fynproewer leestong. Haar artikel herinner my ook aan die woorde van James K. A. Smith. Hy reken dat postmodernes nie behoefte het aan kerke wat te byderwets is nie. Hulle soek iets uit 'n ander wêreld, meen Smith. Toegegee, nie almal nie, maar soos Andrea dit in haar artikel stel, almal is ook nie vervuld deur die nuutste neigings nie. Kerke met 'n soliede tradisie kan dalk juis die gevoel van 'n ander wêreld beter onthul.

2013/07/12

As die Vierperdewa jou storm

Quadriga

Peter Leithart maak hier 'n groot aanspraak. Hy stel dat dat die Middeleeuse Quadriga, 'n metode van Bybelverstaan, baie peste en plae in die kerk kan uitroei. Voordat sy aanspraak verder aan die bod kom, is dit nodig om voor hierdie vierperdewa te staan terwyl dit op jou afstorm.

Tydens die Middeleeue kristalliseer ’n uitlegmetode vanaf die vyfde eeu wat uiteindelik as die "Vierperdewa" (Quadriga - kyk na die foto. HT:romancoins), bekendstaan. Die Quadriga word die klassieke formulering van die Middeleeuse uitlegmetode, maar dit span ook die allegoriese uitlegmetode in. Juis daarom is dit later met groot teenstand afgewys. Dit blyk egter dat min geleerdes allegorie verstaan en daarom ook nie tussen goeie en slegte allegorie kan onderskei nie. Op 'n ander keer meer daaroor. Maar luister en kyk vir nou eers na die groter prentjie van die vierperdewa. Gee dit 'n kans om jou te bestorm, en kyk of jy nie dalk simpatie ontwikkel nie.