2023/01/19

Oor Kerkgang en ewigheid

Soms gaan ’n lig sommer onverwags vir jou aan, dikwels in een of ander stase van ontspanning - as jy in die stort is, of fietsry of sommer net stap. Dit het blykbaar iets te make met 'n mens se breinsinapse wat dan oop is en wat ruimte oopmaak vir kreatiwiteit en skeppende denke. Dit kan ook gebeur in die ruimte van die Kerk se erediens - voor, tydens of na die tyd. Sommige noem hierdie tipe ervarings vandag sommer maklik, waarskynlik te maklik, ’n gesig of visioen. My siening is dat dit wat ons as sterk indrukke of oomblikke van oortuigings of sommer net lig wat opgaan beleef, in sekere kringe te maklik op vereenvoudigende wyse direk aan God en sy Gees toegeskryf en sommer as besondere openbaring in die midde van die toehoorders geplaas word. Die gevaar is dan om jouself hoër en beter voor te doen as wat jy is en moontlik selfs gesigte uit die eie hart verkondig (Jer. 23:16). Maar dit nou daar gelaat. In hierdie geval wil ek bloot vertel van 'n onlangse indruk en insig wat sterk in die Kerk by my opgekom het. En natuurlik moet ons in my kringe ook na die anderkant toe daarteen waak dat ons dit nie gering skat of genoegsaam waardeer wanneer ons Vader deur sy Gees ’n bepaalde insig sterker in ons gemoed kom vestig nie.

Daardie oggend voor Kerk verneem ek van 'n broeder wat deel was van 'n whattsapp-groep waarvan ek ook deel was, maar wat gedurende die vorige nag 'n bloedklont deur die hart gekry het en oorlede is. Die vorige dag was hy dus nog op ons whattsapp groep en die volgende dag in die ewigheid. En die oggend, in die Kerk met die hernude besef dat ons dae ’n paar handbreedtes is (Ps. 39:6) en dat ons elke dag dans op die stoepe van hemel of die hel, kom dit weer by my op: Die erediens is ’n tipe deur wat ons weekliks op ’n besondere manier oor die stoep bring en oor die grense van tyd en ewigheid.

Want wie in die erediens inkom en inklim, weet dat ons daarin heengevoer word na die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God die Regter van almal...en by Jesus die Middelaar van die Nuwe Testament, en die bloed van die besprenkeling (Hebr. 12:22-24). Ja, ons kom weekliks om die verbond te vernuwe met Hom wat lewe en die dood in sy hand hou. Ons word dus weekliks bewus van Hom wat die grens tussen tyd en ewigheid oorspan. En die bedoeling is seer sekerlik dat ons nou reeds inoefen om oor die Jordaan na die beloofde land te vaar.

Die vraag is dan: Maar wat gebeur nou in 'n samelewing waar die kerke leeg word? Behalwe dat die tronke voller sal word, kan ons verwag dat die hemelbewussyn ook leër sal word. Ons sal vasgevang raak in die hier en nou en iets in die plek van of naas God stel waarin ons ons diepste vertroue stel (Heidelbergse Kategismus, antwoord 95). Totdat die waardeloosheid daarvan ons hopelik vroegtydig tref. Intussen sal ons leef in ’n samelewing waar sinloosheid (Nihilisme) noodwendig moet insluip. Die begaafde prediker en teoloog, Tim Chester, verduidelik in sy kommentaar op Jesaja 8 dit op besonder treffende wyse. Hy sê die volgende (vertaald) oor hoofstuk 8:21 en 22: 

"In 8:21 kyk hulle boontoe en vervloek God; nou in 8:22 kyk hulle na buite en sien net somberheid. Dit is wat gebeur as jy God uit die prentjie haal. Jy bly sonder enige objektiewe morele standaard. As jy God wegneem, neem jy geregtigheid saam met Hom weg. Want sonder God is daar geen objektiewe kriteria om te oordeel wat reg en verkeerd is nie. Jy bly oor met die oorlewing van die sterkstes. Daar is niemand om mense tot verantwoording te roep nie. Die resultaat is nood en somberheid. Daar is geen lig van openbaring en geen hoop op verlossing nie. Die mensdom word aan homself oorgelaat, en dit is nie 'n gelukkige vooruitsig nie. Dan is die beste waarop ons kan hoop, om deur die lewe te strompel sonder om 'n ernstige siekte, misdaad, onnodigheid of oorlog te trotseer. Maar selfs as mense hierdie dinge vermy, eindig elke lewe op die ou end in die dood."

Hiermee lê Tim Chester ook sy vinger op die probleem van die postmoderne kondisie. Dit is die toestand van ons dag waarin  mense optree asof daar geen maatstaf of objektiwiteit buiten onsself is nie en waar ons maak asof alles net opinies is. Hiermee saam hang dan die oortuiging van die konstruktivisme -  dat elkeen self hulle eie werklikheid moet konstrueer (deesdae selfs jou eie geslag) binne 'n groep wat darem saam ooreengekom het oor wat hulle eie grondreëls naas andere is. Maar daarmee word dan eintlik een van twee dinge gesê: Of dat God veraf is en Homself nie baie duidelik geopenbaar het nie, of dat God so in alles is dat ons die goddelike vonk in onsself ontdek wanneer ons ons eie werklikheid konstrueer. Realiteit het egter ’n manier om jou terug te skop wanneer jy jouself as ’n godjie aanstel om aan die weefsels van God se werklikheid te torring. Chester herinner ons dat wanneer ons God prysgee (al is dit so dat ons eintlik glad nie kan nie), ons daarmee ook objektiwiteit finaal prysgee en daarmee ook geregtigheid en uiteindelik onsself.

Anders gestel: Wanneer ons God se objektiewe werklikheid buite ons minag, sal Hy ons ook minag. En deel daarvan kan wees dat Hy ons aan onsself en ons eie konstruksies oorgee, om die gevolge daarvan aan onsself en ons kinders se lywe te voel. Meer nog, indien ons onsself vereenselwig met die idee dat waarheid relatief is en dat alles maar net opinies is, waarom sal dit nie daarop uitloop dat dit eintlik maar daaroor gaan oor wie die sterkste is nie? Dan bevestig ons diegene in hulle kwaad wat stel dat mag reg is, en dat jou opinie gerus met geweld afgelag kan word. Dan is daar ook nie meer werklik verdere appèl in die liederlike toestande waarin sommige mense uitgelewer is nie, behalwe om oorlog te voer oor wie die sterkste is.

Maar ongelukkig besef mense dit dikwels eers wanneer hulle kniediep in sulke toestande is. Mense met wie dit te goed gaan, gee egter nie hiervoor om nie (Dt. 32:15). Totdat God ons, soos soveel keer in die geskiedenis, aan die swaard, die hongersnood en die pes oorgee om ons te leer dat ons asem in ons neus is en dat God self geregtigheid is en dit definieer. Ons kan probeer om Hom en enige groot ontwrigting te vermy, maar uiteindelik gaan ons voor Hom verskyn en aan die hand van sy geregtigheid geoordeel word. Goddank dat Hy aan ons die geregtigheid van Christus skenk waarin ons gekleed voor Hom mag verskyn. Maar daardie kleed is ook nie maar net iets in ons kop nie. Dit is buite ons, konkreet in Christus, en Hy is net objektiewe troos vir diegene wat deur bekering hul toevlug tot Hom neem. Die hele punt van ons wandel op aarde is om nou al te leer om in sy kleed van geregtigheid te loop en te lewe. En om in die weeklikse kleedrepetisie van die erediens, dit wat die grootste werklikhede van die lewe is, in te oefen, sodat ons sonder verskrikking voor sy troon hoef te verskyn.

En dan is daar sowaar mense wat stel dat hulle nou vry is van die Kerk en van hierdie “reëls”. Vry om nie met 'n opgeskerpte Godsbewusyn rond te loop nie? Vry om nie met die grootste werklikhede troostend en bevrydend gekonfronteer te word nie? Vry om uitsigloosheid en somberheid in te faseer? Die teendeel is waar. Ons word vry om die hele werklikheid te kan sien, God se lig wat genesend skyn te waardeer, en daarom die goeie stryd te stry soos kinders van die lig. Ja, ons word vry om in sy geregtigheid die lewe dieper te smaak en te proe en nou reeds te deel in sy lewe en oorwinning. APA-studente sal sonder hierdie insig en gesindheid, vreemdelinge by die APA wees en sal die instelling se diepste grondslae nie kan verstaan of waardeer nie. En daarom, liewe broeder, liewe suster, is die erediens nie opsioneel nie. Dit is soos die teoloë sê, 'n sine qua non - dit waarsonder ons nie kan nie. Want eendag sal elkeen wat die geleentheid gebruik het om dit goed en eg in te oefen, soos die verstandige maagde gereed wees met olie wat brand wanneer die Bruidegom kom (Mat. 25). Laat ons daarom die geleenthede gebruik om weekliks, in Chistus, anderkant die drumpel van die ewigheid te tree.