Wys tans plasings met die etiket Versoeking en beproewing. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Versoeking en beproewing. Wys alle plasings

2025/08/04

In die skuilplek van die Allerhoogste

Lees: Psalm 91:1-16

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om by Hom te kom skuil teen enigiets.

Oorsig: Psalm 91 word dikwels gebruik in tye van gevaar en krisis en groot uitdagings waar die dood so duidelik dreig. Dit bevat grootse woorde oor die vertroue in God wat ons asems wegslaan. Die satan het dan ook ’n besondere poging aangewend om hierdie Psalm se bedoeling skeef te trek in sy versoeking van die Here Jesus op aarde. Dit behoort ons aandagtig te laat luister na wat hierdie Psalm dan nou eintlik leer en wat die Here hier aan ons openbaar. Die Psalm begin met uitsprake oor wat met hulle gebeur wat skuiling vind by die Allerhoogste (v.1-2). Hulle sal in vernag in die skaduwee (beskerming) van die Almagtige (v.1). Dan maak die Psalmis dit persoonlik van toepassing in die eerste persoon op wat elke gelowige as “ek” vir die HERE, die Verbondsgod,  persoonlik mag sê: “My begvesting en my God op wie ek vertrou” (v.2).

Dan word beloftes gegee oor waaruit Hy gelowiges alles red (v.3-13) – soos uit die net van die voëlvanger en redding van pes.  Hy doen dit deur sy vlerke wat dek. Hierin is sy getrouheid soos ’n skild en pantser (v.3-4). Daarna word die gelowige wat dit beleef toegespreek in die tweede persoon. Jy hoef nie te vrees vir skrik in die nag of pyle wat in die dag rondvlieg nie (v.5). Dit gaan oor pes in die donker of siekte wat op die middag verwoes en wat baie bekend was in die versengende hitte in die woestyngebiede (v.6). Daar word selfs die belofte gemaak dat al val duisende langs jou, dit nie na jou sal aankom nie (v.7). Jy sal dit net met jou oë aanskou en die vergelding van die goddelose sien (v.8). Vers 9 begin en verwoord ’n persoonlike woord teenoor die Here: “”want U is my toevlug” en dan word die gelowige weer in die tweede persoon aangespreek: Jy het die Allerhoogste jou beskutting gemaak (v.9).       

Die beloftes gaan dan voort dat geen onheil of plaag jou sal tref nie. Die rede is die HERE sy engele bevel sal gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie (v.11-12; vgl. Luk. 4:9-12). Jy sal op die leeu en die adder trap en  hulle vertrap (v.13).  En dan word daar in die slot (v.14-16) oorgegaan na wat God oor die gelowige sê: Omdat hy (1.1) my liefhet en (1.2) my Naam ken, sal Hy hom (2.1) red en (2.2) beskerm (v.14). Die gelowige sal (1.3) Hom aanroep en God sal (2.3) verhoor en (2.4) in die nood sal Hy (“Ek”) by die gelowige wees en (2.5) uitred en (2.6) eer aan hom gee (v.15). Hy (“Ek”) sal hom (2.7) met lengte van dae versadig en (2.8) hom die HERE se heil laat sien (v.16).       

Besprekingsvraag: Hoe maak ons sin van Psalm 91 se beloftes as gelowiges ly en sterf?  

Insig: Hierdie wonderlike Psalm met sy grootse uitsprake kan net op een manier sy volle waarde vir ons hê: wanneer ons verstaan dat in die eerste plek gemaak word aan die een van wie hierdie Psalm in sy volheid waar is: die Messias, Jesus Christus. 

2022/03/03

Versoeking wat weerstaan is

Lees: Luk. 4:1-14

Gedagte vir kinders: Jesus is ons Verlosser, want Hy het die satan se versoekings weerstaan.  

Oorsig: Die Here Jesus se amptelike bediening het begin toe Hy in die Jordaan gedoop is (Lk. 3:21-22). Daar het die Gees op Hom neergedaal en die stem uit die hemel bevestig dat Hy die geliefde Seun van God is. Net hierna hoor ons uit sy geslagsregister ook dat Hy seun van Adam is wat seun van God was (Lk 3:23,38). Die vraag is nou wat hierdie tweede Adam as Seun van God gaan doen? Ons lees dat Hy vol van die Gees in die woestyn gelei is (4:1). Dit herinner ons aan Israel wat veertig jaar in die woestyn was. Jesus Christus was veertig dae daar waarin hy niks geëet het nie en deur die duiwel versoek is (v.2). Beraders wys daarop dat jy baie meer weerloos is wanneer die akroniem HALT in jou lewe waar is (Hungry, Angry, Lonely, or Tired).

Na veertig dae het Jesus begin honger word, en ook hier het die satan sy kans gesien. Hy het gesê dat as Jesus die Seun van God is (soos by sy doop uit die hemel gesê is), Hy moes sê dat die klip ’n brood word (v.3). Die Israeliete het deur honger in die woestyn hul verhouding met God verbreek, maar die Here Jesus het nie en aangehaal uit Dt.8:3. Daar staan dat die mens nie van brood alleen sal lewe nie, maar van elke woord van God (v.4). God se wil bring lewe voor enigiets anders. Die duiwel bring hom toe op ’n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ’n oomblik se tyd (v.5). Hy sê toe dat aan Jesus dat hy aan Hom al hierdie mag en heerlikheid sal gee (as die owerste van hierdie wêreld – Jn. 12:31) as Jesus hom aanbid (v.6-7). Die Here het hierdie keer die satan weerstaan deur te sê dat hy moet weggaan en uit Dt. 6:13 aangehaal. Daar staan dat jy die Here jou God moet aanbid en Hom alleen dien (v.8).             

Toe bring die satan Jesus na Jerusalem en stel hom op die dak van die tempel. Hy het toe gesê dat Jesus Homself moes neerwerp van daar af. Die satan het op Ps. 91:11-12 gewys waar daar staan dat God sy engele sal beveel om jou te bewaar en dat hulle jou op die hande sal dra sodat jy nie miskien jou voet teen ’n klip stamp nie (v.9-11). Die Here Jesus het hom egter gewys op ander woorde in die Skrif wat ook in ag geneem moet word. Daardeur het die Here ons geleer dat ons Skrif met Skrif moet vergelyk en moeilike gedeeltes in die lig van duideliker gedeeltes moet verstaan. Ons moet dus alle gedeeltes in die Bybel met mekaar in verband bring en in Dt. 6:16 staan ook dat jy die Here jou God nie moet versoek nie (v.12). Toe die duiwel elke versoeking geëindig het, het hy ’n tyd lank van Jesus gewyk (v.13). En so het die Here Jesus oorwinnend, in die krag van die Gees na Galilea teruggekeer (v.14).           

Besprekingsvraag: Hoe stry ons vandag teen die basiese versoekinge wat ons hier sien?

Insig: Die Bybel vertel ons van bekende beproewings en toetse. Dink aan Josef en Abraham en Job wat sterker anderkant uitgekom het. Daar is ook toetse wat gedop is, soos Israel in die woestyn en Saul as koning. Niemand van ons het nog altyd elke beproewing deurstaan nie, hetsy in woorde, dade, gedagtes, gesindheid of versuim. Die media herinner ons daagliks aan toetse wat gedop word, en daarmee aan die gevallenheid van die mens. In Adam en Eva het ons almal die doel gemis en mis dit steeds dikwels. Ons behoort ten regte baie bewus te wees van eie gevallenheid. Daarom is die wet as spieël en tugmeester belangrik. Die is juis so dat ons Jesus Christus sien skitter in die woestyn. Hy het teenoorgestelde toestande as Adam in die tuin, maar bly gelowig en lojaal. Israel murmureer in die woestyn, soos ons, en sondig. Maar Jesus Christus bly optree in die krag van die Gees en tree oorwinnend anderkant uit.