Wys tans plasings met die etiket Postmillenium. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Postmillenium. Wys alle plasings

2022/11/28

In die lig van die Here

Lees: Jes. 2:1-5

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om in sy Lig te lewe.

Oorsig: Die profeet Jesaja het opgetree in ’n tyd (rondom 700 v.C.) toe die noordelike stamme van Israel gevang, gedood en in ballingskap gegaan het. Ook in die Suide het baie mense in Juda en Jerusalem die Here verlaat. Jesaja het hulle gewaarsku dat God hulle sou straf, maar dat Hy ook weer goeie dinge sou doen aan die wat oorgebly het. Daarom het Jesaja by tye ook gewys waarop dit alles sou uitloop en wat die groter prentjie van alles is. Hier gee Jesaja vir ons so ’n prentjie. Jesaja praat oor wat aan die einde van die dae sal gebeur. Dit wys op die dae van die einde van die Ou Testament en die dae waarin die Messias sou kom.

Jesaja praat dan met hulle deur beelde wat vir hulle bekend was om iets te sê van wat in die toekoms sou gebeur. Berge word dikwels gesien as plekke waar mense die naaste aan die hemel is en God kan ontmoet. Maar Jesaja wys daarop dat Huis van die Here en die berg Sion waarop dit gebou was, al was dit nie die hoogste nie, sou uitstaan bo almal. Meer nog, die nasies wat vroeër gewoond was aan hulle eie plekke van afgod-aanbidding, sal letterlik stroom - toestroom (skynbaar opwaarts) - na die huis van die Here (v.1-2). Ook Miga (4:1-3) sou later hierdie woorde gebruik en Maleagi (1:11) sou ook reeds praat daarvan dat God se Naam groot sou wees onder die heidene. Hierdie beelde is vervul in die bediening van die Here Jesus en wys heen na die Kerk wat die stad op ’n berg geword het, oral waar gemeentes op aarde ontstaan het (vgl. Mat. 5:14-16; Handelinge). Want ná die Here Jesus se kruisoffer het die evangelie dan ook na die heidene begin uitgaan (vgl. Mat. 28:18-20). 

Jesaja profeteer dat nie net enkelinge nie, maar volke, baie volke, sal heengaan en mekaar aanmoedig om na daardie berg te gaan waar die huis van die God van Jakob is. Hulle doel was sodat hulle (1) die Here se paaie kan leer ken en dat hulle dit nie net sal ken nie, maar (2) daarin sal wandel. Want vandaar sou die Wet en die Woord van die Here uitgaan na al die volke toe (v.3). Die Here sal ook deur sy Woord oordeel tussen die nasies en regspreek. Die gevolg daarvan sal wees dat hulle nie meer teen mekaar oorlog sal voer nie. Daarom sal hulle van hulle swaarde eerder pikke maak om die grond te bewerk en van hulle spiese snoeimesse. Die nasies sal nie meer wapens soos swaarde teen mekaar lig en nie meer leer om oorlog te voer nie (v.4). En dan roep die profeet die volk op, die huis van Jakob, om te wandel in die lig van die Here (v.5). Sy lig gee verlossing en leiding (Num. 6:25; Ps. 27:1; Ps. 43:3; Ps. 119:105).

Besprekingsvraag: Wat is die verband tussen Gen. 12:1-5 en Jesaja 2:1-5?

Insig: Jesaja leef in ’n tyd waarin baie mense afvallig was. In die eerste deel hoor ons van dit wat God gaan doen, maar in die tweede deel hoor ons waarmee die mense besig was en wat ’n spieël voor hulle en ook ons ophang: