Wys tans plasings met die etiket Farrow. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Farrow. Wys alle plasings

2022/05/12

Geloof, begrip, genot

Dalk sê dit meer van myself as van my stelling, maar ek sal dit nogtans waag. Douglas Farrow is 'n gerekende yster-teoloog van ons tyd. Dit beteken nie dat hy my van sy kritiek op Protestante altyd oortuig nie, maar oor die lakmoestoets van etiese kwessies van die dag, is sy teologiese kleur gunstig. Kortom, hy straal die soort teologiese integriteit uit wat met my praat. Daar is natuurlik agt-silinders soos David Bentley Hart wat nou nie juis hiermee sal saamstem nie, maar nou-ja, iewers moet jy bereid wees om eerder ongewild te wees as ontrou aan hulle wat jou teologiese ingewande in beroering bring. Ek het nog nie volledig by Farrow se 2017-publikasie, Theological Negotiations, uitgekom nie, maar hier is 'n eerste motivering of twee waarom hy my ore laat spits. In sy inleiding stel Farrow die volgende (vertaal in Afrikaans): 

"Aquinas is natuurlik altyd onontbeerlik, en dikwels bevredigend. Waar hy egter nie bevredigend is nie, vind ek myself teruggedryf na Bybelse motiewe wat beter ontwikkel is in vroeëre denkers soos Irenaeus, Augustinus en Anselmus. Laasgenoemde het 'n groter rol kom speel as wat ek verwag het dat hy sou. Anselmus was die eerste een wat die omvang van die probleem van nominalisme teëgekom en begryp het, daardie filosofiese en teologiese en politieke beweging wat die Westerse beskawing so dramaties verander het en voortgaan, soos hoofstuk 7 opmerk, om dit vandag steeds te doen." 

2021/05/13

Boekbespreking: The Ascension of Christ: Recovering a Neglected Doctrine, 2020, deur Patrick Schreiner



Dit is weer tyd vir Christene se herdenking van die Hemelvaart. Dit is ook die Christelike vakansiedag wat in Suid-Afrika reeds gesneuwel het. In baie Europese lande word die dag verbasend genoeg nog steeds as vakansiedag herdenk, maar dikwels is die werklike betekenis daarvan reeds lankal verlore. Dit is daarom heel gepas om by die herdenking van die Hemelvaart weer te hoor hoe belangrik hierdie aspek van ons geloof is en waarom dit verdien om weer ingestel te word.

Patrick Schreiner, Professor in Nuwe Testament in Kansas City, Missouri in die VSA, het in 2020 ’n belangrike bydrae hieroor gelewer in die bondige Snapshot-reeks in teologie. Schreiner skryf in ’n behoorlik Bybelbelaaide publikasie oortuigend oor die belang van die Hemelvaart-gebeure vir ons lewe en ons teologie. Hy begin heel gepas met ’n aanhaling van die behoudende Douglas Farrow van Kanada, die teoloog wat in die onlangse tyd geweldig baie gedoen het om die belang van Hemelvaart weer op die agenda te plaas: “Dit is opmerklik hoe min die Hemelvaart deesdae genoem word. Eens was dit gesien as die hoogtepunt van die verborgenheid van Christus ... Vandag is dit 'n verleentheid.”