2022/04/28

'n Lam asof Hy geslag is

Lees: Openb. 5:1-14  

Gedagte vir kinders: Alle eer aan Jesus Christus, die Lam, wat ook die Leeu is.

Oorsig: Openbaring 5 brei uit op die gesig wat Johannes in Openbaring 4 sien. Dit gaan oor ’n gesig van die hemelse tempel en wat daar gebeur. In Openbaring 5 verneem ons van ’n boek(rol) in die regterhand van Hom wat op die troon sit. Dit was aan die binnekant en buitekant beskrywe en met sewe seëls verseël (v.1). ’n Sterk engel het toe met ’n groot stem geroep en gevra wie waardig is om die boek se seëls te breek die die boek oop te maak, maar daar was niemand in die hemel of op die aarde nie. Johannes het toe baie gehuil omdat niemand waardig was om die boek oop te maak of daarin te kyk nie (v.2-4).

Een van die 24 ouderlinge (verteenwoordigers van alle gelowiges – van die 12 stamme in die OT en die 12 apostels in die NT. Vgl. Op. 4:4-6) het toe vir hom gesê om nie te huil nie. Hy moes eerder kyk na (1) die Leeu, (2) Een uit die stam van Juda, Hy wat (3) die wortel van Dawid is. Hý het oorwin om die boek oop te maak en die seëls te breek (v.5). Johannes sien toe in die middel van die troon en die vier lewende wesens (gérubs, vgl. Ex. 25:18, Es. 1:5 e.v.) en die ouderlinge, ’n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë. Dit dui op die kragtige werking van die Heilige Gees oor die hele aarde. Die Lam het toe gekom en die boek geneem uit die regterhand van God. (v.6-7). Toe Hy dit neem, val die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge voor die Lam neer met siters en goue skale vol reukwerk, wat dui op die liedere en gebede van die heiliges (gelowiges). Hulle sing toe ’n nuwe lied en sê dat die Lam waardig is om die boek te neem en die seëls oop te maak. Die rede is dat Hy geslag is en die gelowiges (“ons”) vir God met sy bloed gekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie en hulle (ons) konings en priesters vir onse God gemaak wat as konings op die aarde sal heers (v.8-10).

2022/04/22

Openbaring op Sondag

Lees: Openb. 1:4-18              

Gedagte vir kinders: Jesus Christus het die sleutels van die dood in sy hande   

Oorsig: Die boek Openbaring gaan oor dit wat Jesus Christus aan Johannes bekend gemaak het om aan die Kerk van Christus deur te gee. (vgl. Mat. 24). Dit word spesifiek gerig aan sewe gemeentes in Asië (vandag Turkye), verteenwoordigers van die Kerk van Christus van alle tye. Johannes begin met ’n toesegging van genade en vrede. Dit kom vanaf Hom wat is en wat was en wat kom en van die sewe Geeste wat voor sy troon is - die volmaakte teenwoordigheid van die Heilige Gees (v.4). Dit kom ook vanaf Jesus Christus van wie drie dinge genoem word. Hy is (1) die getroue getuie (maturia), (2) die Eersgeborene uit die dode, en (3) die Owerste oor die konings van die aarde (v.5). Aan Hom word dan hulde gebring en daar word drie dinge genoem wat Hy gedoen het. Hy het (1) gelowiges (“ons”) liefgehad, (2) van hulle sonde gewas in sy bloed, en (3) gemaak tot konings en priesters vir sy God en Vader. En dan word heerlikheid en krag tot in alle ewigheid aan Hom toegebring (v.5-6). 

Hierna word Dn. 7:13-14 en Sag. 12:10 op Christus van toepassing gemaak. Hy wat kom met die wolke gaan oor Hom wat met sy Hemelvaart by die Vader gekom het en nou word Hy verkondig sodat elke oog Hom kan sien en berou kry oor hulle sonde. So sal dit gebeur totdat elke oog Hom finaal sal sien kom (v.7). Hierna bevestig die Here dat Hy die begin (Alfa) en die einde (Omega) is en wat is, was en wat kom, die Almagtige (v.8). Johannes vertel dan dat hy - Christenbroeder en deelgenoot - na die eiland Patmos verban was oor die getuienis van Jesus Christus. Op die Dag van die Here, die Sondag, was hy in die Gees en het ’n groot stem gehoor wat Homself weer Alfa en Omega noem en beveel om aan die sewe gemeentes in Asië te skryf (v.9-11). 

2022/04/13

Oom Ches en wêreldbeskouing (4)

"Mense wil nie glo nie, want hulle wil nie hul horisonne verbreed nie." – G.K. Chesterton.[i]

Ons het in die vorige aflewering aan die hand van die Chestertoniaan, Dale Alquist, begin kyk na oom Ches as omvattende denker. Ons gaan nou daarmee voort, maar eers net 'n paar opsommende opmerkings. Dit gaan by oom Ches oor uitbrekende en uitbundige denke wat tog ook sterk aan ’n bepaalde sentrum gekoppel is. Ons sal later daarby uitkom dat die  paradoksale sentrum daarvan vir oom Ches die beste verteenwoordig word in die simbool van die kruis. Teenoor die simbool van ’n sirkel wat inkring op sigself en wat verteenwoordigend is van alle monistiese en panteïstiese denke, en waarvan die sogenaamde New Age ook ’n hedendaagse vertakking is, het oom Ches reeds in sy boek Orthodoxy ’n heerliker alternatief aan die orde gestel. Oom Ches waardeer eerder die simbool van die kruis waarin hy ’n paradoksale kruispunt identifiseer wat vanuit die sentrum uitbeweeg na die uithoeke van die heelal en wat altyd verder kan uitloop.[ii]  

Hierdie benadering van oom Ches sou ook as ’n boeiende antwoord op die kritici van die sogenaamde logosentrisme hanteer kon word, maar dit nou eers daar gelaat. Ons keer nou eers weer terug na die drie hoofpunte waarmee ons besig is: (1) Waaroor dit in omvattende denke gaan, (2) hoe die mondering daarvan lyk, en (3) wat die grondslag van so ’n aanslag is. Ons is nog in die helfte van die tweede punt waar ons aan die hand van Alquist na die mondering begin kyk het van 'n omvattende denker wat met die werklikheid en die waarheid omgaan. Ons kom nou by die ander kant van die mondering - hoe omvattende denkers met opponente omgaan. Hieroor merk Alquist in sy eerste hoofstuk op dat dit basies oor drie uitgangspunte gaan. Dit kan natuurlik heelwat uitgebrei word, maar Alquist help om by die kernaandele te hou. Opgesom kom dit op die volgende neer: Jy moet weet wat jou voorveronderstellings is, jy moet weet wat jou einddoel  is, en jy moet weet waar die kontakpunte met jou opponente is.

2022/04/12

Ek weet: My Verlosser leef...

Lees: Job 19:23-29

Gedagte vir kinders: In elke moeilike omstandigheid kan ons weet dat ons Verlosser leef.

Oorsig: Job, die ryk man wat alles gehad en met God gewandel het, het alles verloor – sy besittings, en al sy kinders het gesterwe. En toe het hy boonop nog siek en vol swere geword en mense het hom eerder vermy. Drie vriende het wel na hom toe gekom om met hom te praat, maar hulle was uiteindelik vol beskuldigings oor Job wat moontlik geheime sondes in sy lewe gehad het. Hieroor voer hulle gesprek met Job in verskillende rondtes en waarin hy telkens op elkeen terugantwoord. Een kommentator is van mening dat Elifas ’n mistikus is, Bildad ’n tradisionalis, en Sofar ’n rasionalis wat oor die probleem van lyding praat.  

Ons lees hier van Job se antwoord op Bildad in die tweede rondte van gesprekke. Job kla eers dat hulle hom glad nie verstaan nie (19:1-6), dan beskrywe hy hoe God op hom aanval (19:7-12), en dan beskrywe hy die verskriklike gevolge daarvan in allerhande soorte mense se optrede teenoor hom asook die nare toestand van sy siekte (19:13-20).  Job pleit dan by sy vriende dat hulle medelye met hom sal hê in die toestand wat God op hom gelê het. Hy vra ook waarom hulle hom vervolg (v.21-22). En dan kom sy kragtige en bekende woorde waarop ons hier fokus. 

2022/04/07

Oom Ches en wêreldbeskouing (3)

“Mense het altyd een van twee dinge: óf ’n volledige en bewuste filosofie óf die onbewustelike aanvaarding van die gebreekte stukkies van een of ander onvolledige en versplinterde en dikwels gediskrediteerde filosofie.” – G.K. Chesterton.

Ons het die vorige keer begin stilstaan by die moontlikheid van iets soos ’n Chestertoniaanse Calvinisme. Is dit moontlik dat Calviniste ten minste op gekwalifiseerde wyse deur iemand soos Chesterton geinformeer kan word? ’n Calvinis soos Douglas Wilson dink wel so en meen dat oom Ches kan help om wêreldbeskouing te laat vlieg. In hierdie aflewering hou ons hierdie vlug vanuit ’n ander hoek dop. Ons luister in op ’n hedendaagse Chestertoniaan se beskrywing van oom Ches se benadering tot iets soos wêreldbeskouing. Dale Alquist, een van die voorste kenners van Chesterton vandag, beskryf hom deur middel van die begrip omvattende denker (a complete thinker). Sy inleiding en eerste hoofstuk in sy boek wat oor oom Ches as omvattende denker handel, word hier ingespan.[i] Alquist se beskrywing word samevattend behandel met enkele opmerkings oor die raakvlakke met Calvinistiese benaderings oor dieselfde sake. Dit geskied in twee aflewerings onder die volgende drie hoofde: (1) Waaroor dit in omvattende denke gaan, (2) hoe die mondering daarvan lyk, en (3) wat die grondslag van so ’n aanslag is.   

Oorwinning deur die kruis

Lees: Ps. 118:16-29

Gedagte vir kinders: Laat ons die HERE loof vir sy wonderlike verlossing deur Jesus Christus

Oorsig: Ps. 118 vorm deel van die Hallel-Psalms (Loofpsalms: Ps. 113-118) wat gebruik was en steeds gebruik word by die viering van die jaarlikse Paasfees van Israel. Dit was deel van die laaste lofsang wat die Here Jesus saam met sy dissipels gesing het, net voordat hulle weggegaan het van die maaltyd waar Hy die Nagmaal ingestel het (vgl. Mt. 26:30). Die Here Jesus het die oorwinningslied dus reeds gesing terwyl Hy geweet het wat op Hom wag. Ps. 118 het drie basiese dele. Daar is (1) die oproep tot die gemeente vir danksegging (v.1-4). Dan word vertel (2) van Goddelike redding (v.5-18). En dan word geëindig (3) met die viering van die redding (v.19-29). Ons hanteer hierdie gedeelte vanaf die einde van die tweede deel en begin by vers 16.

2022/04/05

Oom Ches en wêreldbeskouing (2)

"As jy jou filosofie uit varke en sambrele kan bewys, het jy bewys dat dit 'n ernstige filosofie is." – G.K. Chesterton.

Ons het die vorige keer gesien dat  ’n vorige geslag Calviniste dit belangrik geag het om sieners in plaas van kykers te wees. Selfs ’n hele universiteit is voorheen hierop gebou en hierdie ideaal word tans voortgesit in nuwe instellings. Dit beteken meer as herhaal. Dit beteken ook dat ons vra hoe ons voortbou op hulle wat ons voorgegaan het. Ons het hierin reeds gekyk na die gevaar van ’n soort plat wêreldbeskouing wat skynbaar in vakkies uitgesorteer is, maar waarin die bekende nie meer wonder-vreemd aandoen nie. Een van die kure hiervoor, het ons gehoor by die Chestertoniaanse Calvinis, Douglas Wilson, is om by oom Ches te leer dat verbeelding ons anderkant blote wêreldbeskouing neem. Ons gaan nou verder hierop in.[i]

Wilson skryf nie sistematies oor Chesterton se verbeelding nie, maar eerder beeldryk en pulserend. Met die wete dat dit eerder gesnap as aangeleer word, gaan ons tog met behoud van die beelde, op vier sake let wat na vore tree in Wilson se bespreking van oom Ches en wat mag help om lewens en wêreldbeskouing na die volgende vlak toe te neem.

Oom Ches en wêreldbeskouing (1)

“Die funksie van die verbeelding is nie soseer om vreemde dinge vas te maak nie, maar eerder om vasgestelde dinge vreemd te maak.” – G.K. Chesterton.

Een van die voorste kenners van oom Ches, Dale Alquist, beskryf hom as ’n omvattende denker (complete thinker).[i] Dit is ’n baie besondere eienskap waarin hy uniek begaafd was. Die betekenis hiervan kan miskien makliker verstaan word as ons hoor wat die filosoosf en digter, Owen Barfield, oor die bekende C.S. Lewis, ’n ander omvattende denker gesê het: “Wat hy oor alles gedink het was vervat in enigiets wat hy gesê het.”[ii] Barfield het ook iets anders oor Lewis gesê wat hierby aansluit: Lewis het geregtigheid leesbaar gemaak. Eintlik moet ’n mens dit in Engels hoor om die kadense en woordspel te waardeer: “Lewis made righteousness readable.” Lewis was in baie opsigte die een wat die aflosstokkie by oom Ches oorgeneem het. En vir wie dit dalk nog nie weet nie: Chesterton se werk, The Everlasting Man, was een van die werke wat die jong Lewis gehelp het om sy weg na die lig te vind.

Maar verbind nou hierdie genoemde unieke vermoëns: (1) Om makro-sake reeds in mikro-sake vervat te sien en in mikro-formaat reeds makro-kwessies te hanteer, en om (2) die vermoë te hê om dit deur aardse beelde so te beskryf dat dit op grondvlak tuiskom en wat (3) goedige Jan-alleman se verbeelding kan laat ontbrand, en jy het ’n potente, gevierde vermoë wat mense sal laat luister. Dit is waarom C.S. Lewis en oom Ches vandag nog gelees word.  

Eintlik behoort elkeen wat die mantel van gelowige dra op een of ander manier iets hiervan te vertoon. Dit staan gewoon in verband met die heerlike amp wat op die koninklike, priesterlike, en profetiese kinders van God geval het. Die meeste van ons groei geleidelik hierin, maar daar is baanbrekers wat ons inspireer om met veer in die tred verder op en verder in te gaan. Dit maak van jou, om ’n gesegde van prof. Bennie van der Walt te gebruik as hy oor wêreldbeskouing praat, ’n siener in plaas van ’n kyker. Ons het baie meer sulke sieners nodig. Te veel Afrikaners is net met die profeet Siener behep, maar besef nie dat ons ander soorte sieners ook nodig het nie.

Dit beteken eintlik niks anders nie as dat ons die amp van gelowige ernstig opneem vir die hele samelewing. En waar ’n hele universiteit dit wil doen, kry jy iets soos die stoere ideaal van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoë Onderwys (PU vir CHO). Genoemde prof. Van der Walt en medestanders het in navolging van manne soos Totius en HG Stoker baie gedoen in die strewe om studente-kykers volwasse sieners te laat word. En nou is daar nuwe plekke soos die AAA - APA, Aros en Akademia - wat die fakkel oorgeneem het om steeds ’n nuwe geslag sieners te help vorm. Die vraag is egter ook nou: Hoe kan ons leer uit die foute en die prestasies van hulle wat ons voorgegaan het en hoe kan ons die saak nou nie bloot herhaal nie, maar op hulle skouers staan om sieners ook met nagsig te help?

Oom Ches se omvattend-beeldryke benadering kan help om ’n volgende geslag aan te vuur om ons Calvinistiese voorgangers se bydraes te kombineer met sy grootse aanslag. In volgende aflewerings sal ons dan ook iewers moet uitkom by die begrip van ’n Chestertoniaanse Calvinisme.