2024/03/23

’n Nederige Koning met dubbele vergoeding

Lees: Sag. 9:9-12

Gedagte vir kinders: Die Here se kinders is baie bly oor hulle nederig-getroue Koning Jesus.

Oorsig: Die profeet Sagaria het na die terugkeer uit die ballingskap opgetree saam met die profeet Haggai. Hy het sy brief met ’n kort praktiese preek begin (1:1-5) en toe begin vertel van die gesigte wat hy van die Here ontvang het (1:6-6:15). Hy het daarna die Jode oor hulle vrae oor vas geantwoord (hoofstuk 7-8). En toe het hy twee langer preke (telkens genoem “Godspraak”/”uitspraak”/“profesie”/“burden”) gegee (hfst. 9-11 en 12-14). Ons kyk hier na die tweede deel van die eerste Godspraak. Nadat die Here oordeel maar ook genade oor die volke aangekondig het, hoor ons van ’n oproep tot groot vreugde.

Die gelowiges van Jerusalem en die tempel (Sion was die berg waarop die tempel gebou is) word met die innige name aangespreek as dogter van Sion en Jerusalem. En hulle word opgeroep om hulle grootliks te verheug en te juig. Die rede is dat hulle Koning na die ballingskap na hulle sal kom. Hierdie Koning is enersyds regverdig en ’n oorwinnaar. Andersyds is Hy ook nederig en ry op ’n jong esel, die vul van ’n eselin (v. 9; vgl. Gen. 49:11; Rigt. 5:10; 2 Sam. 16:2). Hierdie koms is nie volgens die oorwinning met strydwaens nie en perde en strydboog nie. Inteendeel, dit word vernietig. Tog bring hierdie Koning se koms vrede en heerskappy wat uitkring tot by die einde van die aarde (v. 10; vgl. Ps. 72:8).   

Die Here sê verder deur Sagaria dat Hy die gevangenes uit ballingskap sal vrylaat/vrygelaat het, omdat daar krag is in die bloed van die verbond (vgl. Ex. 24:8; Luk. 22:20).  Die gevangenes was soos Josef en Jeremia in die dieptes (vgl. Ge. 37:23-24,28; Jer. 38:6), ’n put sonder water (donker/helse omstandighede), maar daaruit is hulle bevry en sal hulle bevry word (v.11). en dan word hulle wat in gevangenskap was “hoopvolle gevangenes” genoem omdat hierdie ballinge hoop mag hê. En hulle word opgeroep om terug te keer na die vesting. In hulle tyd was dit Jerusalem en die tempel wat weer opgebou sou word op grond van God se beloftes, en vandag is dit die vesting van die Kerk as liggaam van Jesus Christus. Die Here kondig ook deur sy profeet aan dat Hy hulle dubbel sal vergoed vir hul smart (v.12). Hulle sal nie net van hulle smart bevry wees nie, maar hulle sal ook die seën van die Here beleef in hulle nuwe toestand. So het Josef ook destyds dubbel ontvang vir sy smart en so het die Here die manier om dit steeds vir sy kinders te doen, ver bo wat ons dink (vgl. Joel 2:25; Ef. 3:20).

Besprekingsvraag: Hoe is dit moontlik dat die Here sy kinders dubbel kan vergoed?

Insig: God se verlossing staan hier in verband met ’n nederige Koning. Dit kom eintlik hier onverwags, want pas vantevore verneem ons van die oordeel oor verskillende volke, moontlik deur die oorwinnings van Alexander die Grote. Maar dan hoor ons skielik van die eintlike Grote, die Koning uit die geslag van Dawid (v.10; vgl. Ps. 72:8) wat regverdig is en oorwin, maar wat ook nederig ry op ’n esel. 

Vroeër het ons in Sagaria se eerste gesig gehoor van die Een wat op die bruin/vos/rooi perd ry (Sag. 1:8), maar nou ry hierdie Koning soos die seun van Dawid op ’n muil/esel (vgl. Gen. 49:11; 1 Kon. 1:33). In die Ou Testament is hierdie misterie oor die verskillende kante van die Messias nog in duisternis gehul, maar in die bediening van die Here Jesus word dit duideliker (vgl. Luk 22:20). Die oorwinning sou langs die weg van nederige getrouheid plaasvind. So is Christus deur sy getrouheid ’n week na sy intog gekruisig. En ons mag ons grootliks verbly dat Hy bereid was om hierdie pad te stap.

Die Ou Testament is reeds vol daarvan dat egte oorwinning nie deur mag of geweld gebeur nie, maar deur God se Gees (Sag. 4:6). Israel en haar konings is telkens gemaan om nie op perde en strydwaens te vertrou nie (Ex. 14:23; Dt. 17:16; 20:1). Die oorwinning wat hierdie nederige Koning sou bring, kon ook nie met menslike vermoë mag geskied nie. Die verlossing van die sonde en die dood kan nie deur ons inspanning of wapens gebeur nie. Dit gebeur slegs op een weg, die weg van vernedering van die Seun van God wat Hom gewillig as ons offer sou aanbied. Vleeslikheid is ook steeds van geen nut in hierdie oorlog nie. En die Kerk wat in die krag van die Gees van haar Here vandag lewe, gee hulself steeds op hierdie kruisvormige manier in geregtigheid en liefde aan God en aan die wêreld. Slegs op hierdie basis vind God oorwinning plaas en sal die Ruiter op die wit Perd eenmaal alles voleindig (Op. 6:2; 19:11).

Hierdie bevryding vind plaas kragtens die bloed van die verbond (v.11). In Sagaria se tyd wys dit terug na die verbond by Sinai, maar ook vooruit na die nuwe verbond in die bloed van Christus wat van heerliker dinge spreek (vgl. Ex. 24:8; Luk. 22:20). Die bloed van die verbond bring die moontlikheid dat ons dubbele vergoeding mag ontvang (vgl. Dt. 21:17; Jes. 61:7; Rom. 5:10). Enersyds word gelowiges so bevry uit die put van gevangenskap. Andersyds bring hierdie nuwe vryheid ’n volheid van lewe ná die smart wat deurloop tot in ewigheid (Gen. 48:5; 49:22-26. Joel 2:25; Joh. 11:25-26). Daarom word afgedwaaldes ook opgeroep om skynbare gemaksones te verlaat en terug te keer na Kerkvesting. Die roepstem kom vandag steeds tot diegene wat buite is of wat veragter het in die genade: Erken en juig saam met die Kerk wat oor ’n nederige Koning en dubbele vergoeding kan spreek soos iemand anders nie.  

Werke geraadpleeg:

John Bergsma, The Word of the Lord. Year B.

Ronald Hanko, The Coming of Zion’s Redeemer: The Prophecies of Haggai, Zechariah and Malachi.

Andrew Hill, Haggai, Zechariah and Malachi, Tyndale Commentaries.