2024/03/15

Om God te ken in die nuwe verbond

Lees: Jer. 31:31-34

Gedagte vir kinders: Die Here skryf deur die Gees sy wet in sy kinders se harte.

Oorsig: Die Here het die profeet Jeremia van jongs af geroep om ’n profeet vir die nasies en koninkryke te wees, om (1.1) uit te ruk en (1.2) om te gooi en (1.3) te vernietig en (1.4) te verwoes, om (2.1) te bou en (2.2) te plant (vgl. Jer. 1:10). Ons lees baie van die eerste vier negatiewe in Jeremia 1-29, maar in hoofstuk 30 en 31 (vgl. 31:28) hoor ons ook van die opbou en die wonderlike beloftes van die Here. Dit gaan oor ’n terugkeer uit die ballingskap en is verder ook tipies van die heerlike dinge wat in vervulling sou gaan vir die Kerk wanneer die Messias sou kom. Ons verneem in hoofstuk 31 van herstelde vrede en eer en vreugde en oorvloed (v.1-14). Hulle hartseer oor hulle kinders wat hulle verloor het, sal tot ’n einde kom, en hulle sal hul van hul sonde bekeer en God sal hulle in genade aansien (v.15-20). Hulle en hul kinders en hul vee sal besonder vermenigvuldig en seën beleef (v.21-30). 

En dan hoor ons dat God ’n nuwe verbond met Israel asook die huis van Juda sal sluit (v.31). Dit sal nie soos die verbond wees wat die HERE met hulle vaders gesluit het by Sinai toe Hy hulle kragtig uit Egipte gelei het nie. Daardie verbond het hulle verbreek, alhoewel die Here hulle gebieder/eggenoot was, het die HERE gesê (v.32). En dan beskryf die HERE hierdie nuwe verbond. Hy gee sy wet in hul binneste en skrywe dit op hulle hart. Die HERE bevestig dit ook verder deur die uitdrukking wat dikwels gebruik is om te benadruk dat Hy met sy volk in ’n verbond lewe: “En Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir my ’n volk wees.” (vers 33).

Die HERE verduidelik ook verder wat dit beteken. Hulle sal nie meer elkeen vir sy naaste en elkeen vir sy broer leer om die HERE te ken nie. Die rede is dat almal Hom sal ken, klein en groot, het die Here gespreek (belowe). Dit beteken nie dat niemand meer enige lering sal benodig nie, maar wel dat die basiese kennis van God, wat ook intieme kennis insluit, alle gelowiges se voorreg sal wees deur sy Heilige Gees. Daar word ook verder duidelik gemaak wat dit beteken. Daar sal ’n nuwe kennis van sondevergifnis wees. Waarom? Want iets wonderliks sou gebeur. Die Here sou iets doen dat al hul ongeregtigheid vergewe kon word op so ’n manier dat Hy nooit meer aan hulle sonde sou dink nie (v.34). Later sou dit duidelik word hoe dit kon gebeur. Want die Here Jesus sou die finale offer aan die kruis bring wat so groot en so effektief sou wees, dat alle skuld van God se kinders vergewe kon word.    

Besprekingsvraag: Waarom was ’n nuwe verbond nodig in die Ou Testament?

Insig: ’n Nuwe verbond in Israel het absoluut noodsaaklik geword. Jerusalem en die tempel was verwoes weens die volk se aanhoudende ontrouheid. Eintlik was God genadig om die oordeel en verwoesting so lank uit te stel. Maar hul afkerigheid was ongeneeslik (vgl. Jer. 7:21-29; 11:1-14). Dit word ook duidelik in elkeen se lewe van vleeslikheid en sonde. Israel kon nie maar net terugkeer nie. Hul verbond met God was aan flarde. By Sinai en die goue kalf kon Moses darem nog vir hulle intree. Jeremia word egter deur die volk verwerp en die Here beveel hom ook om nie vir hulle in te tree nie (vgl. Jer. 7:16, 11:14). Was daar nog enige hoop? Deut. 30:6 bied reeds die groot antwoord: Daar is alleen hoop as God self iets hieraan doen. Hier weerklink dit, die belofte van ’n nuwe verbond, die enigste keer uitdruklik so genoem in die Ou Testament. Ons lees in lyn hiermee verder ook van ’n nuwe toe-eiening van Israel en van ’n ewige verbond (vgl. Hos. 2:14-23; Es 16:60; 37:26; Jes. 55:3).

In die bediening van die Here Jesus meld Hy uitdruklik by die instelling van die nagmaal dat sy bloed die bloed van die nuwe testament/verbond is wat uitgestort word (vgl. Luk 22:20). Paulus sluit ook hierby aan as hy oor die nagmaal praat en pertinent verduidelik dat die nuwe verbond soveel heerliker is (1 Kor. 11:25; 2 Kor. 3:1-18). En dan is daar natuurlik die Hebreërskrywer wat sy hele betoog rondom die belofte van die nuwe verbond bou om te verduidelik waarom daar nou, na Christus, nooit weer teruggekeer kan word na die ou verbond nie (vgl. Hebr. 8:8-13; 9:15-22; 10:16-17). En ons word nou steeds uitgenooi en opgeroep om die wonderlike werklikhede van die nuwe verbond te smaak en uit te leef.       

Eerstens dat Sinai en Pinksterfees saamval (vgl. Ex. 19:1-3) en  dat die Here deur die uitstorting van sy Gees bevestig het dat die wet in sy kinders se harte geskrywe sal staan. Dit gaan daarom in die nuwe verbond steeds, let wel, oor God se wet, maar nou geïnternaliseer  deur God se Gees in ons harte. Tweedens gaan dit om God intiem en proefondervindelik te ken, ook sy wil oor basiese sake. Elke kind van God mag ’n besondere verhouding met God hê en daarmee saam ’n kinderlike aanvoeling vir sy wil en weg. Ja, die ampte in die Kerk is steeds nodig om te onderrig, maar nie om basiese waarhede oor en oor te herhaal omdat niemand wil luister nie (vgl. Hebr. 6:1-2). Derdens: Deur die nuwe verbond mag die heerlikheid van die toegang tot die Vader in Christus op ons aangesigte wys. Dit alles hang saam met die feit dat sonde effektief versoen is. Die werk van die Gees hang altyd saam met effektiewe vergifnis. Daarom dat die nuwe verbond in Christus so vol van genade en waarheid is. Die goeie nuus van die evangelie is dat God deur Christus en sy Gees dit doen wat ons nie vir onsself kon doen nie.

Werke geraadpleeg:

John Bergsma, The Word of the Lord. Year B.

Matthew Henry.

Bruegemann, A Commentary on Jeremiah

Christopher Wright, The Message of Jeremiah (Wright gee ’n besondere uiteensetting van die sabbat as skarnier tussen gebooie 1-3 en 5-10.)

Andrew Dearman, Jeremiah, Lamentations, NIV Application.