Lees: HK 34; Fil. 2:9-10; Jes. 45:5,
23-25
Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om niemand te aanbid nie,
behalwe Hom alleen.
Oorsig: Ons het in Sondag 33 gehoor dat goeie werke
gemeet word aan die wet van God. In Sondag 34 word ons gevra wat in die wet van
God geskrywe staan. Die antwoord word dan gegee uit Ex. 20. Die tien gebooie word hiervolgens ingedeel op
die wyse waarop Gereformeerdes dit doen en nie op die wyse wat die Rooms
Katolieke en Lutherane indeel nie (antw. 92). By Gereformeerdes is daar ’n
verdere basiese verdeling in twee dele. Die eerste vier gebooie leer ons oor
ons verhouding met die lewende God. Die laaste ses gebooie leer ons wat ons aan
ons naaste verskuldig (let wel) is (antw. 93; vgl. Mat. 22:37-40).
En dan gaan die Heidelbergse Kategismus in
hierdie Sondagsafdeling spesifiek in op die eerste gebod. Waaroor gaan dit in
die eerste gebod en wat is alles ingesluit in dit wat God in die eerste gebod
van ons vra/gebied? Die antwoord is dat dit gaan oor hoe kosbaar ons God se
redding/saligheid ag. En as sy redding dan vir my kosbaar is, dat ek dit nie in
gevaar sal stel deur enige afgodery, towery, waarsêery, bygeloof, aanroeping
van heiliges of ander skepsels sal (1) vermy en (2) ontvlug. Dit beteken verder
positief gestel, dat ek die enige ware God, want daar is net een (vgl. 1 Kor.
8:6), alleen moet vertrou, in alle nederigheid en geduld, van Hom alleen alles
wat goed is moet verwag, Hom met die hele hart sal liefhê, vrees en eer. Dit
moet met so ’n gesindheid wees dat ek eerder van enige skepsel sal afsien en
laat vaar, as dat ek op enige manier teen sy wil sal gaan (antw. 94).
Dit is duidelik dat dit in hierdie gebod oor
ander gode gaan en daarom is dit belangrik om te verstaan wat afgodery presies
is. Die Kategismus antwoord dan dat dit enigiets is wat jy het of versin
(uitdink) waarop jy vertrou. Dit kan iets wees waarop jy vertrou in die plek
van die lewende God wat Hom aan ons geopenbaar het in sy Woord. Dit kan egter
ook meer verfynd voorkom. Dit gebeur wanneer jy nie hierdie afgod van jou in
die plek van God stel nie, maar wel naas Hom stel sodat dit aan Hom gelykgestel
word (antw. 95). Ons is makliker geneig om op hierdie verfynde manier te
sondig. Ons wil darem nie met God wegdoen nie, maar ons bring iets anders in
die verhouding wat ons hanteer asof dit op dieselfde vlak is as die lewende
God. So beledig ons enersyds God deur Hom aan enigiets in die skepping gelyk te
stel, en andersyds te maak asof enigiets met Hom vergelyk kan word.
Besprekingsvraag: Hoe definieer die HK ’n afgod en hoe pas ons dit
vandag toe?
Insig: Goeie werke in die Christelike lewe is nie net goed nie. Dit is ook edel en lieflik en loflik (vgl. Fil. 4:8), juis omdat dit in lyn met God se wet is. Vir die gelowige is God se wet nie swaar en die HK hanteer die wet onder die afdeling van dankbaarheid. So was dit reeds bedoel by Sinai. Israel het nie die wet ontvang sodat hulle bevry kon word nie, maar omdat hulle bevry is.