2024/04/19

Sy Naam is ’n sterk toring

Lees: HK, Sondag 36; Num. 6:27; Spr. 18:10; Hand. 2:21

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om sy Naam met groot eerbied te gebruik.

Oorsig: Ons kyk hier na die derde gebod as deel van ons dankbaarheidslewe soos die HK dit verduidelik.  Wat is dit wat God van ons eis wanneer Hy beveel dat sy Naam nie ydellik gebruik mag word nie? Ydellik beteken dat ons sy Naam sommer ligtelik gebruik of inroep. Die Naam van die HERE gaan oor wie Hy is. Die manier wat ons God se Naam gebruik, sê daarom wat ons van God dink. Die HK pas dit vir ons toe en leer dat ons nie die Here se Naam mag vloek of in sy Naam ’n valse eed in die hof mag aflê nie. Ons moet ook nie onnodig in sy Naam sweer nie, want so laster en misbruik ons sy Naam. Ons kan egter ook aandadig raak wanneer ons stilbly of toelaat dat iemand anders sy Naam ligtelik gebruik. Die HK stel dat ons aan sulke sondes geen aandeel moet hê nie. Die HK gaan dan voort om te verduidelik hoe ons wel God se Naam moet gebruik. Ons moet dit nie anders as met vrees en eerbied gebruik nie. Die doel daarmee is dat ons ons Hom reg sal bely en prys in al ons woorde en werke (antw. 99).   

Die HK vra hierna of dit dan so ’n groot sonde is om die Naam van God te laster dat God selfs toornig is oor hulle wat nie, sover hulle kan, help om dit af te weer en te verbied nie. Hierop is die antwoord dan ja, dit is ’n groot sonde. Die rede, sê die HK, is dat daar geen groter sonde is of een wat God meer toornig maak as die lastering van sy Naam nie. Dit sien ons uit die feit dat Hy beveel het om dit met die dood te straf (antw. 100; vgl. Lev. 5:1; 24:16). 

Hieruit leer ons ook iets oor hoe die HK die hele Bybel hanteer. Daar word iets afgelei oor wie God is en wat groot sonde volgens die Bybel is, deur na die wette vir doodstraf in die ou verbond te kyk. Sommige mense dink dat die Ou Testamentiese wette sommer doodstraf vir enigiets laat geld het. Dit is nie waar nie. Iemand wat byvoorbeeld gesteel het, het nie die doodstraf ontvang nie. Die hand is selfs nie afgekap soos in sekere ander godsdienste nie. Nee, die aard van die straf het by die aard van die oortreding gepas (lex talionis: oog vir oog en tand vir tand). Daarom moes iemand wat steel eerder met rente vergoed (Ex.22:1-15; Luk. 19:8). Net oor sekere sake het die doodstraf wel gegeld soos byvoorbeeld moord, owerspel, verkragting, ontvoering om iemand as slaaf te verkoop (Ex. 21:12,14,16; Lev.20:10; Deut. 22:25). Ook die laster van die lewende God se Naam tel hieronder. Hieruit lui die HK dan af dat dit duidelik iets is waaroor God so vertoorn is dat Hy die doodstraf daarvoor bepaal het. God het nie verander nie en ons moet besef dat sy Naam nog altyd en steeds heilig is.   

Besprekingsvraag: Kan ons neutraal oor God se Naam wees in die openbare arena?

Insig: Die derde gebod maak ons bewus van watter geweldige voorreg en seën dit is om die Naam van die Lewende God te mag ken en te weet dat sy Naam oor jou lewe uitgeroep is. So lees ons byvoorbeeld in Num 6:27 oor die priesterlike seën: “So moet hulle dan my Naam op die kinders van Israel lê; en Ék sal hulle seën.” (Num. 6:27). Die Psalmis bid byvoorbeeld ook: “O God, verlos my deur u NAAM...” (Ps.54:3).  En daar is daar ook die roemryke Spreuke 18:10: “Die Naam van die Here is 'n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” God se Naam gaan oor sy wese, wie Hy is. Ons besef iets daarvan reeds wanneer ons vir ons eie naam of die van ’n geliefde opkom. Die lewende God se Naam is bo alle name (Ps.96:8). Daar is geweldige krag daarin om in sy Naam en om sy Naam ontwil te bid (Ps. 23:3; 25:11; 106:8).      

Die ydellike gebruik van God se Naam gaan daaroor dat ons ligtelik met hierdie Naam omgaan. Ons kan dit blatant doen deur die Naam te laster, of te maklik opneem wanneer ons verbaas of ontsteld is. Dit kan ook goedkeurend gebeur in films, novelles, en sekere soorte godsdienstige grappe. Wees eerlik: Sal jy jou geliefde se naam sommer in enige denkbeeldige grap gebruik waarin hulle ligtelik bygetrek word? Aalders het dit treffend gestel: Waar God se Naam gebruik word sonder om sy teenwoordigheid van harte te begeer of te verlang, daar word God se Naam ydellik gebruik. 

2024/04/12

Eiewillige godsdiens

Lees: HK, Sondag 35; 1 Sam. 15:23; Hebr. 10:20; Kol. 1:15; 2:5

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om Hom te aanbid soos Hy ons beveel.

Oorsig: Ons kyk hier na die tweede gebod in die tien gebooie as deel van ons dankbaarheidslewe (HK 35). Dit gaan in hierdie gebod daaroor dat ons God nie deur beelde uit die skepping mag aanbid nie. Die eerste gebod leer ons dat daar net een God is. Die tweede gebod leer ons hoe ons Hom moet aanbid. In Exodus 20:5 leer ons dat hulle wat God deur beelde aanbid, ’n misdaad pleeg en in werklikheid vir God haat. God besoek dit ook aan hulle kinders in hulle geslagte. Dit is nie dat God die kinders vir hulle vaders se sondes straf nie, maar dat kinders geneig is om die lewensgewoontes en patrone van hulle ouers aan te neem, soos hulle ouers begin aanbid, en daardeur ook onder God se toorn kom. Die ander kant is darem ook waar. God bewys barmhartigheid aan duisende (tot aan die duisendste geslag) van die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou.

Die tweede gebod leer ons dat ons God op geen enkele manier mag afbeeld om Hom so te vereer nie. Hy is eenvoudig soveel groter as enige iets in sy skepping en beeldediens doen Hom oneer aan. Ons kan Hom net aanbid soos wat Hy in sy Woord beveel (antw. 96).  Ja, ons kan wel dinge in die skepping afbeeld. Daar was byvoorbeeld selfs prente en beelde in die tabernakel van gerubs (Ex. 35:30-36:4). Maar ons kan en mag nie enigiets uit hierdie skepping gebruik om deur middel daarvan God te wil vereer of dien nie (antw. 97). Op hierdie manier erken ons dat God altyd soveel groter is as sy skepping en dat ons groot respek daarvoor het dat die Skepper nooit aan iets in sy skepping gelykgestel kan word nie.

Hierdie vraag het in die tyd van die opstel van die HK ’n besondere vraag laat ontstaan oor beelde in die Kerk van destyds. Die Bybel was net in Latyn in die Kerk en kon daarom net deur sekere mense gevolg word. Hulle het toe allerhande afbeeldings in die Kerk toegelaat wat die eenvoudige gelowiges kon help om iets te verstaan van boodskap van die Bybel en die kerklike tradisie. Die HK antwoord hieroor dat dit ’n manier is wat probeer om wyser te wees as God. Dit mis die punt dat sy Woord sentraal staan en gerig is op ons ore in die eerste plek (vgl. Jes. 55:3). Want God wil sy Christene (let op die woordkeuse. Dus: klein gesalfdes) nie so, deur stomme beelde laat onderrig nie, maar deur die lewende verkondiging van sy Woord (antw. 98). Onderrigting deur die lewende verkondiging van die Woord in eie taal – dit is die wyse waarop daar tot God genader word en Hy ons verander en voed.

Besprekingsvraag: Watter verband is daar tussen mense as beeld van God en Christus?

Insig: Die tweede gebod leer ons hoe God aanbid moet word en waarsku ons daarmee saam teen dit wat in ’n wêreld van pluralisme te maklik aanvaar word - eiewillige godsdiens. Eiewillige godsdiens beteken dat jy reeds ’n valse beeld van God het en daarom reken dat jy maar jou eie kop kan volg. Die uitdrywing uit die Paradys en later die inrigting van die tabernakel en tempel, toon duidelik aan dat jy nie toegang het tot die Allerheiligste op jou eie voorwaardes het nie. Die swaard van die dood vlam en flikker vandag ook steeds vir elkeen wat nie op die nuwe en lewende weg van Christus tot die Vader nader nie (Hebr. 10:20).

2024/04/06

Geen ander nie

Lees: HK 34; Fil. 2:9-10; Jes. 45:5, 23-25

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om niemand te aanbid nie, behalwe Hom alleen.

Oorsig: Ons het in Sondag 33 gehoor dat goeie werke gemeet word aan die wet van God. In Sondag 34 word ons gevra wat in die wet van God geskrywe staan. Die antwoord word dan gegee uit Ex. 20.  Die tien gebooie word hiervolgens ingedeel op die wyse waarop Gereformeerdes dit doen en nie op die wyse wat die Rooms Katolieke en Lutherane indeel nie (antw. 92). By Gereformeerdes is daar ’n verdere basiese verdeling in twee dele. Die eerste vier gebooie leer ons oor ons verhouding met die lewende God. Die laaste ses gebooie leer ons wat ons aan ons naaste verskuldig (let wel) is (antw. 93; vgl. Mat. 22:37-40).

En dan gaan die Heidelbergse Kategismus in hierdie Sondagsafdeling spesifiek in op die eerste gebod. Waaroor gaan dit in die eerste gebod en wat is alles ingesluit in dit wat God in die eerste gebod van ons vra/gebied? Die antwoord is dat dit gaan oor hoe kosbaar ons God se redding/saligheid ag. En as sy redding  dan vir my kosbaar is, dat ek dit nie in gevaar sal stel deur enige afgodery, towery, waarsêery, bygeloof, aanroeping van heiliges of ander skepsels sal (1) vermy en (2) ontvlug. Dit beteken verder positief gestel, dat ek die enige ware God, want daar is net een (vgl. 1 Kor. 8:6), alleen moet vertrou, in alle nederigheid en geduld, van Hom alleen alles wat goed is moet verwag, Hom met die hele hart sal liefhê, vrees en eer. Dit moet met so ’n gesindheid wees dat ek eerder van enige skepsel sal afsien en laat vaar, as dat ek op enige manier teen sy wil sal gaan (antw. 94).

Dit is duidelik dat dit in hierdie gebod oor ander gode gaan en daarom is dit belangrik om te verstaan wat afgodery presies is. Die Kategismus antwoord dan dat dit enigiets is wat jy het of versin (uitdink) waarop jy vertrou. Dit kan iets wees waarop jy vertrou in die plek van die lewende God wat Hom aan ons geopenbaar het in sy Woord. Dit kan egter ook meer verfynd voorkom. Dit gebeur wanneer jy nie hierdie afgod van jou in die plek van God stel nie, maar wel naas Hom stel sodat dit aan Hom gelykgestel word (antw. 95). Ons is makliker geneig om op hierdie verfynde manier te sondig. Ons wil darem nie met God wegdoen nie, maar ons bring iets anders in die verhouding wat ons hanteer asof dit op dieselfde vlak is as die lewende God. So beledig ons enersyds God deur Hom aan enigiets in die skepping gelyk te stel, en andersyds te maak asof enigiets met Hom vergelyk kan word.   

Besprekingsvraag: Hoe definieer die HK ’n afgod en hoe pas ons dit vandag toe?

Insig: Goeie werke in die Christelike lewe is nie net goed nie. Dit is ook edel en lieflik en loflik (vgl. Fil. 4:8), juis omdat dit in lyn met God se wet is. Vir die gelowige is God se wet nie swaar en die HK hanteer die wet onder die afdeling van dankbaarheid. So was dit reeds bedoel by Sinai. Israel het nie die wet ontvang sodat hulle bevry kon word nie, maar omdat hulle bevry is.

2024/04/04

Ware bekering en ware goeie werke

Lees: HK, Sondag 33; Ef. 4:20-5:11

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons elke dag weg van ons sonde en om vir Hom te lewe.

Oorsig: Ons leer in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 33 van die lewe van ware bekering by ’n gelowige. Daar word maklik van bekering gepraat, maar die Kategismus wil ons aandag vestig op ware bekering. En vanuit die Bybel is die antwoord dat daar twee basiese kenmerke van bekering is wat ons ook twee kant van die dieselfde muntstuk kan noem: Dit gaan enersyds dat ’n mens die oue mens wat regeer word deur die sonde afsterf, en andersyds dat die mens wat deur Jesus Christus bevry is, opstaan in ons lewe (antw. 88).

Dit eis egter nodig dat ons dan groter duidelikheid kry oor wat presies hierdie twee kante van die munt van ware bekering beteken. Die afsterwing van die ou mens gaan (1) daaroor dat daar ’n berou uit die hart is (hartlike berou) dat ons God deur ons sondes toornig gemaak het. Sonde maak die skepping en mense stukkend en onrein en verbreek ons verhouding met die Here, en ware berou beteken dat ons dit begin besef. Maar dit beteken nie net berou diep in ons hart nie, dit beteken ook dat ons nou die sonde sien vir wat dit is en (2) dit daarom hoe langer hoe meer begin haat, eerste in ons eie lewe. Dit beteken ook dat ons (3) in ons dade en praktyke wegvlug/ontvlug van (die gevangenskap van) die sonde (antw. 89).Die ander kant van die munt van ware bekering, die opstanding van die nuwe mens, gaan (1) oor ’n vreugde uit die hart in God deur Jesus Christus. Ons verbly ons in die Here se vrymaking en om weer sy lig en liefde intiem te ken. Dit sluit in (2) ’n lus en liefde en om volgens die wil van God te lewe. God se wil is dus nie swaar nie (vgl. 1 Joh. 5:3-4) en die lus en liefde vir God se wil is die bewys daarvan (vgl. Ps. 119). Dit word ook gelewe en gewys, nie net in sommige van ons werke nie, maar (3) in al ons werke wat dan ook goeie werke genoem word (antw. 90).   

Ons moet egter ook baie duidelikheid hê oor wat goeie werke is. Positief gestel het dit drie basiese kenmerke: (1) Dit word gedoen uit ’n ware geloof. Die diepste rede is nie eiebelang of een of ander afgod wat jou dryf nie. (2) Die maatstaf vir ’n goeie werk is verder die wet van God. Dit is die enigste standaard wat tel. (3) Die doel van die goeie werk is ook duidelik – die eer van God. Dit gaan nie om ons eer of iets anders wat ons eintlik daarmee wil bereik nie. Negatief gestel beteken dit dat ons goeie werke gegrond is in (1) ons goeddunke of (2) insettinge van mense wat dit selfs al vas in wette beskryf het nie (antw. 91).

Besprekingsvraag: Hoe sal jy ’n ware bekering beskrywe?

Insig: Ware bekering is ’n groot saak, en die ego hou nie van hierdie konfronterende kwessie nie. Boonop gaan dit dikwels saam met ’n politieke konnotasie, van toegee aan een of ander stel politieke ideale. ’n Woord soos transformasie in Suid-Afrika veronderstel dikwels ’n soort bekering. Maar ook die oorgawe aan ’n ander orde impliseer ’n soort bekering. Daarom is die bykomende beskrywing van ’n “ware” bekering in die HK so belangrik. Die Skrif leer dat ’n ware bekering ’n radikale omkeer is van jou ego, jou gode, jou leefstyl, ja ook van jou visie op die samelewing, na die lewende God toe. Dit maak oproep op jou diepste hart (Joel 2:13), maar ook op uiterlike dade (Mat. 12:43-45), en dit gaan jou hele lewe lank aan, vanaf jou kinderdae tot en met jou sterwe. Daar is ’n wortelbekering en voortgaande bekering, maar die een veronderstel altyd die ander. En ten diepste kan dit net begin as God ons voor alles bekeer het (vgl. Dt. 30:6; Kl. 5:21).