Wys tans plasings met die etiket Post-Christelik?. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Post-Christelik?. Wys alle plasings

2021/10/07

Om vandag te glo, te rus, en te gehoorsaam

Lees: Hebr. 3:12-19       

Gedagte vir kinders: In moeilike tye, leef in die geloof en hou vas aan God se beloftes.

Oorsig: In die voorafgaande gedeelte het die Hebreërskrywer gefokus op die onoortreflike heerlikheid van Christus as Gestuurde en Hoëpriester van ons belydenis (3:1). Hy het spesifiek daarop gewys dat Christus soveel voortrefliker is as Moses, die middelaar van die ou verbond. Moses was maar net ’n dienskneg van die huis, maar Christus is die Seun en Bouer van die huis wat God oprig (3:3-4; 5-6). En nou wys die Hebreër-skrywer verder op wat God in Psalm 95:7-11 gesê het van mense van die ou verbond wat ongelowig en ongehoorsaam was aan God nadat hulle reeds soveel van God beleef het.  

Die Hebreër-skrywer pas hierdie gebeure met mense van die ou verbond nou toe op die gelowiges van die nuwe verbond. Hulle het soveel meer as Moses. Hulle het die enigste Hoëpriester en Seun van God as hulle Middelaar. Hulle loop die gevaar om in dieselfde toestand te beland as die volk van die ou verbond. Hulle het die Here se kragtige werke gesien, dit selfs gesmaak en geproe. En tog, by die eerste hindernis en weerstand in die woestyn, toe daar geen water was om drink  in die woestyn Sin, daar by Massa en Meriba nie (Vgl. Eks. 17:1-7; Ps. 95:8), het hulle met Moses getwis en gewonder of die Here wel in hulle midde is. Die Psalmis van Psalm 95 kyk later terug na daardie gebeure en roep ’n nuwe “vandag” uit waar die volk nie weer so moet maak soos die volk in die woestyn nie.

Die Hebreër-skrywer sluit hierby aan om daarop te wys dat die volk van die nuwe verbond let op Jesus Christus, hulle ook nie so moet maak nie. Daarom vermaan hy die gelowiges om daarvoor te sorg dat daar nie ’n bose en afvallige hart is wat wegval van die lewende God nie (v.12). Dit gaan hier oor 'n bose hart wat moedswillig afvallig word wanneer omstandighede moeilik raak, teen die getuienis van God in. Hulle moet mekaar eerder elke dag vermaan solank die geleentheid nog daar is om nie deur die verleiding van die sonde hard te word nie. Hulle het reeds deel geword van die nuwe verbond en moet net hieraan tot die einde vashou. Hy vra dan drie vrae oor die gebeure destyds om hulle deur die antwoorde te wys watter toepassings dit steeds vir hulle het.