Gedagte vir
kinders: Roep die HERE aan in die donkerste dieptes en wag op sy antwoorde.
Oorsig: Psalm 130 is deel van die bedevaartsliedere. Dit is moontlik gesing wanneer die Israeliete opgetrek het vir hulle jaarlikse feeste in Jerusalem. Ons sing dit steeds op pad na die nuwe Jerusalem. Hierdie Psalm is deel van die sewe Boetepsalms (Ps. 6, 32,38, 51, 102, 130, 143) en is al baie gebruik om sondaars, privaat en gesamentlik, te help met woorde as hulle nederig tot God nader met hulle sonde (vgl. 1 Kon. 8:3-40). Ons hoor hier van aanroeping (v.1-2), skuldbelydenis en toevlug, (v.3-4), stille vertroue (v.5-6), en gesamentlike vetroue en lof (v.7-8).
Hierdie Psalmis is in die dieptes van chaos en dit voel
of hy verdrink (vgl. Ps. 69:2,14; Jes. 51:10; Es. 27:34). Hy is in die dieptes,
maar laat ons hoor wat hy haar doen waar dit voel of alles vergaan: Hy roep die
HERE persoonlik aan (v.1; drievoudig tot by v.3).
Die Psalmis neem sy gebed verder en pleit dat die Here sy stem sal
hoor en dat sy ore sal luister na sy smekinge (v.2). Hy is in sy lewenskrisis
ook bewus van sy sonde wat in die pad staan dat die Here hom sal hoor. Dit kon
dalk selfs die vernaamste oorsaak van sy krisis gewees het. Hy erken sy sonde
en pleit biddend (As U, HERE ... ) dat niemand sal bestaan as die HERE werklik die
sonde (ongeregtighede) in gedagtenis hou nie (v.3). En daarom wys Hy ook op dit wat hom hoop gee.
Hy stel dit eerstens teenoor die Here self dat daar by Hom vergewing is sodat
Hy gevrees (aanbid) sal word (v.4). Let op: God word nie gevrees (vereer) en
daarom vergewe Hy nie, maar Hy vergewe en daarom word Hy gevrees (vereer). Dit
beteken dat mens in heilige eerbied en verwondering met Hom lewe wat geduldig
met ons is en ons vergewe.
Hierdie Psalmis wat die HERE drie maal persoonlik aangeroep het en dit
telkens uitgebrei het, sê nou ook drie
maal dat Hy op die Here wag. Ook hier sê hy dit met sinne wat telkens uitbrei.
Eers sê hy net dat hy op die Here wag. Dan brei hy daarop uit dat hy met sy
diepste wese, sy siel, op die Here wag en op sy beloftes (woord) hoop (v.5). En
hy brei dan verder hierop uit en stel dat sy siel op die Here wag meer as wat
die wagters wat op die mure van Jerusalem wag gehou het in die nag, op die nuwe
môre wag. Hy herhaal die woorde wagters op die môre om die beeld en verwagting te
laat insink (v. 6). En dan roep die Psalmis die hele Israel op om saam met hom
te wag op die HERE. Hy dink nie nou nie meer net aan sy eie situasie nie, maar
aan alle gelowiges wat in die verbond met God lewe. Die rede waarom daar gewag
kan word is om om daar by die HERE die goedertierenheid (let op die bepaalde
lidwoord; chesed; verbondstrou) is,
sowel as veel (menigvuldige/volkome) verlossing (v. 7; let op die rykdom
hiervan. Vgl. Ef. 1:7, 2:4,7; Kol. 1:13,14). En dan voeg die Psalmis nog iets
by. Die HERE self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede (v.8). Dit is
treffend dat hulle nie verlos word van ’n situasie of van vyande nie, maar van
hul sonde. Dit het gebeur toe die Here self sy Seun vir ons gegee het om ons te
verlos van ons sonde (vgl. Mat. 1:21).
Besprekingsvraag: Gee voorbeelde van dieptes waarin kinders
van die Here kan beland.
Insig: Daar is verskillende maniere waarop ’n mens in ’n lewenskrisis of beproewing kan beland. Dit is goed dat ons nie presies weet wat dit hier was nie, sodat ons elke belewenis van chaosmagte, hier genoem die dieptes, daar waar dit voel of jy verdrink, hierop kan betrek.