Wys tans plasings met die etiket Bekering. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Bekering. Wys alle plasings

2024/06/06

De profundis: Uit die dieptes

Lees: Psalm 130

Gedagte vir kinders: Roep die HERE aan in die donkerste dieptes en wag op sy antwoorde.

Oorsig: Psalm 130 is deel van die bedevaartsliedere. Dit is moontlik gesing wanneer die Israeliete opgetrek het vir hulle jaarlikse feeste in Jerusalem. Ons sing dit steeds op pad na die nuwe Jerusalem. Hierdie Psalm is deel van die sewe Boetepsalms (Ps. 6, 32,38, 51, 102, 130, 143) en is al baie gebruik om sondaars, privaat en gesamentlik, te help met woorde as hulle nederig tot God nader met hulle sonde (vgl. 1 Kon. 8:3-40). Ons hoor hier van aanroeping (v.1-2), skuldbelydenis en toevlug, (v.3-4), stille vertroue (v.5-6), en gesamentlike vetroue en lof (v.7-8).

Hierdie Psalmis is in die dieptes van chaos en dit voel of hy verdrink (vgl. Ps. 69:2,14; Jes. 51:10; Es. 27:34). Hy is in die dieptes, maar laat ons hoor wat hy haar doen waar dit voel of alles vergaan: Hy roep die HERE persoonlik aan (v.1; drievoudig tot by v.3).

Die Psalmis neem sy gebed verder en pleit dat die Here sy stem sal hoor en dat sy ore sal luister na sy smekinge (v.2). Hy is in sy lewenskrisis ook bewus van sy sonde wat in die pad staan dat die Here hom sal hoor. Dit kon dalk selfs die vernaamste oorsaak van sy krisis gewees het. Hy erken sy sonde en pleit biddend (As U, HERE ... ) dat niemand sal bestaan as die HERE werklik die sonde (ongeregtighede) in gedagtenis hou nie (v.3).  En daarom wys Hy ook op dit wat hom hoop gee. Hy stel dit eerstens teenoor die Here self dat daar by Hom vergewing is sodat Hy gevrees (aanbid) sal word (v.4). Let op: God word nie gevrees (vereer) en daarom vergewe Hy nie, maar Hy vergewe en daarom word Hy gevrees (vereer). Dit beteken dat mens in heilige eerbied en verwondering met Hom lewe wat geduldig met ons is en ons vergewe.           

Hierdie Psalmis wat die HERE drie maal persoonlik aangeroep het en dit telkens uitgebrei het, sê  nou ook drie maal dat Hy op die Here wag. Ook hier sê hy dit met sinne wat telkens uitbrei. Eers sê hy net dat hy op die Here wag. Dan brei hy daarop uit dat hy met sy diepste wese, sy siel, op die Here wag en op sy beloftes (woord) hoop (v.5). En hy brei dan verder hierop uit en stel dat sy siel op die Here wag meer as wat die wagters wat op die mure van Jerusalem wag gehou het in die nag, op die nuwe môre wag. Hy herhaal die woorde wagters op die môre om die beeld en verwagting te laat insink (v. 6). En dan roep die Psalmis die hele Israel op om saam met hom te wag op die HERE. Hy dink nie nou nie meer net aan sy eie situasie nie, maar aan alle gelowiges wat in die verbond met God lewe. Die rede waarom daar gewag kan word is om om daar by die HERE die goedertierenheid (let op die bepaalde lidwoord; chesed; verbondstrou) is, sowel as veel (menigvuldige/volkome) verlossing (v. 7; let op die rykdom hiervan. Vgl. Ef. 1:7, 2:4,7; Kol. 1:13,14). En dan voeg die Psalmis nog iets by. Die HERE self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede (v.8). Dit is treffend dat hulle nie verlos word van ’n situasie of van vyande nie, maar van hul sonde. Dit het gebeur toe die Here self sy Seun vir ons gegee het om ons te verlos van ons sonde (vgl. Mat. 1:21).              

Besprekingsvraag: Gee voorbeelde van dieptes waarin kinders van die Here kan beland.

Insig: Daar is verskillende maniere waarop ’n mens in ’n lewenskrisis of beproewing kan beland. Dit is goed dat ons nie presies weet wat dit hier was nie, sodat ons elke belewenis van chaosmagte, hier genoem die dieptes, daar waar dit voel of jy verdrink, hierop kan betrek. 

2022/08/17

Stry hard om in te gaan

Lees: Luk. 13:22-30

Gedagte vir kinders: Jesus roep ons om hard te stry om in te gaan in sy koninkryk.  

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus aan ’n kruis vir ons sonde die offer sou bring, het die Hy verskillende dorpe en stede deurgegaan en die mense geleer oor die koninkryk van God (v.22). By een so ’n geleentheid het iemand vir Hom gevra of die wat gered word, min is. Die Here Jesus het hierdie vraag nie direk geantwoord nie. ’n Eenvoudige ja of nee kon maklik as ’n antwoord beskou word wat ver van jouself af is. Dit het nog steeds nie die belangrikste vraag beantwoord nie en dit is of ons elkeen self deel is van die wat gered word. Die Here Jesus se antwoord het eerder hierop gefokus en daarom het Hy geantwoord dat elkeen hard  moes stry om deur die nou poort (opening) in te gaan in die koninkryk (v.23-24a).

2012/03/14

Bekeringsdatum of verbondskind?

Die hele kwessie van 'n bekeringsdatum vs. verbondskind is een van daardie debatte wat die inherente krag het om altyd weer op te vlam en dit is miskien goed so. Sommige mense moet uit hulle gemaksones van 'n tipe "makgemaakte" Christenskap geskok word met die realiteit van watter plofkrag daar in ware bekering is. Ander wat moedeloos is moet weer tot jubeling gebring word deur die die heerlik vrymakende boodskap dat "voordat ek kon kies, kon vra, het u Seun my vloek gedra." En natuurlik, daar is ook die van ons wat albei hierdie aksente nodig het. Soos ons groei, waarskynlik almal van ons. Wie lus het vir n vars briesie oor die onderwerp bekeringsdatum vs. verbondskind, lees gerus hierdie artikel.