Wys tans plasings met die etiket gemeenskapsdenke. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket gemeenskapsdenke. Wys alle plasings

2023/05/04

Prioriteite, strukture en wysheid

Lees: Hand. 6:1-7

Gedagte vir kinders: Die Heilige Gees bring wysheid en omgee in ons harte in.

Oorsig: Ons lees in Handelinge 4-5 dat die eerste gemeente se harte oop was vir mekaar se behoeftes. Die satan het egter selfs dit gebruik om sommige mense (Annanias en Saffira) skynheilig te laat en die Here het sterk hierteen opgetree deur sy apostels. Soos wat die gemeente in Jerusalem gegroei het, het daar ook nuwe probleme ontstaan. Daar was Aramees-Hebreeussprekende Jode in Jerusalem, maar ook Griekssprekende Jode wat ver buite Jerusalem grootgeword het. Hulle het hul Joodse geloof behou en hul later tot Jesus Christus bekeer en in Jerusalem gewoon. Soos wat die gemeente uitgebrei het, het sommige Griekssprekende weduwees egter nie aandag gekry soos die ander nie en dit het spanning veroorsaak (v.1).

Die 12 apostels het die mense bymekaar geroep en hulle daarop gewys dat hulle ’n bepaalde prioriteit moet behou, anders gaan die bediening van die Woord van God en gebed skade ly as hulle aandag ingesluk word deur die kos-behoeftes op tafel vir al die mense (v.2). Hulle oplossing was om vir sewe manne uit te kyk wat (1) goeie getuienis by mense gehad het oor die algemeen, en (2) vol was van die Heilige Gees en wysheid en wat spesifiek aangestel kon word om aan die probleem aandag te gee (v.3). Die apostels het onderneem om by hulle grootste prioriteit te hou: (1) Volharding in die gebed en (2) die bediening van die Woord (v.4).

Die menigte het hierdie werkswyse goed gevind en die volgende mense gekies wat insiggewend genoeg almal Griekse name gehad het: Stefanus, wat spesifiek beskryf word as vol van geloof en die Heilige Gees (vgl. Hand. 6 en 7), en Filippus (vgl. Hand 8). Dan was daar ook Prochorus en Nikanor en Timon en Parmenas en Nikolaus (v.5). Nikolaus, word beskryf as ’n Jodegenoot uit Antiochië (vgl. Hand. 2:10 en 13). Dit beteken dat hy ’n Griekssprekende heiden was wat die God van Israel aanvaar het (Jodegenoot) en later ook tot geloof in Jesus Christus gekom het. Hierdie sewe manne is voor die apostels gestel en die apostels het toe gebid en hulle die hande opgelê en so is hulle aangestel (v. 6; vgl. Num. 8:10; Dt. 34:9; 1 Tim. 4:14). Later lees ons dat Stefanus saam met die tafeldiens ook die Woord kragtig verkondig en verdedig het. Die Woord van God het deur hierdie aksie net verder toegeneem en die getal dissipels in Jerusalem het baie vermeerder. Selfs baie priesters van die Jode het gehoorsaam geword aan die geloof (v.7).    

Besprekingsvraag: Het die werk van die Heilige Gees ook te make met administrasie? 

Insig: Die Kerk van Jesus Christus het altyd nuwe seëninge, maar ook uitdagings.