Wys tans plasings met die etiket Lukas. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Lukas. Wys alle plasings

2024/12/17

Die Messias en sy Kerk se missie

Lees: Luk. 4:14-32

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus het gekom om sondige mense soos ons vry te maak.   

Oorsig: Na die Here Jesus se doop en salwing deur die Heilige Gees, en na sy versoeking in die woestyn, het Hy in die krag van die Gees na die noorde van die land, na Galilea. Teruggekeer. Die gerug oor Hom het begin rondgaan in die hele omtrek en Hy het in lyn met hulle geloof, in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys (v.14-15). Toe kom Hy ook in Nasaret waar Hy opgevoed was. Soos Hy gewoond was (let wel), gaan Hy op die Sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees. Die boekrol van Jesaja is aan Hom oorhandig, en toe kry Hy die gedeelte (Jes.  61:1-2 en klein stukkie van 58:6) waar geskrywe is oor die Here se Gees wat op iemand is omdat Hy gesalf is om die goeie nuus aan die armes te bring. Die wat verbryseld is van hart sal genees word en aan gevangenes vrylating verkondig word. Aan blindes sou daar herstel van gesig wees en die wat gebroke is sou in vryheid weggestuur word. So sou die aangename jaar van die Here aangekondig word en wat in terme van die Bybel ’n jubeljaar beteken het (v.16-19; vgl. Lev. 25:8-17).

Nadat die Here die boekrol toegemaak het en aan die dienaar teruggegee het, het Hy gaan sit, soos wat die gewoonte van die rabbi’s was. Die oë van almal was op Hom met verwagting gevestig. Toe begin Hy vir hulle sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. Almal het ook goeie dinge oor Hom gesê en was verwonderd oor sy aangename woorde. Maar hulle het ook getwyfel oor Hom, want was Hy dan nie die seun van Josef wat hulle geken het nie? (v.20-22). Hy het hulle toe geantwoord dat hulle Homongetwyfeld die spreekwoord sal toevoeg oor geneeshere wat eers hulle eie mense moet genees. Hy moes dit wat Hy in Kapernaum gedoen het, ook in sy vaderstad doen. Toe gee die Here egter vir hulle voorbeelde van Elia en Elisa wat wonders eerder onder heidene gedoen het. Toe dit in Elia se tyd drie jaar en ses maande nie gereën het nie en daar hongersnood was, is Elia eerder na ’n weduwee in Sarfat in Sidon gestuur. En Elisa het nie een melaatse gereinig nie, behalwe Naaman die Siriër (v.23-27).

Almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor. Hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was om Hom daar af te gooi. Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan omdat dit nog nie sy tyd was nie. So het Hy na Kapernaum gegaan en hulle daar ook op die Sabbat geleer. En die mense was verslae oor sy leer omdat sy woord met gesag was (v.28-32).

Besprekingsvraag: Hoe verstaan ons vrylating hier anders as die bevrydingsteologie?

Insig: Sommige gedeeltes in die Here Jesus se bediening fokus op die etiese gevolge van sy boodskap. In Lukas leer ons dat ons dit eers beter verstaan wanneer ons die missie van Jesus Christus beter verstaan en daarmee ook van sy liggaam, die Kerk. Hier in Nasaret spreek Hy die goeie nuus van sy missie uit vanuit Jesaja 61 en dit is duidelik dat die agtergrond van die jubeljaar (Lev. 25) in die Ou Testament in die agtergrond daarvan lê. Dit gee vir ons ’n bevrydende bloudruk oor die koms en doel van die ware Messias en daarmee ook oor ware Kerke. Valse messiaskomplekse kan ook hieraan gemeet word.

2024/11/15

Tot ’n val en ’n opstanding

Lees: Luk. 2:21-40

Gedagte vir kinders: Die HERE Jesus red jou of Hy bring jou tot ’n val oor jou hoogmoed.   

Oorsig: Die Here Jesus is in ’n gelowige huis van Israel onder die ou verbond gebore en hulle het met Hom as baba gehandel volgens die voorskrifte van die Ou Testament. Op die agtste dag is Hy besny en hulle het Hom die Naam Jesus gegee soos die engel beveel het (v.21). Die wet het ook voorskrifte gehad oor die reiniging van die vrou en daarna het hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel, volgens ’n ander wet oor die heiliging van eersgeborenes. Die wet het toegelaat dat tortelduiwe of jong duiwe vir arm mense toegelaat kon word as offers (v.22-24).

In daardie tyd was daar ’n ouer man in Jerusalem met die naam van Simeon. Hy was regverdig en vroom (statig) en het die vertroosting van Israel verwag en die Heilige Gees was op hom. Dieselfde Heilige Gees het aan hom geopenbaar dat hy nie sou sterf voordat hy die Christus van die Here gesien het nie (v.25-26). Deur die Gees gelei, het Simeon in die tempel gekom net toe die ouers die kindjie inbring het. (v.27) Hy het die kindjie in sy arms geneem en God geloof: “Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het, wat U berei het voor die oë van al die volke — ‘n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.” (v.28-32). Josef en Maria het hulle verwonder oor hierdie woorde (v.33). Simeon het hulle toe geseën en vir Maria gesê: Kyk, hierdie Kind is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel. Ja, Hy sou ‘n teken wees wat teengegaan (weerspreek) sal word en ‘n swaard sou deur Maria se siel gaan oor wat met Hom moes gebeur. Maar so sou die gedagtes uit baie harte duidelik gemaak (openbaar) word (v.34-35).              

Daar was in daardie tyd ook die profetes Anna (Hebreeus: Hanna) wat uit die stam van Aser was en ’n dogter van Fanuel. Sy was al 84 jaar oud en was as jongvrou net sewe jaar getroud voor haar man gesterwe het. Sy was dus ’n weduwee, moontlik sonder kinders, en het nie weggebly van die tempel nie en met vaste en gebede God gedien, nag en dag. Sy het in dieselfde uur as Simeon daar gekom en die Here geprys en oor Hom met almal in Jerusalem gespreek wat die verlossing verwag het (v. 36-38). En toe die ouers alles gedoen het volgens die voorskrifte van die wet van die Here, het hulle teruggegaan na Galiléa in die noorde van die land, na hulle stad Násaret. Daar het die Kindjie gegroei en sterk geword in die Gees en Hy was vol van wysheid. En die genade van God was op Hom (vgl. 1 Sam. 2:26). 

2024/10/25

Heerlikheid en vrede vir gewone mense

Lees: Luk. 2:1-20

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus Christus het gekom om gewone mense te red.

Oorsig: Lukas, die geneesheer, het noukeurig ondersoek gedoen, heel waarskynlik ook by Maria (v.19), oor die lewe van die Here Jesus op aarde. Hier vertel hy ons van die tyd, die plek en die manier waarop Jesus Christus gebore is. Lukas vertel daarom van ’n bevel van keiser Augustus (31v.C.-14n.C.), die broerskind van Julius Caesar wat hom opgevolg het, en baie magtig en beroemd was. Die hele wêreld moes ingeskryf word (sensus), waarskynlik om belasting in te vorder (v.1). Dit was die eerste inskrywing toe Cirenius goewerneur van Sirië was. Almal moes ingeskryf word in hul geboortedorp. So het Josef vanaf Nasaret opgegaan na Betlehem in Judea, die stad van Dawid, omdat hy uit daardie nageslag was. Hy het Maria saamgeneem aan wie hy verloof was en wat swanger was (v.2-5).

Terwyl hulle daar was het sy haar eersgebore Seun gebaar en hom in doeke toegedraai en in die krip neergelê, omdat daar geen plek in die gastekamer/herberg was nie (v.6-7). In daardie tyd was die diere en krip dikwels onder die huis of langsaan die slaapkamer. Daar was ook herders in daardie selfde omtrek wat in die oop veld in die nag oor hul skape wag gehou het. (Betlehem word vandag as ’n minimum net vyf grade koud in die nag in Desember). Skielik staan daar toe ’n engel van die Here by hulle en die heerlikheid van die Here was rondom hulle. Hulle was baie bevrees, soos dit ook met elkeen van ons sal gaan as ons skielik in ons mensheid die heerlikheid van die Here moet beleef (v. 8-9). Die engel het egter vir hulle gesê om nie te vrees nie, want hy het ’n goeie tyding van groot blydskap gebring vir die hele volk. Dit is dat die Saligmaker (Redder) in Betlehem, die stad van Dawid, gebore is wat Christus (Messias/Gesalfde) die Here is (vgl. Luk. 1:32-33; Jes. 9:5). Die teken is dat hulle ’n Kindjie daar sal vind in doeke toegedraai in die krip (v.10-12). Skielik was daar toe saam met die engel baie van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde, in die mense in wie God ’n welbehae het (v.13-14; 2020 en NAB).

Toe die engele weggaan na die hemel, het die herders besluit om na Betlehem te gaan en dit te gaan bevestig. Hulle het toe haastig gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat nog in die krip lê (v.15-16). Hulle het toe oral die woord bekend gemaak wat aan hulle oor die Kindjie vertel is. Almal wat gehoor het, was verwonderd. Maar Maria het al die woorde bewaar en in haar hart oordink. En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gesien en gehoor het, net soos aan hulle gesê is (v.17-20).        

Besprekingsvraag: Wat kan ons leer uit die kontras tussen die Keiser en die Kind?

Insig: Kersfees konfronteer ons met kontraste. Ons hoor hier van die mees hooggeplaaste denkbaar, keiser Augustus, wat vrede en goeie nuus vir die ruwe wêreld van destyds beteken het. Midde oorloë en bendes en geweld was daar iemand wat darem bepaalde reg en orde kon handhaaf en vrede bring. Maar dan hoor ons van ’n kindjie in ’n nederige dorpie wat gebore word, ’n spesifiek dorp waaroor God groot beloftes gemaak het (vgl. Miga 5:1). Die grote keiser is hierin net maar instrument. Ons hoor in hierdie wêreldse gang van ’n keiser met ’n sensus iets verstommend: Die heerlikheid van die Here wat in die Ou Testament basies net by Sinai en die tabernakel en tempel beleef is (vgl. Ex. 24: 16-17), skyn hier om die engele, die dienende geeste van God wat om ons ontwil uitgestuur word eerste onder gewone herders (vgl. Hebr. 1:14). Die engele, so leer die Bybel ons, is begerig om in te kyk in dit wat God doen (1 Pt. 1:12), en Lukas se beginhofstukke laat ons iets hiervan duideliker besef. Die engele konfronteer ons ook met ’n bo-natuurlike wêreld. Sogenaamd sekulêre mense, ook vandag, moet kennis neem. Die engele en die heerlikheid van God wat hier in die nag skielik verskyn maak ons ook attent daarop dat hier iets gebeur wat baie groter is as aardse eer en heerlikheid, selfs van keiser (Oktavius) Augustus wat een van die vernaamste keisers ooit was.

2023/04/29

Opstanding, Woord en brood

Lees: Lukas 24:13-35

Gedagte vir kinders: Die hele Ou testament profeteer van Jesus Christus wat sou kom.

Oorsig: Op die dag van die Here Jesus se opstanding, was twee van sy dissipels op pad na ’n dorp met naam van Emmaus wat so 12 kilometer van Jerusalem af was. Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat met Jesus Christus in Jerusalem gebeur het (v.13-14). Terwyl hulle praat het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop. Hulle oë is egter verhinder om Hom te herken (v.15-16). Hy het hulle toe gevra waaroor hulle praat en waarom hulle hartseer was.

Die een wie se naam Kleopas was, het verbaas gevra of Hy dan ’n vreemdeling in Jerusalem was. Die Here Jesus het hulle verder uitgevra en hulle het toe geantwoord dat dit gaan oor wat met Jesus die Nasarener gebeur het wat ’n profeet was en dit gewys het in sy werk en woord voor God en die hele volk (v.18-19). En tog is Hy toe deur die owerpriesters en owerstes oorgelewer tot die doodstraf deur kruisiging. Hulle het bygevoeg dat hulle gehoop het dat Hy die Een sou wees wat Israel sou verlos. Hulle het daarop gewys dat dit toe al die derde dag was vandat die kruisiging plaasgevind het, en dat sommige vroue hulle ontstel het nadat hulle by die graf was. Want hulle het sy liggaam nie gekry nie, en toe ook ’n gesig gesien van engele wat gesê dat Hy lewe. So het ander ook na die graf gegaan en dit soos die vroue gevind, maar Hom het hulle nie gesien nie (v.20-24). 

Die Here Jesus het toe geantwoord dat hulle onverstandiges is met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gespreek het. Hy het daarop gewys dat die Christus juis so moes ly en sy heerlikheid ingaan. Toe het Hy van Moses af (die eerste vyf boeke) vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het (v.25-27). So het hulle by Emmaus aangekom en die Here het gemaak of Hy verder wou gaan. Hulle het by Hom aangedring om by hulle te bly omdat dit amper aand was. Hy het toe ingewillig en aan tafel het Hy gedoen wat Hy ook by die vermeerdering van brode en by die eerste nagmaal gedoen het. Hy het die brood geneem, gedank, dit gebreek en aan hulle gegee (v.28-30). Toe het hulle oë oopgegaan en het hulle Hom erken. Daarop het Hy uit hulle gesig verdwyn. Hulle het toe erken hoe brandend hulle harte was toe Hy op die pad die Skrifte vir hulle uitgelê het. Hulle het toe dadelik opgestaan en teruggegaan na Jerusalem. Daar het die dissipels hulle vertel dat die Here aan Simon verskyn het. Hulle het toe ook vertel wat op hulle pad gebeur het en hoe die Here Jesus aan hulle bekend geword het by die breking van die brood (v.31-35).  

Besprekingsvraag: Noem gedeeltes uit die Ou Testament wat duidelik heenwys na Christus.  

Insig: Ons verneem hier van die eerste wandel en die eerste maaltyd in die nuwe skepping wat Christus deur sy opstanding ingelei het. Adam en Eva wandel met God, maar hulle oë gaan oop vir hul sonde toe hulle eiewillig eet. Hierdie dissipels se oë gaan oop vir die Verlosser nadat hulle met Hom wandel, en deur sy Woord en brood gevoed word.

2022/11/21

Hier kan niemand toeskouer bly nie

Lees: Luk. 23:27-46

Gedagte vir kinders: Ons word geroep om Jesus Christus te antwoord oor sy kruis.

Oorsig: Die Here Jesus is weggelei na waar Hy gekruisig sou word en baie mense het Hom gevolg en die vroue het erg gehuil en getreur (v.27). Die Here Jesus het toe omgedraai en vir hulle gesê dat hulle eerder oor hulle kinders moes huil. Die rede was dat daar dae van oordeel sou kom waar mense met kinders baie swaar sou kry (v.28-29). Soos in die tyd van die ballingskap (Hos. 10:8) toe die wrede soldate die mense afgemaai het, sou ook hulle uitroep dat die berge hulle sal bedek as God se oordeel kom. Want as hulle gedoen het wat hulle doen aan die groen hout (Hy die onskuldige in rustiger tye), moes hulle weet wat sou gebeur as die oordeel kom oor die droë hout (sondige mense en hul kinders in oorlog. Vgl. v.30-31). Saam met Jesus is daar ook twee kwaaddoeners weggelei om gekruisig (“tereggestel”) te word.

By die plek wat Hoofskedel genoem word (Lukas gebruik nie die Aramese woord Golgotha nie, om dit vir die heidene te beskrywe), het hulle die Here Jesus en die kwaaddoeners gekruisig, een aan sy regterkant en een aan sy linkerkant. Jesus het toe daar aan die kruis gesê: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het toe sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp oor wie wat moet kry (v.33-34). En die volk het alles net bekyk en die leiers het met Hom gespot: “Hy kon ander verlos, maar laat Hy nou Homself verlos as Hy die Messias, die uitverkorene van God is.” Ook die soldate het gespot en vir hom asyn gebring en gesê dat as Hy die Koning van die Jode was, soos wat in die bekende tale - Grieks, Romeins en Hebreeus - bo sy kop geskrywe is, Hy Homself moes verlos (v.35-38).

Een van die kwaaddoeners het ook gespot en gesê dat as Hy die Messias was, Hy Homself en hulle moes verlos. Maar die ander een het (1) hom bestraf en gevra of ook hy God nie vrees terwyl hyself in die oordeel was. Hy het (2) daarop gewys dat hulle hul verdiende loon gekry het, maar dat Jesus niks verkeerd gedoen het nie. Toe het hy (3) vir Jesus gevra om aan Hom te dink wanneer Hy in sy koninkryk kom. En die Here Jesus het geantwoord dat die man sommer daardie dag saam met Hom in die Paradys, (plek by God. Vgl. Op.2:7) sal wees (v.39-43). En toe, in die middel van die dag, om 12 uur (die sesde uur), het daar duisternis oor die hele aarde gekom vir drie uur lank. En die son is verduister en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur. Toe het die Here Jesus met ’n groot stem uitgeroep en gesê: “Vader, in u hande gee ek my gees oor!” En toe het Hy sy laaste asem uitgeblaas (v.44-46; vgl. Ps.31:5).   

Besprekingsvraag: Is die geredde kwaaddoener die uitsondering of ’n model vir elke sondaar?

Insig: In die sentrum van die evangelie staan die boodskap van die kruis. Aan die einde van ’n jaar is dit goed om weer die kern van alles voor oë te hou. Daar was geen ander weg nie, want ons kan net vrede met God verkry deur die bloed van die kruis (vgl. Kol. 1:20). 

2022/11/11

Die tempel, die einde en die verheerlikte Christus

Lees: Luk. 21:5-28

Gedagte vir kinders: Mense wat aanhou om teen Jesus te staan sal swaar gestraf word.

Oorsig: Die Here Jesus was reeds in Jerusalem waar Hy gekruisig sou word. Terwyl Hy in die tempel was, het mense gepraat oor die indrukwekkende tempel met sy groot en mooi klippe en versierings (v.5). Die tempel was in daardie tyd bekend as een van die wonders van die tyd. En tog het die Here Jesus vir hulle gesê dat daar dae sou kom wat elke groot klip daarvan afgebreek sou word (v.6). En toe die mense hom vra wanneer dit sou gebeur en wat die teken sou wees, het Hy hulle as die groot Profeet geantwoord. Hy het vir hulle daarop gewys dat alles nie dadelik sal plaasvind nie. Daar sal mense wees wat maak asof hulle in sy Naam kom en daar sou oorloë en opstande wees, maar dit sou nie dadelik die einde wees nie (v.7-9).

Daar sou wel oorlog en groot aardbewings en hongersnode en pessiektes en groot tekens van die hemel wees. Maar hulle sou eers vervolg word en oorgelewer word in sinagoges en tronke en voor konings en goewerneurs gebring word ter wille van sy Naam – en tog ’n geleentheid om te getuig (v.10-13). Hulle moes ook nie bekommerd wees wat om te sê nie, want Christus sou woorde en wysheid gee wat niemand sou kon teenstaan nie (v.14-15). Selfs hulle naaste mense sou hulle oorgee en hulle sou gehaat wees ter wille van sy Naam (v.16-17). En tog sou hulle geen werklike skade ly nie en moes hulle deur volharding hul lewe in besit kry (v.18-19).

Hulle moes wel weet dat wanneer Jerusalem omsingel is, dat die verwoesting naby was. Dan moes hulle wegvlug uit die stad en na die berge. Dit sou dan die dae van wraak wees oor Israel wat sy Messias verwerp het en die Skrif sou vervul word (v.20-22). 

2022/11/03

Verbond en opstanding

Lees: Luk. 20:27-40

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus leer ons dat daar lewe na die dood by Hom is.

Oorsig: Voordat die Here Jesus gevange geneem is en gekruisig sou word, het sekere mense alreeds probeer om Hom uit te vang oor iets sodat óf die regering óf die mense teen Hom sou draai. Die owerstes en Skrifgeleerdes het alreeds probeer om Hom uit vang oor belasting-geld en net hierna het die Sadduseërs ook probeer oor ’n ander saak. Die Sadduseërs was ’n belangrike priesters onder die volk met sterk sienings oor sekere sake. Hulle het net die eerste vyf boek van die Ou Testament (Pentateug) as gesagvol aanvaar. En hulle was van mening dat daar nie engele of ’n opstanding uit die dode is nie (vgl. v.27). Hulle was ook van mening dat ’n eenvoudige voorbeeld dit bewys en het die Here Jesus hiermee probeer vasvra.

Hulle het die Here gewys op Deuteronomium 25:5  waar Moses dit vir hulle volk voorgeskrywe het dat as iemand se getroude broer sterf sonder kinders, sy (ongetroude) broer die vrou neem en vir sy broer kinders verwek (v.28). Die Sadduseërs gee dan ’n voorbeeld, en dit is nie duidelik of dit ’n werklike geval was nie, van sewe broers. Elkeen van hulle het ’n sekere vrou as vrou geneem nadat die vorige broer kinderloos gesterf het, tot by die laaste een (v.29-31). Laaste het ook die vrou gesterwe en nou was die vraag van die Sadduseërs wie se vrou sy sal wees in die opstanding uit die dode, aangesien al sewe haar as vrou gehad het (v.32-33).

Die Here Jesus het hulle eerstens geantwoord dat dit net in hierdie lewe is waarin mense met mekaar trou. Maar die wat waardig geag word om daardie wêreld en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie meer nie (v.34-35). Sulke mense kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is in hierdie sin onsterflik soos die engele (let wel: soos, en nie self ook engele nie), en kinders van God en kinders van die opstanding (v.36). Hy het hulle ook gewys uit die gedeelte van die Bybel wat hulle wel aanvaar het (die Pentateug), dat God daar alreeds vir Moses (vgl. Ex. 3:6) gesê het dat Hy die God van Abraham en Isak en Jakob is (v. 37). Hy het hierdie woorde vir hulle verklaar en gesê dat God tog nie ’n God van dooies is nie, maar van lewendes, aangesien almal vir Hom leef (v.38). Sommige skrifgeleerdes, waarskynlik hulle wat Fariseërs was en wel aan die opstanding geglo het, het toe geantwoord dat Jesus goed gespreek het. Daarna het niemand Hom meer iets durf vra nie (v.39-40).     

Besprekingsvraag: Wat antwoord ons hulle wat sê dat godsdiens die opium van die volk is?

Insig: Die vrae waarmee die leiers probeer het om die Here Jesus in Jerusalem uit te vang, verteenwoordig belangrike sake wat vandag nog beantwoord moet word. Die vraag oor belasting handel oor die gelowige se verhouding tot die staat en die vraag van die Sadduseërs gaan oor ’n sentrale saak in die evangelie – dat ons glo aan die opstanding van die dooies. Marxiste sê maklik dat die geloof aan die lewe hierna opium vir die volk is om nie dinge hier op aarde grondig te verander nie, maar die eerste antwoord is dat dit juis ’n ligter gesindheid in die hart gee om met groter vryheid in Christus te hervorm in die hede. ’n Tweede antwoord is dat die opium-bordjies teenoor Marxmannetjies ook verhang kan word.

2022/10/26

Blydskap en herstel

Lees: Luk. 19:1-10

Gedagte vir kinders: Jesus Christus het gekom om mense wat verlore is te soek en te red.

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem en het al hoe nader daaraan gekom. Hy het op hierdie reis, nie ver van Jerusalem af nie, ook deur die stad Jerigo gegaan (v.1). Dit was ’n stad wat by ’n oase gebou is en die bome het mooi daar gegroei. In daardie stad was daar ’n man met die naam van Saggéüs. Hy was nie alleen ’n tollenaar nie, maar ’n hoof van die tollenaars en ’n ryk man (v.2). Die tollenaars het by hulle eie mense baie belasting vir die Romeinse oorheersers geneem en as vergoeding van die Romeine kon hulle dan ’n goeie deel van die geld in hul eie sak steek. Hulle eie mense het hulle daarom verag en as verraaiers van die volk beskou. Die feit dat Saggéüs ryk was en boonop  ook nog hoof van die tollenaars was, het m daarom nog meer ongewild by sy eie mense gemaak.

Maar Saggéüs het probeer om Jesus te sien, wie Hy was, maar kon dit nie regkry vanweë die skare nie en hy was self ook kort (OV: klein van persoon - v.3). Maar Saggéüs het ’n plan gemaak. Hy het vooruit gehardloop en in ’n wildevyeboom geklim. ’n Wildevyeboom kan so hoog as 20 meter word en met gerieflike laer takke. Vandaar kon Saggéüs dan vir Jesus sien, want Hy sou langs daardie pad verbygaan (v.4). En toe gebeur iets besonders. Toe die Here Jesus by die plek kom, het Hy opgekyk en hom gesien en hom sommer op sy naam genoem: “Saggéüs, maak gou en klim af, want ek moet vandag in jou huis bly.” (v.5). Ons lees dat Saggéüs toe (1) gou gemaak het en afgeklim het en (2) Hom met blydskap ontvang het (v.6). Die mense wat dit gesien het, was egter nie bly nie, maar het gemurmureer soos die Israeliete in die woestyn. Hulle het gesê dat die Here Jesus by ’n sondige man tuisgegaan het (v.7).          

Iets het egter met Saggéüs gebeur in sy kontak met Christus. Hy het gaan staan en ernstig vir die Here gesê dat hy van daardie oomblik af (Letterlik: “Kyk, ek gee...”) die helfte van sy goed vir die armes gee. En waar hy iets van iemand afgepers het (met hulp van die Romeine), sou hy met sy geld (wat oorbly) dit vierdubbel (400%) teruggee (v.8). 

Wanneer Christus jou regverdig

Lees: Luk. 18:9-14

Gedagte vir kinders: Elkeen wat homself voor God verhoog, sal verneder word.

Oorsig: Die Here Jesus het op pad na Jerusalem, waar Hy vir ons sondes sou sterf, mense oor die koninkryk geleer. Hy het mense dikwels deur gelykenisse geleer en hierdie gelykenis oor die Fariseër en die tollenaar het Hy spesifiek vertel met die oog op sommige wat op hulself vertrou het dat hulle regverdig is en ander verag het (v.9). Hulle het dus op hulleself en hulle prestasies staatgemaak om daardeur voor God en ander mense regverdig te wees. Hy vertel hulle toe van twee manne wat na die tempel gegaan het om te bid. Die een was ’n Fariseër. Die Fariseërs was belangrike mense in die volk. Hulle was baie godsdienstig en het streng geleef volgens sekere godsdienstige reëls. Die ander een was ’n tollenaar. Tollenaars was die teenoorgestelde van die Fariseërs. Die mense het nie vir hulle respek gehad nie, omdat hulle in diens van die Romeine, hulle  oorheersers, gaan staan het. Hulle het dan belastinggeld (tolgeld) vir die Romeine afgedwing by hul eie mense en so ook self geld gemaak (v.10).

Die Fariseër het gaan staan en by homself gebid. Dit klink uit die Here Jesus se woorde of hy nie regtig tot God gebid het nie, maar meer met homself besig was. Tog hoor ons dat hy soos die tollenaar later begin met “O God”. Maar ons hoor vyf keer daarna, selfs wanneer hy dankie sê, dat hy van “ek” praat: Ek is nie soos ander sondaarmense nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee maal in ’n week (net tweemaal ’n jaar was nodig), ek gee tiendes van alles wat ek verkry (v.11-12). Die Fariseërs het die tiendes tot in die kleinste dinge toegepas en selfs tiendes van saadjies soos anys en koljander afgetel. Vgl. Mat. 23:23). Die Fariseër dank dus God dat hy so wonderlik is. Die tollenaar het heeltemal anders gebid. Hy (1) het ver weg gestaan omdat hy onwaardig gevoel het. Hy wou (2) selfs nie sy oë ophef na God nie omdat hy sy sonde besef het. Hy het (3) op sy bors geslaan as teken van sy berou en gesê: “O God, wees my wat ’n sondaar is, genadig!” (v.13).

Die Here Jesus het toe vir die mense gesê dat die tollenaar na sy huis gegaan het as iemand wie se saak met God reg is (geregverdig), eerder as die Fariseër. Hy het dit toe vir hulle verduidelik dat elkeen wat homself verhoog, verneder sal word, en dat hy wat homself verneder, verhoog sal word (14).

Besprekingsvraag: Watter twee soorte godsdiens sien ons in hierdie gedeelte raak?

Insig: Twee mense het dieselfde ding gaan doen by tempel, maar met twee totaal verskillende harte en twee soorte godsdienste. Dit herinner ons reeds aan Kain en Abel wat lank gelede ook met twee verskillende harte tot God genader het. 

2022/10/12

Om met moed te bid

Lees: Luk. 18:1-8

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus leer ons om met geloof en hoop tot God te bid.

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar Hy vir ons sondes sou sterf, het die Here Jesus die mense deur gelykenisse oor die Koninkryk van God geleer. By een geleentheid het Hy spesifiek aan die mense ’n gelykenis vertel met die doel dat hulle moes besef dat hulle aanhoudend moet bid en nie moedeloos moet word en God se antwoord nie dadelik kom nie (v.1). Hy het hulle vertel van ’n regter in ’n stad. Hy was nie ’n goeie regter nie en het God nie gevrees nie. Dit beteken dat hy goddeloos was. Hy het ook vir geen mens respek gehad nie (v.2).

En toe het daar ’n interessante ding gebeur tussen hierdie goddelose regter en ’n sekere weduwee in daardie stad. Die weduwees (vrouens wie se mans oorlede is) het in daardie dae baie min ondersteuning en geld gehad en was maklik die prooi van kansvatters. So het dit gebeur dat iemand haar onregverdig behandel het en niemand het haar gehelp nie. Sy het toe oor en oor aan die goddelose regter gevra dat hy as regter sy werk sal doen en seker maak dat die een wat verkeerd teenoor haar opgetree het (die teeparty), tot orde geroep word. Dit het ook beteken dat dinge reggestel moes word wat verkeerd gedoen is (v.3). Hierdie regter wou vir ’n hele tyd lank nie hoor nie, maar sy het nie opgehou om te hom te vra nie. Na ’n ruk het Hy egter vir homself gesê: Al is dit ook so dat ek geen eerbied het vir God nie en my ook aan geen mens steur nie, sal ek tog, omdat hierdie weduwee my nou moeite gee, aan haar reg doen. Anders kom sy dalk en slaan my uiteindelik in die gesig (v.4-5).

En toe het die Here Jesus vir hulle ’n toepassing gemaak. Hy het gesê dat hulle moes hoor wat die onregverdige regter sê. As selfs ’n onregverdige regter reg sal optree as iemand aanhoudend vra, dan moes hulle mos besef dat God, wat regverdig is, soveel te meer dit sal doen. God sal reg doen aan sy mense wat uitverkies is om sy Naam te dra (uitverkorenes) en wat dag en nag tot Hom roep, al is dit ook so dat God eers wag met die antwoord (v.6-7). Die Here Jesus het hulle toe verseker dat God gou sal reg doen aan hulle wat onreg beleef. En hierop het Hy ’n vraag gevra wat te doen gehad het met sy woorde pas vantevore toe Hy gepraat het oor sy wederkoms (17:26-37). Hy het gevra of Hy, wanneer Hy weer sou kom, wel die geloof op aarde sou vind. Met ander woorde, sal mense nog aanhoudend tot God bid en uitkyk vir sy antwoorde? Sou hulle veral nog wagtend wees op Hom wat alles finaal sou regstel? Die Here se vraag is bedoel om ons te roep tot ’n antwoord van geloof en gebed.

Geloof en dankbaarheid in Christus

Lees: Luk. 17:11-19

Gedagte vir kinders: Jesus bring deur sy redding geloof en dankbaarheid in ons lewe.

Oorsig: Vanaf Lukas 9 tot 19 lees ons van die Here Jesus se pad na Jerusalem – daar waar Hy vir ons sonde sou sterf. Hier verneem ons van die vierde van vyf wonderwerke wat hy gedoen het op daardie pad (vgl. 11:14; 13:10-13; 14:1-4; 18:35-43). Dit het gebeur toe Hy op die grens tussen Galilea en Samaria was (v.11. vgl. NAB). Toe Hy in ’n sekere dorp ingegaan het, het 10 melaatse manne Hom tegemoet gekom wat op ’n afstand bly staan het (v.12). Melaatse mense se siekte was aansteeklik en kon wissel van permanente skurfte tot erge swere, en self  tot ledemate wat septies word en afval. God se wet het bepaal dat sulke mense vanweë die siekte nie by hulle geliefdes en tussen ander nie, maar eenkant moes leef (Lev. 13:45-46; Num. 5:2-3). As hulle ’n wonder beleef en wel gesond word, moes die priester dit eers bevestig en dan kon hulle na bepaalde offers weer vry saam met ander leef (Lev. 13:18-28; 14:1-11).

Hierdie 10 melaatse manne het hard geroep en Jesus Meester genoem en gevra dat Hy hulle genadig sal wees. Toe die Here Jesus hulle sien, het Hy vir hulle gesê om hulle aan die priesters te gaan vertoon. Dit kon hulle net doen as hulle moontlik gesond was. Hulle moes Hom dus op sy Woord neem dat Hy hulle op afstand gesond kon maak en solank begin loop na die priesters wat die genesing kon bevestig.

Dimensies van dissipelskap

Lees: Luk. 17:1-10

Gedagte vir kinders: Jesus Christus roep ons om as sy dissipels met geloof te lewe.

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus vir ons sondes sou sterf, het die Here Jesus vir sy dissipels geleer waaroor dit in die koninkryk van God gaan en wat dit beteken om ’n dissipel van Hom te wees. In hierdie gedeelte sien ons dat die Here vier dinge met hulle behandel. Ons hoor eerstens ’n waarskuwing (v.1-3). Die Here het gesê dat daar wel dinge gebeur waardeur mense struikel (struikelblokke) en val, maar dat God se oordeel kom oor die een wat die oorsaak daarvan is. Dit sou vir so iemand beter wees as die swaar steen waarmee hulle koring gemaal het, om iemand se nek gehang word en in die see gegooi word om so te verdrink, as wat iemand een van die Here se kinders (hier genoem met die intieme woord, “kleintjies”. Vgl. Luk. 10:21;   Mat. 18:6-14) laat struikel. Hy het hulle toe vermaan om op hulle hoede te wees en vir hulleself te pasop (vgl. Ps. 18:24).

Hierna het die Here Jesus hulle geleer wat om te doen as iemand teen jou sondig (v.3-4). Jy moet so een wys op die verkeerde optrede en wanneer daar berou was, moes die persoon vergewe word. Selfs as dit sewe maal (’n getal wat dui op hoeveel keer ook al) op een dag gebeur en daar berou was, moes daar vergifnis wees. Hierna hoor ons van bemoediging (v.5-6). Die dissipels het toe vir die Here Jesus gevra om vir hulle meer geloof te gee om die lewe van ’n dissipel te leef. Hy het hulle bemoedig deur hulle daarop te wys dat dit nie gaan oor meer geloof nie, maar om die belangrike teenwoordigheid van geloof, hoe klein ook al. Selfs al sou dit min en klein wees, so klein soos ’n klein mosterdsaadjie, sou dit moontlik wees om sulke groot dinge te doen as om vir  moerbeiboom met sy sterk wortels te sê om met die wortel en al uitgetrek te word en in die see geplant te word en hy sou die woord gehoorsaam.

En dan leer die Here Jesus oor diens aan God deur die gelykenis van ’n dienskneg en sy baas. (v.7-10). Hy het hulle daarop gewys dat geen baas vir die slaaf (of dienskneg), as hy inkom van sy werk buite, dadelik nooi om aan tafel te kom sit nie. Nee, die eienaar sal eerder vir hom sê om die aandete klaar te maak, om reg aan te trek (omgord), en te bedien totdat die heer geëet en gedrink het. Daarna kon die dienskneg eet en drink. Die Here het toe daarop gewys dat ons ook, wanneer ons alles gedoen het wat ons beveel is, moet sê: “Ons is diensknegte wat niks verdien nie, want ons het net maar gedoen wat ons verplig was om te doen.”                        

Besprekingsvraag: Is ons bemoedig of beskaamd oor die beeld van die mosterdsaadjie?

Sonde en die gevolge daarvan kan nie vermy word nie en ons kan baie swaar en seer kry as gevolg daarvan. Die troos is dat Christus die sonde op Hom geneem het en dat ons dit daarom in Hom kan hanteer. Ons moet ook baie op ons hoede wees om nie die oorsaak te wees van sonde wat ontstaan en wat iemand anders laat struikel nie. Dit gaan nie oor miskien-situasies nie, maar oor duidelike sake soos byvoorbeeld molestering in enige vorm. Dit gaan ook slegte lering of enige saak wat ’n struktuur van makmaak, besondiging, verleiding en afdwaling vertoon. Ons behoort ook op ons hoede te wees vir enige ongeregtigheid of suggesties en innuendo’s waar ons die oorsaak is dat ander mense struikel en afvallig raak. Christus gebruik die beeld van erger as gedwonge verdrinking om God se oordeel aan te toon.

Ons hoor egter ook dat ons (bv. in gesinne en gemeentes en werksituasies) nie maar net stil hoef te bly wanneer ons werklik te na gekom word nie. Ons word dan opgeroep om te bestraf. In die lig van ander Skrifgedeeltes kan ander gelowiges betrek word, indien nodig (vgl. Mat. 18). Sonde is soos ’n kanker en ’n virus wat erger word wanneer dit nie hanteer word nie. Juis daarom het Christus gekom. En daarom kan ons ook net so sterk staan vir vergifnis wanneer ware berou duidelik is, tot sewe maal, wat beteken dat dit onbegrensd is. Christus koppel dit hier telkens aan berou. Dit is die gewone gang. Wanneer daar dan nie berou is nie, moet ons vir wysheid vra of dit verder gevoer moet word en of dit net vir God gegee moet word. Sonde en die hantering daarvan tussen dissipels behoort egter die norm te wees.

Ewige gevolge

Lees: Luk. 16:19-31

Gedagte vir kinders: Eerder swaar kry en die Here ken, as om ryk maar verlore te wees.

Oorsig: Die Here Jesus het ’n besondere gelykenis aan die mense vertel waarvan ons net in die evangelie volgens Lukas lees. Dit gaan oor die ryk man en Lasarus. Daar was ’n ryk man wat klere gedra het wat gelyk het soos die van ’n koning – pers stowwe (purper) en fyn linne. Hy was ook elke dag vrolik en het soos ’n ryk man gelewe (v.19). Maar daar was ook ’n baie arm man met die naam van Lasarus (die Griekse weergawe van die naam Elieser). Hy was vol swere en het voor die ryk man se poort gelê. Lasarus het verlang om maar net vol te word van die krummels van die ryk man se tafel maar net die honde (wat waarskynlik wel die krummels geëet het), het gekom om sy swere te lek (v.20-21). Ons lei dus af dat die ryk man hom moes gesien het maar nooit werklik aandag aan hom gegee het nie.

Maar toe die bedelaar, Lasarus sterf, het die ware lewe wonderlik vir hom begin. Hy is deur die engele weggedra na die bors van Abraham (v.22. NAB: die ereplek langs Abraham). Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. Van Hom lees ons net dat hy sy oë in die doderyk opgehef het en in smarte was. Hy het Abraham van ver gesien met Lasarus aan sy bors (v.23). Die man roep toe Abraham aan as vader, soos die Jode vir Abraham genoem het, en vra dat hy barmhartig sal wees en Lasarus sal stuur (hy het hom dus herken) om die punt van sy vinger in water te steek en sy tong te kom verkoel, want hy het baie swaargekry in die vlam (v.24). 

Abraham het toe geantwoord dat hy reeds sy goeie dinge in sy lewe ontvang het en Lasarus die slegte. Nou was alles omgekeer en Lasarus is getroos, maar die ander man het smarte gely. Meer nog, dit kon nie omkeer nie, want Abraham het gewys op ’n groot kloof sodat niemand in staat was om van die een kant oor te gaan na die ander kant nie (v.25-26). Die man het toe gevra dat Lasarus dan wel na sy vader se huis toe moes gaan om sy vyf broers dringend te waarsku, sodat hulle nie saam met hom in daardie plek van pyniging sou beland nie (v.27). Abraham het toe geantwoord dat hulle die Ou Testament het (Moses en die Profete). Die man antwoord toe dat as iemand uit die dode na hulle gaan, hulle hul wel sal bekeer (v.28-29). Abraham het egter geantwoord dat as hulle nie na Moses en die profete luister nie, hulle ook nie oortuig sou word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan (v.31). 

Strategiese planne vir die koninkryk

Lees: Luk. 16:1-13

Gedagte vir kinders: Jesus Christus roep ons op om ons geld te gebruik vir sy Koninkryk.

Oorsig: Net na die Here Jesus se gelykenis van die verlore seun wat sy pa se goed verkwis het, vertel die Hy ons van ’n onregverdige bestuurder wat sy ryk meester se besittings ook verkwis het en toe aangekla is (v.1). Die ryk man het dikwels in vertroue maar min van sy bestuurder se werksaamhede geweet (vgl. Josef en Potifar), maar nou is gevra dat hy verslag moes gee van sy bestuur en hy het reeds kennis gekry dat hy daarna nie meer bestuurder sou wees nie (v.2). Die bestuurder het toe in homself gedink wat hy sou doen. Hy kon nie regtig hande-arbeid soos spit doen nie, en was te skaam om sommer net te bedel (v.3). Hy het toe sy plan so gemaak dat die mense wat by sy heer in die skuld was, hom in hulle huise sou ontvang (v.4).

Hy roep toe die skuldenaars en vra wat hulle skuld. Die een het 100 vate olie geskuld (+/_drie jaar dagloner-salaris). Die man het toe die helfte van die skuld (50%) afgeskryf. ’n Ander een het 100 mud koring (+/_ nege jaar dagloner-salaris) geskuld en hier het hy dit met 20% verminder na 80 toe (v.5-7). Sommige verklaarders wonder of dit die deel was wat hy of die eienaar telkens in hul eie sak gesteek het. Die ryk heer het interessant genoeg die onregverdige bestuurder hieroor geprys omdat hy so verstandig opgetree het. Sommige reken dit was omdat hy dit nie toe van sy skuldenaars kon terugeis sonder ongewildheid nie en enige optrede teen die bestuurder sou met simpatie beskou word. Dit was daarom ’n baie vernuftige plan. Ander is van mening dat die ryk man hom geprys het omdat hy sy eie wins laat vaar het met die oog op die toekoms. Hoe ook al, in beide gevalle wys dit iets van iemand wat op ’n slim manier verlies aanvaar met die oog op die toekoms.

Die Here Jesus wys dan daarop dat sulke mense eintlik verstandiger optree as die kinders van die lig (v.8). Hy het ons daarom opgeroep om slim te werk met die onregverdige geldgod, Mammon, sodat ons ook vriende het wat ons kan ontvang wanneer ons hierdie lewe verlaat (na die “ewige tente” - v.9). Hy het ook daarop gewys dat as jy in klein dinge hieroor getrou en regverdig is, jy ook in groot dinge getrou en regverdig sal wees, en omgekeerd. Hy het ook daarop gewys dat as ons nie eens getrou kan wees met wat nie ons s’n is nie, hoe ons dan met die ware goed van die koninkryk getrou sal wees wat bestem is as ons eie (v. 10-12). Hy het ook daarop gewys dat geen huiskneg twee here terselfdertyd kan dien nie. Daarom moet ons ook weet dat ons nie God en die geldgod, Mammon, saam kan dien nie (v.13).              

Besprekingsvraag: Bespreek die verskil tussen skelm en verstandig te wees in die Koninkryk.

Ons word hier opgeroep om slim en strategies te werk met die oog op die toekoms, die toekoms van die ewige tente anderkant die dood. Ons weet hoe verstandig aardlinge te werk kan gaan om ’n goeie toekoms te verseker, so asof die mylpaal hierdie kant van die graf is. Die vraag is hoe ons strategiese toekomsplanne hierdie kant van die graf vergelyk met planne vir die ewigheid. 

2022/09/07

Die God wat deeglik soek en vind

Lees: Luk. 15:1-10

Gedagte vir kinders: God soek sy afgedwaalde kinders deeglik totdat Hy hulle vind.

Oorsig: Dit is baie insiggewend dat die tollenaars (belastinggaarders) en sondaars (met openlike sondige leefstyle) die gewoonte gehad het om na die Here Jesus te kom en na om

Hom te luister (v.1). Dit laat ons besef dat die Here Jesus iets anders uitgestraal het as die Fariseërs en die Skrifgeleerdes wat die godsdienstige leiers van die volk was, maar duidelik nie baie tyd gehad het vir mense wat afgedwaal het nie. Die wrede Romeinse regering het byvoorbeeld die tollenaars toegelaat en aangespoor om meer as die nodige belastinggeld van hulle eie volk te eis sodat hulle so die staat asook hul eie sakke kon verryk. En tog het die Here Jesus se bediening van ware geregtigheid ook hierdie mense aangetrek en Hy het hulle ontvang en selfs saam met hulle geëet. Om saam met iemand te eet beteken tog dat jy baie nou bande met iemand het. Die godsdienstige leiers was hieroor ontsteld en het gemurmureer (v.2)   

Die Here Jesus het toe aan hulle die gelykenis vertel van iemand wat 100 skape het en een verloor. Enige herder in daardie dae sou die 99 in die woestyn laat staan (waarskynlik by toesighouers) en agter een wat verlore is aangaan (1) totdat hy dit kry (v.3-4). Dit sou ook nie daar stop nie, maar hy sou die skaap (2) op sy skouers sit om terug te dra, en (3) dit sou met groot blydskap gedoen word. En as hy by sy huis kom sou hy nog verder (4) sy vriende en bure roep en vir hulle sê om saam met hom (waarskynlik deur ’n fees) bly te wees omdat hy sy skaap gekry het wat verlore was (v.5-6). Die Here Jesus het toe vir hulle verduidelik dat daar so blydskap in die hemel sal wees oor een sondaar wat hom bekeer, meer as die 99 wat die bekering nie nodig het nie (v.7).

Dood om vir Hom te lewe

Lees: Luk. 14:25-35

Gedagte vir kinders: Jesus vra ons hoogste liefde omdat Hy Homself vir ons gegee het.

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem om daar vir ons sonde aan ’n kruis te sterwe. Op hierdie pad het hy met die mense oor allerhande dinge van die koninkryk van God gepraat. Baie mense het saam met Hom begin loop, maar die vraag was of almal se harte regtig met Hom was. Hy het Hom toe na die skare toe gedraai en vir hulle en vir ons uitgespel wat dit regtig beteken om saam met Hom die pad te stap. Hy het vir hulle verduidelik dat as iemand na Hom toe kom en nie sy naaste gesinsmense en selfs sy eie lewe haat nie, so iemand nie werklik sy dissipel kan wees nie. Daarmee het die Here Jesus ’n uitdrukking gebruik waarin haat beteken dat in vergelyking met jou liefde vir Hom, enige ander liefde nie in dieselfde asem genoem kan word nie (v. 25-26; vgl. Gen. 29:31; Mal. 1:2-3).

2022/08/25

Vry om koninklik te leef

Lees: Luk. 14:1-14

Gedagte vir kinders: Jesus Christus maak van sondaars verloste koningskinders

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus vir ons sondes sou sterf, het Hy op uitnodiging in die huis van een van die leiers van die Fariseërs ingegaan om brood te eet op die Sabbat. Die Fariseërs het God se wet baie belangrik geag, maar ongelukkig het hulle so baie op die uiterlike kant daarvan gefokus dat hulle die dieper punt maklik gemis het. ’n Mens wonder ook wat die motiewe was om die Here Jesus te ontvang, want ons lees dat hulle Hom in die oog gehou het (v.1). Ons lees ook van ’n man wat water gehad het (opgeswel in dele van sy liggaam was), wat daarop gedui het dat sy organe nie reg werk nie (v.2). Ons sou selfs ook kon wonder of hierdie man aspris daarheen gebring is om te sien wat die Here met hom sou doen. Die Here Jesus het toe aan die wetgeleerdes en Fariseërs gevra of dit reg was om op die Sabbat te genees, maar hulle het net stilgebly. Hy het toe die man geneem en hom gesond gemaak en laat gaan (v.3-4). En toe het Hy vir die mense verduidelik deur die voorbeeld van ’n esel of os (sommige vertalings meld kind) wat in ’n put val op die Sabbatdag. Die meeste mense sal mos dadelik die dier uit die put optrek. Niemand kon Hom antwoord op hierdie voorbeeld nie (v.5-6).

Die Here Jesus het ook, toe hulle die belangrikste plekke kies, ’n gelykenis vertel, wat dus ook iets oor God se koninkryk leer. Hy het gesê dat hulle, wanneer hulle na ’n bruilof genooi is, nie die voorste plek moes inneem nie. Die rede: Daar is dalk iemand wat waardiger is as jy. En dan sal die gasheer moet kom en sê dat jy moet plek moet maak vir ’n belangriker man en dat jy dan met skaamte die agterste plek sal inneem (v.7-9). Dit sou wyser wees om die agterste plek in te neem sodat die gasheer wat jou genooi het, eerder vir jou ’n beter posisie laat neem. Dit sou eer bring voor die wat saam aan tafel is. Die Here maak dan die bekende uitspraak dat elkeen wat homself verhoog, verneder sal word, en wat homself verneder, verhoog sal word (v.10-11).

2022/08/17

Stry hard om in te gaan

Lees: Luk. 13:22-30

Gedagte vir kinders: Jesus roep ons om hard te stry om in te gaan in sy koninkryk.  

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus aan ’n kruis vir ons sonde die offer sou bring, het die Hy verskillende dorpe en stede deurgegaan en die mense geleer oor die koninkryk van God (v.22). By een so ’n geleentheid het iemand vir Hom gevra of die wat gered word, min is. Die Here Jesus het hierdie vraag nie direk geantwoord nie. ’n Eenvoudige ja of nee kon maklik as ’n antwoord beskou word wat ver van jouself af is. Dit het nog steeds nie die belangrikste vraag beantwoord nie en dit is of ons elkeen self deel is van die wat gered word. Die Here Jesus se antwoord het eerder hierop gefokus en daarom het Hy geantwoord dat elkeen hard  moes stry om deur die nou poort (opening) in te gaan in die koninkryk (v.23-24a).

2022/08/11

Vuur op aarde

Lees: Luk. 12:49-53

Gedagte vir kinders: Jesus Christus het gekom sodat God se vuur ons lewens kan reinig.

Oorsig: In die bediening van die Here Jesus het hy twee soorte kenmerkende uitsprake gemaak wat verwys na sy Persoon en sy werk. Die een groep is sy “Ek-is” uitsprake (vgl. Johannes 6:35; 8:12; 10:9; 10:11,14; 11:25; 14:6; 15:1,5). Die ander is sy “Ek-het-gekom-om” uitsprake (Vgl. Mt. 5:17; Mk. 10:45; Joh. 10:10; 12:46; 18:37). In hierdie gedeelte sê die Here spesifiek dat Hy gekom het om vuur op die aarde te werp (v.49). Wat beteken hierdie woorde? Die beeld van vuur word in die Bybel gebruik om te wys op God se teenwoordigheid en liefde (Dt. 4:24; Hd. 2:3), sy oordeel oor sondaars (Lev. 10:2; Mt. 22:7) en Goddelike reiniging (Jer. 5:14; 23:29; 1 Pet. 1:7). Johannes die Doper het die beeld spesifiek gebruik om te wys op die reinigende werk wat Jesus as die Messias sou verrig en waarin die krag van die Heilige Gees sou duidelik word (Luk. 3:9,16). En hier lees ons van  begeerte van die Here Jesus op pad na Jerusalem wat ons tot stilstand bring wanneer ons hoor dat Hy baie diep wens dat God se vuur al aangesteek was. Daar was dus nog iets nodig voordat dit ’n volle werklikheid sou word.

2022/08/05

Oor bekommernis en fokus

Lees: Luk. 12:22-34

Gedagte vir kinders: Ons Vader is die Koning van alles en daarom is ons nie bekommerd nie.

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus die offer vir ons sondes sou bring, het Hy oor die koninkryk van God met die mense gepraat. Nadat Hy aan hulle deur die gelykenis van die ryk dwaas verduidelik het hoe belangrik dit is om ryk in God te wees, het Hy “daarom” bygevoeg. Want as ons ryk in God wil wees, moet ons ook in lyn daarmee optree. Die eerste toepassing wat die Here Jesus toe gemaak het, is om nie bekommerd te wees oor ons lewe en ons liggaam en spesifiek oor wat ons sal eet en wat ons sal aantrek nie. Die rede is dat die lewe meer is as kos en dat die liggaam oor meer gaan as klere (v.22-23).  

Hy het hulle as voorbeeld gewys op die kraaie (roofvoëls) wat in die Ou Testament nog onrein diere was (Lev. 11:15; Deut. 14:14). Hulle plant of oes nie en het geen voorraadkamer en skuur nie, en tog sorg God selfs vir hulle. Mense was tog soveel meer werd (v.24). Die Here het hulle toe ook daarop gewys dat afgesien van die voorbeeld van kraaie in die skepping, ook bekommernis self nie in die minste werklik help nie. Dit kan nie een el by jou lengte voeg of een uur by jou lewe nie (v.25-26; vgl. NAV). Daarna het Hy weer na de skepping gewys en hierdie keer op die lelies en die gras as voorbeelde van hoe God sy skepping aantrek. En weer was die konsekwensie vir mense getrek: Hoeveel te meer vir julle kleingelowiges! (v.27-28).     

By die kwessie van bekommernis het Hy toe iets verder gevoeg. Dit is dat hulle ook nie in die eerste plek gefokus moes wees (“soek”) op wat hulle sou eet en drink en hulself daaroor ongerus maak nie. Dit is wat die ongelowiges nasies van die wêreld doen. Die kinders van God kon egter gerus wees dat hulle Vader weet wat hulle nodig het (v.29-30). Hulle fokus (soek) moes eerder die koninkryk van God wees. Dit beteken hulle God en sy saak en sy geregtigheid en sy wil moes soek en hulle hele lewe daarvolgens moes inrig. So kon hulle as God se gesante sy beeld in hierdie wêreld wat nie glo nie, uitstraal. Hulle sou op hierdie weg ook beleef hoe al die ander dinge vir hulle bygevoeg word (v.31). Daarna het die Here die klein groepie gelowiges ’n klein kudde genoem wat nie moes vrees nie, want hulle Vader sou aan hulle sy koninkryk gee (v.32). Omdat hulle in Hom so ryk was, kon hulle hulle gerus hul besittings verkoop en aalmoese gee wanneer nodig. So sou hulle wys dat hulle eintlike beursies en skat in die hemel is. Hierdie skat kan nie uitgeput word nie en diewe of motte kan dit nie wegneem of verteer nie. En so wys ons harte ook waar ons eintlike skat is (v.34).   

Besprekingsvraag: Wat leer ons wanneer Christus vrees en vertroue voor besittings hanteer?

Insig: Die Here Jesus spreek ’n diep kwessie van die menslike psige hier aan. Ons as mense het ’n groot behoefte aan identiteit en ’n omgewing wat daardie identiteit moet beveilig. Die probleem is dat ons dit in ons sonde verkeerd kan aanpak.