2022/09/07

Dood om vir Hom te lewe

Lees: Luk. 14:25-35

Gedagte vir kinders: Jesus vra ons hoogste liefde omdat Hy Homself vir ons gegee het.

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem om daar vir ons sonde aan ’n kruis te sterwe. Op hierdie pad het hy met die mense oor allerhande dinge van die koninkryk van God gepraat. Baie mense het saam met Hom begin loop, maar die vraag was of almal se harte regtig met Hom was. Hy het Hom toe na die skare toe gedraai en vir hulle en vir ons uitgespel wat dit regtig beteken om saam met Hom die pad te stap. Hy het vir hulle verduidelik dat as iemand na Hom toe kom en nie sy naaste gesinsmense en selfs sy eie lewe haat nie, so iemand nie werklik sy dissipel kan wees nie. Daarmee het die Here Jesus ’n uitdrukking gebruik waarin haat beteken dat in vergelyking met jou liefde vir Hom, enige ander liefde nie in dieselfde asem genoem kan word nie (v. 25-26; vgl. Gen. 29:31; Mal. 1:2-3).

Die Here Jesus het dit verder deur die beeld van ’n kruis verduidelik. Die Romeinse oorheersers het deur kruisiging ’n stelling in die openbaar gemaak deur mense wat in opstand kom teen die owerheid, stadig en naak aan ’n kruis te laat sterf waar almal dit kan sien. Die Jode het dit nog soveel te meer as skrikwekkend gesien omdat die Here in die Ou Testament reeds geleer het dat elkeen wat aan ’n houtpaal sterf, vervloek is (Deut. 21:23; Gal. 3:13). En nou leer die Here Jesus dat elkeen wat nie bereid is vir hierdie tipe behandeling as gevolg van Hom nie (ja, ook afsterwe elke dag volgens Luk. 9:23), nie sy dissipel kan wees nie (v.27).

Die Here het toe deur drie verdere beelde die gevolge verduidelik. Hy het eerstens gewys op iemand wat ’n toring wou bou as uitkykpunt. As ’n mens nie jou somme maak nie, kan jy dalk halfpad agterkom dat jy nie alles het om klaar te maak nie. Dan was dit so sinneloos en boonop spot ander dan omdat jou mislukking vir almal duidelik is (v.28-30). Daarna het die Here die beeld van oorlog gebruik. ’n Mens gaan maak mos nie oorlog as jy nie eers deeglik bepaal het of jy kans sien vir die vyand wat dubbeld meer is nie (10 000 teenoor 20 000). Dit is beter om voorwaardes vir vrede aan te vra as jy nie werklik kans nie. Die Here verduidelik dan dat niemand wat nie afsien van al sy besittings, werklik sy dissipel sal kan wees nie (v.31-33). Hierna het Hy ’n derde beeld van sout gebruik. Soutkorrels was net goed as die soutsmaak nog in die korrel was. Dan kon dit gebruik word vir smaak, reiniging, en bewaring. Maar as die sout laf geword het, was dit nie vir die grond of selfs die ashoop nuttig nie. Dit kon net buitekant weggegooi word. Hy het toe uitgeroep dat die wat ore het, moes hoor wat dit beteken om sy eiendom te wees (v.34-35).

Besprekingsvraag: Gaan dissipelskap om iets meer as gewone Christen te wees?

Om dissipel van Christus te wees gaan nie oor ’n hoëre vlak van Christenskap nie, maar die enigste vlak van Christenwees. En hier hoor ons baie pertinent wat die konsekwensies is wanneer ons God se beloftes en eise, waarvan ons reeds by die kinderdoop verneem, glo en gehoorsaam. Ons besef dan dat NGB 34 reeds leer dat ons deur die doop afgesonder word om geheel en al die eiendom van ons Vader te wees. Van kindsbeen af hoor ons ook dat my enigste troos in lewe en dood is dat ek nie aan myself behoort nie, maar aan Jesus Christus. Christene behoort in beginsel nie aan hulleself nie, en HK 1 help ons om te besef waarom dit ’n troos en nie ’n skrikwekkende gedagte is nie. Die rede is dat Christene behoort aan die getroue Saligmaker wat met sy bloed ten volle betaal en ons uit die skrikwekkende heerskappy van die alternatief, die duiwel, vrygekoop het. En dat Hy ons bewaar en verseker en versterk deur die Heilige Gees vir ’n lewe in en met Hom (HK1). Gedoopte kinders behoort daarom ingeskerp te word in wat dit beteken om die eiendom van die Here te wees.   

En deel hiervan is kosteberekening. Die goedkoop soort Christenskap is nie ’n opsie nie. Ons moet besef: Wanneer Christus ons roep, roep Hy ons om te kom en te sterwe (Bonhoeffer. Vgl. ook sy afwysing van van wat hy noem “goedkoop genade”). Dit sluit fisiese dood vir Hom in, maar definitief ook daaglikse keuses. Christus verduidelik dat dit gaan oor jou liefdesprioriteit, oor sterwe en afsterwe, en af te sien van alle besittings. Die afsien van alle besittings beteken nie dat almal noodwendig alles moet verkoop nie, maar wel duidelike afsien daarvan in die hart. Dit bring nie marteling nie, maar juis ware vryheid. Dit maak ons vry om onbevange vir God in Christus te leef. In die geskiedenis het dit soms verlies aan familie en sterwe voor die owerheid beteken, en kan ook steeds in sommige omstandighede. Maar ongeag hiervan, moet ons almal op een of ander manier leer, op mikro en makro vlak, wat die implikasies van afsterwe is en wat dit beteken om aan Christus te behoort.

Dit is die enigste wyse waarop ons waarlik vry kan lewe. En dit word net op een manier  ’n werklikheid in ons lewe  - in Hom wat van alles afgesien het, om gehoorsaam te word tot die dood van die kruis. Deur Hom kan ons sterwe aan die ou mens en opstaan as nuwe mense. Daarvan getuig die doop. Ons hoef nie alles te weet wat vir ons voorlê voordat ons in die krag van die Gees besluit om Christus te volg nie. Maar ons word wel opgeroep om Hom te vertrou wat sy lewe vir ons afgelê het en voortdurend weer onsself oor te gee aan Hom om ons pad te bepaal. Elkeen van ons om by verskillende kruispaaie waar die oorgawe ook herbevestig moet word. Laat dit dan so wees, ook wanneer ons die ou mens daagliks moet afsterf. Want om te besef jy is reeds dood in Christus (met apologie en Christelike hervorming in Christus teenoor die heiden-generaal, Maximus, van die film, Gladiator) is om waarlik vry te wees om vir Hom te lewe, totdat geloof oorgaan in aanskoue.

Werke geraadpleeg:

Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.

Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.

France, R.T. Luke: Teach the Text Series.

Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.