2022/09/07

’n Teologie van beloning

Wanneer Christene oor beloning nadink, toon hulle gewoonlik gou ’n gesonde intuïsie. Die rede: Ons besef dat alles eintlik net genade is en dat beloning net binne hierdie atmosfeer van genade hanteer kan word. Daarom verkies gelowiges om met die oog op God eerder van genadeloon te praat.

Abraham as proto-tipe

Die woord genadeloon help ons om gelyktydig van genade en van loon te kan praat, iets wat sonder die boodskap van die Bybel moeilik sin maak. Ons kan nie by al die gedeeltes in die Bybel stilstaan wat oor genade en oor loon praat nie, maar Abraham, die vader van ons geloof, is ’n belangrike proto-tipe om te illustreer waaroor dit gaan. In Genesis 15:1 lees ons reeds: Ná hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in ‘n gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot.” Maar wat het Abraham dan gedoen om sulke loon belowe te word? Dit is hier belangrik om die apostel Paulus se woorde hieroor te onthou. Paulus maak dit duidelik dat Abraham nie uit sy werke geregverdig is nie (Rom. 4:2). Hy stel dit duidelik dat die loon aan Abraham nie na verdienste toegereken is nie, maar na guns (Rom. 4:4). Ons verneem in die boek van Josua dat Abraham geroep is uit ’n huis wat ander gode gedien het (Josua 24:2). Die beloftes toe Abraham aanvanklik geroep is, was dus uit pure genade (vgl. Gn. 12:1-3). Die wonderlike belofte dat in Hom al die nageslagte van die aarde geseën sou word, het vooruitgewys na Jesus Christus in wie al die geslagte geseen sou word. Dit was egter enkel deur God se genade dat hierdie belofte gegee is.

En tog stel die Here later vir Abraham op die proef deur hom te beveel om sy enigste seun, Isak, te offer. En nadat Abraham bereid was om dit te doen stel die Here deur sy Engel dat Abraham sou beloon omdat hy bereid was om God te gehoorsaam te wees. Die belofte van ’n groot nageslag en dat die nasies van die aarde in Abraham se nageslag geseën sal word, word nou herhaal, maar hierdie keer ook gekoppel aan Abraham se gehoorsaamheid (vgl. Gn. 12:1-3; 22:18). Die vraag ontstaan dan nou watter soort loon dit is wat aanvanklik sonder verdienste gegee word en hier tog ook lyk of dit gekoppel word aan gehoorsaamheid. Dit is hier waar ons die woord genadeloon moet waardeer. 

Daar is loon op die gehoorsaamheid, ja, maar dit is tegelyk ook genadeloon aangesien hierdie loon aanvanklik nie belowe is op grond van voorwaardes wat Abraham eers moes nakom nie. Die gehoorsaamheid kon nie iets ekstra toevoeg nie, maar eerder bevestig wat reeds in werking was. God se loon is ingebed in Hom en sy genade waar Hy telkens die inisiatief neem, loon uit genade skenk, en waaruit later verdere gehoorsaamheid en loon spruit.

Israel as kollektiewe proto-tipe

Hierdie selfde patroon sien ons ook in die lewe van die volk Israel. Die Here maak dit baie duidelik dat Hy hulle nie gekies het omdat hulle so voortreflik was nie (vgl. Dt. 7:7-8). En tog word hulle verantwoordelikheid en gehoorsaamheid ook ingeskakel in die verbond: “En omdat julle na hierdie verordeninge sal luister en dit hou en volbring, sal die HERE jou God vir jou die verbond en die goedertierenheid hou wat Hy jou vaders besweer het; en Hy sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig, en Hy sal die vrug van jou liggaam seën en die vrugte van jou land, jou koring en jou mos en jou olie, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee, in die land wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het om aan jou te gee.” (Deut. 7: 12-13).

Hierdie verbondsvloeke en verbondseeninge op grond van gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid kom besonder helder na vore in Deut. 27-28 en word verder bevestig deur die lied van Moses in Deut. 32. Daar is natuurlik diegene wat op grond van Galasiërs 3 hierdie verbondsgehoorsaamheid as voorwaardelik sien en dat net Christus dit kan vervul en reeds vervul het. Tog is daar ook diegene wat dit erken, maar ook steeds ’n deelnemende kant in die verbond sien as deel van die verbondsgehoorsaamheid wat ons in die krag van Christus en die Gees doen en juis daarom dat ons tot in Openbaring verneem van gelowiges se werke wat beloon word (vgl. Op. 22:14).

Genadeloon sonder hefboom

Ons sien ook reeds in die Ou Testament dat dit duidelik word dat ons gehoorsaamheid en verbondseëninge en loon nie in ’n een-tot-een verhouding moet verstaan nie. Die uitnemendste voorbeeld is sekerlik die boek Job. Daar is ook die boek Prediker en Psalms soos die bekende Psalm 73 wat worstel oor die skynbare voorspoed van die goddelose. Dit word duidelik dat ’n mens moet oppas om gehoorsaamheid te hanteer soos ’n hefboom waarmee jy God kan beweeg om na jou sin te handel. Die loon word op God se tyd en sy manier uitgedeel soos dit Hom behaag. Maar selfs hier bly die loon nie uit nie. In tyd en in ewigheid word dit voltrek, maar altyd afhanklik van sy wil in elke geval.

In die Nuwe Testament sien ons hoe die kwessie van genade en loon verdiep. Dink maar aan ons Here Jesus se gelykenis van die arbeiders wat op verskillende ure gehuur is en dieselfde loon ontvang het (Mt. 20:1-16). Daar is egter ook ander gelykenisse waarin daar duidelik sprake van genadeloon is: “En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ‘n beker koue water laat drink, omdat hy ‘n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie. (vgl. Mt. 10:40-42); En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak.  En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede.”(Lk. 19:16-17).

Hierdie oorwegings bring natuurlik ook die kwessie van valse loon na vore. Omkoopgeskenke is ’n goeie voorbeeld van valse beloning en daarteen waarsku die Skrif dikwels (vgl. Jes. 1: 23; 27:25; Ps. 15:5). Ons word ook opgeroep om kwaad met goed te vergeld en nie goed met kwaad nie (1 Sam. 24:17-19; Ps. 7:4; Spr. 17:13; 25:21-22). Ons moet ook nie dink dat ons God kan omkoop nie (Dt. 10:17).

In ons belydenisskrifte is die duidelikste gedeelte oor die kwessie van genadeloon waarskynlik Die Heidelbergse Kategismus, Sondag 24, vraag en antwoord 63: “Verdien ons goeie werke dan niks nie, terwyl God hulle tog in hierdie en in die toekomende lewe wil beloon? Antwoord: Hierdie beloning word nie uit verdienste gegee nie, maar uit genade.” Die insiggewende is dat die bewysplaas in die Skrif by hierdie gedeelte Lk. 17: 10 is: So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”

 

Gevolgtrekking en toepassing

Uit hierdie gedeeltes is dit duidelik dat die woord, genadeloon ’n besonder kosbare woord vir die Kerk is, aangesien dit die woord is wat poog om om getrou te wees aan die hele Bybel.  Ds. Awie Coetsee van die GKSA het dit by geleentheid besonder helder soos volg verduidelik: ”Nee, dit gaan nie oor dienaarsloon gemeet aan pligte wat vervul is nie. Dit gaan oor genadeloon uit liefde van die Vaderhart. Die vader gee opdrag aan sy seun. Die vervul dit met liefde, flink, vinnig en met ywer. Dan sê die vader: "Mooi so, my seun. Hier is vir jou 'n geskenk." 'n Geskenk uit die liefde van die vaderhart. Nie ooreengekome loon volgens verdienste nie, maar genadeloon.”

Die vraag is natuurlik watter toepassings ons hieruit kan maak vir ons daaglikse lewens as Christene. Met ander woorde: Hoe word die Christelike lewenswandel verryk deur hierdie perspektief? Ons sou eerstens die saak om kon toepas op ouers en kinders. Ouers moet daarop bedag moet wees om verskillende vorme van beloning met hulle kinders toe te pas. Kinders moet enersyds weet dat beloning vir goeie dade gegrond is in ’n onvoorwaardelike ouerliefde. Nooit behoort die kind te voel dat goeie dade die enigste manier is om pa of ma se liefde te kry nie. Daarom behoort die kind ook by geleenthede te beleef dat hulle iets verrassend kry, sonder dat hulle enigiets daarvoor gedoen word. Maar soms kan harde werk ook inderdaad beloon word. Dit behoort egter ook afgewissel te word met die feit dat jou kind maar ook soms mag beleef dat hulle harder as die anders kinders bygedra het en tog steeds dieselfde beloning kry. En ander kere kan hulle ook maar beleef dat daar geen voor die hand liggende beloning dadelik is nie, en eers agterna besef dat hulle gesindheid getoets is. Hierdie fasette sou ook van toepassing gemaak kon word op die verhoudings tussen werkgewers en werknemers.

Die saak van geskenke tussen vriende vertoon ‘n ander struktuur, maar werk eintlik met dieselfde uitgangspunte. Dit het veral aktueel geword met die herwaardering van die geskenk in die twintigste eeu. Diegene wat geneig is tot utopiese denke, het in die geskenk die teenvoeter teen kapitalisme gesien waar skynbaar alles “verdien" moet word. Dit het egter gou by nadenke en eerlike navorsing geblyk dat ook geskenke gee maklik kan ontaard in die verwagting van teenprestasies, en indien dit nie gebeur het nie, kon dit ook lei tot oorlog. Diegene wat dit ondersoek het, het tot die gevolgtrekking gekom dat geskenk uitruiling die sinvolste plaasvind wanneer die teruggee van geskenke nie dadelik gebeur nie, nie presies diselfde soort geskenk is nie, en wanneer die tyd van teruggee sowel as die aard van die geskenk verrassend van aard is. Dit is insiggewend dat ook hierdie strategieë iets van beide loon (teruggee) en genade (verrassing) vertoon. Omkoopgeskenke is natuurlik die valse weergawe. Hier gaan dit oor geskenke tussen mense in die geheim en waar die beloning dikwels buite die maat met die guns is. Ten diepste moet ons ook daarteen waak om God te probeer omkoop deur ons opofferings, goeie werke, goeie denke of goeie gevoelens.[1] Dit is om die hele saak van geregtigheid op valse gronde te bou. Dit geld ook vir ons optrede teenoor ons naaste. Laat ons hierdie grondreëls onthou wanneer ons geskenke vir mekaar gee. En laat ons dus altyd die oog op God hou en nie te veel van mekaar te veel verwag nie.

Met die oog op ons hemelse Vader, kan ons ten slotte opmerk: Almal van ons kom by plekke in ons lewe waar ons iets beleef, ja dikwels ’n baie flou weergawe van Job se ervaring of die van Psalm 73, dat dit lyk of dit eerder slegter met my gaan omdat ek die Here dien. En die Here neem ons daardeur om die motiewe van ons harte te openbaar en die vraag te beantwoord: Nou waarom dien jy nou eintlik die lewende God? Hy neem ons so deur ‘n proses waarop ons duideliker begryp en waardeer wat genadeloon is. Hoe wonderlik wanneer ons saam met die Psalmis van Ps. 73:25-26,28  by die regte gevolgtrekking kan uitkom: ”Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.  Al beswyk my vlees en my hart — God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid…Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here Here het ek my toevlug gestel, om al u werke te vertel.”

[1] Ek steun hier op die insigte van Margaret Visser se werk, The Gift of Thanks: The Roots and Rituals of Gratitude.

PS: 'n Geredigeerde weergawe van hierdie artikel het in Die Boodskapper verskyn.