Lees: Num. 6:22-27
Gedagte vir kinders: Die Here se seën beteken dat Hy by ons is en in alles vir ons sorg.
Oorsig: In Num 6 lees ons van daardie besondere
groep mense wat Nasireërs genoem was. Hulle was toegewyde mense vir God se
koninkryk in die Ou Testament. Net daarna lees ons van ’n opdrag van die Here aan
die priesters. Hulle moes die mense in die kamp in Israel, seën (v.22-23). Dit
is ’n baie besondere en digterlike seën. Die seën bevat drie reëls en die Here
se Naam word in elke reël een maal genoem. Die is Hy wat sy volk seën deur sy
priesters. Elke reël brei uit op die vorige. Die eerste reël bevat in die
Hebreeus net drie woorde en 12 lettergrepe: Die Here sal jou seën en jou behoed
(v.24). Die volgende seën van die tweede seënbede bevat vyf woorde in die
Hebreeus en 14 lettergrepe: Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou
genadig wees (v.25). Die derde seënbede bevat 7 woorde met 16 lettergrepe in
die Hebreeus: Die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee (v.26).
Elke seënbede brei ’n bietjie meer uit. Die eerste reël bevat 15 medeklinkers,
die tweede reël, 20 medeklinkers en die derde reël, 25 medeklinkers in die
Hebreeus. As ons die Naam van die Here se naam weglaat is daar ook presies 12
woorde wat oorbly, wat moontlik gewys het op die 12 stamme van Israel. Dit laat
ons dink aan drie golwe wat eers opbou en telkens groter word en dan spoel oor
die mense om hulle te seën.
In die eerste golf wat opbou hoor ons dat die Here jou (enkelvoud) sal seën en dan breek die golf en ons hoor dat Hy ook sal bewaar (behoed). Israel het in die woestyn die bewaring baie nodig gehad (vgl. Ps. 121). In die tweede groter golf hoor ons dat die golf opbou en dat die Here se aangesig oor jou skyn. Die Here se aangesig word hier beskrywe as lig. Wanneer die lig van sy aangesig oor jou skyn, beteken dit, hoor ons as die golf breek, dat Hy jou genadig is. In die derde en nog groter golf, hoor ons in die opbou dat die Here sy aangesig verhef. Wanneer dit gebeur, en die golf breek, hoor ons dat iemand die Here jou vrede (shalom) gee. Hierdie seënbede word dus omvou deur woorde wat begin met seën en eindig met vrede (omvattende welstand). Die Here voeg hierby iets besonder by. Dit is so wat die priesters die Naam van die Here op die volk sou lê en dat Hyself hulle sou seën (v.27). God se Naam gaan oor wie Hy is. Nou stel die Here dat hulle deur hierdie seënbede sy Naam op die volk sal lê en dat Hyself (beklemtoning) hulle ook sal seën. Dit moes vir Israel in die woestyn ’n besondere bemoediging wees. Dit is steeds ook vir ons ’n bemoediging wanneer die Here deur die ampte in baie gemeentes vandag nog aan die einde van die erediens die gelowiges wat bymekaar gekom het, seën.
Besprekingsvraag: Wat beteken hierdie priesterlike seën vandag nog vir die Kerk van
Christus?
Insig: Die
priesterlike seën val nie uit die lug nie. Dit is in Numeri geleë in die opset
van die kamp van die verbondsvolk waarin God se teenwoordigheid en heerlikheid
en sy versoening en sy priesters sentraal in die kamp staan. Dit is die hoogtepunt van hoofstuk 1-6 en in 'n sekere sin van die hele gedeelte vanaf Ex. 19 - Num. 6. Die seën is ook
baie duidelik in die Here self gevestig. Drie maal word sy Naam genoem en in die lig
van die hele Bybel meen baie gelowige verklaarders dan ook dat dit heenwys na
die Drie-enige God in sy voller openbaring. Die seën is baie duidelik begrond
in wie die Here is en wat Hy aan hulle doen wat met hom in gemeenskap lewe op
grond van sy verbond en sy versoening.
Ons kan vanaf hierdie seëning terugkyk
en vorentoe kyk in die Woord. Die Here roep reeds vir Abraham om hom te seën en
deur sy nageslag ’n seën vir die nasies te wees (Gen. 12:1-3). In Numeri gaan
die seën uit vanaf die Here in die middel van die kamp waar sy heerlikheid op
die tabernakel gerus het. Moses se aangesig het self begin blink in sy
teenwoordigheid en later sou Paulus verkondig dat dit nog meer waar is in die
nuwe verbond in Christus (vgl. Eks. 34:27-35; 2 Kor. 3:7-18). Daarom is dit vir
ons kosbaar om ook in die seën te hoor hoe belangrik die aangesig van die Here
is wat skyn en wat sy aangesig verhef. Dit beteken dat die Here welwillend en
toegespits is op jou en dat Hy as die bron van lig oor jou skyn. Die Psalms,
veral die bedevaartsliedere, het ook baie sinspelings op hierdie seën as ons
raaksien hoe die woorde “seën”, “behoed”, “bewaar”, “aangesig”, “genade” en “vrede”
ook daar gebruik word (vgl. Ps. 67, 120-134). En natuurlik word dit alles
vervul in Jesus Christus, die Lig van die wêreld wat in die duisternis skyn en ook
ons vrede is (Joh. 8:12; Joh. 14:27; Ef. 2:14). En dit alles loop uit op die
stad van lig en heerlikheid waar God vir altyd onder sy volk sal woon (Openb.
21-22).
Dit is opvallend dat die priesterlike
seën begin met seën en eindig met shalom. Die eerste lyn word seën en behoed
aan mekaar verbind (vgl. ook . Vir die Israeliete moes dit besonders getroos
het in die wildernis van die woestyn. God se bewaring van ons ingang en uitgang
is steeds vol troos in ’n woeste wêreld vol gevare Die aangesig van God is
duidelik belangrik in die tweede en derde reëls. Dit was op besondere wyse
belewe by die tempel waar hulle weer die paradys en die tuin van Eden kon
beleef. God se heerlikheid is die oorsprong van lig en dit skyn met welbehae steeds
oor sy kinders. Die aangesig wat verhef word gaan daaroor dat Hy toegespits
aandag gee. Aangesig wat skyn word in verband met genadig wees in besonder
gebring (Ps. 4:1; 6:2; 41:4; 51:1). Hoe wonderlik en heerlik is dit nie. Die
Aangesig wat verhef word mond uit in die omvattende welstand van vrede (shalom).
Hoe volledig is alles dan nie in plek nie. Hier is sprake van seën vir tyd en
ewigheid en dit word gedoen deur die Naam van God op die mense te lê deur
hierdie seën uit te spreek. Dit bevestig God se teenwoordigheid in en deur sy
gegewe woorde en dit is boonop ’n opdrag aan die priesters. So is God se
teenwoordigheid ’n werklikheid in die laer en is dit wonderlike beeld wat heenwys na God se
teenwoordigheid onder sy volk.
Hierdie seën word vandag nog dikwels
gebruik aan die einde van baie Christelike groepe se eredienste. Dit kan ook,
aangesien die gemeente vandag ook die vergaderde verbondsvolk voor God is. Ons
kan hierdie onpeilbare seën steeds toe-eien en indrink en daarmee gaan leef.
Daarom moet ons nie in teenreaksie op die voorspoedsteologie, die fisiese en
geestelike seën wat hierin vervat is, afwys nie. Ons hanteer dit egter in
minder eensydige bane as die voorspoedsteologie terwyl ons wel erken dat daar
steeds fisiese en geestelike verbondseëninge bestaan. Ons mag sy seën nou reeds
smaak en as baie kosbaar toe-eien wanneer ons uit mekaar gaan vanaf die gesamentlike
aanbiddingsgeleentheid. Dit spoor ons aan om rein en toegewyd onder God se seënende
hand te leef, waar jy ook al geroep is.
Dit behoort ook in ons gemeentes te
wys, veral in ’n tyd waarin baie reken dat die Kerk niksseggend en ’n blote oorblyfsel
van gewoontes van die verlede is. As ’n gemeente nie hierdie seën beleef nie,
is die vraag waarom nie. In Numeri 1-6 is dit duidelik dat God se
teenwoordigheid sentraal in die kamp staan en dat die seën vanaf sy teenwoordigheid
en versoening uitgaan. Ons kan nie seën wil hê los van sy teenwoordigheid nie,
en kan ons kan nie sy teenwoordigheid hê sonder sy versoening en reiniging nie.
Wanneer sy teenwoordigheid en versoening wel deeglik sentraal staan, ook in ons
eredienste en ons deeglik deur elke element van lofprysing en skuldbelydenis en
genade-toesegging en toerrusting en gemeenskap met God gewerk het, kan sulke gemeentes
op sy seën reken. Ons kan daarom gelowig-bly onder sy seënende hand leef. Laat
ons dan hierdie seën koester en waardeer.
Werke geraadpleeg:
Michael, L. Morales, Numbers 1-19,
Apollos.
Gordan J. Wenham, Numbers: An
Introduction and Commentary, Tyndale.
Matthew Henry.