2025/02/24

Verlos van gebondenheid en magte

Lees: Jesaja 52:7-12

Gedagte vir kinders: Die goeie nuus oor Jesus is dat Hy die Koning is wat ons red en bewaar.

Oorsig: Die profeet Jesaja het die volk gewaarsku dat hulle in ballingskap sou gaan en ons lees daarvan in die eerste gedeelte van die boek Jesaja in hoofstuk 1-39. Vanaf Hoofstuk 40 begin hy egter ook daarmee saam vertroosting te gee aan hulle wat in ballingskap gegaan het. Die Here sou hulle ook weer uit die ballingskap bevry en daar word onder andere besondere dinge oor Iemand gesê wat die Kneg van die Here genoem word. In hoofstuk 52 praat die profeet baie spesifiek oor die bevryding uit Babel wat sou plaasvind. Hierdie heerlike bevryding het daarmee saam ook gespreek van die grootste bevryding wat sou kom deur Jesus Christus.

In vers 7 roep die profeet uit oor (1) die hoe lieflik die voete is van hom wat die goeie boodskap bring. Hy brei uit en se dat (2) hierdie boodskap vrede laat hoor. Dit is (3) die goeie tyding (letterlik: goeie boodskap van goedheid) wat gebring word en wat (4) verlossing laat hoor. Die wese daarvan gaan daaroor dat aan Sion, die berg in Jerusalem waarop die tempel gebou is, gesê word: Jou God is Koning! Dan roep die profeet op om te let op die wagte (op die mure van Jerusalem). Hy stel dit so: Hoor! Jou wagte! Want die wagte (1) verhef die stem en (2) hulle jubel almal saam. Die rede is dat hulle vlak voor hulle oë sien hoe die HERE terugkeer na Sion (v.8). Dit het waarskynlik in die onmiddellike konteks gedui op die amptelike terugtog met die tempelgereedskap, geborg deur Koning Kores wat later plaasgevind het (vgl. Esra 1:5,7). 

Dan roep die profeet uit dat die vervalle puinhope van Jerusalem moet uitbreek en almal saam moet jubel, aangesien die HERE sy volk getroos en Jerusalem verlos het (v.9). Want die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van die nasies en dat al die eindes van die aarde die verlossing (heil) van onse God sal sien (v.10). Jesaja roep daarna die weggevoerde ballinge op met (1.1) die oproep, “Vertrek, vertrek!”’ In die proses moet hulle (2.1) nie aanraak wat onrein is nie. Hulle word weer opgeroep (1.2): “gaan uit hulle midde uit, en (2.2) reinig julle. Die rede is dat hulle draers is van die heilige voorwerpe van die HERE (v.11). Dit het gewys op die tempelgereedskap wat hulle sou terugbring na Jerusalem. Die profeet sê dan dat hulle nie baie haastig sal weggaan soos vlugtelinge (destyds uit Egipte) nie. Nee, die HERE sal voor hulle uittrek en ook hulle agterhoede wees soos vroeër met die wolkkolom en vuurkolom in die woestyn (v.12).         

Besprekingsvraag: Watte geestelike boodskap het die terugkeer uit die ballingskap steeds?

Insig: Dit is belangrik dat ons die letterlike en oorspronklike konteks goed in die oog kry, aangesien dit ons baie help om geloofwaardig die geestelike betekenis na ons toe deur te trek.  Hierdie gedeelte toon aan ons waar die Ou Testament alreeds van die goeie boodskap en goeie tyding praat wat later toegepas word op die evangelie (Rom. 10:15). 

Die nuus word letterlik genoem die goeie tyding van goedheid en dui op die intense emosie wat hieride goeie tyding veroorsaak. Die onmiddellike betekenis gaan oor Jerusalem vervalle en beleërde stad. En dan kom skielik ’n boodskapper aan en die wagte sien hom van ver af. Dit klink of sy hele liggaamstaal in sy hardloopstyl reeds van goeie nuus spreek. Die wagte sien dit eerste en die oproep is dat almal saam moet jubel oor die goeie nuus. Dit gaan oor die Here wat sy volk getroos en Jerusalem verlos het en bevestig het dat Hy die Koning van almal is voor die oë van al die nasies. Die bewys voor die nasies is Israel wat op Kores se bevel met die tempelgereedskap terugkeer (vgl. Esra 1:5,7). Dit is duidelik vir almal, vir die nasies, dat hier ’n besondere herstel besig is om plaas te vind vir Jerusalem wat eintlik verlate gelê het. Dit word ook vergelyk met die uittog uit Egipte, maar dit word duidelik dat hierdie uittrek nie so haastig sal wees nie, omdat die oorwinning so duidelik en magtig is (vgl. Ex. 12:11,13, 24, 33, 37). Dit beteken ook dat hulle rein en heilig as pelgrims moes lewe en dat die belofte van die seën van die Here deur sy wolkkolom en vuurkolom vroeër, ook nou weer hul beskerming is.

Dit is nie moeilik om die geestelike betekenis hiervan deur te trek nie, veral wanneer ons reeds sedert Jes. 42:18-25 en 48:22-49:13 duidelik leer dat die beeld van ballingskap ook beeldend is van ons gebondenheid en oorheersing deur vreemde magte as gevolg van die sonde. Ons verneem verder ook reeds sedert Jes. 42:1-4 en 42:2-25 dat daar ’n verskil is tussen Israel as kneg van die Here en die Kneg van die Here wat namens die volk sou optree om vir hulle bevryding en vrede aan te bring. In Jes. 53 verneem ons dan ook daardie grootse getuienis oor Jesus Christus wat sou kom vir ons verlossing en vrede. Daarom is dit heel gepas om uit Jesaja 52 ook steeds die geestelike betekenis vandag vir ons te hoor. Die goeie tyding oor Jerusalem wat bevry word deur God se tasbare herstel en sy geheiligde volk wat met geheiligde optog en die tempelgereedskap terugkeer, het steeds vandag ook vir die kinders van God belangrike betekenis.   

Ons kan eerstens let op die lieflike tyding van die boodskappers van die evangelie (vgl. Rom. 10:9-15). Dit gaan nie oor iets wat ons gedoen het nie, maar wat God buitekant ons toedoen vir ons gedoen het. Dit lê in die wese van goeie nuus dat dit iets is wat los van ons en buite ons, dog vir ons gebeur het (extra nos, pro me). Die kern daarvan hier is dat God verlos, troos en dat Hy dit effektief kan doen omdat hy die Koning is en niemand dit ooit weer kan verander nie. Hierdie boodskap dat God Koning is, is net goeie nuus omdat Hy regverdig, maar ook genadige Koning is en die Ou Testament is alreeds vol daarvan dat dit juis hierdie Koning is wat deur sy gesalfde Koning is en heers (vgl. Jes. 40:10-11; Ps. 93:1; 97:1; 99:1). Dit is op besondere wyse vervul in die hemelvaart van Christus. Omdat Hy aan die regterhand van die Vader is, kan ons verwag dat alle vyande aan sy voete onderwerp sal word en dat Hy effektief vir ons intree op grond van die versoening wat Hy gebring het waarvan ons in die volgende hoofstuk lees. Hy is ook ons Koning is wat ons effektief kan bewaar.  

Maar ons moet ook daarop let dat die implikasies destyds steeds op die Kerk van toepassing is. Ons moet eerstens weer die blye nuus hoor wat vir ons sonder ons gedoen is in die goeie tyding van groot blydskap. Jesus Christus se Koms en sy heilsdade het alles vir altyd vir ons verander. Ons word opgeroep om dit weer te  hoor en toe te eien en saam bly wees. Maar ons moet daarom ook in pas kom met mense wat nou op pad is na die nuwe Jerusalem. Dit is duidelik dat diegene wat bly is oor die verlossing dieselfde mense is wat ook gehoor daaraan moet gee om hulself te reinig en hulself te heilig vir die terugtog. Jesus Christus se verlossing beteken beide die regverdiging en heiliging van ons lewens. Die een veronderstel die ander. En die beloftes wat hiermee saamhang is steeds soet vir elkeen wat op pad is na die hemelstad. Dit is dat daar ’n rustigheid by gelowiges kan wees is omdat daar geen effektiewe teenkanting of druk meer van bose magte kan wees wat kan standhou teen die bevryding in Christus nie. Ja, ons mag steeds reken op ’n wolkkolom en vuurkolom wat steeds deel van God se bewaring van sy Kerk is.

Werke geraadpleeg:

Tim Chester, Isaiah for You.

J. Alec Motyer, Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries.

Paul D. Wegner, Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries.

John N Oswalt, NIV Application.

Matthew Henry.