“Ek is 'n ProBoer genoem en, anders as sommige Pro-Boere, was ek baie trots op die titel.” – G.K. Chesterton.
Dit is moontlik al voorheen aangetoon, maar ek kon dit nog nie vind in
internet-Afrikaans nie. Afrikaners kan mekaar daarmee bemoedig dat die Anglo-Boereoorlog
’n besonder rigtinggewende invloed op die Britse
joernalis, G.K. Chesterton (1874-1936), se lewe gehad het. Dit alleen behoort sy
leserstal alreeds by ons te laat styg. Ek het Chesterton voorheen vanuit hoorsê
’n ProBoer genoem, min wetende dat hy dit behoorlik was en dat dit inderdaad
die standaard-uitdrukking in Engeland was om die Britte te beskryf wat teen die
oorlog teen die Boere gekant was.
Volgens oom Ches was daar soms selfs dinees gehou vir ProBoer-gesindes. Dit alles vind ’n mens uit wanneer jy Chesterton se outobiografie lees.[i] Oom Ches se vertelling hieroor is egter vir Afrikaners soveel te meer merkwaardig, aangesien hy die gebeure rondom die besetting van Suid-Afrika verbind aan sy eie ontwaking in identiteit asook ontluiking in die publieke arena van Brittanje. Chesterton verduidelik in sy outobiografie dat hy wel gekwalifiseerde simpatie gehad het met bepaalde doelstellings van die sosialiste en imperialiste, maar dat hy ook ’n bepaalde teësin daarin gehad het:
“’Maar niks van my hart of my verbeelding het met hierdie wye
veralgemenings saamgegaan nie; en iets binne my het altyd onbewus in die
teenoorgestelde rigting gegrawe. Ek het in hierdie vae maar nie heeltemal
ongesonde gemoedstoestand nie, gebly. Daar het ek gehang ... totdat iets in die
uiterlike wêreld gebeur het wat my nie net uit my drome wakker gemaak het soos
'n donderslag nie, maar soos 'n weerlig my aan myself geopenbaar het. In 1895
het die Jameson-inval gekom en 'n jaar of twee daarna die oorlog met die twee
Republieke van Suid-Afrika.”[ii]
Oom Ches vertel dan hoe gretig al die Britte was vir die oorlog, selfs
gretiger as later vir die Eerste Wêreldoorlog. Chesterton was van mening dat die
Eerste Wêreldoorlog baie belangriker en regverdiger was, maar dat dit nie dieselfde
applous ontlok het as die Boereoorlog nie: “Menigtes sou ongetwyfeld teen
Kruger en Kaiser uitroep; maar die Keiser met sy snorre het nooit so 'n gewilde
karikatuur geword soos die President met sy bokbaard nie."[iii]
Oom Ches merk ook later op dat dit maar onthou kan word dat daar politici was
wat vír die Anglo-Boereoorlog was, maar wat later gedurende die oorlog van 1914 beskuldig
is van beskeidenheid of selfs
anti-patriotisme.
Hierdie sentimente van Chesterton is alreeds insiggewend, maar sy vertelling daarna neem sy verbondenheid aan die Boere se saak destyds, na ’n volgende vlak.