Wys tans plasings met die etiket Apartheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Apartheid. Wys alle plasings

2013/07/06

Linkse heksejag

Ek is nie bekend met die hele smeerveldtog teen Paula Deen in die VSA nie, maar ek dink ek kan, saam met my leser, 'n gelykenis herken as ek dit sien. In hierdie bydrae van Rod Dreher, senior redakteur van die American Conservative, haal hy woorde van Walker Percy aan wat jou laat wonder of daar werklik 'n oseaan of twee is wat ons van mekaar skei: "Ek glo ernstig dat die ergste lot wat die stryd teen segregasie kan tref, die oorname daarvan deur die ortodoksie van die linkses sou wees." 
Linkses se heksejag kan dalk wêreldwyd die teendeel by mense begin bewerk. Dit sou nie heeltemal verbaas as die pendulum hieroor iewers in die toekoms heeltemal gaan terugswaai nie. Supermoralisme se reuk het nog nooit groot simpatie gevind nie.

2013/07/05

Mistasting oor gelykheid

Kom ons voltooi die mistasting trilogie met 'n derde aflewering wat ook wyer strek as ekonomie. Dit gaan oor die gebruiksfrekwensie van die woord gelyheid, meer bekend as "equality." Dit gebeur dikwels dat mense die woord in ons land gebruik om apartheid mee te demoniseer. Nou, ek dink nie dit is wys om enige tydperk uit die verlede te verheerlik as sonder sondesmet nie. Maar ek dink ook nie dit is goed om sonder nuansering en definisie die verlede te demoniseer nie. Die woord gelykheid word darem alte breedkwastig gebruik. Ilana Mercer herinner ons in haar onlangse besinning oor die Amerikaners se Independance Day aan iets wat baie meer gedebatteer behoort te word: Gelykheid voor die wet en gelykheid van regte was die oorspronklike bedoeling van die Amerikaners se onafhanklikheidsverklaring. Hulle wou dieselfde regte as die Engelse hê. Maar dit het nie terselfdertyd ook sosiale en ekonomiese gelykheid beteken nie. Dit vind geen ondersteuning in die politieke tradisie wat uit die Declaration of Independance voortgevloei het nie. Daar is wel 'n beweging wat hierdie saak verder wou laat strek, sê Mercer. Dit word die Franse Revolusie genoem. Hierdie onderskeid lyk vir my baie belangrik indien ons sinvoller wil gesels oor die verlede en hede van ons eie land.

2011/07/20

Verantwoordelikheid van spraak

Die onlangse herrie wat losgebars het rondom die Anton van Niekerk sage wat begin het met sy herbevestiging dat ons as wit mense met enorme skuld sit, is ter sake. Tim du Plessis het reeds in sterk taal  en deur beelde van 'n uitskelparade en prekerige vermanings gemaan oor woorde wat die teenoorgestelde uitwerking kan hê. Vuisvoos Afrikaners is meer as vies.

Die filosoof Pieter Duvenhage se woorde reeds in 2003 verduidelik op gesofistikeerde wyse wat Du Plessis in sy straatwys-styl profeties (in hierdie geval) aanhangig gemaak het:

In die tweede plek kan 'n mens in 'n tipe moralisme verval wat 'n kreatief politieke meelewing vanweë 'n oordrewe skuldbewussyn onmoontlik maak. Hier is natuurlik die gevaar van suiwering ... en 'n voorbeeld, in 'n mate, is Antjie Krog se Country of my skull.

Eerstens konteks: Duvenhage praat oor die WVK en wys op drie maniere om op die verlede te reageer - 1. ontken die verlede se foute; 2. beskuldig die verlede; 3. wees krities betrokke vanuit die hede op die verlede en meet dit heeltyd aan verskillende standpunte.

Dit is veral Duvenhage se uiteensetting van die tweede punt wat ek hier wil uitbou: 'n Oordrewe bombardering met skuld bewerk bloot 'n nuwe vorm van moralisme. Dit heet liberaal-demokratiese wettisisme. Soos dit nog altyd met enige vorm van wettisisme die geval was, kan dit nie bevrydend werk nie. Kreatiewe meelewing word heeltemal gesmoor. Mense wat voel dat hulle nie kan asem kry nie, doen vreemde dinge. Diegene wat in die naam van vryheid van spraak liberaal-demokratiese wettisisme wil bedryf, moet kennis neem. Moet net die liberaal-demokrate van die gevare van wettisisme kennis neem? Nee, almal behoort, maar die feit is dat die LD's die dominante narratief het met  - reg of verkeerd - die grootbroer posisie in Suid-Afrika. Vryheid van spraak in belang van hierdie heersende diskoers moet daarom spesiaal op die gevare van 'n tipe wettisisme en 'n oordrewe skuldkompleks attend gemaak word.

Om nou binne so 'n klimaat met betrekking tot die ongelukkige voorval van die Stellenbosch gebeure bloot te fokus op onvolwassenheid, fundamentalisme en die bedreiging van vryheid van spraak, mis die groter prentjie.