Wys tans plasings met die etiket geesteswetenskappe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geesteswetenskappe. Wys alle plasings

2014/05/28

GeKant teen die waarheid

Hier volg enkele dele uit Reardon se reeds genoemde artikel in Afrikaans. Sy verduideliking is kort, maar baie kragtig. Daar lê wêrelde en geskiedenisse opgesluit in sy woorde. En die bepaalde soort Kantiaanse skaduwee wat hy aantoon moet nie misgekyk word nie. Dit is, dink ek, nie moontlik om die benarde posisie van teologie in Suid-Afrika te begryp sonder hierdie insig van Reardon nie. Die betekenis en invloed van Nominalisme en Voluntarisme moet baie duideliker in ons woordeboeke onderstreep wees. Dit help baie om die storie van teologie in Amerika, maar ook Suid-Afrika, te ontrafel:

"Populêre moraliteit in die huidige Amerikaanse kultuur is diep in die skuld by beide die Nominalisme van die Laat Middeleeue en die Voluntarisme van die Verligting. Aangesien ek hierdie skuld as betreurenswaardig beskou, sal dit dalk goed wees om te begin met 'n kort verduideliking van hierdie terme.

Volgens die Nominalisme van die Laat Middeleeue, word ons konsepte geskep deur ons denke. Na aanleiding van hierdie teorie, neem ons inligting, verkry deur ons sintuie, en ons gebruik hierdie data om samehangende vorm te gee aan daardie abstraksies wat as "idees” bekend staan. Dit beteken dan dat "waarheid" 'n skepping is van ons denkprosesse. Ons deel die gemeenskaplike "name" (nomina) van die dinge, maar nie die eintlike waarheid waarna hierdie name verwys nie.

Hierdie teorie van kennis vorm die basis van die Verligting se Voluntarisme. Volgens hierdie morele skool, skep die menslike wil (voluntas) die morele norme, baie soos wat die menslike verstand abstrakte konsepte skep. Morele redenasie is diensbaar aan 'n verbintenis van die wil, en morele norme word bevestig deur die morele keuses. Die morele wet is gebaseer op 'n morele besluit.

Buite hierdie keuse is daar geen morele wet nie, net soos wat daar geen "waarheid" buitekant menslike opvattings daarvan is nie. Die enigste "morele beginsel" is 'n akte van die keuse. Alle etiek is gekose etiek. Daar is geen blywende morele norme wat werklik - in re - "daar buite" is nie. Daar is niks wat "bestaan​​" wat bevele aan die gewete kan dikteer nie."

Reardon eindig sy betoog met die volgende woorde: "Hier is my eenvoudige tese: Die mens se kapasiteit vir morele persepsie is inheems aan sy geskape wese. Of sy persepsie verlig is deur die Evangelie en verhef deur Goddelike genade, of nie, is irrelevant tot die oorsprong daarvan; daar is wette waardeur alle mense gebind is as gevolg van die geskape orde."

2014/05/27

Deutrek van Kantiaanse liberalisme

Soms is dit goed om vanuit ander oorde te hoor wat aangaan. Hier is ’n artikel afkomstig uit die Ortodokse Kerk, van ene Patrick Henry Reardon.  Hy verwys aan die einde na iemand wat deesdae nogal gereeld op die radar verskyn, maar waarvan die meeste onder ons nog net gehoor het: Maximus die Belydende! 

Kom ons stel die vraag na die belang van Maximus vir ’n oomblik ter syde. Hierdie artikel plaas na my mening kort en kragtig die vinger op die pols van twee basiese sake wat onderliggend voortdurend 'n rol speel in ons (modernisties/postmodernistiese) gesprekke: Nominalisme en Voluntarisme. Die briljantheid van die artikel lê myns insiens in Reardon se vermoë om die eenvoud van die twee geite aan die orde te stel. 

En dit gooi natuurlik olie op my vuur in die vermoede dat ons teologie deurtrek is, nie van Oxi-Vite soos in die kostelike advertensie nie, maar van Kantiaanse liberalisme. In 'n volgende aflewering sal ons die masjiengeweer op Afrikaans stel en dele uit die artikel vertaal. 

2013/07/08

Subversiewe revolusie


Douglas Wilson gee hier 'n resensie van Iain Murray se The Undercover Revolution. Ek som sy hoofpunte kortliks op:

1. Diegene wat dit hul missie geag het in die verlede om die skynheiligheid van Christene aan die kaak te stel, was self gewoonlik, soos Wilson dit stel, veertien karaat hipokriete. Ek het al self gewonder oor die vlak van skynheiligheid van menige joernalis/skrywer wat so gloeiend kan skryf oor die val van helde, veral Christene.

2. Moenie die mag van stories/verhale/narratiewe onderskat nie. Ook nie die mag van ongeloof in 'n skrywer wat, hoe langer hoe meer, uiting daaraan sal gee in hul stories nie. Die mag van 'n ongelowige verbeelding met storievlerke is beslis iets om mee rekening te hou in enige kultuur.

3. Ongelowigheid en afvalligheid is net aanvanklik vars. Soos  Wilson dit stel, die eerste drie partytjies van die verlore seun was waarskynlik die aangenaamste. Realiteit het mos 'n manier om terug te skop. Dit dring my om weereens te wys op Danie Goosen se onlangse artikel oor swaargewig vernuwing. Egte vernuwing kan net plaasvind vanuit 'n outentieke tradisie. Dit maak die tyd waarin ons leef so opwindend. Wanneer die muwwe reuk begin toesak op die "bevrydes," sal die lewende geloof van die dooies hulle inhaal om die romanse van ortodoksie in stereo te laat herleef.

2013/07/02

Wetenskap en verbeelding

'n Nuwe lansie ten gunste van die geesteswetenskappe is nodig. Hier is iets wat aantoon waarom BA-briljantjies die wis- en die onwiskundiges se verbeeldings kan rig.