Lees: Mal. 2:17-3:1-7
Gedagte vir kinders: Die Here Jesus het gekom om ons deeglik van
al ons sonde te reinig.
Oorsig: Die profeet Maleagi is die laaste
profeet van wie ons lees in die Ou Testament. Maleagi se woorde bestaan uit ses
strydgesprekke wat hy met die volk voer. Hierdie strydgesprekke gaan oor
tipiese uitsprake wat die volk oor God gemaak het. Dit was in die tyd nadat die
volk teruggekeer het uit die ballingskap na hulle eie land. Dit was moeilike
tye, maar die volk was glad nie onskuldig nie. In hoofstuk 2:17 lees ons van
die vierde strydgesprek. Maleagi wys daarop dat die volk God vermoei met hulle
woorde. As hulle besonderhede vra, antwoord hy dat hulle sê dat die Here nie
die slegte dinge oordeel nie en van kwaaddoeners hou. Hulle vra ook waar die
God van reg is (2:17).
Die profeet se antwoord hierop is dat die Here sy boodskapper voor Hom uit sal stuur wat die pad vir Hom sal voorberei. En dan sou hulle ’n geweldige ding beleef. Die Here na wie hulle soek, sou skielik self na hulle kom. Hy word hier genoem die Engel van die verbond na wie hulle ’n begeerte het. Hulle moes weet dat Hy kom en dat die Here van die leërskare dit self bevestig het (v. 1). Maar hulle moes weet dat die dag van sy koms anders sou wees as wat hulle gedink het. Niemand sal kan standhou as Hy verskyn nie. Twee beelde word gegee om te verduidelik wat die Here sal doen – die beeld van die smelter en van wassers (v.2). Dit beteken dat hulle gesuiwer sal word. Hierdie reiniging sal begin by diegene wat veronderstel is om die reiniging aan Israel te bedien – die seuns van Levi wat die priesters van Israel was. Die Here sal hulle reinig en louter sodat die offers aan die Here reg sal wees (v.3).