2021/12/03

Aangename offers aan God

Lees: Mal. 2:17-3:1-7

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus het gekom om ons deeglik van al ons sonde te reinig.   

Oorsig: Die profeet Maleagi is die laaste profeet van wie ons lees in die Ou Testament. Maleagi se woorde bestaan uit ses strydgesprekke wat hy met die volk voer. Hierdie strydgesprekke gaan oor tipiese uitsprake wat die volk oor God gemaak het. Dit was in die tyd nadat die volk teruggekeer het uit die ballingskap na hulle eie land. Dit was moeilike tye, maar die volk was glad nie onskuldig nie. In hoofstuk 2:17 lees ons van die vierde strydgesprek. Maleagi wys daarop dat die volk God vermoei met hulle woorde. As hulle besonderhede vra, antwoord hy dat hulle sê dat die Here nie die slegte dinge oordeel nie en van kwaaddoeners hou. Hulle vra ook waar die God van reg is (2:17).

Die profeet se antwoord hierop is dat die Here sy boodskapper voor Hom uit sal stuur wat die pad vir Hom sal voorberei. En dan sou hulle ’n geweldige ding beleef. Die Here na wie hulle soek, sou skielik self na hulle kom. Hy word hier genoem die Engel van die verbond na wie hulle ’n begeerte het. Hulle moes weet dat Hy kom en dat die Here van die leërskare dit self bevestig het (v. 1). Maar hulle moes weet dat die dag van sy koms anders sou wees as wat hulle gedink het. Niemand sal kan standhou as Hy verskyn nie. Twee beelde word gegee om te verduidelik wat die Here sal doen – die beeld van die smelter en van wassers (v.2). Dit beteken dat hulle gesuiwer sal word. Hierdie reiniging sal begin by diegene wat veronderstel is om die reiniging aan Israel te bedien – die seuns van Levi wat die priesters van Israel was. Die Here sal hulle reinig en louter sodat die offers aan die Here reg sal wees (v.3).

Die effek hiervan sal wees dat die offers van Juda en Jerusalem vir die Here aangenaam sal wees soos vroeër (v.4). Terselfdertyd sal die Here diegene haastig straf wat hulle nie bekeer nie. Vier soorte sondaars word genoem: Towenaars, egbrekers, meinediges en diegene wat arm mense soos dagloners, weduwees, wees, en vreemdelinge uitbuit sonder om die Here te vrees (v.5). Die Here bevestig dan dat Hy nie verander het, soos wat hulle praatjies dit wou hê nie. Die feit is dat hulle nie verteer is nie, wat sou gebeur het as hulle die oordeel van God gekry het soos wat hulle wou gehad het en gedink het dat hulle self sou daarvan vry sou kom (v.6).  Hy wys hulle dan daarop dat hulle ’n geskiedenis het sedert hulle vaders se tyd en wat hulle volhou, om van die Here se gebooie af te wyk. Hy roep hulle dan op om na Hom terug te keer en dat hulle dan sal beleef dat die Here na hulle wil terugkeer (v.7).

Besprekingsvraag: Waarom word hier in die reiniging en loutering spesifiek op Levi gefokus?

Insig: Wanneer ’n mens van die Here se pad afdwaal het, word jou visie op die hele lewe en op jouself versteur. Dit kom ook uit in jou siening en verstaan van God. Dan maak jy maklik uitsprake oor God wat nie regverdig optree nie en mense nie regsien soos dit hoort nie. Die ergste van alles, jy het nie perspektief op jou eie sonde nie (vgl. 3: 6; Mt.7:3-5). Geen sondaar moet dink ons gaan lig daarvan afkom as Hy konsekwent die sonde oordeel nie. Selfmisleiding is veral kenmerkend van mense wat nie naby die Here leef nie. Jy kan selfs ’n begeerte hê na ’n optrede of koms van die Here en nie besef dat dit ook tot jou eie ondergang sal wees nie. Daarom moet ons nie beïndruk wees met mense wat die Here inroep vir hul regsaak en wat gelyktydig optree asof hulle regverdiger as God is nie. Ons moet eerder ons plek ken en besef dat ons nie al die feite of horlosie oor alles het nie. Ons word hier eerder opgeroep om na die Here terug te keer en ware perspektief oor Hom en in Hom oor die lewe te kry (v.7).

Dit is insiggewend dat wanneer hierdie proses reggestel word deur reiniging en loutering, die seuns van Levi spesifiek genoem word. Die rede is dat hulle die reiniging en bediening van die versoening in Israel behartig het. Reiniging begin by die bron. Juis daarom moes Israel weet dat die Here dit ook eerste by hulle onder die volke sou begin, aangesien hulle veronderstel was om Levis - ’n koninkryk van priesters vir Hom (Ex. 19:6) - onder die nasies te wees. In die Nuwe Testament hoor ons dat Christene nou die koninklike priesterdom is (1 Pt. 2:9). Die seuns van Levi staan dus hier vir die hele Israel en vir alle Christene. Die oordeel en die reiniging begin by die huis van God (1 Pt. 4:17). Maar hoe sou dit gebeur?

Dit het waar geword in die bediening van Johannes die Doper. Hy was die boodskapper wat gestuur is om die volk voor te berei vir die bediening van die Messias en dit het hy ook reguit en getrou gedoen tot sy kop afgekap is (vgl. Lk. 3:1-20). En toe word die woorde van die Here wat na sy tempel kom (3:1), vervul op verstommende wyse. Die Here hét self na sy tempel gekom in Jesus Christus. En toe dra Christus die volle straf van God se kinders. Die ware tempel was eintlik sy eie liggaam wat vir ons gegee is (vgl. Lk. 22:19; Jn. 2:19-22). En ons kry deel aan die ware reiniging van die Here Jesus deur bekering en geloof in sy kruisdood en opstanding. Ons word verder daarin gelei deur sy Gees wat ons in allerhande beproewinge en louteringe leer om die ou mens af te sterf. En eenmaal sal die offer van sy kruisdood ons finaal van alle sonde vrymaak by sy wederkoms. Diegene wat dit afwys moet self instaan en niemand sal so die dag van sy koms kan verda nie. Diesulkes word hier met vier kategoriee beskryf wat dui op aantasting van aanbidding (towenaars), aantasting van die boustene van die samelewing (egbrekers), aantasting van die reg (meinediges) en aantasting van barmhartigheid (uitbuiting van die armes). Sonder Christus kan niemand hiervan vrykom nie en sonder Christus sal niemand in homself of haarself kan standhou wanneer God verskyn nie. Maar in en deur die ofer van Jesus Christus kan ons nou in geregtigheid die offers van ons lewens aan God bring (3:3). Sulke offers is vir God aangenaam.      

Geraadpleegde werke:

John Gill

Jammieson-Fausset-Brown Bible Commentary

Matthew Henry

Keil & Delitzsch

David W Baker, Joel, Obadiah, Malachi (NIV Application)

Ronald Hanko, The Coming of Zion’s Redeeemer: The Prophecies of Haggai, Zechariah and Malachi (Hanko is treffend oor hoe ons in Christus die reiniging leer ken en aan die einde is hierby aangesluit.)