2021/07/12

Watter Weste?

Die literêre denker, Joseph Pearce, skryf gewoonlik meevoerend. Nie te lank gelede nie, het hy in 'n nuusbrief voedsel vir verorbering oor die begrip Weste gegee. Watter Weste? Dit is die tema wat Pearce aan die orde stel. Kategorieë maak saak en Pearce onderskei tussen die ou Weste en dit wat neerkom op die s​o​genaamde nuwe Weste. Laasgenoemde kom neer op post-Verligting. Die ou Weste kom neer op Athene wat vir Jerusalem ontmoet het. Die word ook Christendom genoem. Pearce wys daarop dat hierdie twee visies op die Weste steeds in 'n titaniese stryd gewikkel is. Dit is nie asof nuut bloot vir oud vervang het nie. Hoewel hy dit nie so uitbeeld nie, is dit eerder twyfelagtige water wat vir algemeen ontwyfelbare wyn probeer vervang. Die stryd duur voort en diegene wat oortuig geraak het van die uitgediende aard van die wyn-weergawe, moet weer besin. Dit was nog altyd tipies van dwaalligte om voor te gee dat die permanente dinge nou uitgedien is. En keer op keer het realiteit teruggeskop en voortgalop.

2021/07/07

Gemeenskapsuniversiteite

Ek het by geleentheid 'n toespraak oor die model van gemeenskapsuniversiteite gehad wat later vir Maroela Media verwerk is by hierdie skakel. Die volgorde van die artikels is eintlik, as jy met 'n loopfoon werk, van onder af boontoe. Die goeie gonswoord van ons tyd is gemeenskap. Die herwaardering van gemeenskapsbeveiliging,  gemeenskapsbesighede en selfs gemeenskapskerke is aan die orde van die dag. Dit verteenwoordig die lokalistiese antwoord op die globalisme met sy klem op standaardisering en gelykstelling op die maat van moderne vooroordele. Daarom is dit eintlik voorspelbaar dat ons ook sal herbesin oor die die model van gemeenskapsuniversiteite binne federale omgewings.

Kerke en Godverwysing

In een van my studiegidse het ek die volgende raakgeloop:  

"Ons moet nie die fout maak om die Kerk as bykomstig te sien in die lewe van Christene nie. Mense leef óf selfverwysend óf Godverwysend en die Kerk bied aan ons die konkreet-wonderlike wyse waarop ons Godverwysend en meer nog, in gemeenskap met die Drie-enige God mag leef. Hierdie bediening in die Kerk geskied verder langs die weg van ampte waardeur Christus sy gesag en genade aan mense bedien en ons moet dit alles waardeer as gegee om ons te begelei in ons wandel met God en in die deelhê aan die gemeenskap van die Drie-eenheid." 

Waar dit nie gebeur nie en die kerke leeg word, word die tronke vol, het onse voorouers gesegdegewys gesê. Ons kan dit deftig in ander woorde plooi, maar die insig bly relevant. Dit is dat die samelewing sekulariseer, en allerhande geite verwag kan word om na vore te tree waar God en sy gebod vir mense op die agtergrond staan. Dit bly egter simptome van 'n dieper probleem: Die gebrek aan gemeenskap en wandel met God in en deur Christus en sy liggaam.

2021/07/06

Sondag en metafisika

Die bekende evangeliserende Biskop op sosiale media, Robert Barron, was onlangs in gesprek met die Iranees-Amerikaanse joernalis en opkomende konserwatiewe intellektueel, Sohrab Ahmari. Dit het gehandel oor Ahmari se nuwe publikasie, The Unbroken Thread: Discovering the Wisdom of Tradition in an Age of Chaos. Jared Zimmerer, die Senior Direkteur van die Word on Fire Instituut, het die gesprek gelei.

Daar is by bepaalde temas van Ahmari se boek stilgestaan, maar die tema waaroor dit hier gaan, kan gevind word vanaf die 20ste minuut tot en met ongeveer die 38ste minuut. Dit is die tema  wat Zimmerer beskrywe as 'n kulturele verlies, 'n geestelike verlies, ja selfs 'n metafisiese verlies. Indien iemand nog wonder, dit gaan oor die Sabbat, of die Dag van die Here, of soos hoofstuk drie van Ahmari se publikasie dit stel, "waarom sou God wou hê dat jy 'n dag af moet neem? 

Zimmerer se verband wat hy trek met 'n metafisiese verlies is insiggewend. Dit spruit voort uit Biskop Barron se opmerking net vantevore dat al ons standpunte voortvloei uit ons metafisika, of ons daarvan bewus is of nie. In pronter Afrikaans gestel: Alles vloei voort uit ons visie op die werklikheid, wat ook die werklikheid anderkant ons sintuie insluit. Al ons standpunte spruit met ander woorde voort uit ons wêreldbeskouing, of om dit nog meer deftig uit te druk, uit ons metafisiese aannames. Dit sluit jou beskouing van, benadering tot en deelname aan Sondag in. 

Ahmari verwys na rabbi Abraham Joshua Heschel wat 'n bekende intellektueel uit Pole in die middel van die vorige eeu was. In Pole was die Sabbat volgens Ahmari toe nog gesien as die sentrale hegstuk van die lewe. Heschel het daarop gewys dat dit wat lyk na beperking, inderwaarheid bevryding was. Ja, die Sabbat was die bron van innerlike vryheid. Dit was die wyse waarop die geopolitieke en kommersiële ryk van ruimte verruil is vir die ryksgebied van tyd. Dit was die tydsruimte waar intenser bewuswording van God plaasvind - die God wat nie van enige gebeurlikhede afhanklik is nie, wat ewig is, en waar intieme tyd met Hom spandeer kon word. Dit het daarom ook verder gegaan oor 'n sabbatsvisie waar mense gewaardeer is vir wie hulle is en nie bloot vir wat hulle doen nie. 

Dit is hierdie sabbatsvisie, sê  Ahmari, wat verloor is in die naam van vryheid. Hy staan selfs op die standpunt dat die sogenaamde “blue laws” van Sondagswetgewing herstel moet word. Is dit nie outoritêr nie?  Volgens Ahmari is die antwoord nee en hy wys daarop dat die VSA met sy protestantse DNA maar eers in die laaste drie tot vier geslagte begin het om aan hierdie ou tradisie weg te kalwe en die resultaat daarvan formuleer hy op treffende wyse: Die vryheid van die Sabbat is verruil vir die vryheid van die markte. Ons het dit verloor, se Ahmari en skielik is alles nou oop op Sondag.