2021/07/07

Kerke en Godverwysing

In een van my studiegidse het ek die volgende raakgeloop:  

"Ons moet nie die fout maak om die Kerk as bykomstig te sien in die lewe van Christene nie. Mense leef óf selfverwysend óf Godverwysend en die Kerk bied aan ons die konkreet-wonderlike wyse waarop ons Godverwysend en meer nog, in gemeenskap met die Drie-enige God mag leef. Hierdie bediening in die Kerk geskied verder langs die weg van ampte waardeur Christus sy gesag en genade aan mense bedien en ons moet dit alles waardeer as gegee om ons te begelei in ons wandel met God en in die deelhê aan die gemeenskap van die Drie-eenheid." 

Waar dit nie gebeur nie en die kerke leeg word, word die tronke vol, het onse voorouers gesegdegewys gesê. Ons kan dit deftig in ander woorde plooi, maar die insig bly relevant. Dit is dat die samelewing sekulariseer, en allerhande geite verwag kan word om na vore te tree waar God en sy gebod vir mense op die agtergrond staan. Dit bly egter simptome van 'n dieper probleem: Die gebrek aan gemeenskap en wandel met God in en deur Christus en sy liggaam.

Onlangs wys 'n ds. Gert van der Merwe in sy voorgelese oordenking op Pretoria FM daarop dat ons nie in die eerste plek moet fokus op die hoe van ons optrede teenoor mense nie. Ons moet eerder die geloofsoog op God hou en Hom sien in wie ons die lig sien. So 'n werklikheidsaanskouing behoort dan noodwendig ook 'n sekere manier van optrede aan te vuur, sê ds. Gert. 

Wanneer ons Hom sien, in die geloof sien, raak ons spontaan nederig. En wanneer ons ons plek voor God ken, kan ons ook gepas teenoor ons naaste optree. Die vraag is waar dit begin en die antwoord is nie moeilik nie. Dit behoort dikwels te begin in die erediens. Natuurlik is die veronderstelling hier dat eredienste werklik gerig is op die eer van God. Dáár adem mos die Godverwysende Gees. Sulke eredienste hou ons wakker vir God, verwys ons na Hom, terwyl Christus dan skyn oor ons lewe. Die vraag is nou: Hoe lyk die alternatief van diegene wat stel dat hulle Ja vir Jesus sê, maar Nee vir die Kerk? Vanuit hierdie oorweging behoort ons te antwoord: Hulle gaan sukkel om Godverwysend te bly. En waar selfverwysing op die voorgrond tree, kan ons vewag dat die Jesus wat bely word, al hoe meer na die beeld van die self en die tydsgees sal lyk. Die Christus van die Skrifte laat Hom egter nie oorgee aan ons nukke en grille nie. Wanneer ons dit volhou, word ons eerder oorgegee aan die gees wat ons so graag volg. Daaarom, my broeder en suster, laat ons die onderlinge byeenkomste nie versuim nie, maar laat ons moeite maak om Godverwysend te bly. Ons kompas werk nie op enige ander manier nie.