1. Diegene wat dit hul missie geag het in die verlede om die skynheiligheid van Christene aan die kaak te stel, was self gewoonlik, soos Wilson dit stel, veertien karaat hipokriete. Ek het al self gewonder oor die vlak van skynheiligheid van menige joernalis/skrywer wat so gloeiend kan skryf oor die val van helde, veral Christene.
2. Moenie die mag van stories/verhale/narratiewe onderskat nie. Ook nie die mag van ongeloof in 'n skrywer wat, hoe langer hoe meer, uiting daaraan sal gee in hul stories nie. Die mag van 'n ongelowige verbeelding met storievlerke is beslis iets om mee rekening te hou in enige kultuur.
3. Ongelowigheid en afvalligheid is net aanvanklik vars. Soos Wilson dit stel, die eerste drie partytjies van die verlore seun was waarskynlik die aangenaamste. Realiteit het mos 'n manier om terug te skop. Dit dring my om weereens te wys op Danie Goosen se onlangse artikel oor swaargewig vernuwing. Egte vernuwing kan net plaasvind vanuit 'n outentieke tradisie. Dit maak die tyd waarin ons leef so opwindend. Wanneer die muwwe reuk begin toesak op die "bevrydes," sal die lewende geloof van die dooies hulle inhaal om die romanse van ortodoksie in stereo te laat herleef.