Wys tans plasings met die etiket Luther. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Luther. Wys alle plasings

2021/10/29

Wanneer die aarde waggel

Lees: Psalm 46   

Gedagte vir kinders: Geen skrik op aarde kan Christene skei van God se beskerming nie.  

Oorsig: Hierdie Psalm beskryf die vaste sekerheid wat gelowiges selfs in die grootste benoudhede mag hê wat oor die aarde kom. Die Psalm vertoon drie dele wanneer ons let op die drie selas (vgl. v.4,8,12). Die woord sela gaan oor ’n ruspose vir diep nadenke, sodat dit in jou hart kan insak voordat daar verder beweeg word.    

In die eerste gedeelte (v.1-4) word gefokus op God as toevlug en sterkte. Ons lees eerste van musiekaanduidings. Daar is sprake van ’n musiekleier, die kinders van Korag (vgl. 1 Kron. 9:2,19), sopraanstemme en ’n lied (v.1). Hierdie lied moet dus georganiseer word om reg daaraan te laat geskied. Dit begin met die belydenis oor God as (1) toevlug en (2) sterkte. Hierin is Hy al baie op die proef gestel en nog altyd was die uitslag dieselfde (v.2). Daarom sal gelowiges nie vrees nie, selfs wanneer die skepping self dreig om uit mekaar te val (v.3). Die Psalmis nooi selfs uit dat dit moet gebeur en dan vind ons die eerste sela (v.4)

In die twee gedeelte (v.8-11) word uitgebrei op die effekte van God se teenwoordigheid. Daar is stroompies van ’n rivier wat Jerusalem as stad van God bly maak. Dit verwys na die rustige en lewegewende water, te midde van die onstuimigheid, wat gevind word in die Godstad, met ander woorde daar waar God woon, en wat blydskap bring (v.5). Omdat God daar is, sal dit nie wankel nie en sal sy hulp daar wees as die dag breek (v.6). Die Psalmis wys dan daarop dat nasies al gebruis het en koninkryke gewankel en die aarde gebewe het as God sy stem verhef het. (v.7). Hy bevestig dan dat die Here van die leërskare, ook genoem die God van Jakob, met die gelowiges is, ’n rotsvesting is, en dan volg die tweede sela.

Die derde gedeelte (v.9-12) begin met ’n uitnodiging. Kom aanskou die skrikwekkende dade van die Here (v.9). Hy laat oorloë ophou oor die hele aarde en Hy doen dit deur die oorlogwerktuie tot niet te maak. Hierdie grootse dade lei dan tot ’n oproep om te “laat staan”, dit wil sê op te hou, met sekere gedrag. Hierdie gedrag kan opstand teen God wees, of angstigheid of murmurering. Die Here bevestig hierna dat Hy hoog sal wees onder die nasies  (of heidene) en hoog op die aarde (v.11). Die Psalmis sluit dan af met dieselfde belydenis van vers 8:

2020/05/19

Gebed en Godvergeters

Gebed is een van die mees anti-sekulêre dade wat ons kan pleeg. Dit is die vernaamste deel van ons dankbaarheidslewe en ’n kragtige manier om nie ’n Godvergeter te word nie (vgl. Ps. 50:22,23; HK 45, antwoord 116). Gebed is ’n besondere middel waardeur ons nie net die vyand verslaan nie, maar voor alles intieme gemeenskap met God beoefen.

2020/03/13

Hamann en heerlike hindernisse

Hier volg sommer net 'n paar eerste indrukke, of eerder prikkels, oor Johann Georg Hamann (1730-1788). Hy word wat statuur betref, redelik algemeen as die gelyke van Kant en Hegel geag. Wat hom so besonders maak, is dat hy alreeds as vriend en tydgenoot van Kant op 'n beter alternatief gewys het. Wanneer sovele vandag nou wonder wat ons met onse postmoderne generasie en sy Z.2's moet maak, rys Hamann omhoog as grondliggende aanbieder van 'n alternatiewe post-sekulêre visie. 

Tussen John Betz en Oswald Bayer se sekondêre werke oor Hamann kan 'n Christen reeds oriënterend verlore en verwonderd raak oor hierdie baie spesiale gesant. In die agttienhonderds al kon hy die tipe lewe spreek wat aan die begin van die een-en-twintigste eeu eers meer berekend waardeer kon word vir die klare wyn wat dit is. Ja, 'n mens kan ook maklik ontsteld word dat jy nou eers van hom kennis neem. Maar dalk was jy, was ons, nog net nie gereed nie. Kyk, as iemand die postmoderne era reeds twee eeue vantevore kon antisipeer en meer nog, 'n kragtige antwoord daarop kon ontwikkel, behoort ons die hoede af te haal oor 'n man wat verbygestap het in die geskiedenis. Ons behoort ook vir mekaar te erken as ons hom aangehoor het, dat hy eintlik net kon sê wat hy gesê het as die gees van God in hom gewoon het. 'n Mens kry iets van die gevoel van ontsetting wat aan die hof van Farao en Nebukadnesar moes vaardig wees toe Josef en Daniel drome kon uitlê wat deur die waarheid daarvan reeds seggingskrag gehad het, maar ook deur die toekoms as bokant die tye geëer sou word. Praat die uwe nou in hiperbool net om aandag te trek? Laat die leser maar lees en dan self besluit, maar so van lees gepraat, kom ons begin deur sommer net vanuit Bayer se eerste bladsye te wys op hoe Hamann sy lesers uitgedaag en aangevuur het. 

Hamman skryf welbewus moeilik. Hy rig deurdag hindernisse op vir sy lesers, sê Bayer. Waarom?

2019/03/07

Weggee-tekens van regverdiging

Die waarde van die groot ou geeste is dat hulle altyd nuwe toepassings vind. Dit is ook die geval met die bekende, dog onderwaardeerde lering van oom Luther. Die regverdiging deur die geloof in Christus word maklik abstrak herhaal, maar dit vind nuwe, lewende toepassings in 'n era van ongekende selfregverdiging. En waar sien ons dit deesdae uitspoel? Natuurlik nêrens anders nie as op die nimlike "fake books en flash books" van die lewe. Want sien, so dui meer as een teoloog aan, dit is daar waar mense deesdae dikwels regverdiging soek. Dit gebeur veral wanneer die regverdiging voor God, vertikaal, vergete raak. Die ignorering daarvan keer egter met weerwraak terug. Nou word die volle gewig op horisontale verhoudings, dikwels virtueel, geplaas om daardie regverdiging te bied waarna ons as mense nou eenmaal dors. Die "hou van" op vuisboek en fris-lyk-boek beteken dan oneindig baie, want sien, so word ek nou geregverdig deur ander. 

Die omgekeerde is ook waar. Op min ander plekke kan die val van held tot hel so vinnig registreer. En om "lady" Gagga in haar onlangse oomblik van waarheid aan te haal: sosiale media kan maklik die toilet van die internet wees.