Lees: Ex. 15:1-21
Gedagte vir kinders: Sing uit jou hart uit tot die Here omdat Hy ons
waarlik gevry gemaak het.
Oorsig: In Exodus 14 lees ons die merkwaardige
geskiedenis van Israel se deurtog deur die Rooisee en hoe die Egiptenare voor
hul oë oorwin is toe hulle in die see verdrink het. In Ex. 15 se begin lees ons
hoe hulle wat in doodsangs was, maar verlos is, toe daaroor feesgevier het. Eers
moes hulle stil wees omdat die Here vir hulle gestry het. Daarna kon hulle nie
meer stilbly nie en Moses en Israel het uit hulle harte vir die HERE gesing. Dit
begin met die lus om ’n lied tot eer van die Here te sing, omdat hy so hoog
verhewe is en omdat hy die Egiptenare se perd met sy ruiter in die see gegooi
het (v.1). Daarna word eers gefokus op wat die HERE vir hulle, is – hulle krag
en hulle Psalm. dat Hy hulle persoonlike God is in wie hulle sal roem en wat
hulle sal verhef. As die een met mag word Hy ’n Krygsman genoem en bevestig dat
sy Naam HERE is (v.2-3).
Die lied gaan dan aan om te vertel
hoe Farao se beste leer en wapentuig, sy leërmag en strydwaens, in die see
gewerp is, ja soos ’n klip gesink het (v.4-5).
Dan word daar direk tot die HERE gesing. Sy (u) regterhand is verheerlik
deur verplettering van die vyand. Hy (U) het ook in sy hoogheid hulle
verpletter wat teen Hom opstaan. Hy (u) verteer in sy toorn die vyand soos ’n
stoppel. Daar word dan beeldryk bely dat die waters opgestapel en soos ’n wal
bly staan het deur die geblaas van sy (u) neus en dat die watervloed styf
geword het in die hart van die see (v.6-8). Dan word vertel wat die vyand se
voorneme was wat by hulself gereken het dat hulle sal agtervolg, inhaal , buit
verdeel en hulle begeerte sal versadig en die swaard uittrek en uitroei. Maar
dan vertel hulle wat die Here daarenteen gedoen het. Hy (u) het met sy asem
geblaas en die see het hulle oordek en hulle het soos lood gesink (v.9-10). Dan
word die verwondering weer voor die Here uitgespreek dat niemand soos Hy is onder
die gode nie (O, Here wie is soos U?), in heiligheid, in roemryk dade en
wonders.
Dit word dan herhaal dat hy sy hand
uitgestrek het, en die volk verlos en na sy heilige woning, let wel, gevoer het
(v.11-13). En so word daar na die toekoms beweeg. Die effekte word nou beskrywe
wanneer vorentoe gekyk word. Die volke het gehoor en gesidder (let op verlede
tyd), soos Filistea en Edom en Moab en die inwoners van Kanaän. Verskrikking het
op hulle geval en hulle was stom terwyl God se volk deurtrek. Dan word daarvan
gesing dat hy hulle ook inbring en plant in hulle bergland-erfenis as vaste
woonplek en heiligdom (v.14-17). Daar word oorbeleef na die belydenis dat die
Here vir altyd en altyd sal regeer, omdat Hy Farao se leer in die see laat
verdrink het, maar dat Israel op droë grond deurgetrek het (v.18-19). Ons hoor
dan dat Mirjam, die suster van Aaron, ’n profetes was en dat sy ’n tamboeryn in
haar hand geneem het en dat al die vroue agter haar uitgegaan het, let wel, met
tamboeryn en koordanse. Mirjam het al singende geantwoord het soos die lied
begin: “Sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met
sy ruiter in die see gewerp.” (v. 20-21).
Besprekingsvraag: Wat beteken dit vir ons lysies en kategorieë dat die Here onvergelyklik
is?
Insig: By die eerste oogopslag mag iemand dalk vra wat hierdie lied met ons te doen het. Ons leef mos in heeltemal ander tye, sê baie vandag. Op. 15:3-4 gee ons ’n belangrik wenk: Eenmaal sal daar in die groot bevrydingslied van God se kinders deur die bloed van die Lam, aangesluit sal word by Moses se lied. Dit leer ons iets baie belangrik oor die eenheid van die Skrif en die gesag van die Skrif. De Woord bevat werklike gebeure met tipes en patrone wat heenwys na die toekoms. Daarom het moet die Woord ook tipologies gelees word sodat die verbande tussen hierdie lied en ons lied van bevryding duidelik kan wees. So help dit ons om ook die patrone ook vir ons eie tyd te onderskei (pattern recognition).