Wys tans plasings met die etiket Miga. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Miga. Wys alle plasings

2024/10/25

Vanaf Betlehem vir die wêreld

Lees: Miga 5:1-6

Gedagte vir kinders: Die HERE het vanuit Betlehem Jesus Christus vir die wêreld gegee.

Oorsig: Die profeet Miga tree op in dieselfde tyd as Jesaja (vgl. Jes. 2 en Miga 4). Soos Jesaja kondig Miga ook die oordeel oor Israel en hulle leiers aan (Miga 3), maar ons hoor ook hier dat alles nie vir altyd verlore is nie. Vanuit Betlehem Éfrata, daardie klein dorpie in Juda wat aanvanklik nie eens genoem is in Joshua se tyd onder die dorpe van Juda nie (vgl. Jos.15:20-63), sal daar vir die Here iemand uitgaan. Hy sal ’n Heerser wees. Nou moet ons onthou dat Betlehem die plek was waar Boas, en Isai en Dawid gebly het (Gen. Rut 4:11; 1 Sam. 16:1). Daarvandaan het die Here Dawid as koning oor Israel geroep. Nou sê die profeet dat daar weer iemand uit hierdie geslag van Dawid aan wie die belofte gemaak is dat sy troon vir ewig sal staan, sal kom om redding te bring. Miga sê ook dat hierdie Heerser se “uitgange” (let wel, nie blote begin nie. Vgl. die geloofsbelydenis van Nicea) uit die voortyd is, en as hy dit verder verduidelik, uit die ewigheid (v.1). Dit kan uiteindelik net op een Iemand dui: Jesus Christus. In hulle tyd het hulle dit moontlik verstaan as dat die verbond met Dawid al van Abraham af kom en dalk gedink dat dit toe op Hiskia dui. Maar uiteindelik kon dit net vervul word in Jesus Christus.

Die Here verduidelik dan dat hy die volk sal oorgee (prysgee) aan heidene totdat ’n vrou geboorte geskenk het (barende gebaar het; vgl. Jes. 7:14; 9:1-7). Nadat hierdie gesalfde gebore is, sal daar weer ’n terugkeer wees in die hele Israel en hulle een word (v. 2). Hierdie gesalfde sal optree (staan) en hulle laat wei in die krag (sterkte) van die HERE. Dit sal wees in die Naam van die majesteit van die HERE. Die gevolg is dat hulle rustig sal woon, aangesien hierdie gesalfde groot sal wees tot aan die eindes van die aarde (v.3). Hierdie gesalfde sal nie net vrede bring nie, maar vrede wees. En daarom, wanneer die vyand, Assur, in die land kom en die paleise wil inval, sal die volk teenoor hom sewe leiers (herders), ja agt koninklikes (vorste) aanstel (v.4) - volmaakte getalle van geroepenes wat genoeg en effektief sal stry.

Die volk sal dan die wrede vyand, Assur, met die swaard afwei. Dit is die land van die geweldenaar Nimrod (Gen. 10:8), se ingang wat ingeneem sal word. Hierdie gesalfde sal die volk bevry van Assur wanneer hy in die land kom (v.5). Die gevolg sal wees dat die oorblyfsel van die volk van die HERE onder baie volke sal wees soos die dou van die HERE. Ja, hulle sal wees soos reënbuie op die plante wat op geen mens wag of vertoef nie (v.6).   

Besprekingsvraag: Wat behoort ons vandag te doen as ons soos Hiskia bedreiginge beleef?

Insig: Wanneer ons die woord as ’n eenheid lees, soos wat ons vaders en moeders dit gedoen het, is ons verstaan van die Bybel soveel ryker. Dan kan ons die lyne begin trek tussen die beloftes aan Dawid, die herder-koning, en die Messias wat uiteindelik uit sy nageslag gebore is (vgl. 2 Sam. 7:1-16; Lk. 1:52; Ps. 2; Jes. 11). Wanneer ons dus hier hoor van weiding en daarmee van die herder-koning (2 Sam. 5:2), heerskappy tot aan die eindes van die aarde en vrede (v.3-4), weet ons dat dit gaan oor beloftes aan Dawid wat uiteindelik in Jesus Christus vervul is. Die Here beskik dit dan ook so dat die Here Jesus se moeder uiteindelik onopsigtelik vanaf Nasaret kom om in Betlehem, letterlik die stad van brood, gebore te word, net soos koning Dawid. Betlehem was werklik klein onder die geslagte van Juda, nie eens genoem in Josua se tyd nie (Jos. 15:20-63). En tog, God gee waarde en daarom mag elke geringe, dorpie of instelling of mens, weet dat hulle waarde deur verbondenheid aan Jesus Christus eindeloos groot is. Hy maak van elke niemand ’n iemand voor God. Dit is ook die onvergelyklike heerlike bediening van die Kerk.

2023/01/27

Hofsitting met afvalliges

Lees: Miga 6:1-8

Gedagte vir kinders: Die HERE is altyd goed en geduldig, maar ook reguit met sy kinders.

Oorsig: Die profeet Miga tree op in dieselfde tyd as Jesaja. In hoofstuk 6 lees ons van ’n soort hofsitting waar die profeet die volk aankla en antwoorde vra en gee omdat God met hulle ’n verbond gesluit het. Vandag kan ons dit steeds hoor as profetiese woorde teenoor mense wat in ’n verbond met God staan omdat hulle gedoop is. Ons hoor eerstens dat selfs die skepping, die berge en die heuwels, as getuies opgeroep word. Ons hoor ook dat God twis (’n dispuut verklaar) met die volk en hulle wetlik aankla (regsgeding hou) in ’n tipe hofsituasie (v.1-2).

 Tog noem God hierdie sondige volk steeds “my volk” en Hy vra hulle dringend (“Antwoord My!”) wat Hy hulle verkeerd aangedoen het en waarmee Hy hulle moeg gemaak het (v.3). Hy noem vier dinge uit hulle geskiedenis om te wys dat Hy net goed was vir hulle. Hy het (1) hulle losgekoop uit die slawehuis van Egipte. Hy het (2) vir hulle leiers gegee in Moses en Aaron en Mirjam (v.4). Hy herinner hulle verder (3) hoe Hy Balak se plan om Israel  deur Bileam te vervloek, omgekeer het (Num. 22-24). Hy herinner hulle ook (4) aan die Here se sorg vanaf Sittim (laaste plek buite Kanaän waar hulle gesondig het – Num.25) tot by Gilgal (eerste plek oorkant die Jordaan binne Kanaän – Josua 5) wat God se regverdige dade illustreer (v.5).

Die profeet gaan dan aan om Israel se moontlike reaksie op God se aanklag te gee en daarmee ook duidelik te maak wat dit is wat God van hulle verwag. Eers word gevra of brandoffers en jaaroud kalwers die manier is om God te ontmoet. In die volgende rondte word dit in die oortreffende trap gevra of die Here besonder baie sal hou van (welbehae) in duisende ramme en tienduisende strome van olie. Dan word dit nog meer ekstreem gestel en gevra of die eersgeborene gegee moet word as offer vir die eie sonde of soos onder heidene geredeneer is – “die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel” (v.6-7). En dan gee die profeet die Bybelse eenvoud oor hoe God genader behoort te word. Hy wys eerstens dat God dit tog duidelik bekend gemaak het. Dit kom daarop neer dat die Here van elke mens verwag om (1) reg te doen, (2) God se goedertierenheid lief te hê (te ken en uit te leef), en (3) nederig voor jou God te leef. Dit beteken dat ons sal besef wie Hy is, wie ons is, hoe nodig ons Hom het in elke situasie, en dit ook uitleef voor en met ander (horisontaal en vertikaal - v.8).

Besprekingsvraag: Waarom is heidene geneig tot ydele herhaling van gebede en offers?

Insig: Die HERE spreek in hierdie hofgeding deur sy profeet reeds eeue voor Christus vandag steeds met ons wat in die tyd van die nuwe verbond in Christus leef. Afgedwaalde verbondskinders word dringend twee basiese vrae gevra: “My volk, my kind, (1) wat het Ek, die HERE aan jou gedoen, (2) waarmee het Ek jou vermoei?" En dan die arresterende opvolg: "Antwoord my!”