Wys tans plasings met die etiket filosofie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket filosofie. Wys alle plasings

2024/01/31

Hoe om dwaasheid te beantwoord

In Spreuke 26:4-5 lees ons die bekende en skynbaar teenstrydige woorde:

“Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie. 

Antwoord ‘n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.” 

’n Algemeen bekende verklaring hiervan is dat omstandighede bepaal watter vers van toepassing is. En dat ons wysheid nodig het, onder leiding van God se Gees, om te bepaal wanneer ons met watter soort optrede teenoor goddelose en moedswillige mense moet optree. Soms moet jy terugpraat en soms nie. Daar is nie net een regte antwoord nie. Daarom, as iemand wysheid nodig het, laat hom dit van God bid, en dit sal aan hom gegee word (Jak. 1:5).

Hierdie antwoord kan ons egter maklik laat voel of ons steeds in die lug hang. En tog dryf hierdie antwoord ons reeds uit tot gebed, wat alreeds ’n goeie ding is. Maar ons kan darem ook meer hieroor sê en ou bekende en betroubare verklaarders soos John Gill en Matthew Henry het darem ook lankal meer hieroor gesê. Byvoorbeeld: As iemand grootpraat en raas en heftig is, moenie ook so optree nie. Moenie ook roem en raas en rumoer nie. As iemand leuens vertel of dreig of swartsmeer, moet ook nie op dieselfde wyse optree nie, want dan word jy net soos die dwaas. Aan die ander kant, as jy reken daar is darem nog hoop vir die domastrantheid, of as jy verdere dwaasheid wil verhoed, of as jy ter wille van ander nie kan stilbly oor die dwaasheid nie, of as die dwaas net wys sal wees sin sy eie oë, antwoord hom dan in so ’n geval na sy sotheid. Soms is dit in meerdere belang dat jy nie mag stilbly nie. Hierdie toepassings help ons om die saak van die twee verse in Spreuke al baie meer konkreet en toepaslik aan te pak.

Daar is ook ander verklaring wat hierby aansluit. Eerstens: Antwoord ’n dwaas nie volgens die sotheid van sy egoïstiese of narsistiese of afgodiese verstaansraamwerk nie, anders word jy self ook so selfie-georiënteerd of behep met jou nietige gode wat af is. Aan die ander kant, antwoord die dwaas na sy sotheid om te wys wat die konsekwensies is van dwase denke. 

2014/05/22

Oor ballingskap en Barth

Matthew Rose is 'n direkteur by die Berkeley Institute. Hy ken vir Karl Barth - nie van hoorsê nie, maar van grondig lees. Hy kan waarderend lees en weet ook presies waar hy punte wil gee: Barth se bydrae op die gebied van die Christologie en die Drie-eenheid. Hy het ook respek vir sy nougesette weergawe van die Protestantse skolastiek en vir die kwaliteit en nugterheid van Barth-geleerdes. Laat ons altyd toejuig wat toejuiging waardig is. Ek ken inderdaad meer as een persoon wat kan getuig dat Barth se woorde hul tot aanbidding voor die lewende God gebring het. 

Maar Rose is steeds van mening dat Barth ons nie uit die ballingskap van die modernisme uitgelei het nie. Die hoofoorsaak hiervoor vind Rose in die feit dat Barth nie die Christelike metafisika en in besonder die klassieke teïsme en gesofistikeerde uiteensettings van natuur teologie geëer het nie. Die gevolg was 'n metafisiese sloping wat beide die rede en die moraliteit van menswees in gedrang gebring het. 

Rose se skalpel sny diep. Hy is van mening dat Barth ons net so min kan help as wat die teologiese liberalisme ons sal kan help. As ons in ons land kyk na die gevolge van die verskuiwing vanaf Kuyper na Barth - iets wat die NG teoloë gretig en graag erken en selfs bely, lyk dit definitief dat Rose meer as 'n Katolieke kwaker is. Trou aan sy Rooms Katolieke tradisie, reken hy dat Pous Johannes Paulus baie beter rigting bied in sy uitspraak in Fides et Ratio. Daarin stel die voormalige Pous dat ons "krisis van betekenis" voortspruit uit die versuim om te erken dat  die rede die vermoë het om "die uiteindelike en oorkoepelende betekenis van die lewe" te ken en te verdedig. Wat ons ook al anders oor die Pous wil sê, hierin het die voormalige vegter teen kommunisme beslis iets beet. Ons sou dit miskien anders nuanseer en die sondeval sterker wou inbring, maar die Pous was beslis nie postmodern nie.

2012/08/16

Denke van dankbaarheid

Net so 'n voorloop ietsie om die aptyt aan te wakker. Dr. Peter Leithart bied hierdie termyn 'n vak genoem "Gift and Gratitude" aan by die instelling waar ek klasloop. Dit maak deel uit van 'n boek wat DV volgende jaar gaan verskyn. Dink Seneca, dink Mauss en postmoderne filosowe soos Derrida se gissings wat uiteindelik aan die lewende Woord gemeet word. Leithart stel dat die basiese probleem met Descartes se cogito ergo sum (ek dink, daarom is ek) aanval was die hele basis waarvandaan dit lanseer is - twyfel in plaas van dankbaarheid. 'n Filosofie wat lanseer vanuit gawe en dankbaarheid, sê Leithart, sal heeltemal anders lyk. Dit het uiteindelik gevolge in elke uithoek, selfs in ekonomie en politieke filosofie. 'n Mens wonder byvoorbeeld of Heidegger iets, let wel, nie alles nie, beethad toe hy gestel het: denken ist danken. Sekere dramas van Shakespeare (bv. King Lear) toon trekke dat hy Seneca gelees het en wys hoe spanning ontketen wanneer gawe en opgawe nie in gepaste interaksie dans nie. Gehoek? Ja, hoe kan dit anders as ons die eggo's van genade in hierdie mymeringe hoor. Genade-denke behoort mos te resoneer met dankbaarheid en nie met dankbarheid nie. Ek hoop om van tyd tot tyd 'n paar klasnotas hier te deel.