Gedagte
vir kinders: Ons hemelse Vader verhoor ons gebede op die beste manier.
Oorsig: Die Here Jesus
was op pad na Jerusalem om die offer vir ons sonde te bring. Hy het hulle toe
geleer wat dit beteken om sy dissipels te wees. Op ’n stadium was Hy besig om
te bid en een van sy dissipels het, nadat Hy opgehou het, Hom gevra om om hulle
te leer om te bid soos wat Johannes die Doper ook sy dissipels geleer het (v.1).
Die Here Jesus het hulle toe die Onse Vader geleer en hier lees ons van Lukas
se weergawe. Die feit dat dit hier en daar verskil met die weergawe van Mattheus,
wys vir ons dat dit nie gaan om telkens die presiese woorde te herhaal nie. Ons
kan onsself eerder voorstel dat die Here Jesus by verskillende geleenthede
hieroor geleer het en dat Hy sy lering sou aanpas by elke omstandigheid. Tog
kom die wese van wat Hy geleer het baie ooreen met wat ons in Mat. 6 daaroor
leer.
Ons leer ook
hier van die geweldige voorreg dat ons God as ons Vader mag aanspreek, en dat ons moet onthou dat Hy in
die hemel is. En dit gaan eerstens om sy Naam, sy koninkryk en sy wil (v.2).
Eers daarna kom ons behoeftes ter sprake, maar ons mag ook die Vader daarom vra.
Ons vra vir ons daaglikse fisiese behoeftes (ons brood) en ons geestelike
behoeftes (vergifnis en beskerming teen die Bose). Ons moet egter onthou dat
ons moet bereid moet wees om te vergewe as ons God se vergifnis verlang en dit
voor Hom erken dat dit ons gesindheid is (v.3-4).
Daarna het die Here Jesus vir hulle ’n gelykenis vertel om te verduidelik dat ons vir God mag vra sonder om skaam daaroor te wees.