2023/02/27

Die fondasie van ware vreugde

Lees: Ps. 32

Gedagte vir kinders: Kinders van die Here is gelukkig omdat God hulle vergewe het.

Oorsig: Hierdie Psalm van Dawid word ’n onderwysing genoem (vgl. Ps. 42, 45). Ons hoor hier wat die diepste rede is vir ’n mens wat welgeluksalig is. Dit is een wie se oortreding teen God vergewe is. Die Psalmis verduidelik dan verder dat dit gaan oor iemand wie se sonde bedek is (v.1). Net daarna word dit verder verduidelik met ’n ander woord vir sonde en oortreding en dit is ongeregtigheid. Dit gaan oor iemand aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie. Hier word ook bygevoeg dat dit iemand is in wie se gees geen bedrog is nie (v.2). Omdat dit hier oor vergifnis gaan, beteken “geen bedrog” hier in die eerste plek iemand wat geen sonde probeer toehou nie, maar dit eerlik na God se lig bring sodat Hy dit kan vergewe.

2023/02/20

Om te lag vir sameswerings

Lees: Psalm. 2

Gedagte vir kinders: Die Here lag en spot met mense wat teen Jesus Christus planne maak.

Oorsig: Psalm 2 vorm saam met Psalm 1 ’n inleiding/toegang tot die Psalms. Psalm 1 begin met die woord “welgeluksalig” en Psalm 2 eindig met die dieselfde woord. Psalm 1 praat oor een mens, maar Psalms 2 brei dit uit en praat met al die nasies. Psalm 1 praat oor die mens wat God se woord “oordink”, en Psalm 2 gebruik dieselfde woord vir mense wat teen God saam planne “bedink”. Ons kan Psalm 2 basies in vier dele van drie verse elk verdeel. Die eerste deel (v.1-3) beskrywe die opstand van die nasies en hulle konings en regters. Die vraag word gevra waarom die volke en nasies so woel en nietige dinge bedink. Dit word dan verder beskrywe as dat hulle konings en vorste saam planne maak teen die Here en sy gesalfde Koning. In Israel het die gesalfde (Messias) gedui op die koning uit die nageslag van Dawid, maar het ook heengewys na die groot Koning wat uiteindelik uit Dawid se nageslag gebore sou word. Die nasies wou die HERE en sy gesalfde se bande en toue stukkend ruk en afgooi.

2023/02/17

Opregtes wat wandel in Woord-dinamika

Lees: Ps. 119:1-8

Gedagte vir kinders: Dit is wonderlik om deur God se Woord gevoed en gelei te word

Oorsig: Ps. 119 gaan oor iemand wat liries is oor God se wet (torah - onderrigting) en daaroor in gesprek is met die Gewer daarvan. Dit is gerangskik aan die hand van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet en elke letter van die alfabet het dan agt verse wat met daardie letter in die Hebreeus begin om te praat met God oor sy wet. Dit gaan dus in ons taal oor die A tot Z van God se wet, in gebed. Deur die eeue het mense dikwels gemaak asof God se wet net veroordelend is en dat daar min vreugde te vind is in die God van die Ou Testament en in sy wet. Soos die boek Hooglied, maak ook Psalm 119 dit duidelik dat dit ’n totaal verkeerde siening is. Hier is belydenis, maar ook verlustiging in die oortreffende trap oor God se wet. Want torah gaan eintlik oor God se omvattende onderrigting aan Israel.

2023/02/03

Twee soorte godsdiens

Lees: Jes. 58:1-14

Gedagte vir kinders: Daar is ’n groot verskil tussen ware en valse godsdiens.

Oorsig: Jesaja vertel dat die Here hom geroep het om hard, uit die keel uit (volle bors- NAB), te roep en niks terug te hou nie. Hy moes sy stem soos ’n basuin (ramshoring) verhef en dit behoorlik laat hoor. Hy moes aan God se volk hulle oortredings en sonde verkondig (v.1). Hulle was wel vol van godsdienstige dade. Hulle het skynbaar (1) die Here elke dag gesoek, (2) graag kennis van sy wil opgedoen, net soos (3) ’n nasie wat geregtigheid doen (4) en die reg van God nie verlaat het nie, en (5) wat vra na sy verordeninge. Ja, hulle het (6) graag genader tot God (v.2). En tog het hulle beleef dat die Here hulle nie raaksien nie, en dit terwyl hulle gevas het en bekommerd was. Die probleem was hulle motiewe en dade. Hulle het in hulle vas geleentheid gesoek om sake te doen, arbeiders vermoei, getwis en selfs met die vuiste geslaan. Hulle vas was nie bedoel om hulle stem in die hoogte te laat hoor nie (v.3-4).