Wys tans plasings met die etiket Jona. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jona. Wys alle plasings

2024/01/19

Die manne van Nineve en ons

Lees: Jona 3:1-10

Gedagte vir kinders: God is genadig teenoor slegte sondaars wat nederig tot Hom nader.

Oorsig: Jona was die eerste keer ongehoorsaam aan God se opdrag om na die heidenstad en omstreke van Nineve toe te gaan (vgl. vgl. Gen. 10:8-12). Hy het weggevlug op ’n skip na Tarsus en op die skip het ’n hewige storm van God hulle amper laat omkom, totdat Jona erken het dat hy van God wegvlug. Uiteindelik het hulle hom oorboord gegooi en die storm het bedaar. Toe het heiden-matrose die Here aanbid. Jona is egter deur ’n groot vis van die HERE ingesluk waar hy ernstig gebid het. Drie dae later het die vis hom op droë land uitgespoeg. Ons gelese hoofstuk begin waar die woord vir die tweede maal tot Jona gekom het (v.1).

Die HERE het Jona weer beveel om na die groot stad(staat) van Nineve toe te gaan en te verkondig wat die HERE hom beveel (v.2). Jona het toe gereedgemaak en op God se bevel gegaan na die ontsaglike groot stad (letterlik groot voor God). Dit het drie dagreise per voet geneem om daardeur te loop (v.3). Jona het een dagreis ver in die stad ingegaan en begin preek en gesê: Nog veertig dae, dan word Nineve verwoes (v.4. Die getal veertig is dikwels in die Woord ’n getal van toetsing en beproewing). Die mense van die wrede stad, Nineve, het verbasend genoeg God se boodskap deur sy profeet geglo en ’n vasdag uitgeroep. Groot en klein het dit ook bewys deur ’n rougewaad aan te trek wat daarop dui dat hulle nie maar net wou aangaan met hul gewone lewe nie (v.5).

Hierdie berig het ook die koning/goewerneur van Nineve bereik. Selfs hy het opgestaan van sy troon af as teken van respek en boonop sy koninklike mantel afgehaal en klere van rou aangetrek en as koning selfs in die as gaan sit as teken van sy bedelaarskap. Hy het ook ’n bevel laat uitroep en gesê: Op las van die koning saam met die groot manne (edeles: “nobles”): Geen mens of dier, beeste of kleinvee mag aan iets proe nie. Dit het beteken dat selfs die diere saam met die mense nie mag eet soos gewoonlik of water drink nie. Mens en dier moes ’n rougewaad om hê as bewys dat hulle alle normale versiering eenkant laat. Hulle moes ook ernstig tot God roep, saam met hulle liggaam wat uitroep vir voeding. Daarmee saam moes elkeen hulle van hul verkeerde weg en onreg bekeer wat deel van hul lewe geword het (v.6-8). Die koning se hoop was dat God hulle dalk sou jammer kry en hulle nie in sy toorn laat vergaan nie. God het ook inderdaad hulle werke van bekering gesien en Hom omgekeer (berou gehad) van dit wat Hy sou doen oor hul sonde en dit nie gedoen nie (v.9-10).

Besprekingsvraag: Wat is die tekens van ware verootmoediging in iemand se lewe?

Oorsig: God se oordeel is ’n werklikheid oor sonde en daarom is verootmoediging en bekering onder mensekinders nie ’n opsie nie. Nineve, later hoofstad van Assirië wat Israel sou wegvoer, was bekend vir hul wreedheid. Hulle was boonop deel van die Assiriese imperiale projek om deur vrees, wreedheid en onreg te onderdruk, te verower en te heers. ’n Honderd jaar later het die Here hulle deur die profeet Nahum finaal daaroor veroordeel (vgl. Nahum). Maar hier het hulle nog geleentheid vir omkeer gehad en hulle het die geleentheid van die proeftyd van 40 dae aangegryp.