Gedagte vir kinders: God is genadig teenoor slegte sondaars wat nederig tot Hom nader.
Oorsig: Jona
was die eerste keer ongehoorsaam aan God se opdrag om na die heidenstad en
omstreke van Nineve toe te gaan (vgl. vgl. Gen. 10:8-12). Hy het weggevlug op
’n skip na Tarsus en op die skip het ’n hewige storm van God hulle amper laat
omkom, totdat Jona erken het dat hy van God wegvlug. Uiteindelik het hulle hom
oorboord gegooi en die storm het bedaar. Toe het heiden-matrose die Here
aanbid. Jona is egter deur ’n groot vis van die HERE ingesluk waar hy ernstig gebid
het. Drie dae later het die vis hom op droë land uitgespoeg. Ons gelese
hoofstuk begin waar die woord vir die tweede maal tot Jona gekom het (v.1).
Die HERE het Jona weer beveel om na
die groot stad(staat) van Nineve toe te gaan en te verkondig wat die HERE hom
beveel (v.2). Jona het toe gereedgemaak en op God se bevel gegaan na die
ontsaglike groot stad (letterlik groot voor God). Dit het drie dagreise per
voet geneem om daardeur te loop (v.3). Jona het een dagreis ver in die stad
ingegaan en begin preek en gesê: Nog veertig dae, dan word Nineve verwoes (v.4.
Die getal veertig is dikwels in die Woord ’n getal van toetsing en beproewing).
Die mense van die wrede stad, Nineve, het verbasend genoeg God se boodskap deur
sy profeet geglo en ’n vasdag uitgeroep. Groot en klein het dit ook bewys deur
’n rougewaad aan te trek wat daarop dui dat hulle nie maar net wou aangaan met
hul gewone lewe nie (v.5).
Hierdie berig het ook die koning/goewerneur
van Nineve bereik. Selfs hy het opgestaan van sy troon af as teken van respek
en boonop sy koninklike mantel afgehaal en klere van rou aangetrek en as koning
selfs in die as gaan sit as teken van sy bedelaarskap. Hy het ook ’n bevel laat
uitroep en gesê: Op las van die koning saam met die groot manne (edeles:
“nobles”): Geen mens of dier, beeste of kleinvee mag aan iets proe nie. Dit het
beteken dat selfs die diere saam met die mense nie mag eet soos gewoonlik of
water drink nie. Mens en dier moes ’n rougewaad om hê as bewys dat hulle alle
normale versiering eenkant laat. Hulle moes ook ernstig tot God roep, saam met
hulle liggaam wat uitroep vir voeding. Daarmee saam moes elkeen hulle van hul
verkeerde weg en onreg bekeer wat deel van hul lewe geword het (v.6-8). Die
koning se hoop was dat God hulle dalk sou jammer kry en hulle nie in sy toorn
laat vergaan nie. God het ook inderdaad hulle werke van bekering gesien en Hom
omgekeer (berou gehad) van dit wat Hy sou doen oor hul sonde en dit nie gedoen
nie (v.9-10).
Besprekingsvraag: Wat is die tekens van ware verootmoediging in iemand se lewe?
Oorsig: God se oordeel is ’n werklikheid oor sonde en daarom is verootmoediging en bekering onder mensekinders nie ’n opsie nie. Nineve, later hoofstad van Assirië wat Israel sou wegvoer, was bekend vir hul wreedheid. Hulle was boonop deel van die Assiriese imperiale projek om deur vrees, wreedheid en onreg te onderdruk, te verower en te heers. ’n Honderd jaar later het die Here hulle deur die profeet Nahum finaal daaroor veroordeel (vgl. Nahum). Maar hier het hulle nog geleentheid vir omkeer gehad en hulle het die geleentheid van die proeftyd van 40 dae aangegryp.