Wys tans plasings met die etiket Aanbidding. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Aanbidding. Wys alle plasings

2021/07/06

Sondag en metafisika

Die bekende evangeliserende Biskop op sosiale media, Robert Barron, was onlangs in gesprek met die Iranees-Amerikaanse joernalis en opkomende konserwatiewe intellektueel, Sohrab Ahmari. Dit het gehandel oor Ahmari se nuwe publikasie, The Unbroken Thread: Discovering the Wisdom of Tradition in an Age of Chaos. Jared Zimmerer, die Senior Direkteur van die Word on Fire Instituut, het die gesprek gelei.

Daar is by bepaalde temas van Ahmari se boek stilgestaan, maar die tema waaroor dit hier gaan, kan gevind word vanaf die 20ste minuut tot en met ongeveer die 38ste minuut. Dit is die tema  wat Zimmerer beskrywe as 'n kulturele verlies, 'n geestelike verlies, ja selfs 'n metafisiese verlies. Indien iemand nog wonder, dit gaan oor die Sabbat, of die Dag van die Here, of soos hoofstuk drie van Ahmari se publikasie dit stel, "waarom sou God wou hê dat jy 'n dag af moet neem? 

Zimmerer se verband wat hy trek met 'n metafisiese verlies is insiggewend. Dit spruit voort uit Biskop Barron se opmerking net vantevore dat al ons standpunte voortvloei uit ons metafisika, of ons daarvan bewus is of nie. In pronter Afrikaans gestel: Alles vloei voort uit ons visie op die werklikheid, wat ook die werklikheid anderkant ons sintuie insluit. Al ons standpunte spruit met ander woorde voort uit ons wêreldbeskouing, of om dit nog meer deftig uit te druk, uit ons metafisiese aannames. Dit sluit jou beskouing van, benadering tot en deelname aan Sondag in. 

Ahmari verwys na rabbi Abraham Joshua Heschel wat 'n bekende intellektueel uit Pole in die middel van die vorige eeu was. In Pole was die Sabbat volgens Ahmari toe nog gesien as die sentrale hegstuk van die lewe. Heschel het daarop gewys dat dit wat lyk na beperking, inderwaarheid bevryding was. Ja, die Sabbat was die bron van innerlike vryheid. Dit was die wyse waarop die geopolitieke en kommersiële ryk van ruimte verruil is vir die ryksgebied van tyd. Dit was die tydsruimte waar intenser bewuswording van God plaasvind - die God wat nie van enige gebeurlikhede afhanklik is nie, wat ewig is, en waar intieme tyd met Hom spandeer kon word. Dit het daarom ook verder gegaan oor 'n sabbatsvisie waar mense gewaardeer is vir wie hulle is en nie bloot vir wat hulle doen nie. 

Dit is hierdie sabbatsvisie, sê  Ahmari, wat verloor is in die naam van vryheid. Hy staan selfs op die standpunt dat die sogenaamde “blue laws” van Sondagswetgewing herstel moet word. Is dit nie outoritêr nie?  Volgens Ahmari is die antwoord nee en hy wys daarop dat die VSA met sy protestantse DNA maar eers in die laaste drie tot vier geslagte begin het om aan hierdie ou tradisie weg te kalwe en die resultaat daarvan formuleer hy op treffende wyse: Die vryheid van die Sabbat is verruil vir die vryheid van die markte. Ons het dit verloor, se Ahmari en skielik is alles nou oop op Sondag.

2011/11/27

Die ruggraat van kerksang

Indien jy wil weet waarom Psalms so belangrik is in die lewe van die Kerk, lees hier. Indien jy dalk dink dat Psalmsang dor en dooierig is, kyk na die insetsel hieronder. Psalm 98 is nou nie die bekendste Psalm by baie van ons nie, maar kyk wat word in hierdie insetsel daarmee gemaak. Waarskuwing: As jy hierdie insetsel kyk, mag jy dalk aangesteek word. Maar voor jy nie ag slaan op die waarskuwing nie, vergun my die geleentheid om James Hely Hutchinson se inleiding in 'n artikel oor Psalms en lofprysing te vertaal:

"Soos so baie aktiwiteite, is lofprysing vir ons beide natuurlik en onnatuurlik. CS Lewis het eenmaal opgemerk dat die nederigste en tegelyk mees gebalanseerde en ruim geeste die meeste lofsang openbaar tewyl die murmureerders, misplaastes en onvergenoegdes die minste lofsang openbaar. Lofprysing, het hy gekonkludeer, lyk byna asof dit innerlike gesondheid is wat hoorbaar gemaak word. Dit is die natuurlike oorloop van 'n hart wat verlustiging vind in 'n sekere objek (CS Lewis, Reflections, p.80-81). Aan die ander kant, soos Paul Beauchamp skrywe, is lofprysing nie natuurlik vir ons selfsug nie. Indien die boek van Psalms wel dit is wat in die tradisionele Hebreeuse titel beskryf word, "die boek van lofprysing" par excellence, is dit eenvoudig omdat die Psalmiste hulle gedagtes eindelik wegdraai van hulself en op die onderwerp van opperste verlustiging rig - die Skeppergod, Israel se Verlosser, die HERE self. Die noue verband tussen teologie en doksologie tree na vore by elke draai in die Psalms."

Die woorde (ongeveer) vir ondergenoemde insetsel is hier en hier te vinde. Nou-ja, jy kan nou die genoemde waarskuwing in die wind slaan as jy wil ....