Gedagte vir kinders: Elkeen wat in die Here Jesus Christus glo, sal nie
verlore gaan nie.
Oorsig: In Johannes 3 hoor ons die
eerste keer in hierdie evangelie hoe die Here Jesus sy lering uitspel. Hy doen
dit teenoor ’n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodemus wat ’n leier
(owerste) was van die Jode (v.1). Die Fariseërs was godsdienstige mense wat meer
op hulle tradisies gesteld was as op die Woord van God. Hierdie Nikodemus het
in die nag na Jesus gekom en gesê: “Meester (Rabbi), ons weet dat u ’n leraar
is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as
God nie met hom is nie.” (v.2). ’n Mens sou verwag dat die Here Jesus hom
hieroor sou prys, maar Hy het geweet dat sommige mense se geloof maar baie oppervlakkig
is en wat die mens se diepste probleem was
(vgl. 2:23-25).
Die Here antwoord Nikodemus toe dadelik oor die
koninkryk: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word
nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (v.3) Nikodemus het nie verstaan
nie en gevra hoe iemand wat oud dan weer deur die skoot van sy moeder gebore
kan word (v.4). Jesus het toe geantwoord dat dit beteken dat iemand uit water
en Gees gebore moet word om die koninkryk van God in te gaan (v.5; vgl. Es.
36:25-27) Hy het verder verduidelik dat net die sondige vlees uit sondige vlees
gebore kan word, en dat net die Heilige Gees die geboorte deur die Gees kan
bewerk (v.6). Hy het bygevoeg dat Nikodemus hom nie oor die uitspraak moet
verwonder nie, en verduidelik dat dit gebeur soos die wind wat waai waar hy
wil, maar dat ons nie weet vanwaar die wind kom of waarheen dit gaan nie. En
tog sien ons die werking van die wind. Nikodemus het toe gevra hoe hierdie
wonderlike saak in mense se lewe kan gebeur (v.7-9).
Die Here het toe vir Nikodemus gevra waarom hy, leraar
van Israel, nie hierdie dinge weet nie (v.10). As hulle sy (“ons”) getuienis oor
die aardse wedergeboorte nie glo nie, hoe sou hulle die hemelse kant glo?
(v.11-12). Dit behels dat niemand kan opvaar in die hemel nie, behalwe Hy, die
Seun van die mens, wat uit die hemel neergedaal het (v.13). En soos Moses die slang
in die woestyn verhoog het, so moet Hy verhoog word sodat elkeen wat in Hom
glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (v. 14-15; vgl. Num.
21:4-9). Die rede is dat God die wêreld so lief gehad het dat Hy sy eniggebore
Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die
ewige lewe kan hê. Want die Seun is nie in die wêreld gestuur om te veroordeel
nie, maar eerder om te red. (v.16-17).
Besprekingsvraag: Hoe is die Persone van die Drie-eenheid elk betrokke
by ons redding?
Insig: Ons kyk na hierdie bekende grootse gedeelte tydens Triniteit-Sondag en fokus daarom hier saam met die gang van die Teks eers op die werk van die Gees (v. 4-9), dan die Seun (v.10-15) en dan die Vader (v.16-17). Eerstens dan: Die koninkryk van God kan net vir ons ’n werklikheid word deur die werk van die Gees. Johannes koppel dit ook aan water (v.5; vgl. Joh. 1:33; 4:10, 13-14; 7:37-39). Beide Lutherane en Rooms Katolieke verbind hierdie werk van die Gees daarom ook direk aan die doop (vgl. Hand. 22:16; Tit. 3:5). Gereformeerdes erken ook die band, maar sien dit nie so direk nie (vgl. Gal. 3:26,27; Kol. 2:12, Ef. 5:26; NGB 34; HK 26-27). Uiteindelik getuig die Doop wel kragtig van die reiniging en nuwe lewe in Christus deur sy Gees wat gepaard gaan met nuwe harte (Es. 36:25-27). Die Doop getuig van en roep na die wonderbare werking van die Gees wat intiem daarmee verbind nis. Dit kan voor, tydens of na iemand se Doop gebeur, maar die water en die Gees getuig uiteindelik saam van die heerlikheid van die nuwe verbond waarin iets gebeur wat net God se Gees in ons kan doen. Dit is misterieus en ontembaar soos die wind en ons kan dit nie verklaar nie, maar ons sien die werkinge in mense se lewens. En dit bevestig dat daar radikaal iets fout is met die gevalle mens. Nie afkoms of voortreflikheid kan ons daaruit help nie. Iets van Bo is nodig wat net die Gees kan doen.