2020/12/28

'n Mondvol wêreldbeskouing

Die verandering van spreekwyse suggereer dikwels 'n verandering van lewensvisie. 'n Onlangse voorbeeld is die verandering in gebruik van die woord selfmoord na selfdood. Hierdie saak is 'n onderwerp vir 'n ander dag. Die bedoeling met die inskrywing is om die snare van sensitiwiteit vir sogenaamde sinonieme skerper in te stel. 'n Baie goeie voorbeeld vind 'n mens in die onlangse bespreking van die bekende T.S. Eliot se komedie wat dramaties ontwikkel in 'n filosofies donkerder geestelike beproewing, genaamd The Cocktail Party

Te midde van die boeiende wyse waarop Daniel Sundahl die komedie van Eliot ontleed, maak hy 'n reinigende snit oor die gebruik van die woord, "affair": “The modern word, “affair,” is a quieter word than infidelity or betrayal of trust or cheating or the less modern word, “adultery.”

Ja, dit is 'n stiller woord, maar dit is ook Sundahl en Eliot se doel om die fokus op die eufemisme of versagting te plaas en te bevraagteken. Eliot suggereer kritiek op die wêreldbeskoulike vlak deur middel van 'n spesifieke genre. En die bedoeling is dat ons ons snare in stemming bring om te (t)ril by die sensisitering hiervan. Wêreldbeskouing kan in woorde gereflekteer word. Natuurlik ook in sinne en paragrawe en woorde moet altyd ook in hul groter konteks gekruiskontroleer word. Maar laat ons nie vergeet om ook op woordvlak te weeg en te beproef nie. Daar kan 'n mondvol wêreldbeskouing op ons tonge wees. Daarom het ons fynproewers nodig wat ons hierop attent maak. En as die fynproewers nog boonop  kokke ook is wat geregte kan bedien wat die smaakknoppies opskerp, laat ons dankbaar wees en sulke mense salueer.

2020/06/27

Liturgie en die drumpel van die hemel

Om die kerk bruikbaar en relevant te probeer maak, is soos om La Bohème te probeer omskep in 'n politieke verklaring teen die lae lone van kunstenaars en digters. Om die liturgie bruikbaar te probeer maak, is soos om poësie te skryf as Marxistiese propaganda of om tapdanse te beskou as 'n metode om gewig te verloor ... Dit is op 'n manier nuttig omdat 'n brug nuttig is. Dit neem ons oor 'n groot kloof. Die kerk is Bet-el - die drumpel van die hemel - en in die liturgie neem ons deel aan die werklikheid van die hemel. - Dwight Longenecker.

2020/05/27

Ontvouende en gelaagde betekenis

In die vorige posaflewering het ek later 'n skakel bygevoeg wat die moeite werd is om hier ook apart te lys. Dit is in 2015 geskryf vir Standpunte. Hier is 'n aptytwekker uit die stuk vir diegene wat dalk verder wil naslaan oor die Middeleeuse Quadriga oftewel vierperdewa. Dit is natuurlik ook by hierdie kuierplek al voorheen genoem en die skrywe by Standpunte is ook van hierdie kuierplek af verder ontwikkel:

...Die feit is dat die sogenaamde fundamentalistiese en primitiewe Skrifuitleg van die kerkvaders glad nie so eendimensioneel plaasgevind het as wat dit vandag soms voorgehou word nie. Inteendeel, dit was tot oorbodens toe vol van simboliese lading, dramatiese samehang, en van ontvouende en gelaagde betekenis en misterie. Die uitnemende voorbeeld hiervan is sekerlik die Middeleeuse Quadriga, ‘n teologiese metode van Bybelverstaan wat vandag nog baie peste en plae binne en buite die kerk kan uitroei...

2020/05/24

De Lubac vir teologiese woestyne

Daar is sommige boeke wat mos maar net jou nommer het. Hulle het eenvoudig die vermoë om jou verbeelding aan die brand te laat slaan. Soms is dit sekerlik ook 'n geval van tydsberekening, want op 'n gegewe tyd en plek in jou lewe is jy net meer gereed, of eerder dalk ryp, vir sekere waarhede. Natuurlik sluit dit nie ons vra en soek uit nie en veral nie die belofte dat daar oopgemaak sal word vir die wat klop nie, maar dit is eenvoudig wonderlik wanneer op 'n woord op sy tyd vir jou 'n lafenis is soos goeie tyding uit 'n ver land. Vandag het iets hiervan my weer getref toe ek na ou aantekeninge kyk van Bryan Hollon se werk, Everything is Sacred: Spiritual Exegesis in the Political Theology of Henri de Lubac.

Hollon is eintlik hier 'n skrywer van die tweede orde, want inderwaarheid toon hy net die relevansie van Henri de Lubac se denke vir vandag aan. Ek het reeds by meer as een geleentheid hieroor in die publieke arena gepraat of geskryf. Vergelyk byvoorbeeld hierdie artikel oor die Vierperdewa. Maar my ou aantekeninge het die besef laat posvat dat sekere goud-ertse nog nie deur hierdie skrywer in die derde orde oor De Lubac, genoegsaam gedeel is nie. En in Afrikaans kan dit veral 'n bydrae wees in die veld van Hermes waar postmodernes bereid is om altyd nog 'n voordrag in die hermeneutiek aan te hoor oor die oneindige uitstel van betekenis. Nie dat hierdie bydrae dit wil aanhelp nie. Inteendeel. Maar laat my toe om die gaping te slaan terwyl nimmereindig dan ook plek maak hiervoor. En om eerlik te wees, ek interpreteer vir Hollon ruim in die lig van verdere leeswerk. Die rede is dat probeer word om die possie so bevatlik as moontlik in Afrikaans te maak, asook om aan te dui hoe reformerende ombouings dit op die beste moontlike wyse sou kon interpreteer. Nou-ja, hier gaan ons.  

Hollon wys hoe De Lubac die moontlikheid van sinvolle antwoorde anderkant hedendaagse bewegings bied - bewegings wat nogal die skaal in 'n postsekulêre rigting laat swaai. Hy gee punte vir die Postliberale en Radikale Ortodokse (RO) bewegings in die teologie, maar dan toon hy ook aan hoe De Lubac en die Nouvelle Theologie anderkant hierdie vermeldenswaardige projekte beweeg. Hier sal daar nie in diepte ingegaan word op sy betoog nie, maar daar sal wel 'n paar gedagtes deurgegee word wat soos water vir moeë lywe kan wees wat teologiese woestyne en mirage op mirage moet trotseer.

De Lubac het volgens Hollon 'n spesifieke opvatting van Christelike mistiek. Christelike mistiek kan vir De Lubac net een ding beteken en dit is vereniging met die Drie-enige God van die Christelike openbaring, en wat in Christus gerealiseer word deur sy genade (vgl. loc. 4205 van 6183). Christelike mistiek is daarom ook altyd Trinitaries. Vir De Lubac is Christelike mistiek daarom in wese niks anders nie as die deelnemende verstaan van die Heilige Skrif. Die misterie is dus deel van die betekenis en mistiek beteken, as ek reg verstaan, om die betekenis deelnemend te leer ken (vgl. loc. 4258). Die Skrif is daarom ook die prisma waardeur die Christologiese eenheid van die heelal begryp word. Sjoe, dit klink belowend, nie waar nie? Maar daar is meer.

Die geestelike eksegese van die Christelike Skrifte, soos beoefen deur die Patristiese en Middeleeuse teoloë, dien volgens De Lubac daartoe om die hele werklikheid te verlig in die lig van Christus. Vir De Lubac speel hierdie geestelike eksegese verder ’n konstitutiewe rol in die Kerk se deelname in die lewe van die Triniteit. En verder is De Lubac ook uitgesproke daaroor dat indien hierdie deelname in Christus verbygegaan word, daar verval word vanaf Christelike mistiek in natuurlike mistisisme. (vgl. loc. 4265). Maar wat kan dit alles vir ons vandag beteken?

Wel, om mee begin, dien Hollon 'n harde hou aan die geleerdes van RO-faam uit. Hy waardeer hulle wel, maar wys daarop dat die feitlik afwesige eksegetiese element van die Skrif in hulle bydraes oor die algemeen, die rede is waarom RO nie werklik anderkant die spekulatiewe dekonstruksie van die sekulêre lewe kan beweeg nie. En dit is juis hier waar hy van mening is dat De Lubac sterker nagevolg moet word deur die RO-mense wat hom as belangriker as Barth ag omdat hy die moderne dualisme oorkom het. Laat ons dan verder luister hoe De Lubac sy weergawe van Christelike mistiek toepas vanuit die Skrif. Hollon som dit op as die verstaan van die Skrif wat voortgaan vanaf geskiedenis na allegorie (d.w.s. die betekenis in Christus), na tropologie (moraliteit) in die najaag van die eskatologiese visie op God (anagogie) (vgl. loc. 4429). Ons sal langer by allegorie stilstaan, aangesien die ander fases daarin ingebed lê.

Allegorie, wat vandag so maklik as willekeurige vergeesteliking verstaan word, was volgens De Lubac egter iets heel anders in die beste hanterings van die kerkvaders. Dit was die middel waardeur die Jesus van die geskiedenis ook as die alomteenwoordige Christus gesien is en in samehang hiermee was tropologie (die morele dimensie) die wyse waardeur die Kerk kon deelneem aan Christus (vgl. loc. 4486). Wat allegorie betref, is geglo dat geestelike betekenis reeds in die geskiedenis opgesluit lê en dat dit daarom profeties ingeskryf is in die feite, en so is die alomteenwoordigheid van Christus, die Logos, dan veronderstel. Dit beteken dus dat die aanname van allegoriese interpretasie eintlik groots was. Dit is dat daar 'n ontologiese verbondenheid tussen die Ou Testament en die Messias is en nie bloot 'n ekstrinsieke (veruitwendigde) ooreenkoms nie. Du Lubac kies daarom teen die begrip tipologie omdat dit volgens hom nog te veel net op die oppervlakte bly en nie genoegsaam die volle ontologiese verbondenheid veronderstel nie. Allegoriese betekenis verenig vir De Lubac nie net die heilsgeskiedenis nie, maar ook die Kerk se teenwoordigheid en toekoms in 'n ontologiese band (vgl. loc. 4501). So vind hierdie tipe allegoriese uitleg in Christus oral ongeforseerd in die Ou Testament plaas en stel so die Kerk in staat om Christus ook oral in die hede en in die toekoms te sien (vgl. loc. 4534). Dit bied dan ook die egte grond om by die morele implikasies van die teks - tropologie - stil te staan. 

2020/05/19

Gebed en Godvergeters

Gebed is een van die mees anti-sekulêre dade wat ons kan pleeg. Dit is die vernaamste deel van ons dankbaarheidslewe en ’n kragtige manier om nie ’n Godvergeter te word nie (vgl. Ps. 50:22,23; HK 45, antwoord 116). Gebed is ’n besondere middel waardeur ons nie net die vyand verslaan nie, maar voor alles intieme gemeenskap met God beoefen.

2020/03/14

Beelddraers: Voorreg of Slawerny?

Ons is geskape na die beeld van God as priester-konings. Dit gee die vermoë om met God in verhouding te wees, rasioneel te dink, morele besluite te neem, kreatiwiteit uit te leef, en (met God) die skepping te versorg en te beteuel. Dit is 'n voorreg, nie slawerny nie! - Paul Copan, in Is God a Moral Monster: Making Sense of the Old Testament God, hoofstuk 3.

2020/03/13

Hamann en heerlike hindernisse

Hier volg sommer net 'n paar eerste indrukke, of eerder prikkels, oor Johann Georg Hamann (1730-1788). Hy word wat statuur betref, redelik algemeen as die gelyke van Kant en Hegel geag. Wat hom so besonders maak, is dat hy alreeds as vriend en tydgenoot van Kant op 'n beter alternatief gewys het. Wanneer sovele vandag nou wonder wat ons met onse postmoderne generasie en sy Z.2's moet maak, rys Hamann omhoog as grondliggende aanbieder van 'n alternatiewe post-sekulêre visie. 

Tussen John Betz en Oswald Bayer se sekondêre werke oor Hamann kan 'n Christen reeds oriënterend verlore en verwonderd raak oor hierdie baie spesiale gesant. In die agttienhonderds al kon hy die tipe lewe spreek wat aan die begin van die een-en-twintigste eeu eers meer berekend waardeer kon word vir die klare wyn wat dit is. Ja, 'n mens kan ook maklik ontsteld word dat jy nou eers van hom kennis neem. Maar dalk was jy, was ons, nog net nie gereed nie. Kyk, as iemand die postmoderne era reeds twee eeue vantevore kon antisipeer en meer nog, 'n kragtige antwoord daarop kon ontwikkel, behoort ons die hoede af te haal oor 'n man wat verbygestap het in die geskiedenis. Ons behoort ook vir mekaar te erken as ons hom aangehoor het, dat hy eintlik net kon sê wat hy gesê het as die gees van God in hom gewoon het. 'n Mens kry iets van die gevoel van ontsetting wat aan die hof van Farao en Nebukadnesar moes vaardig wees toe Josef en Daniel drome kon uitlê wat deur die waarheid daarvan reeds seggingskrag gehad het, maar ook deur die toekoms as bokant die tye geëer sou word. Praat die uwe nou in hiperbool net om aandag te trek? Laat die leser maar lees en dan self besluit, maar so van lees gepraat, kom ons begin deur sommer net vanuit Bayer se eerste bladsye te wys op hoe Hamann sy lesers uitgedaag en aangevuur het. 

Hamman skryf welbewus moeilik. Hy rig deurdag hindernisse op vir sy lesers, sê Bayer. Waarom?