Lees: Mt. 20:1-16
Gedagte vir kinders: Mense wat
klein is voor God, verhoog Hy, maar hoogmoediges val.
Oorsig: Die Here Jesus het vir Petrus (in die vorige hoofstuk) geantwoord
dat hulle wat anders as die ryk jong man, alles verlaat en Hom gevolg het,
honderd maal soveel sal ontvang en die ewige lewe beërwe. Maar toe het Hy iets
belangrik bygevoeg en deur ’n gelykenis verduidelik dat ’n mens moet oppas vir
’n verkeerde houding hieroor: Die koninkryk van God is soos ’n eienaar wat
vroeg in die more uitgegaan het om arbeiders te huur om in sy wingerd te werk
(v.1-2). Hy het met die arbeiders ooreengekom vir ’n penning op ’n dag, wat
gelykstaande was aan ’n stewige dagloon vir hul tyd. Toe het hy hulle
uitgestuur in sy wingerd. Omtrent die derde uur (9:00) gaan hy toe weer uit en
sien ander wat ledig (sonder werk) op die mark staan. Ook vir hulle het hy gesê
om in die wingerd te gaan en dat hy aan hulle sou gee wat reg is. Hulle moes
hom dus op sy woord neem, en so het hulle gaan werk (v.3-4). Weer het hy
omtrent die sesde (12:00) en negende uur (15:00) uitgegaan en dieselfde gedoen.
Hy het selfs die elfde uur (17:00) uitgegaan en ander ledig gevind en gevra: Waarom
staan julle die hele dag hier ledig? Hulle het geantwoord dat niemand hulle
gehuur het nie. Hy het ook vir hulle gesê om in die wingerd te gaan en dat hulle
wat reg is (let wel), sal ontvang (v.5-7).
Toe dit dan aand geword het, sê die eienaar van die wingerd vir
die opsigter: Roep al die arbeiders en betaal hulle hul loon (let wel). Hy het
ook gesê dat hy moes begin van die laastes af tot by die eerstes. Hulle wat
omtrent 17:00 eers begin werk het, het elkeen ’n penning, die volle dagloon,
ontvang (v.8-9). Die eerstes dink toe dat hulle meer sal ontvang, maar hulle
het ook elkeen die penning vir ’n volle dagloon ontvang. Toe het hulle baie
gekla (gemurmureer) by die huisheer en gesê: Hierdie laastes het maar een uur
gewerk en u het hulle gelyk behandel met ons wat die moeite van die hele dag en
die hitte gedra het (v.10-12). Die huisheer het toe vir een gesê: Vriend (let
wel), ek doen jou geen onreg aan nie. Hy vra hom toe of hy nie ooreengekom het
vir die volle dagloon van ’n penning nie. Hy het toe ook vir hom gesê dat hy
moes neem wat syne is en heengaan. Hy het bloot gesê dat hy aan die laaste een
wou geen net soos aan hom. Hy het gevra of hy dan nie vry is om met sy eie goed
te maak soos hy wil nie. Hy het ook gevra of sy oog verkeerd is omdat die
eienaar goed is. Toe het die Here Jesus weer sy woorde aan die begin herhaal:
So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste. Hy het
bygevoeg dat baie geroep, maar min uitverkies is (v.13-16).
Besprekingsvraag: Wat beteken
dit dat laastes eerste kom en eerstes laaste?
Insig: Die leer van onverdiende genade (sola gratia) is baie kosbaar, maar dit is ’n leerstelling wat ons hare deurmekaar vee (Douglas Wilson), ons kan neervel, en teen ons vleeslike grein ingaan. Die vlees werk met selfsug en eiebelang, met rekordhouding en vergelyking. Maar genade is per definisie nie regverdig nie, want dit beteken altyd dat ons baie, baie meer ontvang as wat ons verdien.