Wys tans plasings met die etiket lankmoedigheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket lankmoedigheid. Wys alle plasings

2023/10/06

Poging tot Godmoord

Lees: Mt. 21:33-46

Gedagte vir kinders: Elkeen wat Jesus nie erken as God se Seun nie, sal verpletter word.

Oorsig: Die Here Jesus het daar by die tempel in die laaste week voordat Hy gekruisig is, ná sy gelykenis oor twee verskillende seuns in ’n wingerd, nog ’n gelykenis oor ’n wingerd vertel. Daar was ’n sekere eienaar (huisheer) wat ’n wingerd geplant het. Hierdie eienaar het baie gedoen om die wingerd te beskerm en op te bou. Hy het ’n heining daarom gesit, en ook ’n parskuip gegrawe waar die wyn gepers kon word, en ook ’n wagtoring sodat dit bewaak kon word. En toe het hy dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan (vgl. Jes. 5; Ps. 80:8-20; Hoogl. 8:11-12). En toe kom die oestyd van die vrugte nader en hy het sy diensknegte gestuur na die landbouers om sy deel van die vrugte te ontvang (v.33-34). Die landbouers het egter iets baie vreemd gedoen. Hulle het die een geslaan en ’n ander doodgemaak, en ’n ander gestenig (vgl. 1 Kon. 18:13; 22:27; 2 Kr. 24:20 e.v.; 36:16; Jes. 66:5; Jer. 20:2; 26:11; Op. 16:6). Toe hy meer diensknegte stuur, moontlik om groter gesag daaraan te gee, het hulle steeds so gemaak (v.35-36). Laaste het Hy sy eie seun gestuur en gesê dat hulle hom darem sou uitlos en respekteer. Maar selfs toe het hulle eerder geredeneer dat dit die erfgenaam is en hulle hom net moet doodmaak en so die erfdeel self sal kry. Hulle het toe die seun buite die wingerd gegooi (uitgewerp) en doodgemaak (v.37-39). Hy het hulle toe gevra wat die eienaar sou doen. Hulle het geantwoord dat hy die slegte mense ’n slegte dood sou laat sterwe en die wingerd aan ander sou verhuur wat die vrugte op die regte tyd sal gee (v.40-41).

En toe het die Here Jesus na die Woord van God in Ps. 118:22-23 gewys waar daar staan dat die steen wat die bouers verwerp het, ’n hoeksteen geword het, dat dit van die Here gekom het en wonderbaar was in gelowiges se oë. Toe het Hy vir hulle verduidelik dat die gelykenis en hulle oordeel op hulleself van toepassing is. Die Koninkryk van God sou van Israel se leiers weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sou dra (v.42-43). Elke ongelowige wat op hierdie steen van God val, sal verpletter word, maar elke valse leier op wie hierdie steen val, sou vermorsel word. Die owerpriesters en Fariseërs het duidelik verstaan dat Hy van hulle praat. Hulle was egter nie in die hart daardeur tot bekering getref nie. Hulle het eerder gesoek na hoe om Hom in hulle mag te kry. Maar hulle was bang vir wat die skare kon doen omdat die skare die Here Jesus as profeet gesien het (v.44-46).

Besprekingsvraag: Wat leer ons daaruit dat God selfs sy Seun gee ná die profete?

Insig: Hierdie gelykenis toon aan ons God se verstommende liefde en sorg en verdraagsaamheid aan die een kant, en mense se verbasende kwaadwilligheid aan die ander kant. God se sorg kom duidelik na vore in die vyf handelinge in vers 33 wat toon hoeveel moeite Hy met sy werk maak (plant, omhein, verwerk, bewaar en vertrou sy werk toe). Hy stuur ook geduldig weer en weer wanneer mense sy reg en profete verag. Wie is ’n God soos Hy wat vergewe en barmhartig en genadig en lankmoedig en vol troue liefde is? (vgl. Ex. 34:6; Ps. 86:15; Miga 7:18). En tog moes Israel in die Ou Testament reeds weet dat hulle so hul oordeel swaarder kon maak.