Wys tans plasings met die etiket Kreeft. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kreeft. Wys alle plasings

2022/05/30

’n Wortelsaak in ons tradisie

Meneer die Seremoniemeester,

Een van die wonderlike dinge van ’n aand soos vanaand is dat ons werklik rede het om fees te vier oor wat deur die genade rééds bereik is. Natuurlik het ons alles behalwe gearriveer, maar hoe wonderlik dat ons kan terugkyk en sien hoe grondgebied en instellings, denkapparaat en praktyke, al ’n bepaalde momentum en diepte begin kry het.

Daar is ’n opgewondenheid onder ’n volgende geslag, een van die beste tekens dat jou visie geslaagd is. Ons kan, danksy ons leiers, in die hoogste kringe saampraat met ons eie woorde en konsepte: ’n alternatiewe moderniteit, gemeenskapsfederalisme, ’n ander idee-raamwerk, ’n ander logika, veelvuldige identiteite, ensovoorts. Genoeg is alreeds reeds gedoen om tong in die kies, en buite die kies, te sê dat ons duidelik weet wat ons bedoel as ons stel dat ons met iets op weg is wat ook die teenoorgestelde van die ATKV kan wees. Ons sou ook wou praat van die VKTA - die verbeeldingryke klassieke tradisie onder Afrikaners, of miskien sagter op die oor: die visie van die klassieke tradisie onder Afrikaners.

Ons bou hieraan op ons eie manier, maar tegelykertyd saam met soveel vriende in ander lande wat hierby aansluit. Bart Jan Spruyt van die Edmund Burke Stichting in Nederland noem dit ’n tradisie van vreugde. Die bekende denker en historikus, Russell Kirk, het dit meevoerend beskryf as ’n tradisie wat ten diepste ’n tradisie van die liefde is.

Hierdie tipe bydraes laat ons besef dat ons allerhande deugde en gawes van die Gees afsonderlik kon neem, en telkens vanuit ’n besondere invalshoek of lens ’n spesifieke kant van ons tradisie kon belig. Wanneer ons byvoorbeeld na die bekende embleem van Orania kyk, sien ons dadelik die selfwerksaamheid, die fluksheid, van hierdie tradisie raak. Ek is seker u het hierdie kant al baie belig en hoe nodig is nie! As ’n mens die bekende deugde met hul gepaardgaande ondeugde in oënskou neem, besef jy vinnig dat ons hier, vanuit die tradisie beskou, met ’n simbool teen laksheid of luiheid te make het. Gaan ons beeldryk te werk, sou ons dalk, na aanleiding van Mind-of-a-fox faam, die beeld van die jakkals wou omvorm, waarskynlik drasties wou omvorm, om die kardinale deug van verstandigheid en omsigtigheid (prudentia) te hanteer. Die feit is dat ons ook hier met veelvuldigheid te make het en telkens, na gelang van omstandighede, sou ons ’n ander deug as lens op ons tradisie kon gebruik om dinge na die oppervlak te bring wat dalk ongesiens verbygaan. In hierdie verband het iemand soos die genoemde Russell Kirk al groot werk gedoen in sy onderwaardeerde opvolg op sy klassieke werk, The Conservative Mind. In sy werk, Propects for Conservatives, maak Kirk van die sewe klassieke deugde en die sewe dodelike sondes gebruik om lig te werp op aspekte soos die intellek, gemeenskap, geregtigheid, orde, lojaliteit, tradisie, en mag.

Daar lê na my mening heerlike werk vir ons voor om in die voetspoor van hierdie benadering, die verskillende deugde-lense op ons eie konteks te plaas. Dit kan help om die veelkantigheid van die alternatiewe moderniteit deeglik uiteen te sit en ons terselfdertyd te bewus maak van hoe edel hierdie tradisie kan wees. Vanaand wil ek u aandag vra vir ’n kernsaak in hierdie tradisie wat eintlik te gevaarlik is om te bespreek. Die rede is dat dit die spreker en die hoorder so maklik dubbeld skuldig maak. Van hierdie deug sê iemand soos die Engelse juris, John Selden, dat dit ’n deug is waaroor almal preek, wat niemand beoefen nie, en waaroor almal heel gemaklik nog ’n toespraak sal aanhoor. Ek praat natuurlik van daardie eienskap in ons tradisie wat die stam is waaruit al die deugde groei: nederigheid. Dit staan so sentraal en tog is dit so teer dat wanneer jy te sterk daarop fokus, veral by jouself, dit baie vinnig verdwyn. En tog wil ek saam met u die waagstuk aangaan om daaroor te besin onder die volgende hoofde:

·       Die belangrikheid van nederigheid in ons tradisie.

·       Die groot stimulant vir nederigheid in ons tradisie.

·       Deelname aan nederigheid in ons tradisie.