In een van my studiegidse het ek die volgende raakgeloop:
"Ons moet nie die fout maak om die Kerk as bykomstig te sien in die lewe van Christene nie. Mense leef óf selfverwysend óf Godverwysend en die Kerk bied aan ons die konkreet-wonderlike wyse waarop ons Godverwysend en meer nog, in gemeenskap met die Drie-enige God mag leef. Hierdie bediening in die Kerk geskied verder langs die weg van ampte waardeur Christus sy gesag en genade aan mense bedien en ons moet dit alles waardeer as gegee om ons te begelei in ons wandel met God en in die deelhê aan die gemeenskap van die Drie-eenheid."
Waar dit nie gebeur nie en die kerke leeg word, word die tronke vol, het onse voorouers gesegdegewys gesê. Ons kan dit deftig in ander woorde plooi, maar die insig bly relevant. Dit is dat die samelewing sekulariseer, en allerhande geite verwag kan word om na vore te tree waar God en sy gebod vir mense op die agtergrond staan. Dit bly egter simptome van 'n dieper probleem: Die gebrek aan gemeenskap en wandel met God in en deur Christus en sy liggaam.